Jou sondepatroon (2)
2018-10-22Efesiërs 4:32 NLV
As gevolg van die manier wat ons aanmekaar gesit is, vind ons onsself tot sekere sondes aangetrokke. Gevolglik is ons areas van swakheid dikwels konsekwent en voorspelbaar. Dis soos om ‘n ‘sondeprofiel’ te hê. In sy boek, Signature Sin: Taming Our Wayward Hearts, identifiseer dr Michael W. Mangis nege van hierdie patrone, deur ‘n antieke sisteem genaamd die Enneagram te gebruik. Dis ietwat kontroversieel omdat dit deur baie geestelike tradisies gebruik word. Daar word egter geglo dat dit uit die sewe dodelike sondes en die vrug van die Gees sy oorsprong het, dus kan dit ook binne ‘n Christelike raamwerk toegepas word. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na hierdie nege sondepatrone en die mense wat heel waarskynlik daarmee sal sukkel, om jou sodoende te help om meer bewustelik te word en ‘n skans teen jou spesifieke area van weerloosheid op te bou. 1) Hervormers. Hervormers word deur perfeksie aangetrek. Hulle het ‘n hoë standaard van uitnemendheid en hulle grootste vrees is om swakplekke te hê. (Hulle maak goeie chirurge – en uitstekende gholfspelers). Op hulle beste is hulle kruisvaarders, waghonde en profete. Omdat hulle egter met perfeksionisme en self-regverdiging sukkel, is hulle geneig om ander wie se standaarde nie heeltemal so hoog is nie, te oordeel. Die profeet Amos is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hy praat van ‘n ‘skietlood’ wat wys hoe ver mense van God se standaarde te kort skiet (sien Amos 7:7-8). Paulus het die hervormers aangespreek deur te sê, ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.’ As ‘n hervormer, is jou grootste uitdaging om liefde, geduld en genade aan diegene met wie jy omgaan, te demonstreer. Met God se hulp kan jy dit doen.
Sielskos: Eks 39-40; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 27:7-9