Nie wie nie, maar Wie s’n jy is

2018-10-16
Eksodus 3:11 NLV

Toe God vir Moses sê dat Hy hom gaan gebruik om die Israeliete uit slawerny te bevry, het die gesprek so verloop: “‘Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy gaan my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte.’ ‘Maar wie is ek dan om voor die farao te verskyn?’ het Moses vir God gevra… God het geantwoord: ‘Ek sal by jou wees…'” (verse 10-12 NLV). Moses het sy vrese en onsekerhede in een vraag opgesom, ‘Maar wie is ek dan…?’ Dis egter die verkeerde vraag. Dit gaan nie oor wie jy is nie, maar Wie s’n jy is! Daardie dag het God sy naam, ‘Ek Is,’ aan Moses geopenbaar. Sy naam is die oplossing tot elke probleem en die antwoord op elke vraag. Sy naam kalmeer elke vrees, beseël elke gebed en wen elke stryd. By die aanhoor van sy naam, kniel engele en sidder demone. Deur sy naam is ons sonde oorwin en word ons outoriteit bekragtig. Wie jy is, is absoluut irrelevant. God gebruik ons nie oor wie ons is nie, maar ten spyte daarvan. Dis nou nie asof die hemel bankrot gaan speel as jy nie jou tiende gee nie. As jy jou talente vir iets anders inspan, is dit ook nie asof die koninkryk van God dan ten gronde sal gaan nie. Maar vir redes wat eers in die hiernamaals geopenbaar sal word, het God besluit om sy doelwitte deur gewone mense soos ons, te bereik. Is jy bang om in geloof uit te tree, vir ingeval jy misluk? Lyk die situasie vir jou onmoontlik? Dis nie vir God nie. Vertrou Hom, staan op sy belofte: ‘Ek sal by jou wees…,’ en beweeg vorentoe!

Sielskos: Eks 25-27; Joh 3:22-36; Ps 89:15-37; Spr 26:20-22