Verstaan jou hemelse Vader (1)

2018-10-14
Johannes 8:27 NLV

Die mense in Jesus se tyd het dit moeilik gevind om die konsep van God as ‘n Vader te begryp. Heerser, koning, regter, het hulle verstaan – maar nie Vader nie. Die Ou Testament praat selde van God as ‘n Vader, terwyl die Nuwe Testament dit gereeld noem. Totdat Jesus gekom het en die Vader geopenbaar het, het Hy ‘n raaisel gebly. ‘…En niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekendmaak’ (Matteus 11:27 NLV). Baie van ons kan steeds nie sy Vaderskap en die ryke seën wat ons in Hom het, begryp nie. ‘Vader,’ God se allesomvattende naam, inkorporeer alles wat ons ooit sal nodig kry, terwyl dit onthul hoe Hy teenoor elkeen van ons voel. Dit verteenwoordig elke eienskap van die beste pa ooit. Dink wat ‘n liefdevolle, almagtige vader alles vir ‘n behoeftige kind sal doen. Jou hemelse Vader sal dit alles vir jou doen – en nog meer! Wanneer jy God as jou Vader herken, sal jou vrese verdwyn en sal jy begin glo dat daar ten volle aan al jou behoeftes voldoen sal word. Jesus het gesê, ‘Moet dus nie bang wees nie… Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee’ (Lukas 12:32 NLV). Dit maak God gelukkig om aan jou die hulpbronne van sy koninkryk te gee! Hoekom? Omdat Hy jou net so liefhet soos Hy sy Seun Jesus liefhet! Jesus het gebid dat jy met vertroue kan weet dat ‘…U hulle liefhet net soos U My liefhet’ (Johannes 17:23 NLV). As sy verloste kind, het jy al die voordele daaraan verbonde wat lidmaatskap ‘…van God se huis’ (Efesiërs 2:19 NLV) meebring.

Sielskos: Heb 11:22; Gen 39:1-23; Gen 45:1-11; Gen 50:15-26