Verstaan jou hemelse Vader (2)
2018-10-15Psalm 103:13 DB
Om God as ‘n liefdevolle Vader te sien, mag dalk nie maklik kom as jy die littekens van ‘n verwaarloosde of mishandelde kindertyd met jou saamdra nie. Miskien het jy so baie onvervulde behoeftes in jou kindertyd gehad: liefde, sekuriteit, vertroue, gemak, materiële noodsaaklikhede, ens, dat jou gebrek aan hierdie dinge dit vir jou moeilik maak om te glo dat God aan al jou huidige behoeftes sal voorsien. Wat moet jy doen? Erken dat jou beeld van ‘n vader foutief is en dat dit op geen manier na jou hemelse Vader aard nie. Selfs die beste aardse vader kan nie teen Hom opgemeet word nie. Hy wil hê dat jy Hom as ‘n Vader wat omgee, sensitief, vrygewig, betroubaar en liefdevol is, sal benader. Dis hoekom Jesus ons geleer het om Hom ‘Ons Vader’ te noem, nie net ‘Almagtige God en Here’ nie. Soos ‘n goeie vader, verstaan God jou behoeftes en maak ten volle voorsiening daarvoor (sien Matteus 6:25-34). Net soos ‘n goeie ouer die unieke karaktereienskappe van elk van sy kinders herken, so ken Hy jou kenmerkende persoonlikheid, gawes, gedagtes en emosies. ‘Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is’ (Psalm 103:13-14 DB). God se sorg is nommerpas vir jou spesifieke gawes – en jou swakpunte. Soos ‘n liefdevolle vader aanvaar en vervul Hy sy verantwoordelikheid om vir jou te voorsien. Wat is jou rol in hierdie verhouding? Om soos die kind van ‘n betroubare, vrygewige, liefdevolle Vader op te tree!
Sielskos: Eks 22-24; Joh 3:1-21; Ps 89:1-14; Spr 26:17-19