2019-02-21
Handelinge 3:6 NLV
Die Bybel sê, ‘…Petrus sê: ‘Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou. Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (verse 6-7 NLV). Petrus het drie dinge gedoen wat jy ook moet doen as jy mense wil help: 1) Kry hulle aandag. Petrus het vir hierdie man gesê: ‘…Kyk na ons!’ (vers 4 NLV). Mense wat seer het se aandag word dikwels deur hulle pyn, hulle ervarings in die verlede en hulle vrese vir die toekoms afgelei, dus moet jy eers hulle aandag kry voordat jy tot hulle kan deurdring. 2) Stel hulle aan die naam wat groter as hul probleme is, voor. Die naam is ‘Jesus,’ en dis groter as elke siekte en situasie. Sentrums waar verslawings behandel word bevestig dat ‘n relatiewe klein persentasie van mense hulle verslawing heeltemal oorkom. Dis die slegte nuus. Die goeie nuus is egter dat die naam van Jesus sterker as enige verslawing is! ‘So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig’ (Filippense 2:10 NLV). Stel dus diegene wat seer het aan Jesus voor! 3) Help hulle op. Toe Petrus die man opgehelp het, ‘…het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (Handelinge 3:7 NLV). Omdat hy al vir agt-en-dertig jaar verlam was, het hy hulp nodig gehad om op te staan. Daar is mense rondom jou wat ook hulp nodig het om op te staan. Hulle het iemand nodig wat hulle uit hulle wanhoop kan optrek en na Jesus toe kan bring. God kan jou gebruik om daardie iemand te wees.
Sielskos: Gen 50; Hag 1-2; Luk 11:14-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5
2019-02-20
Numeri 13:33 NLV
Tien van Israel se twaalf spioene het van die Beloofde Land teruggekeer en gesê, ‘Ons het Enak se nageslag daar gesien. Hulle is reuse. Ons het vir hulle soos sprinkane gelyk.’ Die ander twee spioene, Josua en Kaleb, het dieselfde reuse gesien, maar geglo dat hulle met God se hulp verslaan kon word: ‘…Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat’ (vers 30 NLV). God het ‘n plan vir jou lewe, maar jy sal dit nooit vervul tensy jy in ooreenstemming met sy Woord kom nie. ‘Maar ek het so baie probleme,’ sê jy. Paulus het gesê: ‘Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!’ (Filippense 3:12 NLV). Wanneer God onvolmaakte mense gebruik, besef ons dat Hy alleenlik ons bron, ons krag, ons strategie en die geheim tot ons sukses, is. Die Bybel sê: ‘Hierdie Goddelike ‘dwaasheid’ is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike ‘swakheid’ is oneindig sterker as enige menslike kragsvertoon’ (1 Korintiërs 1:25 NLV). Jy het ‘n doel wat deur God bepaal is en geen verskoning om dit nie te vervul nie. Jy kan nie jou swakheid as verweer gebruik nie, want God sê, ‘…my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). Jy kan nie jou verlede as ‘n verskoning gebruik nie, want God sê: ‘…Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Hoe God jou sien is nie die probleem nie; dis hoe jy jouself sien wat jou weerhou om sukses te behaal! Vra dus vir God om vir jou nuwe insig te gee oor hoe Hy jou sien – geliefd, geregverdig, geseënd en bevoorreg!
Sielskos: Gen 47-49; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23
2019-02-19
Lukas 17:17 NLV
Kom ons lees hoe Jesus hierdie tien melaatse mans genees het en kyk wat ons hieruit kan leer: 1) Hulle het die oomblik aangegryp. “Hulle het hard na Hom geroep: ‘Jesus, Here, kry ons tog jammer!'” (vers 13 NLV). Desperate mense bid desperate gebede. Wie gee om oor fatsoenlikheid en uiterlike voorkoms wanneer jy besig is om dood te gaan? Hierdie mans het besef dat Jesus slegs deur die dorp op reis was (sien vers 11) en die ergste ding wat kon gebeur is dat Hy verby hulle sou loop. Dus het hulle die oomblik aangegryp en tot Hom geroep. Jy kan dit ook doen, omdat niemand jou so goed soos God kan hoor nie (sien Psalm 118:5). 2) Hulle moes dit tree vir tree neem. Hulle genesing was nie onmiddellik nie, dit was ‘n proses. ‘…Gaan wys julleself aan die priesters.’ Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword’ (Lukas 17:14 NLV). Dis dikwels hoe dit werk. Dis ook nie net een tree nie, maar ‘n toewyding daaraan om deur die struikelblokke en vrese te ploeg totdat jy by jou wonderwerk uitkom. Dis egter die inspanning werd en jy sal jou verlossing meer waardeer wanneer jy dit elke dag tree vir tree moet neem deur op God te vertrou. 3) Net een uit die tien het omgedraai om dankie te sê. Dis hoekom Jesus gevra het: ‘…Waar is die ander nege?’ Was hulle te besig? Te ingedagte? Of het hulle net vergeet? Let op wat Jesus vir die een wat teruggedraai het gesê het: ‘…Jou geloof het jou gered’ (vers 19 NLV). Fisiese genesing word dikwels deur medisyne vermag, maar jy word ‘heel’ in liggaam, gedagtes en siel, deur die Here te loof en tyd saam met Hom te spandeer.
Sielskos: Gen 44-46; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20
2019-02-18
Hebreërs 13:2 NLV
Eendag was Debby Gass besig om deur Nevada te ry, toe haar sportmotor sonder petrol gaan staan het. ‘n Jong vrou, alleen in ‘n klein karretjie, op ‘n hoofweg in die woestyn sonder enigiemand in die omtrek – dit het al die elemente van ‘n riller gehad. Kort daarna het daar toe ‘n groot vragmotor by haar gestop en die drywer het gevra, ‘Kan ek jou help, dame?’ Toe sy haar verknorsing aan hom verduidelik, het hy gesê dat sy haar kar moet sluit en saam met hom na ‘n petrolstasie ‘n paar kilometer verder moes ry. Die stem van God binne-in Debby, ‘n stem wat sy geleer het om te vertrou, het gefluister, ‘Gaan saam met hom.’ Soos hulle saam weggery het, het die man haar vertel dat hy in die tronk was, vir Christus ontmoet het en dat sy lewe radikaal verander het. Hy het haar foto’s van sy vrou en familie gewys. Toe hulle weer by haar kar kom, het hy ‘n kan petrol in haar tenk gegooi, haar gegroet en weer gery. Toe het dit gebeur! Net toe Debby haar kar omdraai om te ry – op ‘n hoofweg met ‘n duidelike uitsig kilometers ver in beide rigtings – was sy vragmotor skoonveld. In ‘n oogwink het ‘n veertig-ton drywer en sy bestuurder net so verdwyn! Die Bybel sê: ‘…Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef het, selfs engele tuis ontvang!’ Debby is oortuig dat God vir haar ‘n engel gestuur het om haar daardie dag te help. Wat dink jy? Baie van ons het soortgelyke verhale, maar ons deel hulle nie met ander mense nie. Miskien is dit die vrees vir kritiek. Of miskien is dit omdat ons nie tot heelwat later besef dat ons inderwaardheid deur ‘n engel besoek is nie!
Sielskos: Gen 42-43; Luk 10:25-37; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14
2019-02-17
Psalm 30:6 NLV
God is gedurende die nag by ons. Dink daaroor; jy was teen die grond, maar deur God se genade het jy weer opgestaan. Maak nie saak hoe donker die nag was nie, jy het weer die oggend gesien. Tye en verhoudings verander, maar God is altyd dieselfde. Hy is die een wat jou in die verlede deur elke moeilikheid gebring het en Hy beloof om elke dag in die toekoms saam met jou te wees. Jy sal weer opstaan en vreugde vind. Jou dryfveer om te oorleef kom uit ‘n put wat reeds binne-in jou is en die Here is die Een wat daardie put volmaak. Laat dit vloei! Jy hoef dit nie te forseer om te vloei nie, laat dit net vloei. Die sestiende-eeuse Britse predikant en historikus, dr Thomas Fuller, het gesê: ‘As dit nie vir hoop was nie, sou die hart breek.’ Maak nie saak waardeur jy tans gaan nie, moenie opgee totdat jy die oggend sien nie. Dit kom altyd aan die einde van elke donker nag en elke gebroke belofte. Na elke terugslag, verraad en ontkenning, sal die oggend verseker breek. Laat niks jou daarvan weerhou om dit te glo nie! God sal jou trane afvee en jy sal met ‘n nuwe lied wakker word. Een van die grootste beloftes in die Skrif is as volg: ‘…Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut… ‘My lewe behoort aan die Here. Ek kan op Hom vertrou.’ Die Here is goed vir hulle wat hoop op Hom en vra wat Hy wil hê’ (Klaagliedere 3:22-25 NLV). Gister het verlede nag geëindig. Dis ‘n nuwe dag, besluit dus om dit te geniet!
Sielskos: Eks 20:3; Hand 14:1-18; 1 Sam 5:1-5
2019-02-16
Lukas 9:23 NLV
Kom ons kyk na die volgende: 1) Toewyding by die werk. In die verlede het werkgewers hulle werknemers waardeer en andersom. Vandag se werkplek word egter toenemend vyandig, met werknemers wat hulle base kwalik neem en die absolute minimum doen, terwyl base dikwels veeleisend is en hulle werkers as vanselfsprekend aanvaar. God se manier verwag wedersydse toewyding. ‘Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie. Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here…’ (Efesiërs 6:6-7 DB). Let op – as jy ‘n werkgewer is, verteenwoordig jy God. 2) Toewyding by die kerk. Baie mense het ‘n informele benadering tot die kerk: Hulle kies waarvan hulle hou en los dit waarvan hulle nie hou nie. Jesus het gesê: ‘…Ek [sal] my kerk oprig…’ (Matteus 16:18 NLV). Lidmaatskap in die kerk verg ‘n verbondsverhouding tussen gelowiges: een waarin ons instem om mekaar te bemoedig, te versorg, te beskerm, te koester, vir mekaar te bid en ons roepings saam te vervul (sien 1 Korintiërs 12:12-31). 3) Toewyding aan Christus. Jesus het ‘n radikale toewyding aan ons deur sy geboorte, lewe, lyding, kruisiging en dood gemaak; en Hy vra dat ons onsself radikaal aan Hom sal toewy. “Toe het Hy vir die skare gesê: ‘As enigeen van julle my dissipel wil word, moet jy jou selfsugtige ambisie aflê, elke dag jou kruis opneem en My volg.'” Dit beteken dat jy nie langer jou eie wil of wense volg nie, maar dat jy die Here en sy wense en wil volg. Dit is radikale toewyding; en dis wat God van jou verwag.
Sielskos: Gen 40-41; Luk 10:13-24; Ps 28; Spr 5:3-6