Jy is deel van die familie

2019-02-27
Efesiërs 1:4-5 NLV

Ons almal het ‘n behoefte daaraan om te behoort, om deel van ‘n familie te wees. Een pastoor skryf: ‘Ek ken paartjies met harte vol liefde wat begeer om dit op ‘n kindjie uit te stort, maar hulle raak nie swanger nie. Wanneer hulle dan ‘n kind aanneem, sê hulle nie vir die kind dat hy/sy aan hulle verwagtinge moet voldoen as hy in die familie wil bly nie. Net drie foute word geduld – en dan gaan jy terug na die agentskap toe nie. Nee, hulle aanvaar die kind met oop arms en vreugdevolle harte omdat hulle hom liefhet. Hulle neem hom vir ewig in hul huis in, gee hom hulle van en maak hom ‘n wetlike erfgenaam. Lank voor ons geweet het dat ons God nodig het, het Hy ‘…vooraf besluit om ons as sy kinders aan te neem…’ Aardse ouers skei, gaan in hulle onderskeie rigtings en begin nuwe families. God doen dit egter nie; jy hoef nooit bekommerd te wees oor jou plek by Hom of jou verhouding met Hom nie. Ongeag jou ras, kleur, geloof of agtergrond, wanneer jy jou sondes bely en Christus as jou Redder aanvaar, word jou aanneming bindend en permanent. Jy is deel van God se familie.’ Nog ‘n bewys daarvan is dat ‘…die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is’ (Romeine 8:16 NLV). Besef jy wat dit beteken? Jy hoef nooit weer geïntimideerd of bang te wees of onder ‘n wolk van veroordeling te leef nie, want jy is ‘n kind van God en saam met Christus ‘n erfgenaam (sien Romeine 8:17). Die woord ‘erfgenaam’ beteken dat jy elke seëning en voordeel wat Christus vir jou by die kruis gekoop het, kan opeis. Elke liewe een, sonder uitsondering!

Sielskos: Eks 13-15; Luk 12:22-34; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22

Waak teen verkeerde gedagtes

2019-02-26
Spreuke 4:23 NLV

Wanneer Satan besluit om jou te vernietig, begin hy deur verkeerde gedagtes in jou kop te plant. Jesus het dit geïllustreer toe Hy gesê het: ‘Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:27-28 NLV). Voor jy in realiteit aan sonde toegee, vermaak jy dit eers as ‘n fantasie in jou gedagtes. Bose gedagtes is nie regtig joune nie, tensy jy hulle toelaat om spreekwoordelik in te trek en die meubels te begin rondskuif. As jy hierdie gedagtes toelaat om ongehinderd rond te maal, kan ‘n gedagte homself aan ‘n voorval in jou verlede of ‘n neiging in die hede vaskleef en homself voed totdat dit soos ‘n gewas is wat binne-in jou groei. Paulus waarsku ons, ‘…neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV). Salomo skryf ook, ‘Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.’ Moenie verkeerde gedagtes ‘n pinkie gee nie, want hulle sal die hele hand gryp. Raak van hulle ontslae voor hulle jou verbintenis met Christus verswak en jou spyt laat kry. Oor die algemeen, fokus ons op dit wat ander mense kan sien en inspekteer wanneer ons ons huise skoonmaak. Dink net hoeveel gemors is daar in ons gedagtes, omdat niemand anders ons gedagtes ondersoek nie. God ondersoek dit egter! Dawid het gesê: ‘Here, U deursoek my en ken my’ (Psalm 139:1 NLV). Jy moet die volgende bid: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:15 NLV).

Sielskos: Eks 10-12; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19

Raak meer vertroud met God

2019-02-25
Job 22:21 NLV

Hier is twee dinge wat gebeur wanneer jy God se grootheid herken: 1) Jy raak nie in die versoeking om Hom te analiseer of Hom tot hanteerbare terme te probeer verklein nie. 2) Jy is minder geneig om Hom en sy wil te probeer manipuleer, of Hom en sy optredes te verduidelik. Dink versigtig vir ‘n oomblik daaroor na! Hoeveel keer moet God nog vir ons sê: ‘My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie…’ (Jesaja 55:8 NLV), voor ons dit begryp? Hoe gereeld moet Hy verduidelik dat Hy die skaapwagter en ons die skape is; dat Hy die tak en ons die lote is, voordat ons in oorgawe voor hom kniel en sê: ‘Net soos U wil, Here’? As Jesus, die Seun van God, dit nodig gevind het om te bid, ‘…Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil’ (Matteus 26:39 NLV), sal dit nie wys wees om ook elke dag hierdie woorde te bid nie? Hoe lank lanklaas het jy die tyd geneem om net stil in Sy teenwoordigheid te sit; om ‘n blik te kry op die Een wat wonderbaarlik en onverstaanbaar is? Ken jy vir God? Hoe goed ken jy Hom? Sal jy Hom graag beter wil leer ken? As jou antwoord ja is, sal dit nie net sommer vanself gebeur nie. Jy moet dit aan die bopunt van jou prioriteitslys plaas en dit elke dag nastreef. Wanneer jy dit doen, sal jy nie teleurgesteld word nie, want sy Woord waarborg jou: ‘Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom…’ (Jakobus 4:8 NLV).

Sielskos: Eks 7-9; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15

Die Heilige Gees – die ekstra faktor

2019-02-24
Johannes 14:26 NLV

Hoekom beskryf ons die Heilige Gees as die ekstra faktor? Drie redes: 1) Die Heilige Gees bepaal die gawes en vaardighede wat jy ontvang. ‘Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind’ (1 Korintiërs 12:11 NLV). As jy dus soos ‘n vierkantige pen in ‘n ronde gat voel, vra die Heilige Gees om jou te wys wat jou gawes is. Vra Hom dan om die deur oop te maak en jou guns by die regte mense te gee. Hy sal dit doen. 2) Die Heilige Gees weet waar jy hoort. Die Bybel sê: ‘Deur die Heilige Gees uitgestuur, het Barnabas en Saulus na Seleukië toe afgegaan…’ (Handelinge 13:4 NLV). Waar jy jouself bevind, maak saak. As jy byvoorbeeld ‘n walvis is, is jy gebore om in die oseaan te swem. As jy ‘n voël is, is jy bestem om in die lug te vlieg. Gedurende ‘n hongersnood het God vir Elia na die Kritspruit toe gestuur en gesê: ‘…Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring’ (1 Konings 17:4 NLV). As Elia besluit het om eerder te bly waar hy was, sou hy hierdie wonderwerk misgeloop het. Jy hoef nie iets te doen om God se liefde te ervaar nie, maar jy moet sy stem ken en sy aanwysings volg om sy seën te ervaar. 3) Die Heilige Gees kan aanstoot neem. ‘Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie…’ (Efesiërs 4:30 NLV). Wanneer ‘n duif (wat die Heilige Gees in die Skrif verteenwoordig) na sy nes toe terugkeer, sal hy nie land as die nes beskadig is nie. Vra God dus om jou meer bewus van die teenwoordigheid van sy kosbare Heilige Gees te maak; en maak jou hart ‘n plek waar Hy altyd tuis sal voel.

Sielskos: Eks 20:4; Isa 44:6-20; Rom 1:21-25

Weet verseker wie jy is

2019-02-23
Romeine 12:6 NLV

Onseker mense sê dikwels ja, wanneer hulle eintlik nee wil sê. Mense wat egter tevrede met hulself is, laat nie ander mense toe om hulle te beheer nie. Hulle sien hulself soos God hulle sien; hulle word dus deur sy Woord, in plaas van die vrees vir verwerping, gelei. Jy kan só hard probeer om almal gelukkig te hou, dat jy jouself verloor. Voel jy of jy nie alles kan wees wat mense wil hê jy moet wees nie? Wil jy nee sê, maar die vrees om ander mense te mishaag laat jou aanhou instem? Intussen bou die druk binne-in jou op en jy dink, ‘Ek kan hierdie nie meer doen nie’? Moenie vir die mense wat meer en meer eise aan jou stel kwaad word nie. Jy is die een wat verantwoordelik is om jou eie lewe te reël! Dit verg ‘n duidelike sin van jou eie waarde, jou roeping, jou rigting, jou doelwitte en jou prioriteite. ‘n Christelike skrywer sê: ‘Vir jare het ek onder die druk van almal se verwagtings geleef. Ek het gedink, ‘Wat as ek hulle in die steek laat?’ Ek het gedink dat hulle my onder druk plaas, terwyl dit egter my eie vrese en onsekerhede was wat my afgetrek het. ‘Gee jy dan nie om wat ander mense dink nie?’ vra jy. Wat ander mense dink is nie my probleem nie, tensy ek dit my probleem maak. My eerste prioriteit is om God te behaag en te wees wie Hy wil hê ek moet wees. As ek iemand anders probeer wees, sal ek sy seën prysgee, want God kan nie ‘n namaaksel seën nie.’ Die oplossing is om daaraan te werk om seker te wees wie jy in Christus is. Alles anders sal dan in plek val.

Sielskos: Eks 4-6; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11

Beëindig dadelik die konflik!

2019-02-22
Spreuke 10:12 NLV

Wanneer jy aan jou wrokkigheid vasklou, is daar ‘n oorlog binne-in jou aan die gang. Jy is in ‘n stryd met jouself, sowel as ander mense, gewikkel. Hoe meer jy veg, hoe meer grond verloor jy. Jy kan nie in hierdie situasie wen nie. Jy sukkel om uit te klaar wie reg en wie verkeerd is. Jy spandeer so baie tyd om wraak te neem, te skree en te baklei dat jy jou vrede en vreugde verloor. Beëindig dadelik die konflik! Weier om nog ‘n dag so te leef. Moenie toelaat dat iemand anders se aksies jou reaksie bepaal nie. ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8 NLV). Moenie Satan se volgende maaltyd word nie. Laat die liefde en vrede van God jou gedagtes so baie vul dat dit na ander mense toe oorvloei – insluitend diegene wat jou ontstel het. Stop en dink: Wil jy regtig soos die persoon wees wat jou seergemaak het? Wat sou Jesus gedoen het? Hy sou sy ander wang gedraai het (sien Matteus 5:39). ‘Maar wat van die mense wat my verkeerd behandel het?’ vra jy. Wat daarvan? Dis nie jou plig om oordeel oor hulle te fel nie. Daar is net een gekwalifiseerde regter; laat Hom toe om dit te hanteer (sien Jakobus 4:12). Vra God om jou te help om jou woede te laat gaan, om die ander wang te draai en die mense wat jou verkeerd behandel het, te vergewe. Bid hierdie eenvoudige gebed: ‘Here, ek is kwaad. Help my om dit te laat gaan. Dankie vir die genade wat U my gegee het om die persoon wat my seergemaak het te vergewe. In Jesus se Naam: Amen.’

Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8