Hoe om mense te help

2019-02-21
Handelinge 3:6 NLV

Die Bybel sê, ‘…Petrus sê: ‘Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou. Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (verse 6-7 NLV). Petrus het drie dinge gedoen wat jy ook moet doen as jy mense wil help: 1) Kry hulle aandag. Petrus het vir hierdie man gesê: ‘…Kyk na ons!’ (vers 4 NLV). Mense wat seer het se aandag word dikwels deur hulle pyn, hulle ervarings in die verlede en hulle vrese vir die toekoms afgelei, dus moet jy eers hulle aandag kry voordat jy tot hulle kan deurdring. 2) Stel hulle aan die naam wat groter as hul probleme is, voor. Die naam is ‘Jesus,’ en dis groter as elke siekte en situasie. Sentrums waar verslawings behandel word bevestig dat ‘n relatiewe klein persentasie van mense hulle verslawing heeltemal oorkom. Dis die slegte nuus. Die goeie nuus is egter dat die naam van Jesus sterker as enige verslawing is! ‘So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig’ (Filippense 2:10 NLV). Stel dus diegene wat seer het aan Jesus voor! 3) Help hulle op. Toe Petrus die man opgehelp het, ‘…het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (Handelinge 3:7 NLV). Omdat hy al vir agt-en-dertig jaar verlam was, het hy hulp nodig gehad om op te staan. Daar is mense rondom jou wat ook hulp nodig het om op te staan. Hulle het iemand nodig wat hulle uit hulle wanhoop kan optrek en na Jesus toe kan bring. God kan jou gebruik om daardie iemand te wees.

Sielskos: Gen 50; Hag 1-2; Luk 11:14-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5