Radikale toewyding (1)

2019-02-15
Galasiërs 2:19 NLV

Ons lewe in ‘n tydperk waar mense ‘n fobie vir toewyding het. Ons wil soveel kry as wat ons kan, terwyl ons so min as moontlik teruggee. Ons wil in die goeie tye daar vir ander mense wees, maar nie in die slegte tye nie. Ons gebrek aan toewyding word in die statistieke gereflekteer. Die huweliksyfer neem af terwyl die egskeidingsyfer toeneem. Daar is ‘n afname in betrokkenheid by die kerk en deelname aan barmhartigheids sake. Ons is besig om ‘n samelewing te word wat vreesbevange is om betrokke te raak of deur verantwoordelikheid en verpligtinge vasgepen te word. Om die vernedering en ongemak om nee te moet sê te vermy, vermy ons ons verpligtinge en verantwoordelikhede deur eenvoudig êrens anders as waar ons benodig word, te wees. Ons aandag word maklik afgelei en ons verkies dat ons preke eenvoudig, vermaaklik, en veral kort is! Radikale toewyding is skaars – maar dis wat God van ons wil hê! Die Bybel sê: ‘Dis baie beter om niks te sê nie as om iets te belowe wat jy nie doen nie’ (Prediker 5:5 NLV). Wat van toewyding aan die huwelik? God sien dit nie as ‘n 50/50 reëling nie, maar eerder as ‘n instelling waar beide partye 100 persent gee. Dis ‘n heilige verbond wat voor God deur ‘n man en vrou gemaak word, in goeie en slegte tye; totdat die dood julle skei. Die huwelik werk die beste wanneer beide huweliksmaats geleer het om saam met Paulus te sê: ‘…Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my…’ (Galasiërs 2:19-20 NLV). Dit is radikale toewyding; en dit is die manier om ‘n wonderlike huwelik te hê.

Sielskos: Gen 37-39; Luk 10:1-12; Ps 5; Spr 5:1-2

Bemoedig jou pastoor

2019-02-14
1 Tessalonisense 5:12 NLV

As jy jou pastoor wil bemoedig, is daar ‘n paar dinge wat jy kan doen: 1) Hou op kritiseer. Die meeste mense se werksprestasies word op ‘n jaarlikse basis beoordeel, maar pastore word elke week beoordeel. Onthou, as ‘n preek nie by jou byval vind nie, is die kans goed dat iemand anders dit moes hoor. 2) ‘Onthou julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het…’ (Hebreërs 13:7 NLV), en bid vir hulle geestelike groei. Goethe het gesê: ‘As jy ‘n persoon behandel soos hy is, sal hy so bly. As jy hom egter behandel soos hy behoort te wees, sal hy word wat hy behoort te wees en wat hy kan wees.’ 3) Skryf ‘n nota. Veral wanneer iets wat jou leier sê of doen by jou aanklank vind. Verbale bemoediging is goed, maar ‘n nota kan herhaaldelik gelees word. 4) Begin met jou talente woeker. As jy byvoorbeeld meganies aangelê is, diens jou pastoor se kar. As jy goed is met tegnologie, help jou pastoor om sy rekenaarvaardighede te verbeter. Vra waar jou vaardighede die nodigste is en word ‘n aktiewe deelnemer. 5) Vermy skinderstories. Jakobus het gesê: ‘As jy dink jy is godsdienstig, maar jy hou nie jou tong in toom nie, bedrieg jy jouself. Jou godsdiens is niks werd nie’ (Jakobus 1:26 NLV). Werk negatiewe praatjies met positiewe opmerkings teë en korrigeer verkeerde inligting met die waarheid. As alles egter faal – loop weg! 6) Wees openlik deelnemend. Niks bemoedig leiers meer as om te sien hoe mense op hulle preke en lesse reageer nie. 7) Verloor die maatstaf. In plaas daarvan om te verwag dat hulle ‘n spieëlbeeld van hulle voorganger moet wees, dank God vir jou pastoor se individuele styl om behoeftige mense te bedien.

Sielskos: Gen 35-36; Luk 9:57-62; Ps 149; Spr 4:25-27

Daar is nie ‘n plaasvervanger nie!

2019-02-13
Jakobus 4:8 NLV

Reimar Schultze skryf: ‘Geen mens kan soos God word, baie vir God bereik, intiem met God wees of deur God gebruik word, indien hy nog nie geleer het om alleen met God te wees nie. Alleentyd met God is ontwerp om aan jou spesifieke behoeftes te voldoen, om jou vir jou unieke roeping toe te rus, om jou vaardighede te verfyn, om van jou dwaasheid ontslae te raak en jou na sy beeld te omvorm. Hy mag dalk met ‘n beitel begin, maar Hy sal uiteindelik net skuurpapier nodig hê. Jesus het gesê: ‘My skape luister na my stem… en hulle volg My’ (Johannes 10:27 NLV). Hy sal jou nie net leer om sy stem te herken nie, Hy sal jou ook wys wat jou verhinder om sy stem te hoor. Hy sal jou die oomblik wat jy jouself aan Hom oorgee, begin leer, maar nie so vinnig dat jy ‘n les misloop nie. Hy sal jou wys wat dit beteken om aan Hom verbind te wees en teen sy spoed en in sy tyd te wandel. Natuurlik sal die Duiwel jou op elke tree probeer beveg. Hy sal vir jou logiese en godsdienstige verskonings gee om jou te vertraag, maar jy hoef nie na hom te luister nie. Staan hom teë! Hy is ‘n leuenaar en ‘n bedrieër. Wanneer jy jou verhouding met God verwaarloos, is daar ‘n prys wat jy sal moet betaal. Sommige mense het hulle kinders en kleinkinders aan die wêreld verloor of swaarkry, teleurstellings, finansiële krisisse en huweliksprobleme verduur. Party van ons lewens draai daarom om vooruit te boer, in plaas daarvan om by God stil te staan. Bely jou sonde en begin dadelik om die regte ding te doen – jy sal nooit daaroor spyt wees nie.’

Sielskos: Gen 32-34; Luk 9:46-56; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24

Dis die goeie nuus

2019-02-12
Romeine 5:20 NLV

Bill Wilson en Bob Smith, die stigters van Alkoholiste Anoniem, het eendag ‘n prokureur wat ‘n geharde alkoholis was, besoek. Die man het geen keuse gehad as om na hulle verhale van herstel te luister nie, omdat hy as gevolg van sy gewelddadige gedrag tot sy bed beperk is. Toe hulle egter van ‘n ‘Hoër Mag’ begin praat, het die prokureur sy kop geskud en gesê: ‘Dis te laat vir my. Ek glo steeds in God, maar ek weet dat Hy nie meer in my glo nie.’ Hoe hartseer – en verkeerd – is dit nie! Is jy steeds bekommerd dat God jou as gevolg van jou sonde nie sal aanvaar nie? Jy hoef nie te wees nie! Paulus sê: ‘…hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword.’ Hy behoort te weet, want voor sy bekering op die Damaskuspad, was hy een van die ergste sondaars (sien 1 Timoteus 1:15). Na sy bekering het God hom gebruik om die evangelie aan die wêreld te verkondig (sien Handelinge 17:2). ‘Genade’ was so sentraal tot Paulus se boodskap, dat hy dit aan die begin van elkeen van sy briewe noem. Dis omdat hy besef het dat wanneer jy op jou eie meriete voor ‘n Heilige God probeer staan, jy dit elke keer sal opmors en soos ‘n mislukking sal voel – ongeliefd, onwaardig en onaanvaarbaar. Kan jy jou indink wat sal gebeur as jy jouself begin sien soos God jou sien? Die waarheid is dat jy sy verloste kind is en dat Hy jou deur die bloed van Jesus sien, wat al jou sondes reinig (sien 1 Johannes 1:9). Daar is niks wat jy kan doen sodat God jou meer of minder sal liefhê nie! Dis die goeie nuus!

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Luk 9:37-45; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22

Kaleb se gesindheid

2019-02-11
Numeri 14:24 NLV

As Kaleb in vandag se tyd gelewe het, is die kans goed dat hy as ‘Persoon van die Jaar,’ iemand wat die meeste gedoen het om omstandighede te verbeter, aangewys sou word. Hier is sy verhaal in sy eie woorde: ”Ek was 40 jaar oud toe Moses… my… gestuur het om die land te gaan verken. Ek het na hom teruggekom en verslag gedoen soos ek sake gesien het. Die ander mense wat saam met my gegaan het, het die volk bang gepraat om na die land toe te gaan. Ek het volledig by die Here my God gestaan. Moses het vir my daardie dag onder eed belowe: ‘Die land waarna jy gaan kyk het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort. Jy het volledig op God vertrou’… Ek is vandag ‘n man van 85. Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het… Gee vir my asseblief die heuwelgebied waarvan die Here daardie dag gepraat het…’ Josua het hom geseën. Hy het Hebron vir Kaleb… gegee… Dit is omdat hy volkome op die Here die God van Israel vertrou het’ (Josua 14:7-14 NLV). Jy kan waardevolle lesse by ‘n man soos Kaleb leer. Sy lewe kan in vier sinne opgesom word: 1) Hy het ‘n ‘ander gesindheid’ as die mense rondom hom gehad. 2) Hy het geglo dat mens met God se hulp enige reus wat in jou pad staan, kan verslaan. 3) Hy het ‘n visie gehad wat ouderdom of omstandighede nie kon verminder nie. Hy was gewillig om daarvoor te wag en daarvoor te werk, selfs al het dit vyf-en-veertig jaar geneem voor sy visie vervul is. 4) Hy het steeds jonk van hart en heeltemal getrou aan God in sy ouderdom gebly. Vra dus vir God om jou Kaleb se gesindheid te gee.

Sielskos: Gen 28:1-30:24; Luk 9:28-36; Ps 141; Spr 4:18-19

Hou op streef!

2019-02-10
Psalm 75:8 ABA

As jy nie jou waarde in jou verhouding met God kry nie, sal jy in die versoeking kom om jou lewe te spandeer om jouself te probeer bevorder. Dit sal jou onseker – en gevaarlik – maak. Hoekom? Omdat jy haatdraend sal word wanneer ander mense bo jou bevorder word; jy mag dalk selfs probeer om hulle af te breek. In God se koninkryk bereik jy nie sukses op jou eie nie, jy ontvang dit van God. ‘Maar God is die regter wat verneder of verhef’ (Psalm 75:8 NLV). Terwyl Dawid se broers daarna gestreef het om Israel se volgende koning te word, het Dawid net aangehou om sy skape op te pas en die werk te doen wat God hom gegee het. Laat die ander mense kompeteer en vergelyk! Bly jy net getrou aan die werk wat God jou gegee het om te doen – en wanneer die tyd reg is, sal Hy kom en jou kry! Jesus het gesê, ‘…my juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra’ (Matteus 11:30 NLV). Wanneer jy jouself probeer bevorder, sal jy moet sweet, swoeg en sukkel, maar wanneer jy op God vertrou en dinge op sy manier doen, sal dit maklik kom. Dit beteken nie dat jy nie sal moet hard werk en opofferigs maak om sukses te behaal nie. Wanneer God ‘…’n geopende deur voor jou gee…’ (Openbaring 3:8 NLV), is Hy die enigste een wat dit weer kan toemaak. Hy sal dit egter nie doen nie tensy jy, soos koning Saul, rebels of haatdraend word of weier om tot bekering te kom. Wanneer jy weet dat God in beheer is, neem dit die druk daarvan af om Hom te dien. As jy daaroor nadink – is dit die enigste manier hoe om te lewe.

Sielskos: Jes 53:1-12; Hand 8:26-40