2019-02-09
Handelinge 8:35 NLV
In Handelinge 8, lees ons die verhaal van ‘n hoë-profiel leier wat vir Christus gewen is. Hierdie man het ‘n posisie soortgelyk aan die staatsekretaris van Amerika beklee. Hy is egter deur ‘n persoon met ‘n lae profiel, genaamd Filippus, ‘n ouderling, na Christus toe gelei (sien verse 26-40). Kom ons kyk hoe dit gebeur het en wat ons daaruit kan leer: 1) Filippus was gereed. Toe hierdie man iemand nodig gehad het om die evangelie aan hom te verduidelik, was Filippus gereed om dit te doen. Sou jy dit kon doen? Wanneer God ‘n taak het om gedoen te word, kan Hy jou roep? Sal jy voorbereid en gewillig wees? ‘…As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan’ (1 Petrus 3:15 DB). 2) Filippus was wys. Hy het nie sommer met die deur in die huis geval en begin preek nie. Let twee dinge van Filippus op: a) Hy is deur God se gees gelei (sien Handelinge 8:29) b) Hy het die regte oomblik herken (sien verse 34-35). Mense wat siele vir Christus wen, is sensitief en strategies. 3) Filippus was duidelik. Hy het nie ‘n vae gesprek oor godsdiens met die man gehad nie, hy het direk oor Jesus gepraat. Dis wat mense nodig het – ‘n verhouding met die Here Jesus Christus! Hulle moet weet dat Hy lewe en dat Hy lief is vir hulle. Dat Hy magtig genoeg is om oor die heelal te heers, maar steeds persoonlik genoeg is om hulle sondes te vergewe en hulle twyfel op te los. Jou werk is om die uitnodiging uit te reik. Het jy ‘n strategie nodig om siele te wen? Probeer hierdie een – dit werk!
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17
2019-02-08
Romeine 8:6 NLV
Sodra jy tot ‘stink gedagtes’ ingee, versuur jou bui, verloor jy energie, voel God ver, voel gebed nutteloos, lyk sonde aanloklik en word jou lewensuitkyk somber. Wanneer dit gebeur, word jy so gefokus op hoe jy voel, dat jy nie besef dat dit jou denke is wat veroorsaak dat jy so voel nie. Kyk na Elia die profeet. Die hoogtepunt van sy loopbaan was toe hy vuur uit die hemel laat afkom het en die profete van Baäl verslaan het. Dit was ‘n yslike oorwinning! Toe het koningin Isebel ‘n boodskap na Elia toe gestuur: ‘Jy het my profete doodgemaak. Raai wat? Ek gaan jou nou doodmaak’ (sien 1 Konings 19). Elia het toe kop eerste in vrees ingeduik. Hy het waardeloos gevoel: ‘…ek is niks beter as my voorouers nie’ (vers 4 NLV). Hopeloos: ‘Elia… het gevlug’ (vers 3 NLV). Geïsoleerd: ‘…Net ek alleen het oorgebly…’ Nie in staat om dit te hanteer nie: ‘…Ek het nou genoeg gehad…’ (vers 4 NLV). Hy wou doodgaan: ‘…Neem nou maar my lewe…’ (vers 4 NLV). Hoe het God op Elia gereageer? Op vier eenvoudige maniere: 1) Hy het hom gehelp om ordentlik te eet en genoeg rus te kry. 2) Hy het met Elia in ‘n ‘sagte fluistering’ (vers 12 NLV) gepraat om hom gerus te stel en hom moed te gee. 3) Hy het Elia verseker dat hy nie alleen is nie: ‘Nogtans sal Ek 7 000 in Israel laat oorbly, hulle wat nie voor Baäl gebuig en hom vereer het nie’ (vers 18 NLV). 4) Hy het vir hom nog ‘n opdrag gegee om te vervul. Daar sal altyd ‘n ‘Isebel’ wees wat dreig om jou beste pogings ongedaan te maak en jou af te breek. Die sleutel is om jou gedagtes te beheer!
Sielskos: Gen 24:1-25:18; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13
2019-02-07
Romeine 12:2 NLV
Wanneer ‘n muishond per ongeluk in jou huis inkom, gaan dit nie help om die vensters oop te maak en lugverfrisser te spuit nie. Daar is mense wat daarin spesialiseer om muishonde te hanteer en dis nogal duur om hulle na jou huis te laat kom om die muishond te vang. Dis egter die moeite werd om van die probleem ontslae te raak. Hoe hou dit met jou denkwyse verband? Eenvoudig: Jou gevoelens is die reuk en jou gedagtes is die muishond! Om jou gevoelens te verander, moet jy na die bron toe gaan wat hulle geproduseer het – jou gedagtes. Gedagtes produseer gevoelens, nie andersom nie. Bekommerde mense is geneig om angstige gedagtes te dink en daardie gedagtes word later so outomaties dat jy, soos ‘n muishondreuk wat in die lug hang, ophou om dit agter te kom en leer om daarmee saam te leef. Jy raak gewoond aan ‘stink gedagtes!’ Jou denkpatrone word ‘n gewoonte, soos om jou tande te borsel. Jy raak so gewoond daaraan om bitter, angstige, selfsugtige gedagtes te dink, dat jy ophou aandag gee. As jy die kwaliteit van jou lewe wil verander, moet jy die manier wat jy dink, verander. Die psalmdigter het gebid, ‘Deursoek my, o God, en ken my hart; toets my onrustige gemoed’ (Psalm 139:23 NLV). God sal jou help om bewus te word van dit wat van oomblik tot oomblik in jou gedagtes aangaan. Hy sal jou na die plek waar die ‘muishond’ bly lei en jou help om dit te hanteer. Nie net sal Hy jou wys hoe om die verkeerde gedagtes te verwyder nie, maar hoe om hulle met die regte gedagtes te vervang deur jou gedagtes te rig op ‘…die dinge wat die Gees gelukkig maak’ (Romeine 8:5 NLV).
Sielskos: Gen 20-23; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4
2019-02-06
Romeine 8:5 NLV
Om die mens te word wat God wil hê jy moet wees, moet jy jou gedagtes op die regte dinge ‘rig.’ Jy sê: ‘As my omstandighede maar net anders was.’ Jou omstandighede bepaal nie jou lewenskwaliteit nie; hoe jy daaroor dink, bepaal dit. Die digter Frederick Langbridge het geskryf, ‘Two men looked out through prison bars; one saw mud, the other saw stars.’ Beide mans was in identiese omstandighede, maar hulle perspektiewe was heeltemal anders. Een het skoonheid gesoek en dit gekry; die ander het op die lelike gefokus en dit gevind. Dit werk as volg: Jou omstandighede in die lewe produseer sekere emosies. Hoe verander jy dus jou emosionele reaksie wanneer jy magteloos teenoor mense en omstandighede voel? Deur te verander hoe jy aan hulle dink! Ware verandering begin altyd in jou gedagtes. Die manier wat jy dink, reflekteer onvermydelik die manier wat jy lewe. Om dus die beste weergawe van jouself te word, die persoon wat God wil hê jy moet wees – moet jy “groot” gedagtes dink! Mense wat “groot” lewens lei is mense wat op ‘n gereelde basis groot gedagtes dink. Jy sê, ‘Maar ek kan nie help om te dink hoe ek dink nie.’ Laat God dan ‘…julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). God se Woord sal jou help om met geloof eerder as met vrees, met gerusstelling eerder as met angs en met vreugde eerder as met negatiwiteit, te dink. Sodra jy jou gedagtes gerig het op ‘die dinge wat die Gees gelukkig maak,’ sal jou lewe ten goede begin verander.
Sielskos: Gen 17-19; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2
2019-02-05
Spreuke 22:6 DB
Die joernalis William Hodding Carter het geskryf: ‘Daar is net twee blywende erflatings wat ons kan hoop om vir ons kinders te gee. Een is wortels; die ander een is vlerke.’ Kinders wat weet dat hulle ouers hulle onvoorwaardelik liefhet, het wortels. Gevolglik is hulle dus in staat om teen enigiets wat die lewe hulle mee gooi, op te staan. Op dieselfde manier, wanneer jy in jou kinders selfvertroue aanwakker en hulle aanmoedig om te droom, gee jy vir hulle vlerke. Enige tyd wanneer kinders die wil om te wen gegee word, is hulle al klaar halfpad op die pad na sukses. As jy hulle egter daarsonder laat grootword, is hulle reeds halfpad op pad na mislukking. Dit beteken dat jy as ouer geloof in jou kind moet demonstreer, sodat hulle kan leer om geloof in hulself te hê. Elke kind het binne-in hom ‘n God-gegewe saadjie vir grootheid en wanneer jy hom of haar laat weet dat jy in hulle glo, gee jy daardie saadjie die geleentheid om te groei. Het jy al agtergekom hoe mense in ooreenstemming met jou verwagtinge presteer of misluk? Wanneer jy aanhoudend jou kinders kritiseer, sal hulle negatief en vol vrees grootword en aan hulself twyfel. As jy egter in hulle glo en aanneem dat hulle goed sal doen, sal hulle die ekstra pad stap om aan jou verwagtinge te voldoen. Dis jou geloof in hulle wat die omgewing skep waarin hulle leer om te vlieg! As jy vir hulle geld gee, sal hulle dit spandeer. As jy vir hulle hulpbronne gee, sal hulle dit mors. As jy egter vir hulle geloof in God en hulself gee, is die kans goed dat hulle in die lewe sal uitblink.
Sielskos: Gen 13-16; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35
2019-02-04
Handelinge 27:25 NLV
Op pad na Rome het Paulus ‘n verwoestende storm ervaar. Sy verhaal leer ons drie waardevolle lesse: 1) Jou ongehoorsaamheid kan ‘n storm veroorsaak. Omdat die kaptein nie na Paulus se waarskuwing wou luister nie, het hy sy skip, sy vrag en amper sy lewe verloor. Jou ongehoorsaamheid kan ‘n storm in jou gesondheid, jou finansies, jou familie of jou loopbaan ontketen. God begin nie sy gebooie met, ‘As jy lus is, moet jy die volgende doen,’ nie. Nee. Hy bedoel wat Hy sê en Hy sê dit vir jou eie beswil, gee dus aandag! 2) Jy is nie alleen in die storm nie. God is met jou. Paulus het gesê: ‘Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus… om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is. Daarom, hou moed, manne!..’ (verse 23-25 NLV). Met God aan boord, is daar nie ‘n storm wat sterk genoeg is om jou te sink nie. 3) Wanneer jy op God se beloftes staan, het jy sy outoriteit. Paulus het dalk soos ‘n gevangene gelyk, maar in realiteit het hy meer mag as die kaptein gehad. Alhoewel hy met kettings geboei was, was hy die vryste man op die skip. Wanneer jy duidelik van God gehoor het, kan jy enige situasie hanteer, omdat sy Woord sê: ‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie. Elke aanklag teen jou, sal jy weerlê. Dit is die erflating van die dienaars van die Here…’ (Jesaja 54:17 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Hou aan om op God te vertrou en Hy sal jou deur hierdie storm bring!
Sielskos: Gen 10-12; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32