2019-02-03
Galasiërs 6:2 NLV
Almal wat jy ontmoet, steek iets weg. Nie omdat hulle jou wil mislei nie, maar omdat sommige wonde net te persoonlik is om oor te praat. Wanneer jy ‘n harde woord van jou man se kant af kry, kan die pyn te diep wees om dit te bespreek. Of wanneer jou man giftige woorde van jou hoor, kry hy seer maar kan dit nie wys nie. Dus gaan lek beide van julle julle wonde en probeer om aanmerkings en vrae van ander mense te vermy. Is dit waar jy vandag is? Sukkel jy met iets wat te moeilik is om oor te praat? As dit die geval is, onthou dat ander mense dieselfde doen! Dikwels is hulle woede ‘n simptoom van hulle seer en steek hulle afsydigheid net ‘n vrees vir verwerping weg. Jesus het die beste in mense gesien en uit sy pad gegaan om teenoor hulle genadig te wees en hulle laste te probeer verminder. Onthou jy hoe Hy die vrou wat owerspel gepleeg het, hanteer het? (sien Johannes 8:1-11). Hy het haar opgehef, omdat daar tussen onkruid ‘n potensiële roos kan wees! Herinner jouself dat ander mense deur dinge gaan wat hulle nie met jou bespreek nie. Hulle stort trane wat jy nie kan sien nie en voel geïsoleerd op maniere wat jy jou nie kan indink nie. Probeer dus om hulle las ligter te maak, nie om daar toe by te dra nie. Jy mag dalk die enigste geneser wees wat vandag hulle pad kruis. Wanneer jy hulle las ligter maak, sal God joune ook ligter maak. Die Bybel sê, ‘Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:8 NLV). Vra God om jou vandag ‘n lasdraer te maak.
Sielskos: Eks 16:1-35; Joh 6:30-40
2019-02-02
Spreuke 30:8 NLV
Wanneer jy daaroor besin, kan jou rykdom op twee maniere bepaal word: óf die hoeveelheid wat jy besit, óf die hoeveelheid waarmee jy tevrede is. Baie van die huidige skuldkrisis is deur ons onvermoë om met genoeg tevrede te wees, veroorsaak. In ‘n briljante deel van Spreuke vind ons hierdie gebed: ‘Twee dinge wil ek van U vra. Moenie dit weier solank ek leef nie. In die eerste plek, keer tog dat ek lieg. In die tweede plek, laat my nie arm of ryk wees nie. Gee asseblief vir my net dit wat reg is. As ek te veel het, sal ek U verloën en vra: ‘Nou wie is die Here?’ As ek te arm is, sal ek steel en God se Naam beswadder’ (verse 7-9 NLV). Na aanleiding van hierdie Skrifgedeelte, moet ons die volgende ses riglyne volg wanneer ons geld wil leen. Skuld is verkeerd: 1) Wanneer jy dit nie op ‘n tydige basis kan terugbetaal nie. 2) Wanneer dit jou daarvan weerhou om God se regmatige deel vir Hom te gee. 3) Wanneer die skuldlas so swaar is dat jy nie vir die toekoms kan spaar nie. 4) Wanneer dit vir die luukshede in die lewe gebruik word. 5) Wanneer jy ander mense in gevaar stel deur hulle vir jou te laat borg staan (sien Spreuke 6:1-5). 6) Wanneer dit jou huwelik onder finansiële druk plaas. Die finansiële kundige, Larry Burkett, het gesê dat skuld die motiverende faktor in amper 80 persent van alle skeisake is. Dit beteken egter nie dat jy nie familieprobleme sal hê as jy ryk is nie. Dit beteken eenvoudig dat wanneer jy geld eerste en jou familie tweede stel, dit jou niks meer as ‘n ryk mislukking kan maak nie. Voor jy dus geld leen, bid en vra God vir wysheid.
Sielskos: Gen 7-9; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30
2019-02-01
1 Tessalonisense 4:17-18 DB
In die rolprent, Heaven is for Real, was Colton Burpo net vier jaar oud toe hy ‘n nood blindedermoperasie ondergaan het. Gedurende die daaropvolgende paar maande, het hy oor sy besoek aan die hemel gepraat. Hy kon presies sê wat sy ouers tydens die operasie gedoen het en hy het verhale vertel van mense wat hy in die hemel ontmoet het – mense wat hy nooit op aarde ontmoet of van vertel is nie. Hy het vir sy ma gesê, ‘Jy het ‘n baba gehad wat in jou maag dood is, nè Mamma?’ Sy ouers het nog nooit aan hom die miskraam genoem nie; hy was nog te jonk om dit te verstaan. Sy ma het gevra, ‘Wie het vir jou gesê dat ek ‘n baba in my maag gehad het wat doodgegaan het?’ Hy het geantwoord, ‘Sy het, Mamma. Sy het gesê dat sy in Mamma se maag dood is. God het haar aangeneem.’ Sy het gevra, ‘Bedoel jy nie dat Jesus haar aangeneem het nie?’ Hy het geantwoord, ‘Nee Mamma, sy pappa het!’ Sy ma se oë het opgehelder en gevra, ‘Wat was die dogtertjie se naam?’ Die vierjarige Colton het gesê, ‘Sy het nie ‘n naam nie. Julle het nie vir haar ‘n naam gegee nie.’ Net voor hy buite gaan speel het, het hy gesê: ‘O ja, sy het gesê dat sy nie kan wag vir Mamma en Pappa om hemel toe te kom nie.’ Daar is op hierdie oomblik iemand in die hemel wat dieselfde oor jou sê, wat uitsien na die dag wanneer God se familie weer saam gaan wees. Moet ons dan nie dieselfde doen nie? Die Bybel sê: ‘…Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly…’
Sielskos: Gen 4-6; Luk 7:24-35; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28
2019-01-31
Spreuke 22:7 NLV
Albert Einstein het geglo dat die Reël van 72 (saamgestelde rente) ‘n belangriker ontdekking as sy relatiwiteitsteorie was. Die reël werk so: Deel 72 deur die rentekoers van jou spaargeld om die aantal jare te kry wat dit gaan neem vir jou spaargeld om te verdubbel. Byvoorbeeld: eenduisend rand wat teen 6 persent jaarlikse rente belê is, sal binne 12 jaar tot tweeduisend rand vermeerder. Kredietkaartverskaffers ken egter ook die Reël van 72. As jy byvoorbeeld ‘n aankoop van eenduisend rand teen 18 persent rente op jou kredietkaart maak en dit nie afbetaal nie, verhoog die balans van jou kredietkaart in slegs vier jaar tot tweeduisend rand. In plaas van om vir jou geld te verdien, verdien jou eenduisend rand massiewe winste vir die kredietkaartverskaffer. Die Bybel sê, ‘Soos rykes oor armes heers, so is die man wat geld leen: Hy is die slaaf van die man by wie hy leen.’ Het jy enige idee hoeveel huwelike in die moeilikheid is, of hoeveel mense op medikasie is omdat hulle in hul skuld verdrink? God wil nie hê dat jy so moet leef nie. Toe God die aarde geskep het, het Hy die volgende reël daargestel: ‘So lank as die aarde bestaan, só lank sal saaityd en oestyd… bly voortbestaan’ (Genesis 8:22 NLV). As jy ‘n oes wil hê wanneer jy dit nodig kry, moet jy saai – selfs wanneer jy nie lus is om dit te doen nie. Wanneer jy ‘n enkele tamatiesaadjie saai, sal jy baie meer terugkry – dis net ‘n kwessie van tyd. Verminder dus jou skuld en wees ‘n goeie opsigter van die fondse wat God aan jou toevertrou het. Dan kan jy op hierdie belofte staan: ‘…my God [sal] uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV).
Sielskos: Gen 1-3; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26
2019-01-30
Openbaring 22:4-5 NLV
Om te weet hoe ‘n storie eindig, moet jy die laaste hoofstuk lees. In Openbaring 22, die laaste hoofstuk van die Bybel, lees ons oor twee wonderlike vooruitsigte wat deur elke verloste kind van God geniet gaan word. Kom ons kyk daarna: 1) ‘Hulle sal Hom vol in die oë kyk.’ Een van die grootste vreugdes in die hemel sal wees om die gesigte van ons gestorwe geliefdes te sien en ‘n ewigheid saam met hulle te spandeer. Hoe opwindend dit ook al mag wees, kan dit nie vergelyk word met die vreugde om Jesus, die Een vir wie ons die liefste is, se gesig te sien nie. Die gesangskrywer het gesê: ‘Face to face with Christ my Savior, face to face what will it be. When with rapture I behold Him, Jesus Christ who died for me.’ Dis nie al nie; lees die volgende: ‘Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk’ (1 Johannes 3:2 NLV). Ons sal Hom sien, ons sal soos Hom wees en ons sal vir ewig saam met Hom wees. Hoe wonderlik is dit nie! 2) ‘En hulle sal vir altyd as konings regeer.’ Net soos die eindeksamen jou gekwalifiseer het om te gradueer en ‘n lewe te begin maak, so kwalifiseer die toetse en beproewinge van hierdie lewe jou om te gradueer en saam met Christus in die volgende lewe te regeer. Hou jou oë op die prys. Die lewe is ‘n kortverhaal; die ewige lewe is die groot storie – om Jesus van aangesig tot aangesig te sien en vir ewig saam met Hom te regeer.
Sielskos: Pred 9-12; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24
2019-01-29
Markus 4:9 DB
Studies bewys dat ons 50 persent van dit wat ons hoor, onmiddellik vergeet, 80 persent daarvan binne ‘n dag vergeet en 97 persent daarvan binne ‘n week vergeet. Wat is dus die oplossing? Wanneer jy luister, maak dit jou doelwit om te verstaan, nie net om die feite te onthou nie. Wees eerlik. Hoeveel keer het jy al gesê dat jy meer tyd gaan spandeer om na die mense in jou lewe te luister? Begin om dit te doen, want as jy nie vir die lewe se ‘spesiale oomblikke’ opdaag nie, sal daar voor jy jou oë kan uitvee, geen oomblikke meer wees om voor op te daag nie. Die mense wat waarlik na ons luister, word die belangrikste mense in ons lewens. As jy een van hulle wil wees, moet jy drie dinge doen: 1) Kyk direk na die spreker. Moenie iemand verkleineer deur werk te probeer opvang, op die foon te praat of op jou foon te speel terwyl hulle met jou praat nie. Fokus op hulle! 2) Moenie hulle in die rede val nie. Wanneer jy dit doen, dink mense dat jy nie veel waarde aan dit wat hulle sê, heg nie. Of dat jy hulle probeer beïndruk met hoeveel jy weet. Of dat jy te opgewonde is oor dit wat jy tot die gesprek wil byvoeg om hulle te laat klaar praat. 3) Skort jou oordeel op. Wag tot jy die hele storie gehoor het voor jy reageer, anders sal jy dalk die belangrikste dinge wat die spreker te sê het, misloop. Kan jy aan iemand dink na wie jy nie die afgelope tyd geluister het nie? Die goeie nuus is dat dit nooit te laat is om ‘n goeie luisteraar te word nie.
Sielskos: Pred 5-8; Luk 6:37-49; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20