Genade produseer goddelikheid

2019-01-28
Romeine 6:1 NLV

Hoe sal ons diegene antwoord wat sê dat mense wat te veel oor God se genade praat, ander mense laat dink dat hulle ‘n lisensie het om te sondig? Deur hulle na God se Woord te verwys: ‘Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word? Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!’ (verse 1-2 NLV). Soos jy jou nuwe natuur voed en jou ou ene uithonger, sal die ou natuur begin doodgaan. Jy sal minder geïnteresseerd wees om jouself te behaag; en meer geïnteresseerd word om God tevrede te stel. Paulus sê: ‘Ek weet dat Christus se liefde ons almal aanvuur…’ (2 Korintiërs 5:14 DB). Paulus is deur die behoefte om op God se genade wat hy ervaar het te reageer, aangevuur. Hy het gesê: ‘…die wêreld [is] vir my gekruisig, en ek vir die wêreld’ (Galasiërs 6:14 NLV). ‘n Openbaring van God se genade het veroorsaak dat die wêreld vir Paulus sy aantrekkingskrag verloor het, asook andersom. Wanneer dit reg verstaan word, verhoed die genade van God nie goddelikheid nie, maar produseer meer daarvan. ‘God het sy goedheid aan alle mense bekendgemaak. Almal het nou die kans om sy verlossing te beleef. Nou wys Hy vir ons hoe om ‘n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan… Daarom sien ons baie uit na daardie wonderlike dag wanneer ons wonderlike God en Verlosser, Jesus Christus, terugkom… Christus het sy lewe ter wille van ons opgeoffer om ons los te koop uit die mag van die sonde. Nou behoort ons net aan Hom. Ons is sy volk. Syne alleen! Nou wil ons net doen wat Hy sê!’ (Titus 2:11-14 DB).

Sielskos: Pred 1-4; Luk 6:27-36; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18

Wees beslis

2019-01-27
Jakobus 1:8 NLV

As jy bang is om ‘n besluit te neem omdat dit dalk verkeerd kan wees, lees die volgende Skrifgedeelte: ‘Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee… Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (verse 5-8 NLV). President Reagen het dit geniet om te vertel hoe hy geleer het om besluite te maak. Toe hy ‘n seun was, het sy tannie hom na ‘n skoenmaker gestuur. Toe die skoenmaker vra of hy ‘n ronde of vierkantige toon wil hê, het hy onseker gestotter tot die skoenmaker gesê het, ‘Kom in ‘n dag of twee terug en sê vir my wat jy wil hê.’ Later het die skoenmaker Reagan in die straat raakgeloop en hom gevra wat hy oor die skoene besluit het. ‘Ek kon nog nie kies nie,’ het hy geantwoord. ‘Nou maar goed,’ het die skoenmaker gesê, ‘jou skoene sal môre gereed wees.’ Toe Reagan die skoene kry, het een skoen ‘n ronde toon en die ander skoen ‘n vierkantige toon gehad! Reagan het gesê, ‘Elke dag wat ek vir daardie skoene moes kyk het my ‘n les geleer. As jy nie jou eie besluite kan neem nie, sal iemand anders dit vir jou neem.’ Om sukses in die lewe te behaal, moet jy vir wysheid bid en dan ‘n besluit neem.

Sielskos: Ese 47:1-12; Op 21:22-22:5

Verdiep in Christus

2019-01-26
Matteus 28:19 NLV

Tensy jy daar toe verbind is om Christus in elke area van jou lewe te volg, beteken die doop net dat jy droog in die water ingaan en nat en onveranderd weer uitkom. Let noukeurig op wat Jesus gesê het: ‘Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle… Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet verseker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis’ (verse 19-20 NLV). Met die doop verklaar jy in die openbaar dat jy op die dood en opstanding van Christus, vir jou verlossing vertrou. Dit beteken egter meer as om net in water gedompel te word. Dit beteken dat jy: 1) In die beginsels van Christus verdiep moet wees. ‘…Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het…’ Let wel: ‘alles.’ Dis nie ‘n à la carte spyskaart waarvan jy kan kies wat vir jou lekker lyk en die res kan los nie. Onvolledige gehoorsaamheid – is ongehoorsaamheid. 2) In die doelwitte van Christus verdiep moet wees. ‘Gaan dan, maak al die nasies my dissipels…’ Die doop kan in ‘n oomblik plaasvind, maar dissipelskap verg dat jy Jesus vier-en-twintig uur ‘n dag, sewe dae ‘n week, twee-en-vyftig weke ‘n jaar moet volg. 3) In die teenwoordigheid van Christus verdiep moet wees. ‘…En weet verseker: Ek is altyd by julle…’ Dit beteken dat jy in alles wat jy doen ‘n aanvoeling vir sy teenwoordigheid moet ontwikkel. Sy inwonende teenwoordigheid moet jou bestuur, jou motiveer en jou daarop fokus om sy wil uit te voer.

Sielskos: Rom 15-16; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12

Tel jou woorde

2019-01-25
Eksodus 4:12 NLV

Soms verskoon ons iemand se kritiese houding deur te sê, ‘Ag, sy blaf is erger as sy byt.’ Ja, ‘n hond se byt kan seermaak, maar so ook ‘n hond se blaf. Dit kan ‘n kind traumatiseer en hulle met vrees vul. Dink daaraan – wil jy met ‘n hond vergelyk word? Soms is dit nodig om iemand te konfronteer om sodoende gesonde grense vir jouself daar te stel, of om hulle veilig te hou. Jesus het egter meer kere met deernis gepraat as wat Hy gekonfronteer of veroordeel het. Karen Casey Arneson vertel van haar vroeë ervarings as ‘n gelowige: ‘Ek het die koninkryk vol littekens en bloeiend binne gegaan, met die hoop om genesing vir my wonde te vind. Ek het iemand gevind wat my bytmerke skoongemaak het en my ou wonde versorg het. Ek het ook uitgevind dat daar kannibale in die Christendom is. Dis die susters met die soet glimlagte wat jou rug byt wanneer jy wegdraai. Die nuuskierige Nellies wat om jou kom snuffel vir ‘n lekker skinderstorie. God waarsku ons: ‘Maar julle byt en verskeur mekaar. Pas op dat julle mekaar nie heeltemal verslind nie!’ (Galasiërs 5:15 NLV). Om krag te kry om ons natuurlike aptyt teë te werk, beteken dat ons ons honger by ‘n ander bron moet versadig. Die Psalmdigter sê: ‘Smaak en sien dat die Here goed is…’ (Psalm 34:9 AFR53) Sonder waaksaamheid kan ons maklik weer in ou gewoontes terugval. ‘n Bietjie peusel aan hierdie een, ‘n bietjie proe aan daardie een… en voor ons besef het ons weer die kannibaal binne-in ons losgelaat. Terwyl ons geroepe is om ons broers en susters te help wat in sonde vasgevang is, word ons ook gewaarsku om versigtig te wees om nie self versoek te word nie (sien Galasiërs 6:1 NLV).

Sielskos: Rom 12-14; Luk 6:1-16; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10

Maak hulle reg groot

2019-01-24
Spreuke 29:17 NLV

As ‘n gedissiplineerde kind vir jou rus gee, sal ‘n ongedissiplineerde kind jou geen rus toelaat nie. Jy kan hulle nêrens heen vat nie of hulle nêrens los nie. Salomo sê: ‘Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer’ (Spreuke 13:24 NLV). Kindermishandeling is laakbaar – maar so ook kinderverwaarlosing. Sonder dissipline, kondisioneer jy jou kind vir ‘n lewe van seerkry. Wanneer hulle deur die polisie afgetrek word of deur die bank gekontak word omdat hulle nie hulle lening terugbetaal het nie, gaan ‘n woedeaanval hulle niks help nie. Dink asseblief aan hulle toekoms! God dissiplineer sy kinders; is jy slimmer as wat Hy is? Die Bybel sê, ‘…Dit is nie lekker om gestraf te word nie, want dit maak seer, maar later pluk ons die vrugte. Iemand wat sy les uit die straf geleer het, sal ‘n mens word wat doen wat God wil hê en daarom in vrede leef’ (Hebreërs 12:11 DB). ‘n Tweejarige wat ‘Nee!’ skree mag dalk vandag oulik wees, maar wag tot hy sewentien is en jou soos ‘n dronk matroos vloek. Die Bybel sê, ‘Astrantheid is eie aan ‘n seun; ‘n pak slae haal dit uit hom uit’ (Spreuke 22:15 NLV). Rebellie is deel van hulle DNA en dis jou werk om daarvan ontslae te raak. Ja, dis moeilik om hulle te dissiplineer wanneer jou tyd met hulle so beperk is, maar hulle toekoms is in jou hande. ‘n Kind sonder grense is soos ‘n huis sonder mure; daar is geen beskerming teen eksterne invloede nie. Niemand voel veilig nie. Praat dus vandag met God. Hy is ‘n vader – Hy het kinders van sy eie en Hy sal jou help om joune reg groot te maak.

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Luk 5:27-39; Ps 100; Spr 3:7-8

Herinner jouself dat God getrou is

2019-01-23
2 Petrus 1:13 NLV

God sal jou geloof tot naby jou breekpunt strek. Die pastoor en skrywer, Jon Walker, sê: ‘Op ‘n punt het ek agtergekom dat God my geloof strek. Hy het spesifiek vir my gesê om op te hou om ‘n gereelde salaris te trek en deur geloof te begin leef. Met stralende sekerheid dat God sou voorsien omdat Hy vir my gesê het dat Hy sal, het ek gedoen wat Hy gesê het en vir sy voorsiening begin uitkyk. Ek het al die maniere wat God vir my voorsien het opgeteken, en die lys het indrukwekkend lank geword. God het my van ‘n ‘Ek hoop dit sal gebeur,’ na ‘n seker ‘Ek weet dit sal gebeur,’ beweeg. Tog het ek binne maande letterlik onder twyfel gesteier. Ek het my fokus verloor en begin spartel vir maniere om ‘n inkomste te genereer. Ek het geglo dat dit my verantwoordelikheid was om dinge te laat gebeur omdat God dalk nie betyds vir my sou deurkom nie.’ Verstaan mooi: ‘n Geloof wat nie geskud kan word nie, word net uit ‘n geloof wat so erg geskud is dat dit nou seker en standvastig is, gebore. Ons grootste bekommernis is om aan ons behoeftes te voldoen, maar God se grootste besorgdheid is om ons geloof te ontwikkel. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel…’ (Hebreërs 11:6 NLV). Dis hoekom Petrus geskryf het: ‘Dis hoekom ek julle altyd aan hierdie dinge sal herinner, al weet julle dit en al leef julle reeds noukeurig volgens die waarheid wat by julle is. Ek beskou dit inderdaad as my plig om julle hieraan te herinner…’ (2 Petrus 1:12-13 NLV). Hou dus aan om jouself te herinner dat God getrou is.

Sielskos: Rom 7:1-9:16; Luk 5:12-26; Ps 96; Spr 3:5-6