Los my uit!

2019-01-22
Markus 5:17 DB

Die Bybel sê: ‘Die mense wat dit alles gesien het, het natuurlik vir almal in besonderhede vertel wat met die woeste man met die demoon en die varke gebeur het. Die mense uit daardie gebied was egter baie ontevrede en het Jesus gevra om pad te gee’ (verse 16-17 DB). Hulle het nou net ‘n wonderwerk gesien en tog het hulle vir Jesus gevra om hulle uit te los. Miskien was hulle bang dat Hy met hulle lewensbestaan sou inmeng, soos Hy met die eienaar van die varke gedoen het. Of miskien het hulle gedink dat Hy so magtig en onvoorspelbaar was dat hulle Hom nie by hulle lewens wou betrek nie. ‘Los my uit, Here!’ Miskien het jy nog nie hierdie presiese woorde gebruik nie, maar is daar nie areas in jou lewe waarby jy eerder nie vir God wil betrek nie? Pastoor Mark Roberts sê: ‘As ons ons geheime gedagtes in woorde omskep, mag hulle dalk soos volg klink: ‘U kan my hê as dit by my familielewe kom, maar los my by die werk uit.’ Of, ‘Ek is gewillig om U ‘n tiende van my inkomste te gee, maar los die res van my geld uit.’ Of, ‘Ek is bly om U in my lewe te hê, Jesus, maar moenie van my vra om my ouers te vergewe nie.’ Of, ‘Ek wil hê dat U my Here moet wees, maar ek wil steeds aan sekere gedragsareas vashou; ek wil aanhou om op sekere maniere te sondig en U te weerstaan wanneer dit by sekere verhoudings kom.” God wil alles hê, nie net sekere dele van jou nie. Hy wil die heerser van alle aspekte van jou lewe wees – insluitend die areas waar jy eerder aan jou eie genade oorgelaat wil word.

Sielskos: Rom 3:21-6:23; Luk 5:1-11; Ps 91; Spr 3:3-4

‘Tuis’ in die Here

2019-01-21
Psalm 90:1 NLV

Dawid het geskryf: ‘Sommige mense het in ‘n dorre land rondgedwaal… maar die pad na ‘n bewoonde stad kon hulle nie kry nie. Hulle was honger en dors, hulle was heeltemal uitgeput. ‘Here, help ons!’ het hulle geroep, en Hy het hulle uit hulle nood gered. Hy het hulle op die regte pad gelei, na ‘n stad waar hulle kon woon’ (Psalm 107:4-7 NLV). Ons siele het ‘n plek nodig waar ons rustig kan wees; ‘n plek waar ons al ons bekommernisse, moegheid en frustrasies kan neerlê. ‘Here, ek verlang, ek hunker na u woning. Met my hele wese, liggaam en gees, wil ek jubel oor die lewende God’ (Psalm 84:3 NLV). Jesus het geweet dat ons siele ‘n plek nodig gehad het wat ons huis kon noem en het gesê, ‘Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly…’ (Johannes 15:4 DB). Jesus nooi jou nie uit om by Hom te bly as ‘n gewone gas nie, maar as ‘n familielid wat al die voordele wat daarmee gepaard gaan, kan geniet. As iemand jou ‘n pragtige huis gee, hoe sal jy daarvan besit neem? Jy sal eers seker maak dat die gewer ernstig is, die nodige papierwerk inspekteer en dan intrek en dit geniet. Is die Here ernstig wanneer Hy sê: ‘Bly by My?’ Ja. Is jou naam op die nodige Bybelse ‘papierwerk’? Ja. Dan kan jy deur ‘n daad van geloof vandag jou goed oppak en intrek. Die digter S.T. Coleridge het geskryf, ‘Geloof is ‘n bevestiging en ‘n daad wat ewige waarhede huidige feite maak.’ Verander jou geloof in ‘n ‘huidige feit’ en verklaar: ‘Die Here is nou my permanente, veilige huis.’ Herhaal dit soveel keer as nodig. Eis die belofte: ‘Here, U was ons toevlug van geslag tot geslag’ op.

Sielskos: Rom 1:1-3:20; Luk 4:31-44; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2

Die seëninge van Jesus se bloed

2019-01-20
1 Johannes 1:7 NLV

Bloed is die enigste element wat elke deel van die liggaam bereik. Bloed se kosbare vrag suurstof en voedingstowwe dra lewe, energie, voeding en genesing na alle dele van die liggaam toe. Die witbloedselle funksioneer as paramedici wat wonde skoonmaak en siektes genees. Hulle is ‘n weermag wat potensiële aanvallers afweer. Daar is ‘n geestelike les hier uit te leer! Ons het almal die lewenskragtige bloed van Jesus nodig om ons te reinig, te beskerm en ons in stand te hou. Ons het dit elke dag nodig. Die Bybel sê: ‘As ons optrede van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is… en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde.’ Dit beteken as jy voortgaan om met Jesus te wandel, sal sy bloed voortgaan om jou van alle sonde skoon te maak. Vra enige dokter: Bloed bepaal wie die kind se regte vader is. Die bloed van Jesus bewys dat jy God se verloste kind is. Elkeen van ons hemelse Vader se seëninge vloei deur sy bloed na sy kinders toe. Dis wat ons in staat stel om geregtig en gekwalifiseerd voor Hom te staan om sy seëninge te ontvang. As ons egter nie verstaan dat God ons aanvaar en ons deur hierdie bloed sien nie, sal ons bemagtig maar onseker wees en ons geestelike gawes gebruik, maar onder onnodige veroordeling lewe. Berader, sê vir jou kliënte wat seer het dat hulle deur die krag van Jesus se bloed elke vesting in hulle familie en elke ketting wat hulle aan hulle verlede bind, kan afbreek. Neem vandag ‘n oomblik om God vir die seëning van Jesus se bloed te dank.

Sielskos: Rig 16:23-31; 2 Kor 12:3-10

Waag dit om te droom

2019-01-19
Filippense 3:13 DB

Om met vertroue vorentoe op jou lewensreis te beweeg, het jy ‘n betroubare padkaart nodig. In die Bybel word dit ‘n droom of visie genoem. Vir Moses was dit om God se mense uit slawerny na die Beloofde Land toe te lei. Vir Florence Nightingale het dit beteken om genesing en hoop aan die gewonde en sterwende soldate in die Krim-oorlog te bring. Vir Thomas Edison was dit om die wêreld met gloeilampe te verlig. Die feit bly staan, enigiemand wat al ooit ‘n verskil in die lewe gemaak het, het met ‘n droom begin wat uiteindelik hulle lewenspassie geword het. Vir die uitgewers van hierdie dagstukkies, is dit om God se Woord in die hande van soveel mense as moontlik in elke nasie op aarde te plaas! Hoe weet jy of jou visie van God af kom? Dit sal jou seën en vir ander tot voordeel wees. As jou droom egter is om in ‘n herehuis te bly en ‘n fortuin vir jouself bymekaar te maak, moenie daarop staatmaak dat God dit sal onderskryf nie. Inspirasie sonder perspirasie is net ‘n dagdroom. Veertig persent van die mense wat jy ontmoet, het wonderlike idees, maar al wat hulle daaraan doen, is om daaroor te praat. Die ander veertig persent van mense werk hard en sal gewillig wees om hulle alles vir ‘n droom te gee – maar hulle het nie een nie. Net die laaste twintig persent van mense het ‘n droom en die geloof om dit te bewaarheid. Selfs as jy deel van hierdie laaste groep is, is daar geen waarborge dat jy suksesvol sal wees nie. Jy het egter ‘n goeie kans – beter as tagtig persent van die mense om jou. Gaan dus voort – waag dit om te droom.

Sielskos: Jes 63-66; Luk 4:14-30; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22

God sal jou nie daarmee laat wegkom nie

2019-01-18
1 Tessalonisense 1:8-9 NLV

Jack Eckerd, die stigter van die Eckerd apteekgroep, wat op daardie stadium die tweede grootste apteekgroep in Amerika was, het vriende geraak met Chuck Colson, wat die stigter van die Prison Fellowship was. Hy het Colson aan verskeie invloedryke groepe in Florida voorgestel in ‘n poging om verandering in Florida se tronksisteem mee te bring. Gedurende hulle reise het Chuck die geleentheid gehad om sy nuutgevonde geloof in Jesus Christus met Jack te deel. Hy het ‘n paar boeke vir Jack gegee en uiteindelik saam met hom gebid om ‘n Christen te word. Kort daarna het Jack verby die tydskrifrak in een van sy winkels geloop, toe hy twee pornografiese tydskrifte op die rak opmerk. Die teenwoordigheid van hierdie tydskrifte het hom in die verlede nooit gepla nie, maar dit het nou! Jack het die president van sy maatskappy gebel en vir hom gesê: ‘Kry daardie tydskrifte uit my winkels uit.’ Die president het gestry: ‘Maar ons maak ‘n wins van drie miljoen dollar ‘n jaar uit daardie tydskrifte uit.’ Jack het egter aangedring: ‘Verwyder hulle.’ So is al sulke tydskrifte op een dag uit sy sewentien honderd winkels verwyder. Toe Chuck Colson Jack oor sy besluit uitvra, het hy geantwoord: ‘Hoekom anders sal ek drie miljoen dollar weggee? Die Here sal my nie daarmee laat wegkom nie.’ Wanneer jy daaraan verbind is om Christus te volg en volgens die beginsels van die Skrif te leef, sal God jou ook nie daarmee laat wegkom nie. Laat dieselfde van jou gesê word wat Paulus van die gelowiges in Tessalonika gesê het: ‘…óral het julle geloof in God bekend geword… hoe julle van die afgode af weggedraai het na God toe…’

Sielskos: Jes 58-62; Luk 4:1-13; Ps 89:1-14; Spr 2:20

Wanneer iemand jou aanval

2019-01-17
2 Timoteus 2:3 NLV

Daar is twee tipes kritiek: konstruktiewe kritiek en destruktiewe kritiek. Die een bou jou op en die ander een breek jou af. Wees slim oor hoe jy op ongegronde kritiek en skinderstories reageer. Wanneer jou kritici anoniem wil bly, is hulle nie jou reaksie waardig nie. Daar is ‘n verhaal van ‘n pastoor wat ‘n brief ontvang het met net een woord daarop – DWAAS! Die volgende Sondag het hy dit opgehou en vir sy gemeente gesê, ‘Ek het die vreemdste brief hierdie week ontvang. Die persoon wat dit geskryf het, het egter vergeet om die brief te onderteken!’ Jy sê: ‘Maar hulle probeer om my reputasie te beskadig.’ D.L. Moody het gesê: ‘As ek vir my karakter sorg, sal God vir my reputasie sorg’ (sien Jesaja 54:17). Enige tyd wanneer jy by ‘n waardige saak betrokke is, sal mense nie net probeer om jou af te breek nie, maar ook om jou op die grond te hou. Toe Paulus Timoteus vir die bediening opgelei het, het hy vir hom gesê: ‘Verduur saam met my lyding soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus.’ Moeilike mense word in ons pad geplaas, nie om ons te verslaan nie, maar om ons te ontwikkel. Leiers weet dit, dus bly hulle en maak die werk, ongeag die koste, klaar. Net soos die kaptein saam met die skip ondergaan, bly ‘n ware leier totdat die werk afgehandel is. Hoe moet jy dan reageer? Deur vir hulle te bid! Jesus het gesê, ‘Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak…[Dan] sal julle werklik optree as kinders van die Allerhoogste…’ (Lukas 6:28, 35 NLV).

Sielskos: Jes 53-57; Luk 3:21-38; Ps 84; Spr 2:16-19