2019-01-16
Efesiërs 4:32 NLV
Sommige van ons blink uit in ons loopbane, maar tree soos ‘n bul in ‘n glashuis op wanneer dit by ons verhoudings kom. Dan rasionaliseer ons dit deur te sê: ‘Ek het nie bedoel om iemand seer te maak nie,’ of ‘Dis maar net hoe ek is.’ Jammer. God laat ons nie so maklik daarvan afkom nie. Wanneer iemand jou irriteer, verwag God van jou om twee dinge te doen: 1) Wees die eerste een om uit te reik. Jy mag dalk reg wees, maar as jy wrokkig voel, watse nut het dit dan? Dink daaroor: As jy net ‘n jaar oorgehad het om te lewe, sou jy nog een sekonde van jou tyd aan sulke dinge spandeer het? Nee! Die Bybel sê: ‘Vergewe mekaar soos God julle vergewe het…’ (Efesiërs 4:32 NLV). God het die eerste tree geneem om ons te vergewe, sodat ons weet hoe om dit vir ander mense te doen. 2) Jy moet begrip hê. Wanneer sommige van ons ons punt probeer bewys, stoomroller ons oor almal en alles in ons pad. Doelgerigte, tydsbewuste mense kan hieraan skuldig wees. Die Bybel sê: ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het.’ Die kans is goed dat die mense wat onder jou vel kom nie probeer om jou lewe moeilik te maak nie; hulle sukkel om hulle eie lewens te hanteer. Sodra jy begryp dat hulle nie kwaadwillig is nie, sal jy deernis vir hulle begin kry. Dis hoe dit met God is. ‘Hy sal ‘n geknakte riet nie verder afbreek nie. Mense wat dof brand soos ‘n lamppit sal hy nie uitdoof nie…’ (Jesaja 42:3 NLV). Vra Hom vandag om jou te wys hoe om sy liefde aan diegene wat jou irriteer, te bewys.
Sielskos: Jes 49-52; Luk 3:11-20; Ps 81; Spr 2:11-15
2019-01-15
Psalm 55:23 NLV
Soms is die beste ding om te doen, om die situasie aan God oor te gee. Kyk na Jesus; Hy het sy bediening eers op dertig begin. Wat van al daardie ‘vermorste’ jare? Hy het dit aan God oorgelaat. Hoe het Hy ook gereageer teenoor diegene wat sy boodskap gehoor het, hulle skouers opgetrek het en weggeloop het? Hy het dit aan God oorgelaat. Wat van daardie klomp Fariseërs wat Hom soveel moeilikheid gegee het? Hy het hulle ook aan God oorgelaat. In The Finishing Touch, beskryf Charles Swindoll ‘n tyd in sy bediening toe hy deur eindelose eise gedrewe en gedreineer gevoel het. Hy skryf: ‘As mense nie verander het nie, het ek verantwoordelik gevoel. As iemand die pad byster geraak het, was dit op een of ander manier my fout. As daar nie aanhoudende groei was nie, het ek opgetree asof ek dit moes maak gebeur. As ‘n preek nie mooi duidelik of kragtig was nie, het ek die hele Maandag en die helfte van Dinsdag daarmee geworstel. Praat van vermorste energie! Ek het met tyd en ouderdom verbeter. Amper al die dinge wat eens op ‘n tyd my vreugde gesteel en my motivering aangeval het – gee ek eenvoudig aan God oor. Beteken dit ek gee nie om nie? Natuurlik gee ek om. Daardie bekommernisse is egter nou in die Een wat hulle kan hanteer se hande geplaas. Ek het geleer om die dinge wat my eens op ‘n tyd gepla het, aan die Een oor te gee wat nie omgee om gepla te word nie. Waar kritiek my voorheen vir dae ontstel het, het ek nou geleer om te sif, te skuif en te seil. Ek doen wat ek kan – en gee die res aan God oor.’
Sielskos: Jes 45-48; Luk 3:1-10; Ps 79; Spr 2:9-10
2019-01-14
Markus 11:23 NLV
Jy moet drie dinge doen om dit wat God in sy Woord belowe het, te ontvang. Eerstens, neem ‘n besluit. Vat sy belofte vas en moenie laat gaan nie. God reageer op ‘n geloof wat uithou en ‘n besluit wat geneem is: ‘…by God is alles moontlik!’ (Matteus 19:26 NLV). Die voormalige bofbalster, Sam Ewing, het gesê: ‘Niks is so vernederend soos om toe te kyk hoe iemand iets doen wat jy gesê het nie gedoen kan word nie.’ Tweedens, visualiseer jou oorwinning. Voor konstruksie begin, het die argitek reeds die eindresultaat in sy of haar gedagtes gesien. Deur geloof het Abraham sy kinders ‘gesien’; hy het hulle elke keer getel wanneer hy na die sterre opgekyk het (sien Genesis 15:5). Gebruik jou geheue om weer oorwinnings in die verlede te sien en gebruik jou verbeelding om toekomstige oorwinnings te sien. Dis wat Dawid gedoen het toe hy Goliat verslaan het. Jy moet jou reus in die gesig kyk en verklaar: ‘In die Naam van die Here gaan jy val.’ Derdens, spreek tot jou situasie. Jesus het gesê: ‘… Julle moet geloof in God hê. Dit verseker ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:22-23 NLV). Moenie net oor jou berg praat nie, praat met hom! Maak seker dat dit wat jy sê, in lyn met God se Woord is. Maak sy Woorde jou woorde en die berg sal jou slaaf word. Hy moet – want Jesus het so gesê!
Sielskos: Jes 42-44; Luk 2:41-52; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8
2019-01-13
Jakobus 1:4 NLV
Jy is nader daaraan as wat jy dink om die mens te word wat God wil hê jy moet wees. Deur sy genade, sal jy deur hierdie toets kom en sterker en wyser aan die ander kant uitkom. Paulus sê: ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). God is aan jou kant! Die tronktralies waarteen jy slaan is net in jou gedagtes. Omdat jy hulle daar gebou het, kan jy hulle met God se hulp afbreek. God wil jou vrymaak van die bang houding wat jou vir so lank teruggehou het; om jou vry te maak om jou volle potensiaal te bereik. Die regte houding kan amper enige struikelblok oorkom. Die Bybel sê byvoorbeeld: ‘Die liefde sal nooit vergaan nie…’ (1 Korintiërs 13:8 NLV). Hoekom? Omdat liefde nie van jou emosies of omstandighede afhang nie, dis ‘n slaaf van jou wil. Liefde is ‘n besluit! Jesus het gesê: ‘Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het’ (Johannes 15:12 NLV). As dit Jesus se opdrag is, sal Hy jou in staat stel om dit te vermag! Om te begin is gewoonlik die moeilikste deel. Die reis van ‘n duisend myl begin met een tree; daarna raak dit makliker. Wees egter bedag op ou houdings wat sal probeer om sterker as ooit na die oppervlak terug te keer. Moet hulle nie toelaat om dit te doen nie. Die radiokommentator, Paul Harvey, het gesê: ‘Mens kan altyd agterkom wanneer jy op die pad na sukses is; dis al die pad opdraande.’ Wees dus geduldig; dit sal tyd neem om daar te kom. Enigiets waardevol is egter die moeite werd om voor te werk!
Sielskos: 1 Sam 3:1-11; Hand 9:1-9
2019-01-12
2 Tessalonisense 3:11 NLV
Eendag het Petrus vir Johannes gekyk en vir Jesus gevra: ‘…Wat van hom, Here?’ Jesus reageer daarop: ‘…wat het dit met jou te doen? Volg jy net vir My!’ (Johannes 21:21-22 NLV). As die apostel Petrus in die moeilikheid kon kom omdat hy ingemeng het, kan enigeen van ons in die moeilikheid daaroor kom. Die kwessie gaan nie daaroor om ander mense te help nie; dit gaan daaroor om te weet wanneer om jou by jou eie besigheid te bepaal. Soms spring ons in en probeer probleme oplos sonder dat ons gevra word. Nie net is ons pogings vrugteloos nie, ons word ook daarvoor verkwalik. Soos jy geestelik meer volwasse word en oor jou behoefte kom om almal ‘reg te sien’, word die lewe eenvoudiger. Noudat jy nie meer inmeng waar jy nie uitgenooi is nie, is jy meer beskikbaar om te help waar jy regtig benodig word. Weet jy hoekom ons so baie op ander mense se tekortkominge fokus? Ja, om te keer dat ons nie te veel selfondersoek instel nie. Die enigste ding wat jy aan ander mense kan verander – is jou houding teenoor hulle. Paulus skryf: ‘Ons sê dit omdat ons hoor dat sommige mense… hulle met ander persone se sake bemoei. In die Naam van die Here Jesus Christus beveel ons sulke mense… dat hulle rustig hulle werk moet verrig en so hulle eie brood moet verdien’ (2 Tessalonisense 3:11-12 NLV). ‘n Berader sê: ‘Om ‘n vredemaker te wees beteken nie dat ons in die middel gaan staan nie. Ons is draers van vrede deurdat ons self vredig bly en nie ekstra chaos veroorsaak wanneer ons in die middel van ander mense se sake en verhoudings kom nie.’
Sielskos: Jes 38-41; Luk 2:34-40; Ps 74:1-11; Spr 2:6
2019-01-11
Hebreërs 11:26 NLV
Moses het besef dat wanneer jy nie besig is om jou God-gegewe droom te vervul nie, sal ‘n koning se paleis jou nie eens gelukkig maak nie. ‘Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan. Hy het die swaarkry saam met God se volk verkies bo die kortstondige genieting van die sonde. Vir hom was die lyding wat hy ter wille van Christus, die Messias, moes deurmaak, ‘n groter rykdom as die skatte van Egipte… Hy het volgehou soos iemand wat sy oog op die onsienlike gevestig hou’ (verse 24-27 NLV). Wanneer God jou ‘n droom gee, sal jy dinge sien wat ‘onsienlik’ vir ander mense is. Dit bring ons my die volgende droomdoder: Gebrek aan verbeelding. Robert Orben het gesê, ‘Onthou altyd dat daar net twee tipes mense in hierdie wêreld is – die realiste en die dromers. Die realiste weet waarheen hulle gaan. Die dromers was alreeds daar.’ Moses het die Beloofde Land ‘gesien,’ lank voor hy daar aangekom het. Dis wat hom veertig jaar in die woestyn gedra het. God het nie ‘n fout gemaak toe hy vir jou verbeelding gegee het nie. As gevolg daarvan kan jy in die middel van ‘n droom staan en sien hoe dit bewaarheid word, selfs wanneer ander mense daaraan twyfel. As jy dus ‘n dromer is wat reeds daar is in jou verbeelding, vertrou op God en begin aan jou droom werk. As jy uit ‘n ontmoedigende agtergrond kom, of dink dat jy nie ‘n groot verbeelding het nie, moenie hoop verloor nie. Jy kan steeds ‘n droom ontdek en ontwikkel. God het daardie vermoë in jou geplaas!
Sielskos: Jes 34-37; Luk 2:21-33; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5