Radikale toewyding (2)

2019-02-16
Lukas 9:23 NLV

Kom ons kyk na die volgende: 1) Toewyding by die werk. In die verlede het werkgewers hulle werknemers waardeer en andersom. Vandag se werkplek word egter toenemend vyandig, met werknemers wat hulle base kwalik neem en die absolute minimum doen, terwyl base dikwels veeleisend is en hulle werkers as vanselfsprekend aanvaar. God se manier verwag wedersydse toewyding. ‘Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie. Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here…’ (Efesiërs 6:6-7 DB). Let op – as jy ‘n werkgewer is, verteenwoordig jy God. 2) Toewyding by die kerk. Baie mense het ‘n informele benadering tot die kerk: Hulle kies waarvan hulle hou en los dit waarvan hulle nie hou nie. Jesus het gesê: ‘…Ek [sal] my kerk oprig…’ (Matteus 16:18 NLV). Lidmaatskap in die kerk verg ‘n verbondsverhouding tussen gelowiges: een waarin ons instem om mekaar te bemoedig, te versorg, te beskerm, te koester, vir mekaar te bid en ons roepings saam te vervul (sien 1 Korintiërs 12:12-31). 3) Toewyding aan Christus. Jesus het ‘n radikale toewyding aan ons deur sy geboorte, lewe, lyding, kruisiging en dood gemaak; en Hy vra dat ons onsself radikaal aan Hom sal toewy. “Toe het Hy vir die skare gesê: ‘As enigeen van julle my dissipel wil word, moet jy jou selfsugtige ambisie aflê, elke dag jou kruis opneem en My volg.'” Dit beteken dat jy nie langer jou eie wil of wense volg nie, maar dat jy die Here en sy wense en wil volg. Dit is radikale toewyding; en dis wat God van jou verwag.

Sielskos: Gen 40-41; Luk 10:13-24; Ps 28; Spr 5:3-6