2020-01-09
Spreuke 29:18 NLV
Karen Williams verduidelik verder: ‘Om suksesvol as ‘n span te funksioneer, moet elke persoon opgelei word om te verstaan hoe die ander lede funksioneer. Dis die enigste manier wat hulle in staat gaan stel om te kommunikeer, omdat hulle almal verskillende “tale” praat. Die visioenêr moet die rasieleier word, wat die visie aanhoudend vir almal in die implementasievlak voorhou, sodat hulle kan onthou hoekom hulle doen wat hulle doen. Hulle moet verstaan dat die prosespersoon en die taakpersoon verskillende maatstawwe vir hulle eie sukses het en hulle moet vooruitgang en mylpale met lof en viering erken. Die prosespersoon moet in staat wees om die visioenêr te bemoedig dat die visie deur die prosesse bereik sal word. Hulle moet ook die taakpersoon aanmoedig om te besef dat elke taak noodsaaklik vir die sukses van die voltooide visie is en dat dit krities is dat hulle die take volgens die gedefinieerde prosesse moet voltooi. Net so moet die prosespersoon en die taakpersoon besef dat die visioenêr aanmoediging deur terugvoering wat hulle ondersteuning vir die visie demonstreer, nodig het. Die visioenêr kan nie sonder hierdie onderskraging lei nie. Die prosespersoon kan nie sonder hierdie onderskraging lei of dien nie. Die taakpersoon kan nie sonder hierdie onderskraging dien nie. Daar is verskillende maatstawwe vir elke persoon, wat hulle in staat stel om hulself as suksesvol in sy of haar spesifieke rol te sien. Die sleutel is natuurlik om die regte gawe in die regte rol te plaas, sy of haar waarde aan die hele span te kommunikeer en dit aanhoudend in die openbaar en privaat te ondersteun.’ Dis hoekom Paulus aan sy span geskryf het: ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God’ (Filippense 1:3 NLV).
Sielskos: Eks 4-6; Matt 5:27-37; Ps 42:6-11; Spr 1:28-31
2020-01-08
Romeine 12:6 NLV
In die bediening, soos in elke ander veld, is dit nodig dat ons die individuele proses wat met elke persoon se gawe gepaard gaan, verstaan. Karen Williams, die president van Strategic Media Solutions, skryf: “‘n Bediening bestaan uit verskeie begaafde individue, wat deur ‘n gedeelde visie wat God in die leier laat ontstaan het, gelei word. Hierdie individue kan gewoonlik in drie kategorieë gegroepeer word: 1) visioenêr; 2) proses-georiënteerd; en 3) taak-georiënteerd. Daar is ‘n emosionele reaksie vir elke persoon in hulle area van begaafdheid, soos dit betrekking het op die geboorte en suksesvolle voltooiing van ‘n visie. ‘n Visioenêr beleef ‘n emosionele hoogtepunt wanneer die visie aan hulle duidelik word. Wanneer hulle dit aan diegene wat dit gaan uitvoer voorlê, beleef diegene in die gehoor weer ‘n hoogtepunt wanneer hulle hierdie duidelike, wêreldveranderende visie aanhoor. Wanneer die visie ten volle duidelik is, is dit 100% voltooid vir ‘n visioenêr. Dis hoekom hulle kan aangaan om nuwe visies te skep en te ontvang, lank voordat die eerste een voltooi is. Vir die proses-georiënteerde lede, moet die visie eers in prosesse omskep word. Hulle emosionele hoogtepunt vind plaas wanneer die prosesse duidelik gedefinieer en gedokumenteer is en wanneer hulle voel dat die prosesse die voltooiing van die visie suksesvol kan ondersteun. Hulle hoogtepunt vind dus plaas lank nadat die visie aan hulle voorgelê is. Die taak-georiënteerde lede beleef ook eers hulle emosionele hoogtepunt lank nadat die visie voorgelê is. Hulle ervaar dit wanneer hulle take voltooi en wanneer hulle dinge op hulle lysie kan begin afmerk. Dit gebeur eers aan die einde van die voltooide take wat in die prosesse uitgeklaar is.”
Sielskos: Eks 1-3; Matt 5:13-26; Ps 42:1-5; Spr 1:20-27
2020-01-07
Jesaja 60:4 NLV
Een van die lesse wat Jesus ons in die gelykenis van die Verlore Seun geleer het, is die volgende: Moenie iemand afskryf nie, maak nie saak hoe sleg dinge in hulle lewens mag wees nie. Ons gooi te gou tou op, omdat: 1) Ons hulle optrede sien. Ons weet egter nie deur watter ervarings hulle gegaan het, wat hulle gemaak het wie hulle is nie. Partykeer tree mense as gevolg van die pyn van wonde en onopgeloste kwessies wat hulle binne-in hulself saamdra, verkeerd op. Soms is hulle woede ‘n masker vir ‘n diepe vrees. Ander kere, tree hulle soos die disfunksionele ouers wat hulle grootgemaak het op, omdat dit die voorbeeld is wat hulle gegee is om mee te werk. Totdat iemand egter nie vir hulle ‘n nuwe en beter manier wys om die lewe te hanteer nie, sal hulle daarin vasgevang bly. 2) Ons weet nie waarmee hulle worstel nie. Moenie laat hulle fasade van sukses jou ‘n rat voor die oë draai nie. Iemand kan in ‘n mooi huis bly, ‘n duur kar na ‘n goeie werk toe bestuur en tog val hulle huwelik uitmekaar, hulle kinders rebelleer en hulle gedagtes maal rond. Hulle het jou deernis nodig. In plaas daarvan om hulle as ‘n verlore saak af te skryf, vra God vir woorde van wysheid. Jesaja het gesê: ‘Die oppermagtige Heer het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat. Elke môre maak Hy my wakker en leer my luister soos dit ‘n leerling betaam’ (Jesaja 50:4 NLV). As jy voortdurend vir hulle bid en hulle probeer help, sal God jou ‘n paramedikus van sy genade maak. Die woord vir jou vandag is dus: Moenie hulle afskryf nie – want God het nie!
Sielskos: 1 Kor 15-16; Matt 5:1-12; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19
2020-01-06
Lukas 8:43-44 NLV
Die Bybel sê: ‘Daar was ‘n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan chroniese bloeding gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie. Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop. ‘Wie het My aangeraak?’ het Jesus gevra. Almal het dit ontken, en Petrus het gesê: ‘Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.’ Maar Jesus het vir hom gesê: ‘Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei…’ ‘Dogter,’ het Hy vir haar gesê, ‘jou geloof het jou genees. Gaan in vrede’ (verse 43-48 NLV). Die vrou het ‘n probleem gehad wat die lewe uit haar gedreineer het, ‘n probleem wat geen dokter kon oplos nie. Sy het toe gedoen wat jy behoort te doen – sy het haar probleem na Jesus toe geneem, Hom in geloof aangeraak en heel geword. Dink oor alles wat sy moes oorkom. Twaalf jaar van lyding. ‘n Gevoel van hopeloosheid en wanhoop, want: ‘…Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie…’ Dan was daar die skare wat om Jesus saamgedrom het en in haar pad gestaan het. Nietemin is sy genees die oomblik wat haar geloof kontak met Jesus gemaak het. Wat is vandag jou grootste probleem? Is dit langtermyn? Is dit by die huis of by die kantoor? Is dit ‘n gesondheidskwessie of ‘n hardkoppige gewoonte? Moenie stop voor jy by Jesus kom nie, selfs al beteken dit dat jy op jou knieë moet gaan en deur elke struikelblok wat in jou pad staan, moet druk. Raak Jesus vandag in geloof aan; en jy kan ook heel gemaak word.
Sielskos: 1 Kor 12-14; Matt 4:18-25; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16
2020-01-05
Maleagi 3:10 NLV
Die Bybel teken hierdie interessante gesprek tussen God en sy mense aan: ‘…Die Here, die Almagtige, sê: ‘Keer terug na My toe en Ek sal na julle toe terugkeer. Maar julle vra: ‘Hoe moet ons terugkeer?’ ‘Sal mense God ooit besteel? Tog het julle My bedrieg! Julle vra: ‘Wat bedoel U? Wanneer het ons U ooit bedrieg?’ Julle het die tiendes en offerandes gesteel! Daar rus ‘n vloek op julle, want julle hele volk besteel My.’ Die Here, die Almagtige, sê: ‘Bring al die tiendes na die stoorkamers sodat daar genoeg kos in my tempel kan wees. Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ Die Here, die Almagtige, sê: ‘Ek sal sorg dat insekte julle oes nie verwoes nie en julle wingerde op die landerye nie misluk nie. Dan sal al die nasies julle as geseënd beskou omdat julle land begeerlik is’ (verse 7-12 NLV). In reaksie op die Israeliete se vraag: ‘Hoe kan ons bewys dat ons waarlik na U toe teruggekeer het, Here?’ het Hy geantwoord: ‘Deur jou tiende te gee!’ Hier is drie dinge wat die Bybel sê sal gebeur wanneer jy God 10 persent van jou inkomste gee: 1) Die vensters van die hemel sal oopmaak en sy seëninge sal op jou lewe neerstort. 2) Dit plaas ‘n heining van goddelike beskerming om jou, jou geliefdes en alles van jou. 3) Die mense rondom jou sal die seën van die Here op jou lewe opmerk. Dus, as jy in die laaste tyd nie jou tiende gegee het omdat dit moeilike tye is en jy bang is dat jy nie al jou verpligtinge sal kan nakom nie, daag God jou vandag uit: ‘Toets My hierin.’
Sielskos: 1 Kor 13; Ef 3:14-21; Joh 15:1-17
2020-01-04
Jakobus 4:2 NLV
Hoe groot is jou vra-kapasiteit wanneer dit by gebed kom? Elia het vir Elisa gevra: ‘…’Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?’ ‘Laat my asseblief ‘n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,’ antwoord Elisa’ (2 Konings 2:9 NLV). Sommige van ons mag dalk geskok oor Elisa se antwoord wees, hom as arrogant sien en sê: ‘Jy moet nederig en dankbaar vir die voorreg wees om onder ‘n groot profeet soos Elia te dien; en jouself gelukkig ag dat God jou toelaat om met sy bediening voort te gaan.’ Elisa was egter nie sku nie en Elia het nie aanstoot geneem nie. Hoe het dit uitgedraai? Elisa het sy dubbele porsie ontvang en op die ou einde twee keer soveel wonderwerke as Elia gedoen. Wanneer jy bid, sê God nie: ‘Maak jou versoek redelik en prakties,’ nie. Hy wil hê dat jy groot en oorvloedige versoeke moet hê. Dink net aan hierdie groot belofte: ‘Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsie, die einde van die aarde as jou besitting’ (Psalm 2:8 NLV). Haal die beperkinge van God af! Dink net, as Hy gewillig is om vir jou ‘die nasies as erfporsie’ te gee, sal Hy verseker jou geliefdes red, jou liggaam gesond maak, of vir jou daardie werk, huis of verhouding waarvoor jy bid, gee. Jesus het gesê: ‘Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen…’ (Johannes 14:13 NLV). Net twee keer in die Skrif het iemand iets gesê wat Jesus verbaas het. Op beide geleenthede was dit ‘n demonstrasie van gewaagde geloof deur ‘n nie-Jood, iemand wie die godsdienstige skare gevoel het geen reg op God se wonderbaarlike voorsiening gehad het nie. Die woord vir jou vandag is dus: vergroot jou vra-kapasiteit.
Sielskos: 1 Kor 9-11; Matt 4:12-17; Ps 90:13-17; Spr 1:8-9