Neem jou probleme na Jesus toe
2020-01-06Lukas 8:43-44 NLV
Die Bybel sê: ‘Daar was ‘n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan chroniese bloeding gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie. Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop. ‘Wie het My aangeraak?’ het Jesus gevra. Almal het dit ontken, en Petrus het gesê: ‘Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.’ Maar Jesus het vir hom gesê: ‘Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei…’ ‘Dogter,’ het Hy vir haar gesê, ‘jou geloof het jou genees. Gaan in vrede’ (verse 43-48 NLV). Die vrou het ‘n probleem gehad wat die lewe uit haar gedreineer het, ‘n probleem wat geen dokter kon oplos nie. Sy het toe gedoen wat jy behoort te doen – sy het haar probleem na Jesus toe geneem, Hom in geloof aangeraak en heel geword. Dink oor alles wat sy moes oorkom. Twaalf jaar van lyding. ‘n Gevoel van hopeloosheid en wanhoop, want: ‘…Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie…’ Dan was daar die skare wat om Jesus saamgedrom het en in haar pad gestaan het. Nietemin is sy genees die oomblik wat haar geloof kontak met Jesus gemaak het. Wat is vandag jou grootste probleem? Is dit langtermyn? Is dit by die huis of by die kantoor? Is dit ‘n gesondheidskwessie of ‘n hardkoppige gewoonte? Moenie stop voor jy by Jesus kom nie, selfs al beteken dit dat jy op jou knieë moet gaan en deur elke struikelblok wat in jou pad staan, moet druk. Raak Jesus vandag in geloof aan; en jy kan ook heel gemaak word.
Sielskos: 1 Kor 12-14; Matt 4:18-25; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16