Doen hierdie jaar wat God sê

2020-01-03
Jesaja 1:19 NLV

In die elfde eeu, het koning Henry III van Bavaria moeg geword vir al sy verantwoordelikhede as koning, die druk van internasionale politiek en die vervelige lewe aan die hof. Hy het ‘n aansoek by die plaaslike klooster ingedien om as ‘n denker aanvaar te word en die res van sy lewe in gebed en meditasie deur te bring. Die kloosterhoof, Richard, het egter gereageer: ‘U Majesteit, besef u dat die belofte hier een van gehoorsaamheid is? Dat dit moeilik sal wees, aangesien u ‘n koning is?’ Henry het geantwoord: ‘Ek verstaan. Ek sal vir die res van my lewe aan jou gehoorsaam wees, soos God jou lei.’ Die kloosterhoof het geantwoord: ‘Dan sal ek vir jou sê wat om te doen. Keer terug na jou troon en dien God getrou in die plek waar Hy jou geplaas het.’ Na Henry se dood is die volgende stelling tot sy eer geskryf: ‘Die koning het geleer om te regeer, deur gehoorsaam te wees.’ Vandag, en elke dag, het jy die volgende besluite om te maak: 1) Lewe volgens jou eie impulse, of lewe volgens die instruksies wat God in sy Woord vir jou gegee het. 2) Lewe volgens jou eie goeddunke, of onderwerp jouself aan die heerskappy en leierskap van die Heilige Gees wat in jou woon. Wanneer jy daaroor nadink, is die antwoord duidelik! Wanneer jy God gehoorsaam, lei dit tot vrede, vooruitgang, beskerming en bevordering. Sy Woord sê: ‘As julle My maar net gehoorsaam en toelaat dat Ek julle help, sal julle baie hê om te eet.’ Gehoorsaamheid is ‘n daad van jou wil, nie ‘n refleks van jou emosies nie. Doen dus hierdie jaar wat God sê, want Hy het goeie dinge vir jou in gedagte.

Sielskos: 1 Kor 5-8; Matt 4:1-11; Ps 90:7-12; Spr 1:5-7

Die Here is hierdie jaar by jou

2020-01-02
Rigters 6:12 NLV

Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n man wat ‘n arend se eier in die nes van ‘n werfhoender gesit het. Die arend het uitgebroei en tussen die klomp hoenders grootgeword. Sy hele lewe lank het die arend gedoen wat die hoenders gedoen het: in die grond vir sade en insekte geskrop, gekloek en gekekkel, en nooit meer as ‘n paar voet van die grond af gevlieg nie. Een dag het hy egter ‘n manjifieke voël gesien wat grasieus bo hom vlieg en gevra: ‘Wat ‘n pragtige skepsel? Wat word dit genoem?’ Die hoender langs hom het geantwoord: ‘Dis ‘n arend, die koning van alle voëls. Moet jou nie aan hom steur nie, want jy sal nooit soos hy wees nie.’ Dus het die arend teruggegaan om in die grond te pik en gesterf met die idee dat hy ‘n werfhoender was. Wie het vir jou gesê dat jy nie potensiaal het nie? Wie het vir jou gesê dat jy nie sukses in die lewe sal behaal of ‘n impak sal maak nie? Verseker nie God nie! Toe die Engel van die Here vir Gideon geroep het om Israel van die Midianiete te red, het hy met ‘n lang lys verskonings, gereageer. Die engel het egter vir hom gesê: ‘…Die Here is by jou, dapper man!… Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete..! Dis Ek wat jou stuur’ (verse 12-14 NLV). Let twee belangrike dinge in hierdie verhaal op. Eerstens het God oor Gideon se lewensdoel, nie sy huidige omstandighede nie, gepraat. Tweedens het God hom daaraan herinner dat dit nie van die gestuurde se krag nie, maar van die Een wat hom stuur se krag sou afhang of die stryd gewen sal word. Jy is vandag magtig, omdat God by jou is.

Sielskos: 1 Kor 1-4; Matt 3:11-17; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4

Behou hierdie jaar jou vreugde!

2020-01-01
Nehemia 8:10 NLV

Wanneer jy na die Hallelujakoor van Händel luister, besef jy dat hy deur God geïnspireer was. Hy het die hele Messias in net drie weke geskryf. Hy sê dat die musiek letterlik na hom in ‘n warrelwind van note gekom het. Hy het koorsig gekomponeer, asof hy deur ‘n onsigbare komponis gedryf is om pen op papier te sit. Hy het geskryf toe sy sig besig was om te verswak en toe hy voor die bedreiging van die tronk gestaan het, omdat hy ‘n berg onbetaalde rekeninge gehad het. Die meeste van ons vind dit moeilik om onder stres te skep, veral wanneer fisiese of finansiële probleme aan die kern van daardie stres lê. Tog het Händel dit gedoen. Hoe het hy dit gedoen? Hy skryf die voltooiing van sy meesterstuk aan een ding toe: vreugde. Hy word aangehaal waar hy sê dat dit gevoel het of hy wou bars van vreugde oor dit wat hy in sy gedagtes en sy hart gehoor het. In plaas daarvan om te sterf, soos hy gedink het hy sou, het hy gelewe om te sien hoe sy komposisie ‘n gekoesterde tradisie en populêre werk word. Hy het ook gesien hoe dit gebruik word om groot bedrae geld vir die armes en haweloses in te samel. Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ Een van die eerste dinge wat Satan sal aanval, is jou vreugde. Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV). Dit maak dus nie saak wat hierdie jaar gebeur nie, behou jou vreugde!

Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14

Klim hierdie jaar uit jou groef uit!

2019-12-31
Deuteronomium 2:2-3 NLV

‘n Bioloog het met sogenaamde ‘professionele ruspes’ geëksperimenteer. Hy het die ruspes agtermekaar op die randjie van ‘n potplant neergesit, sodat die voorste en die laaste ruspe aan mekaar geraak het, met geen openinge in die parade nie. Die klein skepsels het vir ‘n volle week op die rand van die pot geloop voor hulle van uitputting en honger gesterf het. Nie een keer het een van hulle uit die lyn uit beweeg of op die plant geklim om te eet nie. Kos was net sentimeters ver, maar hulle instink om die skare te volg was groter as die drif om te eet en te oorleef. Dieselfde het met ‘n hele generasie Israeliete gebeur. Hulle het vir veertig jaar lank in sirkels in die woestyn geloop, terwyl hulle net sewentien kilometer van die Beloofde Land af was. As jy vandag in ‘n groef is, vra jouself die volgende drie vrae af: 1) Is hierdie groef my eie maaksel? Ons kies ‘n groef omdat dit gemaklik is en geen risiko inhou nie. Dit verg moed en ‘n gewilligheid om moeilike keuses te maak om daaruit te kom. 2) Wie volg ek? Ons neem sekere patrone aan omdat iemand dit direk of deur hulle voorbeeld vir ons geleer het. In plaas daarvan om klakkeloos die skare te volg, soek eerder God se wil en wy jouself daaraan toe om dit te doen. 3) Waarheen is ek op pad? Die Bybel sê: ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). As jy vandag uit jou groef uit wil klim, vra God om vir jou ‘n visie te gee – Hy sal! Wanneer Hy dit doen, wy jouself volkome daaraan toe.

Sielskos: 1 Tess 4:1-5; 2 Kor 5:14-21; Ps 77:11-20; Spr 9:10-12

Paulus se doring; en joune (3)

2019-12-30
2 Korintiërs 12:9 NLV

Paulus skryf: ‘Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (verse 8-10 NLV). Paulus het nie die antwoord gekry waarvoor hy gesoek het nie, totdat hy ophou bid het en begin luister het. Soms is ons so besig om God te vertel wat Hy vir ons behoort te doen, dat ons nie kan hoor hoe God vir ons sê wat Hy in ons wil doen nie. As jy ‘n hardnekkige probleem in jou lewe het, is dit miskien tyd om op te hou praat en te begin luister. God het vir Paulus op die beste tyd lesse geleer – tydens moeilike tye. Die slegte nuus oor moeilike tye is dus eerder goeie nuus – dat jy meer oor God in die vallei as op die spits van die berg leer. C.S Lewis het beskryf hoe God pyn gebruik om met ons te kommunikeer: ‘God fluister in ons plesiere vir ons, praat met ons in ons gewete, maar skree vir ons in ons pyne.’ Voor God gepraat het, wou Paulus net van sy probleem ontslae raak. Nadat God gepraat het, het hy besef dat hy iets groters en beters deur sy probleem gevind het – bonatuurlike krag vir daardie moeilike tye wanneer ons besef dat God se teenwoordigheid groter as ons probleme en sy doelwitte groter as ons pyn, is.

Sielskos: 1 Kor 16; Matt 3:7-10; Ps 75; Spr 31:31

Paulus se doring; en joune (2)

2019-12-29
2 Korintiërs 12:7 NLV

Die Bybel sê nie vir ons wat Paulus se doring in sy vlees was nie, maar Paulus sê vir ons hoekom God dit toegelaat het: ‘…sodat ek nie hoogmoedig moet word nie…’ Verhoogde prestasie en sukses kan tot verhoogde hoogmoed en onafhanklikheid van God lei. Het jy al agtergekom dat wanneer dit goed in jou lewe gaan, dit soms moeilik raak om naby aan God te bly? Ons dink partykeer dat God so goed vir ons is, omdat ons so goed vir Hom is. Ons moet altyd hierteen waak. God kan enigiets ten goede van jou en tot sy verheerliking gebruik. In sy wysheid en geduld, laat Hy iets toe wat ons dink bedoel is om ons seer te maak, maar Hy keer dit om en gebruik dit om ons te help. Hy balanseer seëninge met laste. As God jou hande net met seëninge gevul het, sou jy uiteindelik op jou gesig geval het. As Hy aanhoudend laste op jou rug gelaai het, sou jy agteroor geval het. Dus verdeel Hy seëninge en laste sodat ons in balans kan bly. Dis maklik om van balans af te raak. Ons raak so vasgevang in die vreugde van die hemel, dat ons ons roeping om die sout en lig hier op aarde te wees, verwaarloos. Ons raak so betrokke by die werk van die Here, dat ons nie tyd saam met die Here van die werk spandeer nie. Ons raak so betrokke by die kerk dat ons die liefde en aandag wat ons families nodig het, van hulle steel. Dus bring God ons terug in balans deur vir ons ‘n doring te gee.

Sielskos: Heb 11:1-6; Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6