2019-12-28
2 Korintiërs 12:7 NLV
Bybelgeleerdes verskil oor wat Paulus se ‘doring’ was. Sommige dink dat dit dalk slegte sig kon wees, ander dink dat dit ‘n spraakgebrek was, terwyl ander glo dat dit ‘n fisiese gebrek was. Hoekom sê die Bybel nie vir ons wat dit was nie? Wel, as sy probleem slegte sig was, dan sou ons gesê het: ‘Dit help my nie, want ek het 20/20 visie.’ As dit ‘n spraakgebrek was, sou diegene met die gawe van kommunikasie nie troos in sy woorde gevind het nie. As dit ‘n fisiese gebrek was, sou diegene met goeie gesondheid gedink het dat hulle daarvan vrygestel is. Die rede hoekom die Bybel nie vir ons sê wat dit was nie, mag dalk wees sodat ons kan glo dat dieselfde God wat vir Paulus oorwinning oor sy doring gegee het, ook vir ons oorwinning kan gee – maak nie saak wat jou spesifieke uitdaging of beproewing is nie. Wie is die persoon in jou lewe wat jy as “‘n doring in jou vlees” sou beskryf? Wat is die netelige situasie wat jy elke dag by die werk in die gesig moet staar? Jy kan ‘n netelige verhouding met iemand hê wat ekstra genade, liefde en gebed verg. Dis hoekom Petrus skryf: ‘Sorg liewer dat julle steeds groei in die onverdiende goedheid en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus…’ (2 Petrus 3:18 NLV). Elkeen van ons se doring is anders, omdat God dit nommerpas vir ons behoeftes maak. God is meer geïnteresseerd in ons karakter as in ons gemak, daarom gee Hy vir ons ‘n sterk rug wanneer ons vir ligter laste bid. Die liedskrywer het gesê: ‘He giveth more grace when the burdens grow greater, He giveth more strength when the labors increase; To added affliction He addeth His mercy, To multiplied trials, His multiplied peace.’
Sielskos: 1 Kor 15; Matt 3:1-6; Ps 116; Spr 31:30
2019-12-27
Romeine 5:3 ABA
Is dit nie interessant dat ons neig om geduldiger te raak soos ons ouer word nie, self al het ons minder tyd oor? Hoekom gebeur dit? Perspektief! Ons probleme het nie veel verander nie, maar ons perspektief het wel. Dinge wat ons eens ontstel het ontstel ons nie meer nie, omdat ons lank genoeg al geleef het om te weet dat sy genade genoeg is vir ons (sien 2 Korintiërs 12:9). Sodra jy besef dat dit nie so ‘n groot kwessie is nie – en die meeste dinge is nie – is dit soos water oor ‘n eend se rug. In plaas daarvan om te kibbel en te kerm, wat nie werk nie en ons vreugde steel, het ons geleer om te sing: ‘Great is Thy faithfulness, oh God my Father; There is no shadow of turning with Thee; Thou changest not, Thy compassions, they fail not; As Thou hast been, Thou forever will be.’ Soos Josef, kan jy op tye wat jy gedink het jy nooit gaan oorleef nie terugkyk en sê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Ja, perspektief produseer geduld: ‘Ons is ook trots wanneer ons swaarkry, want ons weet dat wanneer ons swaarkry, dan leer ons om geduldig te wees. En wanneer ons geduldig is, dan wys dit dat ons is soos God wil hê, en wanneer ons is soos God wil hê, dan hoop en weet ons dat God ons sal red. Ons weet ons sal kry wat ons hoop, want God het die Heilige Gees vir ons gegee, en die Heilige Gees maak ons harte vol met God se liefde’ (Romeine 5:3-5 ABA). Laat God dus toe om jou geduld te ontwikkel.
Sielskos: 1 Kor 12-14; Matt 2:13-23; Ps 139:13-24; Spr 31:28-29
2019-12-26
Jesaja 46:11 NLV
God het ‘n plan vir jou lewe wat vereis dat sekere dinge op ‘n spesifieke tyd moet gebeur. Aangesien Hy die groter prentjie sien en jy met beperkte inligting werk, moet jy Hom vertrou – selfs al kan jy nie sien hoe dit alles bymekaar gaan kom nie. God kan die verlies van ‘n verhouding of werk gebruik en dit ten goede vir jou laat uitwerk. Die probleem is egter dat jy ongemaklik en heeltemal ellendig voel terwyl Hy besig is om te werk. Sewehonderd en twee-en-tagtig jaar voor Jesus se geboorte, het die profeet Miga gesê dat Hy in Betlehem gebore sou word (sien Miga 5:1). Maria en Josef het egter in Nasaret gewoon. Hoe het God die probleem opgelos? Die Romeinse keiser Augustus het beveel dat ‘n sensus opgeneem moes word: ‘Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer. En omdat Josef ‘n afstammeling van koning Dawid was, moes hy na Betlehem, Dawid se tuisdorp, gaan. Hy het vanaf die dorp Nasaret in Galilea vertrek. Hy het sy verloofde, Maria, wat teen dié tyd ver swanger was, saamgeneem. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ‘n seun…’ (Lukas 2:3-7 NLV). Is jy bekommerd oor die toekoms? ‘Hou die Here se hand styf vas; doen net wat Hy sê. Op die regte oomblik sal Hy jou hoog bo al jou probleme uitlig…’ (Psalm 37:34 DB). Ontspan: die God wat gereël het dat sy Seun in die regte familie, op die regte tyd, in die regte plek gebore word, sorg vandag vir jou.
Sielskos: 1 Kor 10-11; Matt 2:1-12; Ps 139:1-12; Spr 31:25-27
2019-12-25
Galasiërs 4:4 NLV
God raadpleeg ons nie om seker te maak dat sy planne in lyn met ons tydsberekening is nie. Maria was van plan om met Josef te trou en dan ‘n kind te kry, maar God het ‘n ander plan gehad. Die kind moes sonder sonde gebore word, dus het Hy die perfekte vader nodig gehad en dis hoekom die Heilige Gees ingeroep is om die werk te doen. Menslik gesproke, kon die tydsberekening nie slegter gewees het nie. Maria het voor haar troue swanger geword en Josef was nie die vader nie. Behalwe dat sy verstoot sou word, het die wet gesê dat sy gestenig kon word. Hoe het sy gereageer? Verstommend: ‘Maria het geantwoord: ‘Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word’…’ (Lukas 1:38 NLV). God het ‘n vasgestelde plan en Hy werk altyd daartoe. Die probleem is dat ons met beperkte inligting werk, dus word ons ongeduldig en ontsteld wanneer Hy nie ons gebede volgens ons tyd of op die manier wat ons wil hê, beantwoord nie. Daar word gesê dat George Muller, ‘n evangelis en stigter van die Ashley Down Kinderhuis in Bristol, Engeland, op ‘n keer op die hawe gestaan en wag het vir ‘n spesiale stoel om afgelewer te word. Hy het ‘n slegte rug gehad en het die stoel vir sy seereis nodig gehad. Toe die vertrektyd aanbreek en dit nog steeds nie afgelewer is nie, het sy vriende aangebied om vir hom een te koop. Muller het egter gesê: ‘God sal voorsien, of Hy sal vir my die genade gee om daarsonder klaar te kom.’ Toe, net soos die einde van ‘n sprokie, het sy stoel net betyds daar aangekom. Vertrou op God – Hy weet wat Hy doen!
Sielskos: Jes 9:1-7; Matt 1:18-25; Miga 5:2-5a
2019-12-24
Efesiërs 1:7 NLV
Deesdae probeer sommige mense om enige publieke verwysing na Jesus oor die Kersfeestyd te verwyder, terwyl ander mense lyk of hulle dit heeltemal sekulêr probeer maak. Kom ons kyk dus na die betekenis van sommige van die Kersfeessimbole. Daar word geglo dat die klein hulsbessies Christene oorspronklik aan die druppels van Christus se bloed wat deur die doringkroon wat Hy op Golgota gedra het veroorsaak is, herinner het. Die immergroen boom verwys na die belofte van ‘n ewige lewe as gevolg van sy opstanding. Die Keltiese kruis het ‘n sirkel wat die kruising van die vertikale en horisontale asse van die kruis omring. Sommige mense glo dat dit by St Patrick ontstaan het. St Patrick het ‘n Christelike kruis oor die ronde simbool van die maangodin geteken – om sodoende ‘n druïdiese simbool in ‘n nuwe simbool vir die Ierse Christendom te verander. Op dieselfde manier wat St Patrick ‘n heidense simbool geneem het en nuwe betekenis daaraan gegee het, so het ander Christene die immergroen krans geneem en nuwe betekenis daaraan gegee. Die immergroen krans is gebruik toe die vroeë Christene die Romeinse wintersonstilstand wat die hergeboorte van die son gevier het (oorspronklik op 21 Desember), in ‘n viering van die geboorte van die ‘Seun van Geregtigheid,’ verander het. In plaas daarvan om nou net ‘n versiering te wees, herinner die ronde Kersfeeskrans ons nou aan die nimmereindigende eenheid en gemeenskap wat ons met God deur Christus het. Wanneer jy dus hierdie Kersfees ‘n krans op jou deur of bo jou kaggel hang, herinner jouself dat niks ‘….ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:39 NLV).
Sielskos: 1 Kor 7-9; Matt 1:17; Ps 97; Spr 31:22-24
2019-12-23
Psalm 27:13 DB
Dawid was ‘n oorwinnaar van reuse, ‘n psalmdigter en Israel se gewildste koning. Toe die stres van die lewe hom egter tot by breekpunt gebring het, het hy geskryf: ‘Dis net my geloof in die Here wat my staande hou. Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. As ek dit darem nie geglo het nie…’ Is jy vandag by breekpunt? Wanneer jy op daardie plek kom, gebeur een van twee dinge: Jy kan óf ineenstort, óf deurbreek! Dit hang net af van wat jy doen. Dawid het ‘n deurbraak ervaar, omdat hy die regte formule geken het: ‘Stel al jou hoop op die Here! Vertrou op Hom! Hou moed! Wees sterk! Moenie die handdoek ingooi nie; bly wag op die Here!’ (vers 14 DB). Daar is ‘n ou gesegde wat lui: ‘Dieselfde son wat die botter smelt, verhard die klei.’ Wanneer moeilikheid oor jou pad kom, kan jy teen God draai omdat jy Hom getrou gedien het en nie verstaan hoekom Hy toelaat dat jy deur so ‘n moeilike tyd gaan nie, of jy kan na Hom vir die antwoord draai! Niks vang Hom onkant nie en niks is vir Hom te moeilik nie. Hy sê: ‘…Ek is God. Niemand is soos Ek nie. Ek maak die einde bekend vanaf die begin. Uit die verlede, dit wat nog moet gebeur. Wat Ek besluit, voer Ek uit. Wat Ek wil, doen Ek’ (Jesaja 46:9-10 NLV). Jy mag dalk tans in ‘n toestand van skok wees – maar God is nie. Jou omstandighede kan ‘n platform vir Hom word om sy onfeilbare liefde en sorg aan jou te bewys. Moet dus nie moedeloos word nie; Hy gaan jou deur hierdie storm bring en sy Naam in die proses verheerlik.
Sielskos: 1 Kor 4-6; Matt 1:12-16; Ps 117; Spr 31:18-21