‘Undercover boss’

2019-12-22
Esegiël 3:15 NLV

Daar is ‘n gewilde realiteitsprogram op Amerikaanse televisie genaamd ‘Undercover Boss.’ In die program, vermom die maatskappy se eienaar hom of haar as een van die gewone personeellede en werk dan saam met die personeel. Hy of sy ervaar hulle daaglikse druk en probleme, raak bewus van hulle sterk- en swakpunte en vind uit wat werk en wat werk nie. Sommige van hierdie ontdekkings laat die skille van die baas se oë afval en lei tot groot veranderinge wat die organisasie meer effektief, meer winsgewend en ‘n genotvoller plek vir almal om by te werk, maak. ‘n Goeie definisie van die woord ‘verstaan’ is: ‘Om in iemand anders se skoene te staan.’ Dis wat met die profeet Esegiël gebeur het. Hy skryf: “Ek het by die Judese ballinge gekom wat langs die Kebarrivier bly. Ontsteld en verstom het ek sewe dae lank tussen hulle gesit. Toe die sewe dae verby is, het die Here vir my ‘n boodskap gegee. Hy het gesê: ‘Mensekind, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel…'” (verse 15-17 NLV). Wanneer het God vir Esegiël ‘n boodskap gegee? Nadat hy sewe dae en nagte saam met mense wat alles verloor het, wat in diepe wanhoop en op soek na antwoorde was, gesit het. Met verwysing na Jesus, sê die Bybel vir ons: ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer…’ (Hebreërs 4:15 NLV). Jou effektiefste bediening aan ander mense kan uit sommige van die ervarings waardeur jy tans gaan, spruit. Die waarheid is dat jou grootste gemors jou grootste boodskap kan word. Laat God dus toe om aan jou te werk, totdat Hy jou op die plek kry waar jy moet wees.

Sielskos: Joh 14:6-11; Hand 4:8-12; Hand 16:22-34; Matt 1:18-21

Die wet van plekaanwysing

2019-12-21
Genesis 2:15 NLV

God het die Tuin van Eden geskep, Adam daarin geplaas en hom beveel om dit ‘te bewerk en te versorg.’ God het gesê: ‘…Wees vrugbaar [en] vermeerder…’ (Genesis 1:22 NLV). Met ander woorde: ‘Wees suksesvol.’ Let egter op, daar is ‘n definitiewe volgorde: Eerstens: God berei ‘n plek vir jou voor. Tweedens: Hy plaas jou in die plek. Derdens: Hy sê vir jou om dit ‘te bewerk en te versorg.’ Vierdens: Hy sê: ‘Ek wil hê dat jy sukses moet behaal.’ Dit word die ‘wet van plekaanwysing’ genoem. Jy sal net in die plek waar jy hoort, terwyl jy doen wat God jou geroep het en toegerus het om te doen, floreer. Dit sal ook nie maklik en vinnig wees nie; jy sal daaraan moet werk. Die wet van plekaanwysing word dwarsdeur die Skrif duidelik gemaak. Na sy lewensveranderende ontmoeting met God, lees ons: “Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: ‘Ek het God persoonlik gesien. Tog is my lewe gespaar'” (Genesis 32:30 NLV). Dis waar God sy naam van Jakob, wat bedrieër beteken, na Israel, wat ‘prins van God’ beteken, verander het. God het met die profeet Elia in die middel van ‘n hongersnood gepraat en gesê: ‘…Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon ‘n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg’ (1 Konings 17:9 NLV). Eden was die plek van vrugbaarheid. Pniël was die plek van radikale verandering. Sarfat was die plek van goddelike voorsiening. Is jy in die plek waar God wil hê jy moet wees? As jy nie seker is nie, praat vandag met Hom. ‘…Ek is die Here jou God wat jou leer wat reg is. Ek lei jou op die pad waarop jy moet loop’ (Jesaja 48:17 NLV).

Sielskos: 1 Kor 1-3; Matt 1:6b-11; Ps 113; Spr 31:14-17

Verspreiders van God se seën

2019-12-20
Genesis 12:2 NLV

God het beloof om Abraham te seën en sy naam vir een rede geëerd te maak – sodat hy vir ander mense ‘n seëning kon wees. Jesus het vir sy dissipels geleer om verspreiders van seën te wees en eerste op mense in nood te reageer. Dis hoekom Hy hulle by die wonderwerk proses betrek het; Hy was besig om hulle op te lei. Toe daar vir die skare van vyfduisend kos gegee is, het die wonderwerk van vermeerdering plaasgevind nadat die brood en vis die dissipels se hande verlaat het. Jesus was die bron, hulle was die verspreiders (sien Matteus 14:13-21). Soms herken ons nie ons seëninge nie omdat dit nog in saadvorm is, dus neem ons aan dat ons nie gereed is om verspreiders te wees nie. Dis egter nie so nie. Jesus het gesê: ‘…God se koningsheerskappy is soos ‘n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar’ (Markus 4:26-29 NLV). Let die woorde op: ‘Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie.’ In plaas daarvan om te sê: ‘Hoe kan God my moontlik gebruik?’ begin om bewus te raak van mense se behoeftes. Jy het iets wat God kan gebruik en wanneer Hy dit seën, sal jy verstom oor jou potensiaal staan. Die wonderwerk van die brood en vissies het begin toe iemand gesê het: ‘Hierdie mense moet kos kry.’ Dis toe dat die dissipels ontdek het dat Jesus dit wat hulle gehad het kon gebruik, selfs al het dit onvoldoende gelyk.

Sielskos: Mal 1-4; Matt 1:1-6a; Ps 128; Spr 31:10-13

Wye deure/groot uitdagings

2019-12-19
1 Korintiërs 16:9 NLV

Niks is werklik besonders totdat dit iets wat onoorkomelik gelyk het, bemeester het nie. Paulus skryf: ‘Intussen bly ek in Efese tot Pinkster, want hier staan nou ‘n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders’ (verse 8-9 NLV). Wye deure van geleentheid gaan altyd met groot uitdagings gepaard en elke uitdaging verg groter geloof en volharding. Dink daaroor: as buitengewone sukses maklik was, sou almal dit kon hê. As almal dit kon hê, sou dit nie buitengewone sukses gewees het nie. Hoe word ‘n ruspe ‘n skoenlapper? Deur die kokon te oorkom. Sou dit nie makliker gewees het om in die warmte en gemak van die kokon te bly nie? Die ruspe dink seker so op dae waar hy sukkel om uit die kokon te kom! Diep binne-in hom weet hy egter wat die prys van vryheid is. Om te kan vlieg en die wêreld te ontdek, verg moeite, ontwikkeling en deurbrake. Daar is nie ‘n ander manier nie! Hoekom het Jesus sy dissipels in ‘n lewensgevaarlike storm ingestuur? Om hulle te leer om Hom in al die lewe se situasies te vertrou. Hy sou hulle binnekort verlaat, dus het Hy elke ervaring gebruik om hulle vir die toekoms voor te berei. Wat sukkel jy om vandag te oorkom? In plaas daarvan om te kla en vir God te vra om dit weg te neem, sien dit vir wat dit is – voorbereiding. Onthou, jou vlak van voorbereiding dui die vlak van seën wat aan die einde vir jou wag, aan. As God dus deure van geleenthede vir jou oopmaak, wees voorbereid op die uitdagings, omdat jy nie een sonder die ander kan hê nie.

Sielskos: Sag 12-14; Joh 21:15-25; Ps 47; Spr 31:6-9

Uitdagings vir die kerk van vandag

2019-12-18
Efesiërs 3:10-11 NLV

Hier is drie uitdagings waar voor die kerk vandag te staan kom: 1) Ons kan nie ‘n nuwe beweging van God ervaar as ons daarop aandring om aan ‘n ou een vas te klou nie. ‘Die doel hiermee is om nou deur die kerk… te wys hoe allesomvattend die wysheid van God se ewige plan is…’ Die woord ‘herlewing’ beteken dat ons dit wat dood of sterwend is, weer opwek en lewendig maak. 2) Ons vrees oordaad, dus omhels ons middelmatigheid en noem dit balans. Mense word nie na ons toe aangetrek as gevolg van ons spieëlbeelde nie, maar as gevolg van die dinge wat ons uniek maak. Wanneer dit by ons geloof en getuienis kom, moet ons nie die dinge wat God ons gegee wat uitstaan, afskeep of minder maak as wat dit is nie. As ons dit doen, sal mense teleurgesteld wees en elders gaan. Die dissipels het nie in die skare verlore geraak nie; hulle boodskap en die demonstrasie van die krag in hulle boodskap het hulle laat uitstaan. 3) Ons moet spasie maak in die kerk vir diegene wat risiko’s neem en in geloof stap. Tydens die eerste wonderwerk waar Jesus water in wyn verander het, het Maria vir die kelners gesê: ‘…Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle noukeurig gaan doen’ (Johannes 2:5 NLV). Ons behoefte daaraan om deur mense aanvaar te word en populêr te wees, kan tot ‘n godsdienstige gees lei wat die neem van risiko’s en die wandeling in geloof belemmer. Jesus het beloof: ‘Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel…’ (Handelinge 1:8 NLV). Wanneer God dus vir ons sê om ‘kerk anders te doen,’ laat ons nie bang wees om Hom te gehoorsaam nie.

Sielskos: Sag 9-11; Joh 21:1-14; Ps 12; Spr 31:1-5

Hoe om jou doelwitte te stel (6)

2019-12-17
Habakuk 2:2 NLV

Skryf jou doelwitte neer. God het vir die profeet Habakuk gesê: ‘…Skryf my antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters op kleitablette sodat iemand wat verby hardloop dit kan lees… Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word… Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie’ (verse 2-3 NLV). ‘Stadig maar seker’ is nie ‘n begrip wat ons noodwendig van hou nie. God kan oornag vir jou ‘n visioen gee, maar dit sal normaalweg nie oornag vervul word nie. Jy sal teleurstellings, ontmoedigings en vertragings in die gesig staar. Omdat jou visioen altyd meer kos as wat jy geskat het en langer neem as wat jy beplan het, kan dit deur jou omstandighede en emosies ‘verdof’ word. Dis hoekom dit so belangrik is om dit neer te skryf en dit voor jou te hou! Hoekom het God vir Abraham gesê dat sy nageslag so baie soos die sterre aan die hemel sou wees? Omdat sterre iets is wat jy fisies na kan kyk en kan tel. ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Jy sal ook koersloos word as jy nie jou God-gegewe visioen voor jou hou nie. As jy daarvan droom om gewig te verloor, plak ‘n prentjie wat jou inspireer op die yskas vas. As jy daarvan droom om eendag jou eie huis te besit, steek ‘n prentjie daarvan op jou aansteekbord vas. As jou doelwit is om ‘n sekere hoeveelheid geld vir God se werk te gee, skryf ‘n tjek vir daardie hoeveelheid uit en plaas dit op ‘n plek waar jy dit elke dag kan sien. Met ‘n duidelike geskrewe doelwit, sal jy altyd weet waar jy is en onthou wat God jou geroep het om te doen.

Sielskos: Sag 5-8; Joh 20:19-31; Ps 67; Spr 30:29-33