2019-12-16
Psalm 38:12 NLV
Tref onderskeid tussen diegene wat in jou lewe hoort en diegene wat dit nie doen nie. Een van die moeilikste omstandighede om jou doel te bereik, is dat sommige van die mense wat die naaste aan jou is, dit nie sal ondersteun of nie deel daarvan sal wil wees nie. Paulus skryf: ‘Soos jy weet, het al die Christene wat uit die provinsie Asië hier aangekom het, my in die steek gelaat…’ (2 Timoteus 1:15 NLV). ‘Demas het my verlaat omdat hy verlief geraak het op die dinge van hierdie lewe…’ (2 Timoteus 4:10 NLV). Kan jy die hartseer en teleurstelling in sy woorde hoor? Wanneer God jou ‘n wonderlike doelwit gee, mag jy dalk dieselfde ding ervaar. Iemand het gesê: ‘In voorspoed ken ons vriende ons; in teëspoed ken ons ons vriende.’ Hoe waar is dit nie! Toe rampspoed onverwags vir Job getref het, het hy gesê: ‘My naaste vriende het ‘n afsku van my. Dié wat ek liefhet, het teen my gedraai’ (Job 19:19 NLV). Dawid se ervaring het hom genoop om te sê: ‘My familie en vriende bly weg…’ Salomo het in al sy wysheid dit as volg opgesom: “‘n Gebreekte tand, ‘n voet wat swik, so is dit om in gevaar staat te maak op ‘n onbetroubare mens” (Spreuke 25:19 NLV). Die waarheid is dat mense wat nie jou doelwit respekteer nie, afbreuk daaraan sal doen. Jy kan vir hulle preek en hulle met woorde wat versterk en seën probeer aanmoedig, maar as jy daarop aandring om aan hulle vas te klou, sal hulle jou op die ou einde seermaak. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp en skud die stof van julle voete af’ (Matteus 10:14 NLV). Jy moet dit soms doen om jou God-gegewe doelwit te kan bereik.
Sielskos: Sag 1-4; Joh 20:10-18; Ps 57; Spr 30:24-28
2019-12-15
Jesaja 43:4 NLV
Maak meer op God as op ander mense staat. Dit beteken nie dat jy nie ander mense nodig het nie. Jy het. Wanneer God iemand roep om ‘n werk te doen, roep Hy ander mense om daardie persoon by te staan. God se belofte is: ‘…Ek [gee] mense in jou plek en mense in ruil vir jou lewe.’ Vra dus vir Hom wie in jou lewe hoort. So lank as wat Moses sy hande opgehou het, het Israel se weermag die oorhand in die stryd gehad, maar wanneer sy hande moeg geword het, het die geveg weer in hulle teenstanders se guns geswaai (sien Eksodus hoofstuk 17). Dus het Aäron en Hur by Moses gestaan en sy hande opgehou, totdat die Amalekiete heeltemal verslaan was. Jy het mense nodig wat weet hoe om jou hande omhoog te hou en jou te versterk. Paulus het geskryf: ‘Timoteus is immers die enigste persoon wat met dieselfde opregte gesindheid as ek aandag sal gee aan julle belange. Al die ander soek net hulle eie belang… Julle weet egter hoe Timoteus homself bewys het…’ (Filippense 2:20-22 NLV). Paulus het inderwaarheid ‘n hele hoofstuk van die Bybel gebruik om diegene wat dit moontlik vir hom gemaak het om sy roeping uit te leef, te erken en te bedank. Sommige van ons is hardkoppig en selfgesentreerd. Ons ploeg deur mense en los die wrakke vir ander mense om op te ruim. Moenie dit doen nie! Wanneer God talentvolle mense oor jou pad stuur, moet jy hulle erken, respekteer, oplei, motiveer en beloon. Wanneer jy dit doen, sal jy nie net jou roeping vervul nie, maar ‘n wen-wen situasie vir almal skep.
Sielskos: Gen 11:1-9; Fil 2:1-11
2019-12-14
Spreuke 3:5 NLV
Vertrou meer op God as op jouself. Dit beteken nie dat jy deur die lewe moet gaan en jouself die hele tyd moet betwyfel nie, of bang wees om aan te beweeg vir ingeval jy ‘n fout maak nie. Wanneer jy God se plan in jou lewe herken en aanvaar, ontvang jy die krag wat jy nodig het om dit te vervul. Valse nederigheid sal jou geestelik en emosioneel strem en jou daarvan weerhou om vorentoe te beweeg. Toe God Jeremia ‘n profeet genoem het, het hy geprotesteer: ‘…ek is ‘n kind’ (Jeremia 1:6 ABA). Luister egter wat het God vir hom gesê: ‘…Jy moenie sê jy is ‘n kind nie…’ (vers 7 ABA). So seker as wat die tong mag het oor lewe en dood (sien Spreuke 18:21), so moet jy leer om God se Woord oor die visie wat Hy vir jou gegee het, te spreek. Ja, dis ‘n fout om te dink dat jy God se rol kan vervul of dat Hy joune sal vervul. Sodra jy egter jou persoonlike opdrag verstaan en krag uit Hom put, kan jy begin glo dat jy sukses sal behaal, ongeag watter struikelblokke daar in jou pad mag staan. Wanneer jy weet dat jy binne God se wil is en doen wat Hy jou aangesê het om te doen, kan jy vol vertroue op hierdie Skrifgedeeltes staan: ‘…Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige’ (Sagaria 4:6 NLV). ‘Een van julle kan selfs duisend van hulle op loop jaag, want die Here julle God veg aan julle kant. Dit is wat Hy julle beloof het’ (Josua 23:10 NLV). ‘Wanneer ek roep, antwoord U my; U bemoedig my en gee my krag’ (Psalm 138:3 NLV). Jy is nie vandag alleen nie – God is by jou!
Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 20:1-9; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23
2019-12-13
Jeremia 1:5 NLV
Vra God om vir jou te sê wie jy is. Boekwinkels het honderde boeke op die rakke wat vir ons vertel dat ons enigiets kan wees wat ons wil wees. Alhoewel daar waarheid in steek, is dit nie die volle waarheid nie! ‘n Vis mag dalk glo dat hy kan blaf, maar dit gaan nie gebeur nie. Visse mag dus dalk bid, glo, eis, bely en probeer soveel as wat hulle wil, maar hulle gaan nie sukses behaal nie. Hoekom nie? Omdat God jou net sal bemagtig om dit te doen waarvoor Hy jou geroep het en waarvoor Hy jou toegerus het om te wees. Hy het vir Jeremia gesê: “…’Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder. Voor jou geboorte al het Ek jou gekies en aangestel om namens My te praat met die nasies van die wêreld.’ Ek het geantwoord: ‘Nee, oppermagtige Here, ek kan nie goed praat nie. Ek is ook te jonk!’ Maar die Here het geantwoord en gesê: ‘Moenie sê jy is te jonk nie. Gaan na die mense waarheen Ek jou stuur en gee my boodskap vir hulle. Jy moet ook nie bang wees vir hulle nie. Ek sal by jou wees en jou beskerm! Ek is die Here wat so sê.’ Toe het die Here sy hand uitgesteek en aan my mond geraak. Hy het vir my gesê: ‘Ek het my woorde in jou mond gesit'” (verse 5-9 NLV). Wanneer God jou met een talent toerus, gee Hy nie vir jou ‘n vyf-talent opdrag nie, en omgekeerd (sien Matteus 25:14-15). Die wonderlike ding is: Die een-talent persoon en die vyf-talent persoon sal altwee eendag voor Hom staan en hoor: ‘Uitstekend! Jy is regtig ‘n goeie werker op wie ‘n mens kan staatmaak…’ (Matteus 25:21 DB).
Sielskos: Miga 5-7; Joh 19:31-42; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19
2019-12-12
Handelinge 16:7 NLV
Ons het almal individuele gawes en lewensdoelwitte van God ontvang. Dis goed en reg om talentvolle, suksesvolle mense te bewonder en van hulle te leer, solank jy hulle nie probeer dupliseer nie. Dis goed en reg om hulle karaktereienskappe na te streef en hulle insette te soek, solank jy na God, die argitek van elkeen van ons se lewens, toe gaan en Hom vra om vir jou sy bloudruk van jou lewe te wys. Selfs al was dit Dawid se begeerte om die tempel te bou, het God vir hom gesê dat sy seun, Salomo, dit uiteindelik sou bou. Dawid se werk was om geld en materiaal vir die projek in te samel. As jy die tipe persoon is wat dinge laat gebeur, mag hierdie tipe denke teen jou grein ingaan. Lees dus die volgende en dink daaroor: ‘Hulle [is]… deur die Heilige Gees verhinder om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe. Daar het Paulus in die nag ‘n visioen ontvang. Hy het ‘n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: ‘Kom oor na Masedonië toe en help ons.’ Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig’ (Handelinge 16:6-10 NLV). Laat God dus jou doelwitte bepaal en jy sal in die regte rigting beweeg.
Sielskos: Miga 1-4; Joh 19:17-30; Ps 105:16-22; Spr 30:10-14
2019-12-11
2 Timoteus 1:7 AFR53
Die Bybel sê vir ons dat vrees ‘n ‘gees’ is. Hierdie gees het ‘n brein wat dink en ‘n stem wat spreek en as jy dit toelaat, sal dit jou beheer. As jy vandag in ‘n stryd met ‘n ‘gees van vreesagtigheid’ is, maak die volgende jou gebed: ‘Here, u Woord sê dat wanneer ek u aangesig soek, sal U my hoor en my van al my vrese red (sien Psalm 34:5). Ek werp dus elke gedagte wat teen dit wat ek van U en u krag weet, neer (sien 2 Korintiërs 10:5). Ek staan op die belofte dat U my nooit sal verlaat of los nie (sien Hebreërs 13:5). Ek rus in die waarheid dat niks te moeilik vir U is nie (sien Jeremia 32:17). Ek verbly my in die versekering dat U alreeds u engele die verantwoordelikheid gegee het om my op al my paaie te beskerm (sien Psalm 91:11). Ek weerstaan die gees van vreesagtigheid en beveel dit om in Jesus se Naam te vlug (sien Jakobus 4:7). Deur geloof beveel ek dat u vrede, wat menslike verstand te bowe gaan, my hart en my gedagtes sal bewaak (sien Filippense 4:7). Dus sal ek nie toelaat dat my hart ontsteld of vreesbevange word nie (sien Johannes 14:27). In die Naam van Jesus bid ek. Amen.’ In plaas daarvan om nou op die probleem te fokus, fokus op die Probleem-oplosser – God! Dit mag dalk nie onmiddellik jou probleme oplos nie, maar dit sal jou gedagtes met vrede vul terwyl jy wag vir God om te werk. Jesaja het gesê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). Soos jy deur vandag met jou gedagtes op God gerig beweeg, sal jy perfekte en konstante vrede hê.
Sielskos: Neh 11-13; Joh 19:1-16; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9