2019-12-10
Psalm 34:11 NLV
Het jy jou werk verloor? Staar die moontlikheid om jou huis te verloor of bankrotskap jou in die gesig? Is jy op die moeilikste plek waar jy al ooit was? Paulus het ‘…alles as verlies afgeskryf…’ (Filippense 3:8 NLV), maar hy het nie daar gebly nie. Hy gaan voort om te sê: ‘…my God [sal] uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). God kan dit vir jou doen – met of sonder ‘n salaristjek of ‘n ander verwagte bron van inkomste. Die Psalmdigter het gesê: ‘…wie op die Here vertrou, kort niks wat goed is nie…’ Een ding waarvoor jy op jou hoede moet wees is Satan se praatjies oor wat in die ergste geval kan gebeur. As jy dit toelaat, sal hy vir jou denkbeeldige prente skets waar jy in ‘n kartonboks onder ‘n brug woon. Staan vandag op God se Woord en verklaar: ‘Here, U het gesê dat indien ek gewillig en gehoorsaam is, sal ek die beste van dit wat U kan bied, geniet (sien Jesaja 1:19). U beloof om my met guns te omring (sien Psalm 5:12). U Woord sê dat U deur u krag wat in ons werk, meer kan doen as wat ek ooit sou kon vra of dink (sien Efesiërs 3:20). Selfs al lyk dit of niks tans vir my uitwerk nie, gee my die geloof om U vir goeie dinge en beter dae te glo. U Woord sê vir my om oor niks angstig te wees nie, maar om my versoeke deur gebed en smeking en met danksegging, aan U bekend te maak. Dat u vrede, wat menslike verstand te bowe gaan, my hart en gedagtes sal beskerm (sien Filippense 4:6-7). Here, eer u Woord vandag, in die Naam van Jesus, Amen.’
Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:25-40; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4
2019-12-09
Prediker 2:24 DB
Daar sal tye in die lewe wees waar dit voel asof daar te veel is om te doen en nie genoeg tyd om dit te doen nie. As jy egter konstant oorlaai is, sal dit in jou houding, jou verhoudings, jou werkprestasie en selfs jou pad met God te voorskyn kom. As dit is waar jy vandag is, moet jy die volgende doen: 1) Bid. ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal die gelowiges nie teleurstel nie’ (Psalm 55:23 NLV). Voor jy uitmekaar val, vra God vir die wysheid om dit wat jy doen te evalueer en wees dan eerlik met jouself oor hoekom jy jouself in hierdie penarie bevind. Die skrywer van Spreuke sê: ‘Moenie jou afsloof om ryk te word nie. Wees verstandig genoeg om binne perke te bly. As jy nog na jou rykdom kyk, is dit eensklaps weg soos ‘n voël wat wegvlieg in die lug’ (Spreuke 23:4-5 NLV). Vra God om vir jou te wys waar jy dalk jou vrede, gesondheid en verhoudings op die altaar van materialisme opoffer. 2) Delegeer. Moses, een van die grootste leiers in die Ou Testament, was besig om onder die gewig van al sy verantwoordelikhede uitmekaar te val. Hy het so depressief geword dat hy God gevra het om sy lewe te neem! Daar was bekwame mense rondom hom wat gewillig was om te help, maar hy wou dit nie toelaat nie. Klink dit bekend? Solank as wat jy daarop aandring om alles te beheer en alles self te doen, sal jou produktiwiteit stilstaan en jou vrede verdamp. As jy dus vandag oorlaai is, begin ‘n paar veranderinge maak.
Sielskos: Neh 5-7; Joh 18:12-24; Ps 150; Spr 29:22-27
2019-12-08
Spreuke 10:9 NLV
Daar is diegene wat met integriteit lewe en diegene wat daarsonder lewe. Interessant genoeg word beide groepe beloon. Die eerste groep lewe met ‘n blywende sin van God se vrede en sekuriteit, die tweede groep lewe met die konstante vrees dat hulle uitgevang sal word. ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers. Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang’ (Spreuke 11:3 NLV). ‘n Persoon met integriteit voldoen aan hoë morele beginsels in elke area van die lewe. Beteken dit dat jy nooit sal val nie? Nee. ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV). Almal val, maar mense met integriteit staan elke keer weer op. God is geduldig; Hy sal saam met jou werk tot jy dit regkry. As jy aan ‘n gebrek aan integriteit ly, kan Hy jou lewe ook weer bymekaar sit as jy jouself aan Hom oorgee. Voor hy met die Here gestoei het, was Jakob ‘n verneuker en ‘n bedrieër (sien Genesis 27:35-36 NLV). Na hy met die Here gestoei het, het hy mank geloop. God sal egter eerder iemand wat mank loop omdat hulle met hulle kwessies gestoei het en dit oorwin het, as iemand wat onder valse voorwendsels lewe, wil hê. Daniël, ‘n Jood wat in ballingskap geleef het, het geweier om kos te eet wat nie aanvaarbaar was nie, omdat dit God se wet sou oortree. Josef was alleen, ver van die huis af en eensaam, maar hy het geweier om by sy baas se vrou te slaap. Paulus sê: ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word…’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). God het altyd ‘n uitweg en as jy daaraan verbind is om met integriteit te lewe, sal Hy dit aan jou openbaar.
Sielskos: Josh 1:7-8; 2 Tim 3:14-17; Ps 119:1-16
2019-12-07
Markus 4:15 NLV
In die gelykenis van die saaier, het Jesus gesê: ‘Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die boodskap hoor, maar dan kom Satan onmiddellik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg.’ Het jy al ooit agtergekom hoe jy by die huis ‘n twee-uur lange aksietreffer kan kyk sonder om rusteloos of verveeld te voel, maar wanneer die pastoor se preek langer as dertig of veertig minute aanhou, begin jy op jou horlosie kyk en kan nie wag om uit die kerk uit te kom nie? As iemand jou dan die volgende dag vra waaroor die preek gegaan het, sal jy dikwels nie vir hulle kan sê nie. Jesus het gesê: ‘…Satan [kom] onmiddellik en vat die woord… weg.’ Hoe kan jy dit dus behou? 1) Skryf dit neer (sien Eksodus 17:14 NLV) Wanneer jy notas maak van dit wat jy lees en hoor, sal jy meer onthou, dit sal meer impak maak en jy sal meer daaruit kry. 2) Bid daaroor. Tensy jy oor die Woord wat jy hoor bid, sal jy aanhou om na kerk onveranderd by die huis te kom. Baie van die groot heiliges in die ou tyd het die Bybel op hulle knieë deurgelees. Jy moet dit ook probeer! 3) Bespreek dit met ander. God se Woord is soos ‘n saad wat vermenigvuldig en groei wanneer dit water, deur gesprekke met ander mense wat jou geloof deel, kry. Die Bybel sê: ‘Die mense wat die Here dien, het toe met mekaar gepraat. Die Here het na hulle geluister en gehoor wat hulle sê…’ (Maleagi 3:16 NLV). 4) Beoefen dit daagliks. Die beste manier om God se Woord te behou, is om daagliks sy beginsels uit te leef!
Sielskos: Neh 1-4; Joh 18:1-11; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21
2019-12-06
Ester 4:14 NLV
Ester het haar bediening as tienermeisie begin. Toe sy die woorde van Mordegai hoor – ‘…Wie weet, of dit nie miskien juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!’ – kon sy maklik gesê het: ‘Gee my tyd om groot te word, te trou, kinders te kry en my drome te vervul voor jy my vra om my lewe op die spel te plaas om die Joodse volk te red.’ Sy het dit egter nie gedoen nie. Sy het gesê: ‘…Al is dit in stryd met die wette sal ek na die koning toe gaan. As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf’ (vers 16 NLV). Dikwels is dit wat God in jou doen terwyl jy wag, belangriker as dit waarvoor jy wag. Soms dink jy jy is gereed, maar God weet jy is nie, daarom plaas Hy jou in die skool van geloof. Dis daar waar jy leer om na die onderwyser (die Heilige Gees) te luister, jou lesse te leer, die toetse te slaag en graad te ontvang sodat God jou kan gebruik. Dis nie ‘n gemaklike plek om te wees nie, maar God is meer in jou karakter as in jou gemak geïnteresseerd. Die sendeling Nancy Cockrell skryf: ‘Dit was al die tyd God se plan om jou tot hier te bring om Hom te dien, deur jou gawes te gebruik om ander te bedien. Hy het jou die genade gegee om op die liefde en karakter van Christus te reflekteer, om ‘n lig in ‘n donker wêreld te wees. Jy het ‘n unieke plek van diens in God se koninkryk, waar jy lewens aanraak soos net jy kan – alles vir ‘n tyd soos hierdie.’ Die vraag is dus: Sê God vandag vir jou dat jou tyd aangebreek het?
Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:13-26; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15
2019-12-05
Johannes 14:12 NLV
Dis goed om te lees wat Jesus gedoen het toe Hy tussen ons geleef het. Wanneer jy egter iemand sien wat lewe soos Hy geleef het, het daardie persoon Jesus se ‘kleed’ aangetrek. In plaas daarvan om net ‘n historiese figuur te wees, word sy leefstyl ‘n realiteit. Is dit nie waarna mense soek nie? Ghandi het een maal gesê dat as hy Christene kon ontmoet wat soos Christus is, sal hy ook een word. Ongelukkig het die Christene wat hy geken het, wapens gedra en hom en sy mense aan slawerny onderwerp. Dit hoef egter nie so te wees nie. Jesus het gesê: ‘…wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen…’ Miskien wonder jy hoe ons ooit groter werke as Jesus sou kon doen. Hier is hoe: Hy was een man wat tot een plek beperk was, terwyl sy verloste familie in staat is om sy werke dwarsdeur die wêreld te vermenigvuldig. Hoe was Jesus dus? Hy was in die eerste plek barmhartig, nie veroordelend nie. Onthou jy die vrou wat gevang is toe sy egbreuk gepleeg het? Toe die Fariseërs haar wou stenig, het Hy gesê: “…’Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi'” (Johannes 8:7 NLV). Eina! Van wie het Jesus gepraat? Die Fariseërs of die godsdienstige hiërargie? Nee, Hy het van Homself gepraat! Hy was die enigste een wat sondeloos was en Hy het geen klippe gehad om te gooi nie. As jy wil weet hoe dit lyk om Jesus se kleed aan te trek, maak ‘n lys van die Bybelse nege ‘vrugte van die Gees’ (of Christuseienskappe) wat die Heilige Gees in jou lewe wil uitbring: ‘…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV).
Sielskos: Kol 1-2; Joh 17:1-12; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10