2019-12-04
Psalm 34:8 NLV
Net soos die president en eerste minister konstant deur sekuriteitswagte omring word, so word jy as verloste kind van God deur engele omring. Jy mag dalk nie altyd die president of eerste minister se sekuriteitspan sien nie, maar laat iemand nou net ‘n dreigende gebaar maak en opgeleide wagte vorm onmiddellik ‘n beskermende skild om hom. Dr James McConnell, die stigter van die Whitewell Metropolitaanse Tabernakel in Belfast, Noord Ierland, was een aand besig om tydens die godsdienstige oorlog te preek, toe ‘n paramilitêre leier met ‘n geweer die kerk binnegekom het om hom dood te maak. Hoekom? Omdat die aanvaller se vrou ‘n Christen geword het en haar lewe so radikaal verander het dat hy haar kwalik herken het. Die man het egter net ‘n paar treë op pad na die kansel gevorder voor hy in sy spore gestop het, omgedraai het en by die kerk uitgehardloop het. Wat het gebeur? Die man, wat later ‘n Christen geword het, het getuig dat hy twee groot engele aan weerskante van pastoor McConnell sien staan het! Toe Paulus se skip in ‘n storm beland het en almal gedink het dat hulle sou sterf, het Paulus aangekondig: ‘Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus…’ Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het’ (Handelinge 27:23-25 NLV). Jy het vandag ‘n goddelike sekuriteitspan wat oor jou waak.
Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:19-33; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5
2019-12-03
Romeine 12:2 NLV
Niks in die lewe moet vir ‘n verloste kind van God belangriker wees as om sy wil te ontdek en te doen nie. Jy het egter vier opsies: 1) Jy kan onkundig daaroor bly. Die kans is goed dat dit nie van toepassing op jou is nie, anders sou jy nie nou besig gewees het om hierdie dagstukkie te lees nie. Jy het duidelik ‘n begeerte om God se wil vir jou lewe te ken en Hy sal jou help om dit te vind (sien Jesaja 30:21). 2) Jy kan dit ken en kies om dit te ignoreer. Jona het God se wil geken, maar hy het daarvan weggehardloop en in die grootste storm van sy lewe opgeëindig. Wat was sy probleem? Hy het nie van die opdrag gehou wat God vir hom gegee het nie. Is jou probleem dat jy God se wil ken, maar net nie daarvan hou nie? 3) Jy ken dit, maar is met minder tevrede. Die waarheid is dat jy in die kerkkoor kan sing en op die kerkraad kan dien, en tog in jou hart weet dat jy met minder as God se wil tevrede is. 4) Jy is met niks minder as God se wil tevrede nie. Daar is oomblikke waar God se wil te moeilik, te uitgerek en te ondankbaar sal lyk. Jou eie idees lyk makliker, vinniger en genotvoller. Op die ou einde vind jy egter dat sy plan beter as joune is. Daar is nooit ‘n uitsondering op hierdie reël nie. Jy kan net sowel besluit om van nou af aan God se wil toe te gee en dinge op sy manier te doen. Gaan vandag op jou knieë en sê saam met die Psalmdigter: ‘Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart’ (Psalm 40:9 NLV).
Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:12-18; Ps 2; Spr 28:25-28
2019-12-02
Romeine 12:2 NLV
Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n man wat op ‘n pragtige plaas gewoon het. Toe hy oorlede is, is die plaas, wat al 200 jaar in sy familie se besit was, aan een van die bure verkoop. Een dag, toe die nuwe eienaar in die veld geloop het, het hy ‘n snaakse klip gesien wat uit die grond uitsteek. Hy het die klip huis toe geneem, dit gewas en dit na ‘n juwelierswinkel geneem. Die juwelier het bevestig wat die eienaar reeds vermoed het. Die ou klip, wat al vir duisende jare in die veld begrawe was, was ‘n groot, ongeslypte smarag wat miljoene rande werd was. Hierdie edelsteen het al die jare in die veld gelê en net gewag vir iemand om verby te kom en dit te ontdek. Deur die jare het mense honderde kere verby dit geloop en dit misgekyk, omdat dit na niks meer as ‘n ou tuinklip gelyk het nie. Wanneer ons iets ‘ontdek’, vind ons eintlik iets wat reeds bestaan, selfs al is ons onbewus daarvan. Terwyl baie van ons God se wil vir ons lewens soek, is dit wat ons soek dikwels reg onder ons neuse, omdat ons dit nie herken nie. Om ‘n kosbare steen te herken, moet jy bekend wees met sy karaktereienskappe en weet waarvoor om op te let. Net so moet jy volgens die Skrif lewe om God se wil te herken: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.’ Dit beteken dat jy kwaliteit tyd moet spandeer terwyl jy jou Bybel lees en met die Skrywer daarvan gesels en na Hom luister.
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 16:1-11; Ps 130; Spr 28:21-24
2019-12-01
Psalm 3:3 NLV
Bid jy al vir jare dat God jou man, jou vrou, jou kinders of jou vriende moet red? Smag jou hart daarna om te sien hoe die mense vir wie jy lief is Hom dien? Raak jy mismoedig? Het iemand al vir jou gesê: ‘Jy mors jou tyd. Hulle sal nooit verander nie’? Indien dit die geval is, lees wat die Psalmdigter geskryf het: ‘So baie sê: ‘God sal hom nooit red nie!’ Maar U Here, is ‘n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op. Ek het tot die Here geroep. Vanaf sy heilige berg het Hy geantwoord’ (verse 3-5 NLV). Let spesifiek op die frase: ‘So baie sê…’ Almal het ‘n opinie, maar totdat God oor die kwessie gepraat het, is dinge nog lank nie verby nie! So lank as wat Hy nog op die troon is en sy beloftes steeds waar is, hou aan bid en vertrou op God vir ‘n wonderwerk. ‘Maar hulle is so ver van God af op die oomblik!’ sê jy. Hulle mag dalk wees, maar lees die volgende teksvers en verbly jouself: ‘Die Here is nie te swak om julle te red nie. Hy is nie te doof om julle te hoor nie’ (Jesaja 59:1 NLV). Jou geliefde is nie te ver heen vir God nie. Hulle mag dalk aan alkohol of dwelms verslaaf wees, ‘n buite-egtelike verhouding hê of selfs in die tronk wees. Waar hulle ookal vandag is, die lang arm van God se genade kan uitreik en hulle red. Satan weet dit en wil hê dat jy mismoedig moet word en tou moet opgooi. Moenie dit doen nie! Net soos krag deur ‘n elektriese draad vloei, so vloei God se krag deur jou gebede. Hou dus aan bid en vertrou op God!
Sielskos: Jer 31:31-37; Heb 8:1-13
2019-11-30
1 Petrus 4:10 NLV
Die Mars lekkergoed maatskappy het amper aan sy eie lekkernye verstik nadat hulle gekies het om nie M&M’s, een van hulle produkte, in die trefferrolprent E.T. in 1982 ten toon te stel nie. Die besigheidshoofde van die Mars maatskappy het besluit dat dit hulle niks in die sak sou bring om toe te laat dat hulle M&M lekkergoed in ‘n ‘lawwe rolprent’ gebruik word nie. Gevolglik het die klein seuntjie, Elliot, Hershey’s se Reese’s Pieces gebruik om die liefdevolle ruimtemannetjie uit sy skuilplek te lok. Daardie een toneel het miljoene kliënte wêreldwyd genoop om Reese’s Pieces te gaan koop. Te danke aan hierdie trefferrolprent, het Hershey’s se verkope met 65 persent opgeskiet! Dis interessant dat die Mars grootkoppe wat ‘Nee’ gesê het heel waarskynlik in groot huise gewoon het, groot karre gery het en groot salarisse verdien het. Ja, twyfel en vrees volg die rykes sowel as die armes; jy sal ‘nee-mense’ aan die bokant en die onderkant van die korporatiewe leer vind. Onthou jy die woorde van die beroemde gedig deur John Greenleaf Whittier: “For of all sad words of tongue or pen, the saddest are these, ‘It might have been'”? Staan jy vandag voor ‘n deur van geleentheid? Is jy bang om daardeur te loop? Moenie wees nie. God is by jou. Sy Woord sê: ‘…God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk en onverdiende goedheid deur julle na mekaar toe kan vloei.’ Wanneer God jou ‘n gawe gee, gee Hy ook vir jou die genade en die durf om dit te gebruik. Tree dus in geloof uit en onthou: ‘Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag’ (Spreuke 16:3 NLV).
Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:18-27; Ps 65; Spr 28:17-20
2019-11-29
Matteus 25:23 NLV
In 1975 het ‘n lae-vlak Hewlett Packard ingenieur genaamd Steve Wozniak, van wie niemand al gehoor het nie, ‘n droom met sy vriend, Steve Jobs, gedeel. Dit het gegaan oor om ‘n verbruikersvriendelike persoonlike rekenaar te bou en dit aan die massas regoor die wêreld te verkoop. Die twee vriende het maande aaneen gewerk om hulle eie kompakte persoonlike rekenaar te skep. Toe hulle dit egter aan Hewlett Packard, een van die wêreld se grootste maatskappye, aangebied het, het die grootkoppe in die maatskappy nie die ontsaglike potensiaal daarvan raakgesien nie en het hulle dit afgekeur. Wozniak en Jobs het toe op hulle eie aangegaan en ‘n klein maatskappy genaamd Apple Computers gestig – en die rekenaarindustrie op sy kop gekeer! Daar is nie ‘n tekort aan mense wat vir jou sal sê: ‘Dit kan nie gedoen word,’ of ‘Dit kan nie werk,’ nie. Sulke mense word ‘droommoordenaars’ genoem – en as jy na hulle luister sal jy tou opgooi nog voor jy begin het. Agter elke groot prestasie sal jy gewone mense met drome, wat gewillig is om die verantwoordelikheid en risiko’s te neem, vind. Hulle is die mense wat die belonings sal geniet! Jesus het een van sy gelykenisse met die volgende woorde geëindig: ‘…Uitstekend! Jy is ‘n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’ As jy gewillig is om ten spyte van jou mislukkings, jou stryd en jou beperkinge, die negatiewe kritiek te ignoreer, in geloof uit te tree en die gawes wat God jou gegee het te gebruik, sal Hy seker maak dat jy sukses behaal.
Sielskos: Jos 11-13; Joh 15:5-17; Ps 14; Spr 28:13-16