Jou goddelike sekuriteitspan

2019-12-04
Psalm 34:8 NLV

Net soos die president en eerste minister konstant deur sekuriteitswagte omring word, so word jy as verloste kind van God deur engele omring. Jy mag dalk nie altyd die president of eerste minister se sekuriteitspan sien nie, maar laat iemand nou net ‘n dreigende gebaar maak en opgeleide wagte vorm onmiddellik ‘n beskermende skild om hom. Dr James McConnell, die stigter van die Whitewell Metropolitaanse Tabernakel in Belfast, Noord Ierland, was een aand besig om tydens die godsdienstige oorlog te preek, toe ‘n paramilitêre leier met ‘n geweer die kerk binnegekom het om hom dood te maak. Hoekom? Omdat die aanvaller se vrou ‘n Christen geword het en haar lewe so radikaal verander het dat hy haar kwalik herken het. Die man het egter net ‘n paar treë op pad na die kansel gevorder voor hy in sy spore gestop het, omgedraai het en by die kerk uitgehardloop het. Wat het gebeur? Die man, wat later ‘n Christen geword het, het getuig dat hy twee groot engele aan weerskante van pastoor McConnell sien staan het! Toe Paulus se skip in ‘n storm beland het en almal gedink het dat hulle sou sterf, het Paulus aangekondig: ‘Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus…’ Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het’ (Handelinge 27:23-25 NLV). Jy het vandag ‘n goddelike sekuriteitspan wat oor jou waak.

Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:19-33; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5