Ontdek God se wil (2)
2019-12-03Romeine 12:2 NLV
Niks in die lewe moet vir ‘n verloste kind van God belangriker wees as om sy wil te ontdek en te doen nie. Jy het egter vier opsies: 1) Jy kan onkundig daaroor bly. Die kans is goed dat dit nie van toepassing op jou is nie, anders sou jy nie nou besig gewees het om hierdie dagstukkie te lees nie. Jy het duidelik ‘n begeerte om God se wil vir jou lewe te ken en Hy sal jou help om dit te vind (sien Jesaja 30:21). 2) Jy kan dit ken en kies om dit te ignoreer. Jona het God se wil geken, maar hy het daarvan weggehardloop en in die grootste storm van sy lewe opgeëindig. Wat was sy probleem? Hy het nie van die opdrag gehou wat God vir hom gegee het nie. Is jou probleem dat jy God se wil ken, maar net nie daarvan hou nie? 3) Jy ken dit, maar is met minder tevrede. Die waarheid is dat jy in die kerkkoor kan sing en op die kerkraad kan dien, en tog in jou hart weet dat jy met minder as God se wil tevrede is. 4) Jy is met niks minder as God se wil tevrede nie. Daar is oomblikke waar God se wil te moeilik, te uitgerek en te ondankbaar sal lyk. Jou eie idees lyk makliker, vinniger en genotvoller. Op die ou einde vind jy egter dat sy plan beter as joune is. Daar is nooit ‘n uitsondering op hierdie reël nie. Jy kan net sowel besluit om van nou af aan God se wil toe te gee en dinge op sy manier te doen. Gaan vandag op jou knieë en sê saam met die Psalmdigter: ‘Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart’ (Psalm 40:9 NLV).
Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:12-18; Ps 2; Spr 28:25-28