Neem verantwoordelikheid en risiko’s (1)

2019-11-28
Habakuk 2:3 NLV

Een sendeling evangelis skryf: ‘Daar is tye en seisoene in God se wil. Ons kan maklik gefrustreerd raak as ons nie verstaan dat daar, net soos wat daar in die natuur tye en seisoene is, ook tye en seisoene in die proses om God se wil vir ons lewens te vervul, is nie. Jare gelede het ‘n groep senior sendelinge bymekaar gekom om die lewensbeginsels wat hulle ontdek het te bespreek. Hulle doelwit was om hierdie rykdom van ervarings met die nageslagte wat hulle sou opvolg, te deel. Hulle het almal ooreenstemmende oorgangsvlakke in hulle bedieninge gevind en saam het hulle ‘n vyf-stap sikliese proses geïdentifiseer waardeur God hulle geneem het.’ Tydsberekening is belangrik! Toe die grootkoppe by Decca Records vir die Beatles gesê het: ‘Groepe met kitare is op pad uit,’ het hulle ‘n kontrak met EMI geteken – en die res is geskiedenis! Moenie die les hierin misloop nie. Elkeen van ons is op aarde as opsigter van God se besigheid geplaas. Dis waar, of jy nou ‘n skoonmaker of ‘n regter is. Jy het ‘n taak in die lewe gekry en is verantwoordelik om dit te versorg, te belê, te vermeerder en dit terug aan God te besorg. Deur eenvoudig te sê: ‘Ek was bang om te misluk,’ of ‘Ek was bang om gekritiseer te word,’ of ‘Ek het nie gedink dat ek goed genoeg is nie,’ sal nie werk nie. Soos Ralph Waldo Emerson gesê het: ‘Verskonings vervang altyd vooruitgang.’ God sal jou pogings en foute aanvaar, maar Hy sal nie jou verskonings hoekom jy nie probeer het nie, aanvaar nie. Bid dus, aanvaar verantwoordelikheid en tree in geloof op. Jy mag dalk talle kere op jou pad na sukses misluk, maar as jy aanhou probeer en God vertrou, sal jy uiteindelik sukses behaal.

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:26-15:4; Ps 146; Spr 28:9-12

Dis ‘n noodsaaklike deel van die proses

2019-11-27
Psalm 32:8 NLV

Hoekom is jy nog hier? Hoekom het Jesus jou nie eenvoudig saam met Hom hemel toe geneem toe Hy jou gered het nie? Omdat Hy nie net in ons finale bestemming geïnteresseerd is nie; Hy wil ‘n werk in jou en deur jou op pad soontoe verrig. Ons raak ongeduldig as dit by God se wil vir ons lewens kom. Ons wil net daar uitkom! ‘n Groot aantal tyd gaan egter gewoonlik verby tussen wanneer God ons roep en totdat ons sy wil vir ons lewens vervul. Totdat ons dit aanvaar, is ons nie gereed om enige plek heen te gaan nie! Ons moet verstaan dat die reis ‘n belangrike proses is. Dit maak vir God saak wat jy word, op pad na waarheen jy gaan. Om Hom in gehoorsaamheid deur baie onbekendheid en moeilikhede te volg, is ‘n onontbeerlike deel van jou voorbereiding. God gebruik die reis om jou geloof te leer, jou karakter te verfyn en jou vir groter uitdagings wat vorentoe lê, voor te berei. As jy tans in die proses is om God se wil te soek, is jy alreeds besig om deel daarvan in jou lewe te vervul. God het gesê: ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan…’ Moenie die fout maak deur te dink dat jy nie vordering maak nie, omdat jy nog nie alles weet wat jy graag wil weet nie. Iets is tans aan die gebeur. Jou geloof word gestrek, jou geduld word ontwikkel, jou twyfel word gekonfronteer en oorwin en jou verhouding met God groei dieper. Hy berei ons altyd vooraf voor vir dit wat Hy in die toekoms vir ons beplan. Ja, dis ongemaklik – maar dis ‘n noodsaaklike deel van die proses.

Sielskos: Jos 5:1-8:29; Joh 14:15-25; Ps 118:19-29; Spr 28:5-8

Voel jy vandag oorweldig?

2019-11-26
Jeremia 45:3 NLV

Sommige mense in die Skrif wat ons bewonder, het soms uitgemergel gevoel, maar kon nie rus kry nie. Jeremia het gesê: ‘…Dit is klaarpraat met my! Ek kry alreeds so swaar en dan maak die Here my pyn net nog meer. Ek is al so moeg van my eie gesug, ek kan net nie rus vind nie’ (vers 3 NLV). Die Psalmdigter het dit so gestel: ‘Dis net my geloof in die Here wat my staande hou. Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. As ek dit darem nie geglo het nie…’ (Psalm 27:13 DB). Hy gaan voort om te sê: ‘…Vanaf die einde van die aarde roep ek tot U om hulp, want ek is moedeloos verby. Lei my na die rots hoër as ek… Laat my vir altyd in u woning bly, en onder die beskerming van u vleuels skuil! (Psalm 61:2-5 NLV). As jy vandag oorweldig voel, neem ‘n oomblik om hierdie gebed te bid: ‘Here, dit voel of die wêreld se probleme op my skouers rus en ek weet dat dit nie u wil is nie. Leer my om my bekommernisse vir U te gee, met die wete dat U beloof het om vir my te sorg (sien 1 Petrus 5:7). Gee my die moed om die dinge te verander wat ek kan verander, die genade om die dinge wat ek nie kan verander nie te aanvaar en die wysheid om die verskil te ken. Moet my nooit so besig laat wees dat ek my stiltetyd met U prysgee nie. Leer my om stil te wees en te weet dat U my God is (sien Psalm 46:11). Dankie dat U my skuiling is, ‘n hulp in tye van nood (sien Psalm 46:2). In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Jos 1-4; Joh 14:1-14; Ps 118:10-18; Spr 28:1-4

Verstaan die fases van jou visie

2019-11-25
Psalm 37:34 DB

Boere het ‘n tyd om te saai, ‘n tyd om te groei en ‘n tyd om te oes. Dis dieselfde in God se koninkryk. Een sendeling vertel hoe hy gehoor het hoe ‘n groep gesoute leiers hulle gedeelde ervarings bespreek het, waaruit ‘n fassinerende vyf-fase proses te voorskyn gekom het: Fase 1: Die geboorte van die visie. Elkeen het aanvanklik ‘n visie van die Heilige Gees ontvang, wat gepaardgegaan het met opgewondenheid en blywende bewustheid dat dit van God af kom. Fase 2: Die voorbereiding. Dis die fase waar drome dikwels vernietig word, omdat ons nie die nodige voorbereiding wil doen nie. Wanneer God jou ‘n visie gee, moet daar ook aksie van jou kant af geneem word, anders sal dit nooit meer as ‘n vlietende dagdroom wees nie. Fase 3: Die wildernis en die stryd. Een van ons grootste wanopvattings is dat wanneer iets van God af kom, daar geen stryd betrokke sal wees nie. Dis ‘n mite! Jy kan amper gewaarborg wees dat daar ‘n aansienlike stryd vereis sal word. Dis in hierdie fase waar ons getrouheid bewys word en daar is geen plaasvervanger daarvoor nie. 4) Die realisering van die visie. Dis hier waar ons uiteindelik die vrugte van ons ywerige voorbereiding en God se getrouheid kan begin smaak. Fase 5: ‘n Nuwe begin en visie. Hierdie leiers het almal agtergekom dat hulle weer deur ‘n vars visie van die Heilige Gees uitgedaag is. Hulle het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat hulle lewens ‘n aanhoudende siklus van al groter wordende visies is en soos God hulle met meer vertrou het, het dit hulle meer voorbereiding gekos en het die intensiteit van die stryd verhoog. Nou verstaan jy die fases van jou visie!

Sielskos: 3 Joh; Judas; Joh 13:31-38; Ps 118:1-9; Spr 27:23-27

Soek vandag sy hulp

2019-11-24
Romeine 8:26 NLV

Paulus skryf: ‘Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree’ (verse 26-27 NLV). Wat is hierdie onbeholpenheid in gebed waaraan ons onderhewig is? Soms weet ons nie hoe om die diepte van ons begeertes en gevoelens uit te druk nie en ons besef nie eers wat ons nodig het nie. Soms is ons so moeg in gees, gedagtes en liggaam dat ons nie die energie het om ons monde oop te maak nie. Daar is tye waar moedeloosheid so ‘n sterk houvas op jou hart het dat jy nie nie aan ‘n manier om uit jou omstandighede te kom, kan dink nie. Dis dan wanneer jy die Heilige Gees se hulp moet vra! Wanneer jy ‘n gelowige is, voorsien die Heilige Gees jou van twee dinge waarsonder jy nie kan lewe nie: 1) Die vermoë om te weet wat God vir jou sê. Soms kan jy nie jou eie wysheid of die raad van jou naastes vertrou nie. 2) Hoe om ‘n intieme verhouding met God te hê. Een van die wonderlikste dinge wat Jesus gesê het, was: ‘…Ek het julle vriende genoem…’ (Johannes 15:15 NLV). Vriendskappe verg egter tyd en kommunikasie. Jesus het sy verhouding met die Vader as volg beskryf: ‘Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen…’ (Johannes 5:20 NLV). Die Heilige Gees wys jou nie net wat om te doen nie, Hy bemagtig jou ook om dit te doen. Soek dus vandag sy hulp.

Sielskos: Pred 11:7-12:1; Ps 39:4-13; 2 Tim 4:6-8

Die Heilige Gees is jou ‘helper’

2019-11-23
Johannes 14:26 ABA

Jesus het gesê: ‘…Die Helper is die Heilige Gees. Hy sal vir julle alles leer. Ja, Hy sal julle laat onthou wat Ek vir julle gesê het.’ Die Heilige Gees het dus hierdie twee funksies: 1) Hy leer jou om saam met God te stap. 2) Hy herinner jou om dit elke dag te doen. As verloste kinders van God, moet ons konstant geleer word hoe om saam met Hom te stap en aan die seëning wat vir ons wag wanneer ons dit doen en die moeilikheid waarin ons ons bevind wanneer ons dit nie doen nie, herinner word. As jy kinders grootgemaak het, ken jy die roetine. Hulle moet hulle ABC leer sodat hulle kan lees en skryf; dan moet jy hulle aanhoudend daaraan herinner totdat hulle dit bemeester het. Hulle moet geleer word hoe om te loop en om honderde kere te val is deel van grootword. Die Bybel sê: ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV). Net soos jy nie vir jou kind sê: ‘Vergeet dit, jy gaan nooit leer loop nie,’ net so gee jou hemelse Vader nie op oor jou nie. Jou kind moes van higiëne en netheid geleer word. Net so, sal die Heilige Gees jou elke dag herinner hoe belangrik dit is om daagliks God se Woord te lees. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Hoe kan ‘n jongmens [en ‘n oumens ook] ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord’ (Psalm 119:9 NLV). As jy wys is, sal jy elke dag begin deur te bid: ‘Heilige Gees, leer my wat ek nodig het om te weet en herinner my gedurende hierdie dag daaraan.’

Sielskos: 2 Kro 35-36; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 27:20-22