2019-11-22
Galasiërs 5:16 NLV
Dr Charles Stanley sê: ‘Gedurende ‘n fotografiese toer het my groep vir amper drie ure op ‘n wandelpad gestap toe ek ‘n snaakse gevoel begin kry dat ons in die verkeerde rigting beweeg. Ek het die toerleier daaroor uitgevra en hy het my verseker dat alles reg was. Ek wou nie aanmatigend wees nie en het aangehou stap. Na ‘n paar minute het ek agtergekom dat my gevoel van ongemak my bygebly het; dit het inteendeel sterker geword. Ek het my kompas uitgehaal en na die kaart gekyk. Ons was wraggies in die teenoorgestelde rigting van ons bestemming op pad. Dit het ons amper ‘n uur en ‘n half geneem om terug te stap na die punt waar ons die verkeerde afdraai geneem het. Teen die tyd wat ons egter by ons regte bestemming uitgekom het, was die tydperk waarin ons foto’s kon neem, ongelukkig kortgeknip. Hierdie gebeurtenis het my twee waardevolle lesse laat besef. Eerstens, wanneer ons voel dat ‘n interne getuie ons aanmoedig om ‘n sekere koers in te neem, moet ons daarna luister. Tweedens, wanneer ek en jy mense kies om ons te lei, moet ons seker maak dat hulle die pad vorentoe beter as ons ken. Het jy al ooit gevoel dat iets vir jou sê om aandag te gee of jou in ‘n spesifieke rigting trek? Miskien het jy na ‘n preek geluister en aangevoel dat God vir jou sê om Hom in gehoorsaamheid te volg. Of miskien het jy in ‘n restaurant ingestap en was onmiddellik met vrees vervul, asof jy vinnig moes wegkom. As jy ‘n gelowige is, was daardie gevoelens heel waarskynlik die aansporings van die Heilige Gees wat met jou hart gepraat het, jou teen gevaar gewaarsku het en jou aangemoedig het om jou aan God se doelwitte te onderwerp.’ Laat jou lewe vandag deur die Heilige Gees bepaal word.
Sielskos: 2 Kro 32-34; Joh 13:1-17; Ps 95; Spr 27:17-19
2019-11-21
Titus 1:5 NLV
Die vierde kwessie wat jy by pastore wat uit die bediening uittree sal vind, is die volgende: Hulle leer ander mense hoe om sterk families te bou, sonder dat hulle noodwendig weet hoe om self een te bou. Of hulle is nie gewillig om die prys te betaal nie en dan word dit uiteindelik ‘n probleem. Die grootste preek wat jy ooit sal preek is by die huis! Pastore se vrouens kan wanhopig en depressief raak, omdat hulle voel dat die bediening hulle van al hulle man se tyd en aandag beroof. Hulle verwaarloosde kinders raak moeg om te hoor: ‘Ek doen dit vir die Here,’ dus rebelleer hulle teen God en die kerk en tree op maniere op wat die ouer wat geen tyd vir hulle het nie, in die verleentheid stel. Jou vrou en kinders moet jou altyd kan bereik. As die kerk sewe dae van jou week opneem, is dit nie die kerk se skuld nie – dis joune! Jy moet veranderinge begin maak! As jy dink dat dit ‘n 21 eeuse verskynsel is, dink weer. Lees die verhale van leiers soos Dawid en Samuel; jy sal ontdek dat dit moontlik is om sukses in jou werk te behaal, maar klaaglik op die tuisfront te misluk. Te veel predikers heg meer waarde aan die goedkeuring van hulle portuurgroep as aan die liefde en respek van hulle familie. Hou in gedagte dat jy nie altyd die pastoor sal wees nie, maar jy sal altyd jou vrou se man en jou kinders se pa wees. Wees dus daar wanneer hulle jou nodig het – en hulle sal daar wees wanneer jy hulle nodig het.
Sielskos: 2 Kro 29-31; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16
2019-11-20
Handelinge 20:28 NLV
Hier is nog ‘n kwessie waarmee pastore dikwels sukkel: Hulle weet hoe om ander geestelik te voed, maar nie hulself nie. Voor Paulus die kerk in Efese die laaste keer verlaat het, het hy die kerkleiers byeen gebring en gesê: ‘Pas julleself op en die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as ouderlinge aangestel het…’ Voor God die bediening bou, bou hy die predikant; andersings word jy ‘n maklike teiken vir die Vyand. Toe die administratiewe kant van die kerk gedreig het om die apostels se daaglikse gebed- en Bybelstudietyd weg te neem, het die apostels geantwoord: ‘Óns sal dan al ons tyd bestee aan gebed en die bediening van die woord.’ Pastoor, moenie net daarop fokus om jou preek voor te berei nie, berei ook jou gees voor! Moet nie net grense vir jou mense stel nie, stel ook grense vir jouself. Wanneer jy glo dat jy geestelike kortpaaie kan neem, maak dit jou vir verkeerde verhoudings en destruktiewe gewoontes ontvanklik. Uiteindelik lewe jy dan op twee vlakke – publieke diens en private stryd. Wanneer dit gebeur, lewe jy met die vrees van blootstelling, jy voel soos ‘n skynheilige en jy gee die selfvertroue wat jy nodig het sodat God jou kan gebruik, prys (sien 1 Johannes 3:21,22). Gevolglik word die kerk geestelik beroof en ly hulle daaronder. Dus: wat het sukkelende diensknegte van God nodig? Geestelike vaders! Paulus skryf: ‘Daar is baie mense wat vir julle leer van Christus… Maar julle het nie baie vaders nie…’ (1 Korintiërs 4:15 NLV). Kry ‘n volwasse, gesoute vriend in die bediening en reik uit na hulp voor jou probleem buite beheer raak. Dis nie net ‘n goeie idee nie – jou oorlewing in die bediening mag dalk daarvan afhang!
Sielskos: 2 Kro 25-28; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12
2019-11-19
2 Korintiërs 11:28 NLV
Kom ons kyk weer hoekom meer as 50 persent van pastore uit die bediening uittree. Hulle is lief vir die skare, maar kan nie die druk hanteer nie. Die Nuwe Testamentiese kerk het ook die volgende probleme gehad: 1) Morele probleme. Een man het by sy stiefma geslaap en niemand in die kerk was ontsteld daaroor nie (sien 1 Korintiërs 5:1-2). 2) Doktrinale probleme. Sommige Joodse bekeerlinge het gevoel dat nie-Joodse bekeerlinge besny moes word. Die geskil het so hittig geraak dat dit amper die kerk in twee geskeur het (sien Handelinge 15). 3) Onvolwassenheid en probleme tussen verskillende persoonlikhede. Paulus skryf: ‘Broers en susters, toe ek by julle was, kon ek nie met julle praat soos met geestelik volwassenes nie. Ek moes met julle praat soos met mense wat nog wêrelds is, soos met kindertjies in die Christelike geloof. Ek moes julle met melk voed, nie met vaste kos nie, want julle sou nie iets sterkers kon verteer nie… Julle is jaloers op mekaar en maak rusie. Is dit nie ‘n bewys dat julle nog deur wêreldse neigings oorheers word nie?.. As die een sê: ‘Ek volg Paulus,’ en die ander een sê: ‘Ek verkies Apollos,’ tree julle dan nie op soos mense wat nie aan die Here behoort nie?’ (1 Korintiërs 3:1-4 NLV). Hy gaan voort deur te sê: ‘Demas het my verlaat omdat hy verlief geraak het op die dinge van hierdie lewe…’ (2 Timoteus 4:10 NLV). Dan voeg hy by: ‘Aleksander, die kopersmid, het my baie skade aangedoen…’ (2 Timoteus 4:14 NLV). Dus: As jy nie die pyn kan voel nie, kan jy nie die pyn genees nie! Pastoor, jy sal die wysheid kry om effektief te bedien in jou alledaagse probleme en die druk van die gemeente af. Moet dus nie ontmoedig word nie – hou aan!
Sielskos: 2 Kro 22-24; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9
2019-11-18
2 Timoteus 4:7 NLV
Het jy geweet dat meer as die helfte van die mense wat die bediening betree, voor hul aftrede uittree? Hoekom? Daar is baie redes – hier is een van hulle: Hulle besef dat groot openbarings met ‘n ‘doring’ gepaard gaan. Die apostel Paulus, wat die helfte van die Nuwe Testament geskryf het, sê: ‘…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my te kasty. Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (2 Korintiërs 12:7-10 NLV). Pastoor, daar is 168 ure in jou week. Die uur wat jy Sondagoggend op die preekstoel deurbring, stal jou gawes en sterkpunte ten toon. Jou uitdaging sal dus altyd wees om te onthou dat dit God se Woord en God se krag is, nie joune nie, wat lewens verander en die werk gedoen kry. Let op wat Paulus gesê het: ‘…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee…’ Paulus se doring het in die vorm van ‘swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus’ gekom. Wat is jou doring? Jy kan slegs sterk voor mense staan as jy jouself dissiplineer om tyd voor God in gebed en Bybelstudie deur te bring. Dis hoe jy effektief bly en sterk in die bediening eindig!
Sielskos: 2 Kro 19-21; Joh 12:1-11; Ps 76; Spr 27:4-6
2019-11-17
Romeine 8:6 NLV
Paulus skryf: ‘Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak’ (vers 5 NLV). Om ‘deur die Gees beheer’ te word, beteken dat jy sy aansporing gehoorsaam. Jy doen dit deur met ‘n bewustheid van sy teenwoordigheid deur jou dag te gaan. Jy onderwerp jou aan Hom wanneer jy in jou hart voel hoe Hy jou aanspoor om ‘n spesifieke plan van aksie te volg, selfs al verstaan jy nie hoekom nie. Jy mag dalk aangespoor word om ‘n spesifieke gesprek stop te sit, vinnig van ‘n sekere televisieprogram af weg te draai, uit ‘n twyfelagtige omgewing uit weg te stap of selfs ‘n ander roete te volg (Onthou jy die wyse manne in Matteus 2:12?). Wat dit ook al is, doen dit onmiddellik. Die Heilige Gees mag jou dalk oor ‘n versoeking waarsku wat jy nie in staat is om te weerstaan nie, tensy jy Hom daar en dan gehoorsaam. Miskien is daar iemand wat deur die dag in jou gedagtes opkom en jy weet dat hy of sy deur ‘n moeilike tyd gaan en ondersteuning nodig het. Maak kontak met hulle. God wil deur jou met daardie persoon praat en Hy sal jou seën wanneer jy dit doen. Die Heilige Gees mag jou dalk lei om ‘n sekere ding te doen of ‘n risiko te neem wat jy jouself nooit kon indink nie. Die wysste stap is om jouself altyd aan sy plan te onderwerp, ongeag of dit vir jou sin maak of nie. God weet alle dinge, insluitend jou toekoms en sy leiding is altyd tot jou voordeel.
Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Kor 5:6-10