2019-11-16
Psalm 39:2 DB
Die Psalmdigter het baie oor die gevare van die tong te sê gehad. ‘Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê’ (Psalm 141:3 NLV). ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here…’ (Psalm 19:15 NLV). Net omdat ‘n gedagte by jou opkom, beteken dit nie dat jy dit moet uitblaker nie! ‘Wanneer ‘n dwaas kwaad is, dan sê hy alles wat hy dink, ‘n wyse mens bly kalm’ (Spreuke 29:11 ABA). Jy sê: ‘Maar ek het dit nie regtig bedoel nie. Ek het net afgekoel!’ Jy mag dalk dink dat jy dit nie bedoel het nie, maar die Bybel sê: ‘…Waar die hart van vol is, loop die mond van oor’ (Matteus 12:34 NLV). Wat in jou binneste weggesteek word, eindig onvermydelik aan die buitekant op. Plaas jouself in die ander persoon se plek, luister na wat jy sê en vra jouself af hoe jy sou reageer. Wanneer jy met iemand anders praat, hang hulle aanvaarding nie af van jou verhoogde desibelvlak nie, maar van jou vermoë om te luister, te verstaan, om te gee, te empatiseer en met wysheid te reageer. As geeneen van hierdie dinge werk nie, doen wat Jesus gedoen het toe Hy voor Pilates gestaan het: ‘…só het Hy sy mond nie oopgemaak nie’ (Handelinge 8:32 NLV). Wonderlik! Hy het die mag en gesag gehad om twaalf legioene engele (72,000 plus) tot sy verdediging te roep, maar Hy het dit nie gedoen nie. Dis krag, nie swakheid nie! Nog ‘n wyse woord: Moet nooit tot die vlak van ‘n gevloekery daal nie. ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV).
Sielskos: 2 Kro 16-18; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 27:1-3
2019-11-15
2 Korintiërs 12:15 NLV
Die apostel Paulus het geskryf: ‘…ek is nie agter julle goed aan nie, maar julle self… Ek sou baie graag alles wou spandeer vir julle lewe, ja, ook myself. As ek julle uitermate liefhet, hoe werk dit dan dat julle my dan minder liefhet?’ (verse 14-15 NLV). Paulus het sy grootste vervulling gekry deur te gee, nie te ontvang nie. Vir hom was om te gee sy eie beloning. Vir hom was om suksesvol te wees om ander mense suksesvol te maak. Vir hom was om vreugdevol te wees om vreugde aan ander mense te bring. Dis omdat hy nie na mense vir sy beloning gekyk het nie, maar na God: ‘Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:8 NLV). Die moeilikste ding vir die meeste van ons is om ons natuurlike neiging om onsself eerste te plaas, te beveg. Dis hoekom dit belangrik is om deurentyd ons beweegredes te ondersoek en seker te maak dat ons nie terug in selfsug vasval nie. As jy jou beweegredes wil ondersoek, volg die voorbeeld wat Benjamin Franklin gestel het. Elke dag het hy vir homself twee vrae gevra. Wanneer hy in die oggend opgestaan het, sou hy vra: ‘Wat se goeie dinge gaan ek vandag doen?’ Voor hy dan in die aand in die bed klim, sou hy vra: ‘Wat se goeie dinge het ek vandag gedoen?’ As jy hierdie twee vrae met onselfsugtigheid en integriteit kan beantwoord, kan jy jouself op die regte pad hou. Dit verhoog die lewenskwaliteit van beide die gewer en die ontvanger. Die waarheid is dat daar geen lewe so leeg soos ‘n selfgesentreerde lewe is nie en dat daar is geen lewe so gesentreerd is soos ‘n lewe wat leeg van jouself is nie.
Sielskos: 2 Kro 12-15; Joh 11:28-37; Ps 50; Spr 26:27-28
2019-11-14
Numeri 6:27 DB
God se Woord is deurtrek met lewe, wysheid, krag en potensiaal. Toe Hy die wêreld geskep het, het Hy eenvoudig gesê: ‘Laat daar wees.’ Elke woord wat Hy spreek bevat die mag om te skep. Elke belofte wat Hy maak bevat die saad vir daardie belofte se eie vervulling. Hierdie saad het ‘n geskeduleerde seisoen vir vervulling in jou lewe en wanneer hulle met geloofsgevulde gebed water gegee word, terwyl jy vas op die Skrif staan en geduldig op God se tydsberekening wag, kan sy Woord nie misluk nie. Sodra jy hierdie waarheid besef, word die woorde ‘God seën jou,’ gewigtige woorde! Deur hulle te spreek, stel jy God se seën in jou lewe vry. ‘…As [jy] dit so doen, sal Ek sorg dat dit met hulle goed gaan.’ As jy dus jou geliefdes wil seën, moet jy hierdie woorde van seën oor hulle uitspreek: ‘Die Here sal vir jou goed wees en vir jou sorg. Die Here sal jou raaksien en vir jou sy liefde gee. Die Here sal jou goedgesind wees en vir jou voorspoed gee’ (verse 24-26 NLV). Deur iemand te vra: ‘Hoe gaan dit met jou’ is ‘n uitdrukking van hoflikeid en sorgsaamheid. Wanneer jy sê: ‘Ek hoop jy het ‘n lekker dag,’ bedoel jy dit opreg. Wanneer jy egter sê: ‘God seën jou,’ en die Skriftuurlike waarheid agter daardie woorde verstaan, kan God se seën daardie persoon se lewe verander! Die skrywer Kate Nowak sê: ‘Dit moet ‘n gewoonte word, hierdie besigheid om mekaar te seën. Ek het begin besef dat dit een van die kragtigste en praktieste maniere is om weer met mekaar, ons wêreld en die lewe self te konnekteer. Dis die wonderbaarlikse manier moontlik om ons na geluk en sukses toe te lei. ‘n Seëning is ‘n soete vrymaking van pyn… ‘n antieke sleutel tot ‘n suksesvolle en vervullende lewe.’
Sielskos: 2 Kro 8-11; Joh 11:17-27; Ps 8; Spr 26:23-26
2019-11-13
1 Kronieke 4:9 NLV
Die naam Jabes beteken pyn en moeilikheid. Kan jy jou indink jy stap in ‘n vertrek in en iemand sê: ‘Hier kom moeilikheid,’ of iemand beskryf jou as “‘n pyn”? Jabes se ma het hom so genoem omdat ‘…sy geboorte so pynlik was.’ Jabes het egter geweier om hierdie etiket te dra en dat hierdie naam hom definieer. In plaas daarvan om op sy verlede terug te kyk en na sy kritici te luister, het hy na God toe gedraai en gebid: ‘…’Laat u seën op my rus en vergroot my grond! Wees asseblief met my in alles wat ek doen, en bewaar my van moeilikheid en pyn!’ En God het sy versoek gehoor en dit gedoen’ (vers 10 NLV). Die etiket op die buitekant van ‘n bottel sê vir jou wat aan die binnekant is. Wanneer jy toelaat dat ander mense jou etiketteer, maak hulle altyd jou wêreld te klein. Sodra jy die etiket wat hulle op jou geplaas het aanvaar, begin jy glo dat dit is wie jy is en dat jy nooit meer as dit sal wees nie. Nee, net God kan vir jou sê wie jy is! Doen dus wat Jabes gedoen het – gaan direk na die bron toe: God. Hy het jou geskep. Hy het jou verlos. Hy het jou geroep. Hy rus jou toe. Hy bemagtig jou. Hy beloon jou. Wanneer mense jou dus probeer beperk deur etikette op jou te plaas, tree God in en sê: ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne’ (Jesaja 43:1 NLV). Die waarheid is dat God jou liefhet en jou aanvaar; en sy goedkeuring troef almal anders se afkeuring!
Sielskos: 2 Kro 5-7; Joh 11:1-16; Ps 83:9-18; Spr 26:17-22
2019-11-12
Lukas 15:20 NLV
Die Bybel vertel ons van die Verlore Seun: ‘…En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig deur liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen.’ Toe hy nog ver weg was, het sy pa na hom toe gehardloop. Hoekom? Omdat sy verhouding met sy seun nie op dade gebaseer was nie, maar op die feit dat hy hom lewe gegee het en hom in die familie ingebring het. Wanneer jy dink aan die dinge wat sy vader hom daardie dag gegee het, sal jy die betekenis van elke item besef. 1) Die mantel. Dit het sy identiteit as seun bevestig. God sien jou nie in jou swakheid nie; Hy sien jou geklee in die regverdigheid van Christus (sien 2 Korintiërs 5:18-19). 2) Die ring. Dit was ‘n seëlring met die familieseël op wat hom die gesag gegee het om weer besigheid in sy vader se naam te doen. 3) Die sandale. Huisbediendes het nie skoene gedra nie, net die familie het. Hy het terug huis toe gekeer met die hoop dat hy ten minste ‘n werk in die werkers se kwartiere kon kry. Sy vader het egter nie net sy identiteit en gesag herstel nie, hy het hom ten volle as familielid herstel. 4) Die feesmaal. In daardie tyd, wanneer jy teen jou vader se gesag gerebelleer het, het hulle ‘n ‘seremonie van skande’ gehou, wat beteken het dat jy nooit kon terugkeer nie. Nie sy vader nie – hy het ‘n partytjie gehou! Jesus het ons sonde op Homself geneem. ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Die woord vir jou vandag is – kom terug na God toe!
Sielskos: 2 Kro 1-4; Joh 10:22-42; Ps 83:1-8; Spr 26:13-16
2019-11-11
Jakobus 4:7 NLV
Het jy al ooit gekyk hoe iemand weerstandsoefeninge doen? Hulle word elke dag sterker soos hulle met meer en meer gewigte oefen. Satan is daarop uit om drie dinge te doen: ‘…om te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Om wat te vernietig? Alles wat God vir jou in gedagte het! Hy sal jou gedagtes, jou gesondheid, jou huwelik, jou kinders, jou finansies en jou karakter met ‘n hele arsenaal wapens aanval. As jy ‘n geestelike swakkeling is, sal hy jou vermorsel! Satan bestudeer jou. Hy weet hoe om jou te laat tou opgooi en hy sal jou met elke kans wat hy kry in daardie rigting druk. Wat moet jy dus doen? Druk terug – en hou aan druk! Gebruik elke geestelike wapen wat God vir jou gegee het – gebed, lofprysing, sy Woord en broederskap. Dis tyd om die situasie op sy kop te keer en die Vyand as jou persoonlike gym te begin gebruik. Die Bybel sê: ‘…Die boodskap van God is soos ‘n swaard wat die Heilige Gees vir jou gee om die stryd mee te voer’ (Efesiërs 6:17 DB). Wanneer jy met God se Gees vervul is, sal Hy in jou, deur jou en vir jou veg. Wanneer dit gebeur, bereik Satan die plek waar hy weet dat hy jou nie op ‘n spesifieke front kan oorwin nie, so wat doen hy? Hy val jou op ‘n ander front aan! Soos jy egter oorwinning op oorwinning behaal, ontwikkel jy die vrymoedighed en krag om hom ook op daardie front te verslaan. Met genoeg weerstandsoefeninge onder jou belt, sal jy die vreugde om in die waarheid van hierdie wonderlike belofte te wandel, ervaar: ‘Die God van vrede sal die Satan binnekort onder julle voete verpletter…’ (Romeine 16:20 NLV).
Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Joh 10:11-21; Ps 133; Spr 26:7-12