2019-11-10
Spreuke 16:32 NLV
Die Bybel sê: ‘Dit is beter om geduldig te wees as dapper. Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem.’ As Christen het jy die Heilige Gees wat in jou woon, en een van die vrugte van die Gees is ‘selfbeheersing’ (sien Galasiërs 5:23). Dit beteken dat jy as Christen jou humeur kan beheer en dat jy as Christen dit moet beheer. Jy sê: ‘Ek word maklik kwaad, want ek het Ierse bloed wat in my are vloei.’ Jy is nie veronderstel om volgens jou ou natuur te lewe nie, maar volgens jou nuwe natuur! Woede is soos ‘n rivier. Wanneer dit beheer word, kan dit genoeg elektrisiteit genereer om aan ‘n hele stad elektrisiteit te voorsien. Onbeheersd kan dit deur sy walle breek en ‘n woedende vloed word wat alles in sy pad vernietig. Net soos ‘n rivier beheer kan word, so kan jou humeur beheer word. Was jy al ooit tuis in ‘n groot argument met jou eggenoot of een van jou kinders betrokke gewees? Skielik lui die foon; jy tel dit dadelik op en antwoord in ‘n sagte, beheersde stem: ‘Hallo-o-o-o. Kan ek help?’ Wat het nou net gebeur? Jy het bewys dat jou woede beheer en getem kan word. Die Bybel sê: “‘n Geduldige mens het insig. Iemand wat kort van draad is, stal sy dwaasheid uit” (Spreuke 14:29 NLV) Dis nie werd om oor alles kwaad te word nie. Hoe kalmer jy ‘n situasie sien, hoe duideliker sal jy sien hoe om dit te hanteer. As jy dus ‘n vinnige humeur het, is hier goeie raad. Wanneer jy kwaad is, tel tot tien voor jy praat. Wanneer jy regtig kwaad is, tel tot ‘n honderd – en moet dan niks sê nie.
Sielskos: Gen 14:18-24; Ps 110; Heb 5:5-10
2019-11-09
Spreuke 14:17 NLV
Die waarheid is dat wanneer jou humeur die oorhand kry, dit die slegste van jou openbaar. Die Bybel sê drie dinge oor onregverdige woede wat jy in gedagte moet hou: 1) Dis dom. ‘Iemand wat kort van draad is, doen dom dinge. Almal haat ‘n agterbakse mens’ (vers 17 NLV). Benjamin Franklin het in Poor Richard’s Almanac geskryf: ‘Take this remark from Richard poor and lame; Whate’er’s begun in anger ends in shame.’ 2) Dis verdelend. “‘n Humeurige mens sit twis aan die gang. ‘n Verdraagsame mens sit ‘n stryery stop” (Spreuke 15:18 NLV). Soms word ons met goeie rede kwaad. Die meeste van die tyd gebeur dit egter omdat ons selfsugtig, ongeduldig, geïrriteerd of seergemaak oor die manier wat ons behandel word, is. In plaas daarvan om die probleem op te los, maak woede dit net erger. 3) Dis destruktief. “‘n Humeurige mens betaal self die prys daarvoor. As jy hom eers een keer oorsien, moet jy dit elke keer herhaal” (Spreuke 19:19 NLV). Dit beteken dat wanneer jy jou humeur verloor, hou jy aan verloor. Jy sal vriende verloor, jy sal die liefde en respek van jou familie verloor, jy sal jou sakevennote verloor en dit kan ook veroorsaak dat jy jou gesondheid verloor. John Hunter, ‘n sielkundige met ‘n ernstige hartkondisie, het gesê: ‘My lewe is aan die genade van die een wat my kwaad maak oorgelaat… die eerste skelm wat my kwaad maak, kan my dood maak.’ Raai wat? Jy kan daardie skelm wees! Vra dus vir God om jou te help om jou woede te beheer.
Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Joh 10:1-10; Ps 99; Spr 26:1-6
2019-11-08
Efesiërs 4:26 NLV
Die eerste keer wat woede in die Skrif genoem word, is toe Kaïn so kwaad vir sy broer Abel geword het, dat hy hom vermoor het. Sestig persent van alle moorde in Amerika word deur familielede gepleeg. Woede maak egter nie net ander mense dood nie, dit kan jou ook doodmaak. Dr Redford Williams, ‘n professor in psigiatrie en gedragswetenskap by Duke Universiteit, sê: ‘Die vyandigheid en woede wat met Tipe-A gedrag geassosieer word, is ‘n groot bydraer tot hartsiektes. Mense wat met woede sukkel is vyf keer meer geneig om aan koronêre hartsiektes te lei en mense met hartsiektes loop dubbel die risiko van ‘n hartaanval wanneer hulle kwaad word.’ Daar is natuurlik ‘n verskil tussen woede en om jou bloot te vererg. ‘n Dogtertjie het vir haar pa gevra om aan haar die verskil te verduidelik. Dus het hy die foon opgetel, ‘n nommer geskakel, sy dogtertjie laat inluister en toe die persoon aan die ander kant antwoord, het hy gesê: ‘Hallo. Is Melvin daar?’ Die persoon het geantwoord: ‘Hier is niemand hier met die naam Melvin nie. Maak seker jy het die regte nommer.’ Die pa het ‘n oomblik gewag en toe weer die nommer geskakel. ‘Hallo. Is Melvin daar?’ Die man het geskree: ‘Ek het nou net vir jou gesê daar is nie ‘n Melvin hier nie! Moenie weer hierdie nommer skakel nie!’ en die gehoorbuis neergesmyt. Die pa het na sy dogtertjie gekyk en gesê: ‘Poplap, dit was woede. Laat ek nou vir jou wys hoe klink dit as iemand hom vererg.’ Hy het weer die nommer geskakel en toe ‘n stem hard antwoord, het die pa kalm gesê: ‘Hallo. Dis Melvin wat praat. Is daar enige boodskappe vir my?’ Woede kan gevaarlik wees. Vra dus vir God om jou te help om jou woede in toom te hou. Hy sal!
Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Joh 9:24-41; Ps 115; Spr 25:26-28
2019-11-07
Filippense 3:13 NLV
Die Bybel sê hoe groter die oortreding, hoe groter is die noodsaaklikheid om jou oortreder te vergewe om sodoende met jou lewe te kan aangaan. Onthou jy toe jy klein was en jou ouers vir jou gesê het om die deur toe te maak? Hulle het dit gesê omdat jy in die winter die koue en in die somer die hitte laat inkom het. Vergifnis maak die deur op jou verlede toe! Paulus, wat Christene gemartel het voor hy self een geword het, skryf: ‘…een ding is seker, ek vergeet dit wat agter my lê, en strek myself uit na dit wat voorlê.’ Eers wanneer jy jou greep op die verlede verslap, kan jy jou toekoms vasgryp. Om te vergeet is ‘n besluit, een wat jy daagliks of selfs uurliks moet maak. Die punt is: Jy moet elke keer wanneer die kwessie wat jou seermaak opduik, vergewe (sien Matteus 18:21-22). Volkome genesing kan maande of jare neem. Wanneer iemand jou diep seermaak, moet jy dit ‘n doelwit in jou hart maak om hulle aan te hou vergewe, totdat jy vry van hulle invloed is. Maak nie saak wat hulle deur mishandeling, verlating, verraad, manipulasie of bedrog van jou gesteel het nie, bitterheid sal meer van jou steel! Soos om ‘n lat vir jou eie rug te pluk, so stel onvergifnis die persoon wat jou seergemaak het in staat om dit aan te hou doen. Totdat die kwessie dus opgelos is, sal jy dalk elke dag op jou knieë moet gaan en bid: ‘Here, deur ‘n daad van my wil, vergewe ek _________ en vra U om hulle te seën. Ek gee hulle aan U oor en beweeg aan met my lewe.’ Daar is geen kortpad nie – dis die enigste pad na vryheid toe!
Sielskos: 1 Kro 16-18; Joh 9:13-23; Ps 105:1-15; Spr 25:23-25
2019-11-06
Josua 4:21 NLV
Een van die effektiefste manier om iemand te leer, is deur ‘oomblikke van onderrig.’ Jesus het dit gedoen. Toe ‘n vyeboom nie vrugte gedra het nie, het Hy dit vervloek en dit het onmiddellik verdor. Dit het die dissipels se aandag vasgevang (sien Matteus 21:18-22). Toe het Hy verduidelik dat tensy jy met God se Gees vervul bly, jy nie vrugbaar in sy bediening sal wees nie. Hy kon dieselfde les in die sinagoge geleer het. Dan sou sy gehoor egter ‘n vyeboom moes verbeel het en die boodskap sou deur die vermoë van die luisteraar afgewater gewees het. Toe drie dronk hoërskoolleerders met hulle kar in ‘n boom vasgejaag het, het die wrak vir verskeie dae voor hulle skool gestaan. Elke dag moes die leerders daarna kyk. Dit word ‘n ‘hoë impak oomblik van onderrig’ genoem. Hulle sê dat tydsberekening alles is. Dis vir seker waar wanneer dit daarby kom om die belangrike lesse in die lewe te leer, so moet hulle nie misloop nie! As jy ‘n ouer is, is dit tevergeefs om konstant vir jou kinders te ‘preek.’ As jy ‘n leier is, is dit ‘n fout om aanhoudend vir die mense onder jou te probeer lesse leer. Laat die ervarings namens jou praat! Vra dan wat hulle dink en luister sonder om te onderbreek! Mense leer meer deur ontdekking as dialoog. Dis hoekom God vir Josua opdrag gegee het om ‘n monument van twaalf klippe aan die anderkant van die Jordaan te bou, nadat Hy wonderbaarlik die waters geskei het sodat hulle veilig kon deurbeweeg (sien Josua 4:1-9). Hy het in wese gesê: ‘As jou kinders vra waaroor hierdie monument gaan, gebruik dit as ‘n oomblik om hulle oor my liefde en getrouheid te onderrig.’ Hou dus jou oë oop vir die oomblikke van onderrig in die lewe – en gebruik hulle.
Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Joh 9:1-12; Ps 68; Spr 25:21-22
2019-11-05
Lukas 17:10 NLV
As jy ‘n geneigdheid het om mense aan al die goeie dinge wat jy doen en al die opofferings wat jy maak, te herinner, lees wat Jesus gesê het: “As julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: …’Ons het bloot uitgevoer wat ons moes doen.'” Ons almal verdien erkenning vir die goeie dade wat ons doen en ons floreer op waardering. Baie kere kry ons dit egter nie, dus word ons met drie keuses gelaat: 1) Ons kan ingee tot selfbejammering en rondloop en kla dat die wêreld ons nie regverdig behandel nie. 2) Ons kan toegee tot wrokkigheid, met ‘n ‘chip’ op ons skouer rondloop en dan wonder hoekom mense nie rondom ons wil wees nie. 3) Ons kan Jesus se houding aanneem en sê: ‘Ek het net gedoen wat God van my verwag. Dis genoeg beloning om te weet dat Hy met my tevrede is.’ As jy op ander mense se aanmoediging en lof staatmaak, sal jy geen vreugde hê wanneer jy dit nie ontvang nie. Dis sleg, want ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). As jy so lewe, sal jy goed begin en suksesvol klaarmaak. Wanneer dit gebeur, sal jy guns by die werk en by die huis vind en met meer vriende opeindig as wat jy weet wat om mee te doen. Plus, jou regte beloning, die een wat die meeste saak maak, is gewaarborg wanneer jy eendag voor die Here staan en hoor: ‘…Uitstekend! Jy is regtig ‘n goeie werker op wie ‘n mens kan staatmaak. …’ (Matteus 25:23 NLV).
Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Joh 8:42-59; Ps 49; Spr 25:18-20