2019-11-04
Lukas 6:28 NLV
Aand na aand is Marie deur haar pa aangerand wanneer hy in ‘n dronk woedeaanval van die kroeg af by die huis gekom het. Die eerste kans wat sy dus kon kry, het sy die huis verlaat. Na genoeg tyd, het haar fisiese letsels begin genees, maar emosionele letsels kan ‘n leeftyd hou. Hulle kan jou in die verlede vasgevang hou en jou waardevolle verhoudings kos. Selfs die mense wat vir jou lief is kan moeg raak en wanhopig voel dat jy nooit gaan beter word, ten spyte van hulle beste pogings om jou te help nie. Ken jy so iemand? Is jy daardie iemand? Wil jy vorentoe na genesing en vreugde beweeg? Jy kan. Marie het dit gevind toe sy besluit het om haar pa te vergewe en vir hom begin bid het. Dis toe dat sy begin het om geestelik en emosioneel heel te word. Sy het aangehou om hom te vergewe en vir hom te bid, totdat haar ou herinneringe haar nie meer gevange gehou het nie. Jesus het gesê: ‘…Bid vir hulle wat julle seermaak.’ Jy mag dalk niks gedoen het om dit te veroorsaak of te verdien nie, jou oortreder kon jou vir redes wat jy dalk nooit sal verstaan nie seergemaak het. Dis hoekom Jesus op die kruis gebid het: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!…’ (Lukas 23:34 NLV). Dit laat nie jou oortreder daarmee wegkom nie. Hulle sal met die skuld van wat hulle gedoen het lewe en tensy hulle vir vergifnis na God toe draai, sal hulle geen vrede ervaar nie. Jy sal egter vrede hê! Wanneer jy besluit om iemand te vergewe en vir hulle te bid, neem jy jou mag terug en eis weer jou lewe vir jouself op.
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17
2019-11-03
1 Johannes 2:27 ABA
Die woord ‘gesalf’ beteken om uit te giet en in te vryf. In die Ou Testament het ‘n priester olie oor sy kop uitgegooi, wat gesimboliseer het dat die Gees van God op hom rus soos hy elke dag sy take uitgevoer het. Nou beweeg ons vorentoe na die tydperk waarin ons vandag lewe en lees dit weer: ‘Maar julle moet onthou dat Jesus julle met die Heilige Gees gesalf het, en die Heilige Gees bly in julle harte…’ Jy is met ander woorde ‘n houer van God se Gees. Wanneer sy Gees in jou leef, affekteer dit elke area van jou lewe. Dink net wat se voordeel dit vir jou inhou wanneer dit by jou verhoudings, jou loopbaan, jou gesondheid, jou besluite, jou probleme, jou huwelik en jou bediening kom. Dink net wat dit doen wanneer jy onder stres verkeer en oorweldigende probleme moet hanteer. Verder, is die salwing van God se Gees wat in jou leef, ook aan ander oordraagbaar. Wanneer jy Skriftuurlike woorde van vertroosting en bemoediging tot iemand spreek, werk daardie woorde lank nadat jy weg is nog steeds, omdat hulle met God se teenwoordigheid deurtrek is. In die Ou Testament het God vir Moses gesê: ‘Sê vir die Israeliete dat hierdie mengsel van olie vir hulle en vir alle geslagte wat kom, iets is wat uitsluitlik bedoel is om mense en dinge aan God te wy’ (Eksodus 30:31 DB). ‘Vir alle geslagte!’ Dit beteken dat jou kinders en kleinkinders ook met God se Gees gesalf kan word. Die Psalmdigter het gesê: ‘…Dis asof U my met vars olie salf’ (Psalm 92:11 NLV). Bid elke oggend wanneer jy wakker word: ‘Here, salf my met vars olie vandag.’ Gaan dan uit en raak ander met daardie salwing aan!
Sielskos: Gen 5:22-24; Heb 11:5; 2 Kon 2:1-12; Hand 1:9-11
2019-11-02
Markus 11:23 NLV
Jesus het gesê: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie. Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (verse 23-24 NLV). Jesus het egter nie fisiese berge gedurende sy bediening beweeg nie, so waarvan het Hy hier gepraat? Die probleme waarvoor ons in die lewe te staan kom! Let iets belangriks op: Hy sê net een keer dat ons geloof moet hê, maar drie keer dat ons sy Woord moet spreek. Hoekom? Want as jy nie genoeg geloof het om jou mond te beweeg en God se Woord te spreek nie, sal jy nie genoeg geloof hê om jou berg te verskuif nie! Die Bybel sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Iets wonderlikbaarliks gebeur wanneer jy God se Woord verbaliseer. Jou ore hoor dit, jou gedagtes word vernuwe, jou fokus verander, en die ding waarop God reageer – geloof – bruis binne-in jou op. Wanneer jy dan daardie posisie van geloof behou en aanhou om God se Woord te spreek, sal die berg in jou lewe begin verskuif. So lank as wat jy aanhou sê wat jy in jou natuurlike gedagtes dink en voel, sal die berg soos ‘n onbeweeglike objek bly staan. Wanneer jy egter op God se beloftes staan en verklaar: ‘Ek mag dalk nie weet hoe of wanneer nie, maar ek weet dat jy in die Naam van Jesus sal ineentuimel,’ sal jou berg beweeg!
Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 25:8-12
2019-11-01
Handelinge 26:17 NLV
Paulus se bediening het begin toe hy vir Jesus op die Damaskuspad ontmoet het, waar Jesus vir hom gesê het: ‘Staan op! Ek het juis hiervoor aan jou verskyn om jou as my dienskneg en getuie aan te stel. Jy moet vertel hoedat jy My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Ek sal jou teen jou volk beskerm en teen die nie-Jode na wie Ek jou met volle mandaat stuur. Jou bediening moet hulle oë oopmaak sodat hulle ‘n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig…’ (verse 16-18 NLV). Voor Paulus suksesvol in sy roeping en effektief in sy bediening kon wees, moes hy eers van sy vrees vir mense bevry word. Dit het diegene wat hom goed geken het ingesluit, sowel as mense wat hy nog moes ontmoet. Hy moes van sy behoefte aan mense se goedkeuring ontslae geraak het. In wese het God vir hom gesê: ‘Jy is net die posman. Sommige dae sal mense hou van dit wat jy aflewer, ander dae nie. Jy moet in elk geval die pos aflewer. Dus bevry ek jou van die vrees vir hulle verwerping en die behoefte aan hulle aanvaarding.’ Het God jou geroep om ‘n spesifieke werk te doen? Is jy bang dat jy foute sal maak? Jy kan dit maar aanvaar – jy gaan foute maak! Is jy bekommerd dat jy gekritiseer sal word? Dit kom saam met die posisie! Mense sal jou op 101 verskillende maniere teleurstel, maar as jy vasbeslote is om die wil van God te doen, bid dan: ‘Here, bevry my van my behoefte aan menslike goedkeuring, sodat ek dit wat U my gegee het, met hulle kan deel.’ Spring dan aan die werk!
Sielskos: 1 Kro 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18
2019-10-31
Hebreërs 13:5 NLV
Een oggend het ‘n besigheidsman ‘n visserman op sy boot sien sit en koffie drink. ‘Jy’s vroeg terug,’ het hy geroep. Die visserman het geantwoord: ‘Ja, ek het genoeg gevang. Ek is klaar vir die dag.’ Die besigheidsman het gesê: ‘Hoekom gaan jy nie weer uit nie? As jy aanhou uitgaan sal jy meer vis kan vang, ‘n tweede boot kan koop, bemanningslede aanstel en ryk word soos ek.’ Die man het geantwoord: ‘Hoekom sal ek dit wil doen?’ Die besigheidsman het gesê: ‘Sodat jy vry kan wees om te doen wat jy wil en die lewe kan geniet.’ Met ‘n glimlag het die visserman geantwoord: ‘Maar dis presies wat ek op die oomblik doen!’ Die Bybel sê: ‘…Laat wat julle het, vir julle genoeg wees…’ en tog baseer so baie van ons self-waarde op dit wat ons besit of bereik. Ons voel net goed oor onsself wanneer ons in sekere verhoudings is of in sekere woonbuurte woon of sekere doelwitte bereik. Ons sê vir onsself: ‘Wanneer ek genoeg geld maak, of die president van die maatskappy word, of 10 kilogram verloor, ensovoorts, sal ek okay wees.’ Wat is vandag die basis van jou self-waarde? As jy nie seker is nie, vra jouself af: ‘Waar sonder kan ek nie lewe nie?’ Is daar iemand wat jy bang is jou sal los? ‘n Werk waarby jy te betrokke is? Dit is beide Skriftuurlik en wys om lewensdoelwitte te hê, maar moenie jouself ondermyn deur te glo dat jy ‘minder’ is omdat jy minder as iemand anders bereik of verkry het nie. Die Skrif leer ons dat wanneer jy God se doelwitte jou eerste prioriteit maak, ‘…sal [Hy} daagliks vir julle alles gee wat julle nodig het… Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee’ (Lukas 12:31-32 NLV).
Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34
2019-10-30
Matteus 19:5 NLV
Ouers, lees hierdie brief: ‘Liewe Pa: Dankie vir al die kere wat ek op jou skoot kon sit sodat ek die rugbywedstryd kon sien en vir al die kere wat Pa vir my worsbroodjies gekoop het. Ek sal altyd die dag onthou wat Pa my deur die sneeu gedra het omdat ek so koud gekry het. Pa was ‘n wonderlike Pa vir my en ek sal Pa nooit vergeet nie. Ek en Susan het nou die dag gesels en gewonder hoe dit met Pa gaan. Vandat ons weggetrek het sien ons mekaar nie baie nie. Een van die dae gaan ons egter kom en Pa verras. Pas Pa op. Ek is lief vir Pa. Liefde, jou seun.’ Mooi brief, nè? Mooi, indien jy jouself voorberei het vir die tyd wanneer jou kinders jou nie meer so baie gaan nodig hê nie. Indien nie, kan jy gegrief voel teenoor diegene vir wie jy so baie opgeoffer het wanneer jy voel dat jy nie meer belangrik vir hulle is nie. God het jou kinders, met ‘n vervaldatum, vir jou geleen. Die digter Kahlil Gibran het gesê: ‘They come through you but not from you… You are the bows from which your children as living arrows are sent forth’ (sien Psalm 127:4). Ouerskap gaan nie oor eienaarskap nie, maar oor rentmeesterskap. Jou eerste opdrag is om liefde te voorsien wat hulle sekuriteit gee, wette te voorsien wat hulle wys maak, lig om in te wandel en ‘n lewenstyl wat hulle kan volg. Jou volgende opdrag is om hulle voor te berei om in die wêreld uit te gaan en die dinge wat jy hulle geleer het uit te oefen. Laat hulle dus vandag gaan, vier die belegging wat jy gemaak het, bid vir hulle en vra vir God: ‘Wat is volgende?’ Dis hoe God dit beplan het.
Sielskos: 1 Kro 3-5; Joh 8:1-20; Ps 6; Spr 25:1-7