Mediteer oor God se Woord

2019-10-29
Psalm 1:2 NLV

Wanneer jy verby die punt kom waar jy net eenvoudig jou Bybel lees en die tyd neem om elke dag oor sy waarhede te mediteer, begin jy soos God dink. Petrus was so afhanklik van Jesus se woorde dat hy gesê het: ‘…Here, na wie toe sal ons teruggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee’ (Johannes 6:68 NLV). Job het ook gesê: ‘…Wat Hy sê, het ek in my hart bewaar’ (Job 23:12 NLV). Vraag: Wanneer laas het jy ‘n maaltyd misgeloop sodat jy tyd kon spandeer om oor die Skrif te mediteer? Terwyl jy oor God se Woord mediteer, ontwikkel jy ‘n gedagtepatroon wat jou in staat stel om bo jou vrese uit te styg. ‘Net so is dit met die woord wat uit my mond kom: Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV). Hoor jy? God se Woord sal God se doelwitte in jou lewe bereik! Dis hoekom Satan met jou sal veg oor die tyd wat jy neem om Bybelstudie te doen. Die waarheid is dat jy nie tyd kry nie, jy maak tyd! Die profeet Jesaja het gesê: ‘…Elke oggend spits ek my ore om verder by die Here te leer’ (Jesaja 50:4 DB). In ‘n wêreld wat dikwels van toewyding gestroop is, belowe God: ‘Ek sal nie op jou opgee nie. Ek sal aanhou werk aan jou totdat jy helder in jou persepsies, sterk in jou geloof en gebalanseerd in jou geestelike wandel is. Soos jy oor my voorskrifte mediteer, sal jy in ‘n nuwe rigting begin beweeg. Wanneer dit gebeur, sal jou lewe begin voorspoedig raak.’ Begin dus van vandag af oor God se Woord mediteer.

Sielskos: 1 Kro 1-2; Joh 7:45-53; Ps 9; Spr 24:30-34

Hy hou die hele wêreld in sy hande

2019-10-28
Daniël 4:25 NLV

As iemand wat in die Bybel glo, is daar drie woorde wat nie in jou woordeskat moet wees nie: geluk, toeval en lot. Vervang hulle eerder met die woord voorsienigheid, wat beteken dat daar vooruit gesien en voorsien word. Die Westminster geloofsbelydenis, wat in die sewentiende eeu geskryf is, verklaar: ‘God, die groot Skepper van alle dinge, dra, bestuur, skik en regeer alle skepsels, dade en dinge, van die grootste tot selfs die kleinste, deur sy alwyse en heilige voorsienigheid, volgens sy onfeilbare voorkennis…’ Dit beteken dat God, nie ons nie, in beheer is! Wat dan van die menslike wil? Kan ons nie onafhanklik optree nie? Die teoloog dr R.C. Sproul het geskryf: ‘God se soewereine voorsiening is verhef bo ons dade. Hy werk sy wil uit deur die optrede van menslike wil, sonder om die vryheid van daardie menslike wil te oortree.’ Kyk na Josef. Sy broers het hom probeer vernietig, maar in plaas daarvan het hulle aksies hom op die troon van Egipte geplaas en God se wil vervul. Later het hy gesê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is’ (Genesis 50:20 NLV). Judas se gruwelikste daad het die beste ding wat ooit gebeur het meegebring – Christus se versoening van ons sondes aan die kruis. Voel jy verward deur die dinge wat om jou aan die gang is? Een rede is omdat ons net omtrent 10 persent van ons geestelike potensiaal gebruik. Paulus wys ons ook daarop dat ons maar net ten dele ken (sien 1 Korintiërs 13:9 NLV). Wanneer ons in die hemel kom mag God dit dalk alles verduidelik – of nie. Tot dan, vertrou Hom. Verbly ook jouself, want Hy hou die hele wêreld in sy hande – insluitend vir jou!

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 7:25-44; Ps 104:27-35; Spr 24:29

Jy het die reg om van blydskap uit te roep!

2019-10-27
Psalm 107:20 DB

Elkeen van ons kom beskadig na die Here toe. Dus begin Hy ‘n genesingsprogram om ons gedagtes oor Hom, ander mense en oor onsself te herstel. Terwyl jy dalk aan die buitekant kan goed lyk, is daar ‘n werking wat binne-in jou aangaan, soos die Heilige Gees werk om jou ‘…’n spesiale besitting van die Huiseienaar…’ (2 Timoteus 2:21 NLV), te maak. Een van die stukke gereedskap wat Hy gebruik is ‘… die ‘dwaasheid’ van ons prediking…’ (1 Korintiërs 1:21 NLV). Wat jy ookal doen, moet nooit jou aptyt vir Bybelse prediking verloor nie: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Dit gaan die verstand te bowe om te sien hoe die gepreekte Woord die mees disfunksionele mense in produktiewe lede van die samelewing verander. Die meeste van die tyd doen God dit alles agter ‘n sluier van geheimhouding wat ons reputasie en publieke persepsie beskerm. Hoe genadig is dit nie! Net sy mag kan die slagyster wat ons gedagtes vasvang, oopmaak en ons vrymaak om weer te lewe. Dawid het verklaar: ‘Die Here het net een woord gesê, en toe word hulle gesond. So het Hy hulle uit die dood se kloue gered. Nou prys hulle die Here vir sy liefde. Hulle sê vir Hom baie dankie vir die wonderlike dinge wat Hy doen’ (Psalm 107:20-21 DB). Let op – sy Woord het dit gedoen! Dis wat ons van ons sonde reinig, ons regverdig voor Hom maak en ons die padkaart na ons bestemming gee. As gevolg van Hom, maak jy saak. As gevolg van Hom, het jy niks om te vrees nie. As enigiemand die reg het om vandag in blydskap uit te roep – is dit jy!

Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15; Matt 17:1-8; Hand 1:9-11

Jou verantwoordelikheid eindig nie by die graf nie

2019-10-26
Spreuke 13:22 NLV

Baie mense is huiwerig om ‘n testament op te stel. Op ‘n onbewustelike vlak vrees hulle dat sodra hulle dit doen, hulle enige oomblik sal sterf. Dis egter nie ‘n Bybelse beginsel nie. In die Skrif is een van God se beloftes aan ons ‘n lang lewe: ‘Hy wat ontsag het vir die Here, maak sy lewe langer…’ (Spreuke 10:27 NLV). Met dit in gedagte, is daar ‘n belangrike vraag wat jy kort voor lank moet beantwoord. As jy môre sou doodgaan, sal jou geld, jou huis, jou meubels, jou klere en jou waardevolle items na die mense toe gaan wat jy bedoel het wat dit moet kry? Is jy seker? Die beste manier om seker daarvan te wees is om nou, terwyl jy in goeie gesondheid en by jou volle verstand is, neer te skryf wat jy aan wie wil nalaat. Dink ook aan jou likiede bates. Wil jy ‘n sekere bedrag aan jou familie, of jou kerk, of ‘n bediening of liefdadigheidsorganisasie waarin jy glo, nalaat? As jy dit wil doen, skakel ‘n prokureur en spel dit duidelik in ‘n wetlike dokument uit. Moenie ‘n gemors wat meer werk vir die howe, meer belasting vir die regering en ‘n nalatenskap van teleurstelling en verwarring vir jou geliefdes beteken, agterlaat nie. Die Bybel sê: “‘n Goeie mens laat iets na vir kleinkinders…” Jou verantwoordelikheid eindig nie by die graf nie. Inteendeel, as Jesus se vergelyking van die talente ons enigiets geleer het, is dit dat jy volgens wat jy gedoen het met dit wat in jou lewe aan jou toevertrou is, geoordeel sal word (sien Matteus 25:15). Moet dus nie uitstel nie – hanteer dit dadelik.

Sielskos: 1 John 1:1-3:10; Joh 7:14-24; Ps 104:19-26; Spr 24:28

Verstaan ons Hemelse Vader (2)

2019-10-25
Psalm 103:13 DB

As jy steeds die letsels van ‘n slegte kindertyd saam met jou dra, kan dit moeilik wees om God as jou liefdevolle Vader te sien. So baie behoeftes waaraan nie in jou kindertyd voldoen is nie – liefde, sekuriteit, vertroue, vertroosting, koestering en materiële benodighede – kan dit moeilik maak om te glo dat God nou in jou behoeftes sal voorsien. Wat staan jou dus te doen? Erken dat jou interne beeld van ‘n vader verwronge is en op geen manier van toepassing op jou hemelse Vader is nie. Selfs die beste pa is net ‘n vae afbeelding van jou hemelse Vader. God wil hê dat jy Hom as ‘n sorgsame, sensitiewe, vrygewige en standvastige Vader moet sien. Dis hoekom Jesus ons geleer het om Hom ‘Ons Vader’ in plaas van ‘Almagtige God en Here’ te noem. Dit is ook hoekom Hy God ‘jou Vader’ en nie net ‘My Vader’ genoem het nie. Soos ‘n goeie vader, het God jou elke behoefte voorsien en daaraan voldoen (sien Matteus 6:25-34). Net soos ‘n goeie ouer die individuele eienskappe van sy kinders verstaan, so ken jou hemelse Vader jou unieke behoeftes, gedagtes en gevoelens. ‘Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is’ (Psalm 103:13-14 DB). Sy versorging is nommerpas gemaak vir jou spesifieke behoeftes en beperkinge. Net soos ‘n goeie aardse vader die verantwoordelikheid aanvaar om vir sy kinders te sorg, hou jou hemelse Vader Homself verantwoordelik om aan jou behoeftes te voldoen; en Hy wil hê dat jy daarvolgens moet optree deur Hom te vertrou. Met ander woorde, jou rol is om soos die kind van ‘n betroubare, vrygewige, liefdevolle Vader op te tree.

Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:1-13; Ps 104:1-18; Spr 24:26-27

Verstaan ons Hemelse Vader (1)

2019-10-24
Johannes 8:27 NLV

Godsdienstige mense in Jesus se tyd het dit moeilik gevind om die konsep van God se vaderskap te verstaan. Here, koning en regter het hulle verstaan – maar nie Vader nie. Hulle Ou Testamentiese geskrifte het skaars ‘n halfdosyn keer van God as Vader gepraat, terwyl die Nuwe Testament dit honderde kere noem. Jesus het self gesê: ‘En niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekendmaak’ (Matteus 11:27 NLV). Die waarheid is dat God ‘n raaisel vir hulle was, totdat Jesus die Vader aan hulle bekendgemaak het. Baie van ons verstaan nog steeds nie sy Vaderskap en die ryke seën wat ons in Hom het nie. Vader, God se allesomvattende naam, inkorporeer alles wat jy ooit sal nodig hê en openbaar presies hoe Hy oor jou voel. Hy verteenwoordig elke eienskap van die beste pa wat jy jou kan indink. Wat ookal ‘n liefdevolle pa vir sy behoeftige kind sal doen, sal jou hemelse Vader vir jou doen – en nog soveel meer. Sodra ons God as ons Vader erken, verdwyn ons vrese soos ons begin besef dat Hy aan al ons behoeftes sal voldoen. Jesus het gesê: ‘…dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee’ (Lukas 12:32 NLV). Dit maak God gelukkig om jou die hulpbronne van sy koninkryk te gee. Hoekom? Omdat Hy jou net so liefhet soos wat Hy vir Jesus liefhet! In Johannes 17:23, bid Jesus met vertroue dat jou hemelse Vader jou liefhet, ‘…net soos U My liefhet’ (NLV). Sien God dus as jou Vader, begin soos sy kind optree en geniet die voordele wat lidmaatskap aan sy familie meebring (sien Efesiërs 2:19).

Sielskos: Esra 6-8; Joh 6:52-71; Ps 114; Spr 24:23-25