Wanneer jy God prys, wen jy geestelike gevegte

2019-10-23
2 Kronieke 20:21 NLV

Lofprysing is ‘n kragtige wapen, een wat die geveg in jou guns kan laat draai. Toe koning Josafat voor die gekombineerde mag van drie verskillende weermagte te staan gekom het, het hy geweet dat hy geen kans teen hulle staan nie. Dus het hy na God toe gedraai en gesê: ‘…Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp’ (vers 12 NLV). Hier is hoe God hom geantwoord het: ‘…Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n’ (vers 15 NLV). Toe het God vir hom ‘n wonderbaarlike strategie vir oorwinning gegee. Hy het vir hom gesê om ‘n koor voor sy weermag te laat staan en die geveg binne te gaan terwyl hulle God lofprys. Josafat het dit gedoen: ‘…die koning [het] sangers aangestel om voor die leër uit te stap. Hulle het tot eer van die Here gesing en Hom geprys vir sy heerlike heiligheid… Die leërs van Moab en Amnon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig’ (vers 21-23 NLV). In plaas daarvan om Juda aan te val, het drie weermagte mekaar begin aanval. Israel het nooit ‘n swaard uitgetrek, ‘n pyl afgevuur, geen lewensverlies gely nie en dit het hulle drie dae geneem om al die buit bymekaar te maak. Wanneer jy dus voor ‘n geveg te staan kom wat jy nie kan wen nie, begin om God te prys en die magte van die hemel sal jou te hulp snel.

Sielskos: Esra 3-5; Joh 6:35-51; Ps 127; Spr 24:19-22

God sal vir jou sorg

2019-10-22
Matteus 6:31-32 NLV

As God binne-in jou woon, moet dit dan nie voor die hand liggend wees nie? Hoe kan jy sê dat jy op Hom vertrou en jouself dan obsessief oor jou gesondheid, jou kinders, jou werk en jou finansies bekommer? Besorgdheid is een ding, maar bekommernis is ‘n belediging vir die God wat jou nog nooit in die steek gelaat het nie. Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef…’ (Filippense 4:6-7 NLV). Bid of bekommer – dit is jou opsies. Jesus het gesê: ‘Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie…’ (Matteus 6:34 NLV). Wanneer jy jou oor môre begin bekommer, vlieg jou vrede by die venster uit! Al wat nodig is om ‘n stilstaande trein daarvan te weerhou om vorentoe te beweeg is twee klein blokkies hout, maar sodra dit stoom opbou kan dit deur ‘n ses voet muur breek. Keer dus die bekommernistrein voor dit die stasie verlaat! God sê: ‘…My genade is genoeg vir jou…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). God sal slegs dit wat jy vandag nodig het vir jou gee; op hierdie manier hou jy aan om Hom vir môre te vertrou. Die Bybel sê vir ons dat Jesus die Goeie Herder is. ‘Hy roep sy eie skape op hulle name… Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit…’ (Johannes 10:3-4 NLV). Hoe wonderlik is dit nie. Hy het klaar vooruit geloop om alles vir jou reg te kry. Hierdie wete sal jou help om môre in die gesig te staar, vol vertroue dat God vir jou sal sorg.

Sielskos: Esra 1-2; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18

Geseën met ‘n doel!

2019-10-21
Genesis 15:14 NLV

Toe die kinders van Israel Egipte verlaat het, het God die rykdom van een nasie na die ander oorgedra. Hy het dit gedoen omdat sy mense geroepe was om sy doelwitte op die aarde te vervul. Na 400 jaar (tien generasies) wat bakstene gemaak het, brons gepoleer het en vloere gevee het, het God in wese gesê: ‘Dis betaaldag! Al die dinge wat julle geskrop en gepoleer het gaan julle s’n wees.’ Hoe groter die beproewing, hoe groter die oorvloed! Kom ons maak dit duidelik; die Bybel leer ons dat geld self nie vir God afstootlik is nie, maar die misbruik daarvan wel! ‘n Pastoor sê: “Geld praat. Dit sê vir die grond: ‘Ek kan jou besit.’ Dit sê vir die geboue: ‘Ek kan jou bou.’ Dit sê vir die visie: ‘Ek kan jou vervul.’ Dit sê vir die sendeling: ‘Ek kan jou ondersteun.’ Dit sê vir armoede: ‘Ek kan jou voed.’ En dit sê vir geleentheid: ‘Ek kan jou aanvaar.'” Hoekom het Farao die Israeliete agternagesit? Om Egipte se rykdom terug te kry. Stop en dink daaroor! Die duiwel gee nie om wie die geld kry nie, solank dit nie na God se mense gaan of gebruik word om God se doelwitte te vervul nie. Satan vrees die gedagte van ‘n generasie voorspoedige gelowiges wat toegewyd daaraan is om die wêreld met die evangelie te bereik. Hy sal ons slawe van onkunde hou as hy kan. ‘Ek is nie ‘n slaaf nie,’ sê jy egter. Wat van ‘n slaaf van skuld, of hopeloosheid, of vrees, of ou gewoontes? God wil jou vry maak van enigiets wat jou daarvan weerhou om sy wil te vervul. Sodra jy dit besef, sal jy in alle erns begin bid en glo dat God die hulpbronne het om dit te doen!

Sielskos: Sef 1-3; Joh 6:1-24; Ps 85; Spr 24:11-14

Bou gesonde, vervullende verhoudings

2019-10-20
Spreuke 18:24 NLV

Om God se plan vir jou lewe te vervul, moet jy verhoudings met die regte mense hê, mense wat jou deur dik en dun sal bystaan. Onthou jy vir Jonatan, wat Dawid selfs ten koste van sy eie lewe liefgehad het? En Rut, wat vir haar skoonma Naomi lief was en haar ‘n rede gegee het om te lewe? God kan jou aan sulke mense voorstel en jou help om ‘n verhouding met hulle te bou. Dink daaroor: Hy sal nie sê: ‘Dis nie goed dat die mens alleen is nie…’ (Genesis 2:18 NLV), en dan van jou verwag om in isolasie te lewe nie. Soms is jy in die slegste geselskap moontlik wanneer jy alleen is! Jy sal dalk egter eers innerlik genees moet word voordat jy gesonde verhoudings kan bou en gesonde besluite kan maak. Laat God toe om aan jou te werk en wanneer jy gereed is, sal Hy die nodige mense aan jou voorstel. Tot dan, moet jy Hom beter leer ken omdat Hy die bron van ware selfvertroue is. As jou laaste verhouding jou van jou selfwaarde gestroop het en jou geestelik gedreineer het, gebruik hierdie tyd om weer op jou voete te kom. Jy mag dalk nooit weer hierdie geleentheid kry nie! Begin om lief te hê soos God liefhet. Hy sien ons imperfeksies, hanteer ons verwerping en het ons nietemin steeds lief. Wanneer jy dit weet, sal dit jou help om nie ‘n goeie persoon af te skryf omdat hy of sy ‘n slegte ding gedoen het nie. Sal jy jou kar weggooi omdat hy ‘n foutiewe part het? Vra Hom vandag om jou te wys hoe om gesonde, vervullende verhoudings te bou. Hy sal dit doen!

Sielskos: Eks 20:1-17; Matt 5:1-12

‘Stresfrakture’

2019-10-19
Jesaja 40:29 NLV

Die tydskrif Sports Illustrated sê: ‘Stresfrakture ontstaan wanneer die skokke en spanning van wedstryd na wedstryd klein krake in die buitenste lae van been veroorsaak. Wanneer hierdie krake groot genoeg word om erge pyn te veroorsaak, word dit ‘stresfrakture’ genoem.’ As jy al ooit stresfrakture in jou gedagtes gehad het, sal jy verstaan. Dit vreet in die dag aan jou en hou jou in die nag wakker. Wanneer jy dit met alkohol, of dwelms, of ‘n buite-egtelike verhouding, of te veel kos, of ‘n hiperaktiewe lewenstyl probeer verdoof, raak dit net erger. Wat moet jy dus doen? 1) Verander jou fokus. ‘Kom na My toe… en Ek sal julle lewens verkwik… Kom leer van My… en julle sal nuwe krag kry’ (Matteus 11:28-29 NLV). ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die magteloses sterk… dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry…’ (Jesaja 40:29-31 NLV). In plaas van om alleen onder die las voort te sukkel, deel dit met die Here en laat Hom toe om jou te versterk. 2) Wees minder ernstig! “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne…” (Spreuke 17:22 NLV). Moenie so ‘n groot kwessie van alles maak nie! Lag meer, veral vir jouself! Onthou jy die laaste keer wat jy lekker gelag het? Aanvaar jou imperfeksies. Laat sommige dinge gaan. Hou op om Wonder Woman of Superman te probeer wees. Jy het pret ook nodig! Kanselleer onbelangrike vergaderings. As jy wil hê dinge moet verander, moet jy hulle verander. Praat vandag met God; Hy weet hoe om stresfrakture te genees.

Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 5:31-47; Ps 126; Spr 24:10

Probeer om elke dag iets te leer

2019-10-18
Spreuke 2:10 ABA

Een Vrydagoggend het ‘n ywerige Stanford Universiteit student voor Louis Janin, ‘n bekende myningenieur, gestaan. Hy het werk gesoek. Janin het hom ingelig: ‘Al wat ek op die oomblik nodig het is ‘n stenograaf. Die jongman het gretig gesê: ‘Doodreg, ek sal die werk neem.’ Toe het hy bygevoeg: ‘Maar ek kan eers Dinsdag terugkom.’ Janin het ingestem en die volgende Dinsdag het die jongman soos afgespreek, by die werk gerapporteer, Janin het hom gevra: ‘Hoekom kon jy eers vandag terugkom?’ Die jongman het geantwoord: ‘Omdat ek eers ‘n tikmasjien moes gaan huur en leer om dit te gebruik.’ Hierdie jongman was Herbert Hoover, wie se houding hom uiteindelik deur die deure van die Withuis gelei het om een van Amerika se presidente te word. Deur kortpaaie te neem, loop jy die risiko om jou toekoms in te kort. Jou onwilligheid om vandag te leer sal jou onvoorbereid vir môre se geleenthede laat. Geen vaardigheid wat jy aanleer sal ooit verlore gaan nie. Om nuwe kennis in te neem en nuwe vaardighede aan te leer, bou selfvertroue en verskerp jou gedagtes. Suksevolle mense het een ding in gemeen: Hulle hou nooit op leer nie! God roep voorbereide mense, dus moet jy jouself voorberei. Die Bybel sê: ‘as jy goed luister na wysheid en regtig probeer verstaan… as jy dit so graag wil hê soos jy geld wil hê, en daarna soek soos jy na kosbare dinge sal soek… dan sal jy verstaan wat dit is om reg te lewe en reg te doen en regverdig te wees, jy sal altyd op die regte pad loop en die regte dinge doen. Die wysheid sal in jou kom woon en dit sal vir jou lekker wees om dinge te weet’ (Spreuke 2:2-10 ABA).

Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 5:16-30; Ps 5; Spr 24:8-9