Wanneer jy lofprys, neem jy God se Woord in

2019-10-17
Efesiërs 5:19 NLV

Die waarhede van God se Woord is van generasie tot generasie deur preke, onderwys en boeke oorgedra. Hulle is egter ook deur die lofgesange wat ons in die kerk sing, oorgedra. Wanneer jy hulle sing, verkondig jy die waarheid van God se Woord terwyl jy dit dieselfde tyd ook inneem. Jy groei geestelik deur die Woord wat jy hoor, die Woord wat jy bestudeer, die Woord wat jy spreek en ja, die Woord wat jy sing. Paulus skryf: ‘…laat die Heilige Gees julle lewe vol maak terwyl julle saam psalms en lofgesange en geestelike liedere sing. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here’ (verse 18-19 NLV). Jesus het nie net die Woord gepreek nie, Hy het dit ook gesing: ‘Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe’ (Matteus 26:30 NLV). Hoekom plaas die Bybel soveel klem daarop om God se Woord te spreek? Omdat wanneer jy God se Woord hardop lees, jy dit op twee maniere inneem – deur jou oë en deur jou ore. Dieselfde gebeur wanneer jy God se Woord sing. Die lesers van God se Woord moenie op die sangers van God se Woord neerkyk nie en die sangers moenie geestelik minderwaardig teenoor die lesers voel nie. Die belangrikste is om God se Woord in te neem. Sommige van ons doen dit die beste deur ‘n preek, ander deur persoonlike Bybelstudie en ander deur lofgesange wat die lewensveranderende waarhede van sy Woord verkondig. Wanneer jy lofprys, neem jy dus God se Woord in.

Sielskos: Hab 1-3; Joh 5:1-15; Ps 15; Spr 24:7

Dank God vir jou werk

2019-10-16
Spreuke 13:4 NLV

Charlie ‘Tremendous’ Jones vertel die verhaal van ‘n man wat gedroom het dat hy ‘n miljoen dollar geërf het. In die droom het hy probeer stort, maar die stort wou nie werk nie. Hy het probeer skeer, maar sy elektriese skeermes wou nie skeer nie. Hy het probeer ontbyt maak, maar die ketel wou nie kook nie en die broodrooster wou nie rooster nie. Hy het uitgegaan om die koerant te kry, maar die koerant was nie daar nie. Hy het na die bushalte gegaan om ‘n bus werk toe te haal, maar die bus het nie opgedaag nie. Uiteindelik het hy vir iemand gevra: ‘Wat gaan hier aan?’ Die persoon het geantwoord: ‘O, het jy nie gehoor nie? Almal het ‘n miljoen dollar geërf en niemand werk meer nie.’ Skielik het die man wakker geskrik, besef dat dit net ‘n droom was en gesê: ‘Dank God!’ Toe het hy heerlik gestort en geskeer, ‘n wonderlike koppie koffie gedrink en ‘n smaaklike stukkie roosterbrood geëet, terwyl hy die interessante koerant gelees het. Uiteindelik het hy ‘n gerieflike bus na sy wonderlike werk gehaal! Dank God vandag vir die werk wat Hy vir jou gegee het en doen jou bes daarin. Jou posisie en salaristjek sou heel moontlik ‘n droom wat waar geword het vir sommige van jou voorsate gewees het. Jy mag dalk nie vir ‘die bediening’ geroepe wees nie, maar as jou werk jou van die voorreg voorsien om ‘n oplossing vir iemand se probleem te wees en aan jou die waardigheid bied om ‘n verskil in die lewe te maak, wees dankbaar. Dink hoe jou lewe daarsonder sou wees. ‘Luiaards begeer baie dinge, maar hulle kry dit nie. Mense wat hard werk, het meer as wat hulle kan begeer.’

Sielskos: Nahum 1-3; Joh 4:39-54; Ps 41; Spr 24:5-6

Maak dit ‘n persoonlike groei ervaring

2019-10-15
Efesiërs 4:15 NLV

Voor jy iemand oor ‘n kwessie konfronteer, stop eers en ondersoek jou beweegredes. Is jou doel om hulle te help, of te verneder? Jesus het mense opgehef en herstel en jy moet dieselfde doen. Vra jouself af, sou jy dinge anders benader het as jy nie so persoonlik betrokke was nie? Konfronteer jy hierdie persoon om jouself beter te laat lyk? Om iemand anders te verneder om jouself op te hef, is die laagste vorm van ego-bevrediging. Die digter Kahlil Gibran het gesê: ‘Om te verkleineer, moet jy klein wees.’ Moenie dit doen nie! Dis ‘n teken van onsekerheid. Onthou jy Nehemia se reaksie op diegene wat hom wou ontmoedig om Jerusalem se mure te herbou? ‘…Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie’ (Nehemia 6:3 NLV). Moenie toelaat dat jou kritici jou spoed breek nie. Moenie meer klem op die opinies van ‘n kritikus as op die aanmoedigings van ‘n vriend plaas nie. Voor jy iemand anders se lewe onder die mikroskoop plaas, moet jy eers stop en jou eie lewe ondersoek. Stoei jy met dieselfde kwessie, of een wat net so erg is? Het jy sukses behaal in dieselfde area waar jy iemand anders van mislukking beskuldig? Met ander woorde, het jy die reg om aangehoor te word, verdien? Paulus skryf: ‘Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees…’ Kan dit wees dat die situasie waarin jy jou tans bevind, ‘n geleentheid is om jou eie volwassenheid aan te meet en om dit ‘n geestelike groei ervaring te maak?

Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4

Jou vreugde sal weer terugkeer

2019-10-14
Psalm 30:6 NLV

Dis moelik wanneer jy die hele dag hard werk en dan na ‘n leë huis moet terugkeer. Dis ‘n vreeslike tipe eensaamheid. Dis die pyn van soveel hê om te deel, maar daar is niemand om dit mee te deel nie. God ken egter jou behoefte en Hy gee om. Dis hoekom Hy Eva vir Adam gemaak het, Boas vir Rut en Rebekka vir Isak gevind het. Dis hoekom sy Woord kwessies soos seksuele frustrasie, eensaamheid, mislukking en ‘n gebrek aan selfwaarde aanspreek. Daar bestaan natuurlike leemtes en begeertes in elkeen van ons en hoe ons hulle vul, bepaal ons vermoë om te oorleef en geluk te vind. As jy sukkel om op jou eie die uitdagings van die lewe te oorkom, moet jy weet dat jy nie alleen is nie! ‘…die Vader van meelewing en die God wat in elke opsig bemoedig’ (2 Korintiërs 1:3 NLV), is by jou. Niemand verstaan soos Jesus nie. Sy familie het Hom verwerp, sy dissipels het Hom verlaat en die wêreld het Hom gekruisig. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer…’ (Hebreërs 4:15 NLV). Hy weet wanneer jy voel dat niks wat jy doen ooit goed genoeg is nie. Hy weet dat jy nie net ‘n ouer is nie, maar ook ‘n mens in eie reg. Hy weet, Hy verstaan en Hy nooi jou uit om na Hom toe te kom. Die seisoen waarin jy jou tans bevind gaan nie vir ewig aanhou nie. ‘n Nuwe een is op pad, met nuwe energie, nuwe verhoudings, nuwe ervarings en nuwe vreugde. Onthou dus: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.’ Jou vreugde sal weer terugkeer!

Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21; Heb 11:8-16

Die krag van getuienis

2019-10-13
Markus 5:19 NLV

Die kragtigste getuienis is ‘n lewe wat sonder God, nie verduidelik kan word nie! Ses keer het Paulus voor vyandige gehore gestaan en elke keer het hy sy persoonlike getuienis gegee. Hy het nie gestry of gedebatteer nie – hy het net sy verhaal vertel. Dr David Yonggi Cho het die wêreld se grootste kerk in Suid-Korea gestig (een miljoen lede). Hy is deur ‘n dame wat hy net een keer ontmoet het, vir Christus gewen. Sy het haar getuienis gedeel, aanbeweeg en Cho, ‘n voormalige Boeddhis, het haar nooit weer opgespoor nie. Jou getuienis is ‘n wonderlike instrument, veral as dit deur ‘n beginselvaste lewe gerugsteun word. Mense wat nie na ander mense wil luister nie, sal na jou luister en reageer wanneer jy jou verhaal deel. Wanneer jy dit doen, moet jy hierdie vier beginsels in gedagte hou: 1) Wees interessant. Gee hulle die kort weergawe en vermy clichés. Jesus is opwindend; Hy het gekom om vir ons oorvloedige lewe te gee (sien Johannes 10:10). 2) Wees spesifiek. Praat oor: a) hoe dinge was; b) hoe jy Jesus ontmoet het; c) hoe die lewe nou is. 3) Wees eerlik. Moenie sê: ‘Al jou probleme sal verdwyn wanneer jy ‘n Christen word nie.’ Die Christelike lewe is ‘n oorlogsveld, nie ‘n speelveld nie. Laat mense weet dat jy steeds probleme het, maar dat iets belangriks verander het – jy is nie meer alleen nie: ‘…omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). 4) Wees innemend. Moenie hulle in die koninkryk probeer inforseer nie. Wees genadig, saai die saad en gee die oes aan God oor. Gaan dus en ‘Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het.’

Sielskos: Eks 34:29-35; Mark 9:2-27; 2 Kor 3:7-18

Neem die mense wat kan oorlog maak saam met jou

2019-10-12
Josua 8:1 ABA

Wanneer jy geestelik aangeval word, moet jy jou met mense omring ‘wat kan oorlog maak.’ Hulle is ervare in geestelike oorlogvoering en weet hoe om korte mette met die Vyand te maak. Hulle het strategieë vir oorwinning en ‘n hardnekkige geloof wat opstaan en sê: ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). Die waarheid is dat die mense wat oorlog kan maak, mense van die Woord is. Hulle weet hoe om die swaard van die gees, wat die Woord van God is, te neem en dit te gebruik om die Vyand te verslaan (sien Efesiërs 6:17). Hulle huiwer nie om na die Vyand se kamp op te mars en alles terug te neem wat hy van hulle gesteel het nie (sien 1 Samuel 30:8). Enigiemand kan jou in die goeie tye ondersteun, maar wanneer jy iemand kry wat jou in die slegte tye kan bystaan, moet jy hulle waardeer en ‘n verhouding met hulle bou. Die Bybel sê: ‘…Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV). Let op – hulle is vir oorlog gebore! Hulle is nie net sterk in geloof nie, hulle is sterk in oorlogvoering. Hulle weet hoe om die troon van genade te benader en die beloftes van God op te eis (sien Hebreërs 4:16). Nadat Josua Jerigo ingeneem het, het God vir hom gesê: ‘Jy moenie bang en bekommerd wees nie, jy moet al die manne neem wat kan oorlog maak en jy moet dadelik na die stad Ai gaan. Ek sal jou laat wen teen die koning van Ai en sy manne, en teen sy stad en sy land.’ As jy dus vandag in ‘n stryd betrokke is, neem die mense wat kan oorlog maak, saam met jou.

Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 4:13-26; Ps 32; Spr 23:29-35