2019-10-11
Filippense 4:6-7 NLV
God se vrede is wonderlik. Sommige mense rondom jou het dit vandag nodig. Jy ontvang dit wanneer jy jou lewe aan God toevertrou en volgens die beginsels wat in die Skrif weergegee word, lewe. Wanneer jy iets aan God ‘toevertrou,’ gee jy elke deel daarvan aan Hom (sien Psalm 37:5). Petrus skryf: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Wat ‘n voorreg. Het jy onlangs daarvan gebruik gemaak? ‘Hoe gee ek al my bekommernisse aan Hom oor?’ vra jy. Deur gebed! Sodra jy bewus word dat jy jouself begin bekommer en jou sin vir vrede begin verloor, neem dit onmiddellik na God toe en los dit daar by Hom. Moenie die Duiwel kans gee om aan jou te begin werk nie. Hoe langer jy wag, hoe groter word sy houvas op jou. ‘Maar ek kan nie help om daaraan te dink nie,’ sê jy. ‘Wat kan ek doen?’ Hierdie twee dinge: 1) Gee dit oor aan God en begin op ander dinge fokus. Dis ‘n reaksie wat jy moet aanleer en een wat jy daagliks moet oefen. Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV). Met ander woorde, herlei jou gedagtes! 2) Vind uit wat God in sy Woord oor jou situasie sê. Bring dan jou gedagtes, woorde en aksies in lyn daarmee. As jy dit doen, sal jy God se vrede beleef.
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28
2019-10-10
Filippense 3:14 NLV
Die tydskrif Life het in 1972 ‘n storie oor die wonderbaarlike avonture van John Goddard gepubliseer. Toe hy vyftien jaar oud was, het Goddard se ouma gesê: ‘As ek dit maar net gedoen het toe ek jonk was.’ John was vasbeslote om nie dieselfde stelling aan die einde van sy lewe te maak nie en het toe 127 doelwitte vir sy lewe neergeskryf. Hy het tien riviere genoem wat hy wou verken en sewentien berge wat hy wou uitklim. Hy wou ‘n wêreldreisiger en ‘n vlieënier word. Ook op sy lys was om ‘n perd in die Rose Bowl parade te ry, in ‘n duikboot te duik, Marco Polo se spoor na te loop, die Bybel van voor tot agter deur te lees en die hele Encyclopedia Britannica te lees. Hy het ook beplan om die werke van Shakespeare, Plato, Dickens, Socrates, Aristotel en verskeie ander klassieke skrywers te lees. Hy wou graag die fluit en viool leer speel, trou, kinders kry (hy het vyf kinders gehad), ‘n dokter word en as sendeling vir sy kerk dien. Klink dit onmoontlik? Op die ouderdom van sewe-en-veertig het hy 103 van sy 127 doelwitte bereik! Jou lys van doelwitte mag dalk nie so uitgebrei soos syne wees nie, maar as jy nie ten minste ‘n paar doelwitte vir jou lewe het nie, sal jy min motivering hê om in die oggend op te staan en min bevrediging hê wanneer jy in die aand jou kop op jou kussing neerlê. Tensy jy iets probeer wat jy nog nie voorheen bemeester het nie, sal jy nie groei nie. Stel dus jou doelwitte in gebed saam en werk elke dag, met God se hulp, daarnatoe.
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 3:22-36; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21
2019-10-09
Spreuke 24:16 NLV
In die nag van 9 Desember, 1914, is Edison Industries deur ‘n brand vernietig. Dit het skade van twee miljoen dollars aangerig en die meeste van Thomas Edison se werk is in die brand vernietig. Hy was net vir 238 dollars verseker, omdat die gebou van beton gebou was en Edison gedink het dat dit vuurbestand was. Op die ouderdom van sewe-en-sestig, het die groot uitvinder sy lewenswerk in vlamme sien opgaan. Die volgende oggend het die brandbestryders uiteindelik die vuur onder beheer gebring. Soos hy die toneel voor hom bekyk het, het Edison gesê: ‘Daar is groot waarde in rampspoed. Al ons foute het in vlamme opgegaan. Dank Vader ons kan weer opnuut begin.’ Drie weke na die brand, het Edison een van sy grootste uitvindings geproduseer: die eerste fonograaf. Dink net hoe sou die wêreld van musiek en vermaak sonder die fonograaf gelyk het! Die Bybel sê: ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan. Die goddelose mens sal bly lê na net een ramp.’ Met God aan jou kant kan jy weer begin, omdat die krag om dit te doen binne-in jou lê. Dis dieselfde krag wat Christus uit die dood opgewek het (sien Romeine 8:11). Paulus het vir die gelowiges in Efese gebid: ‘Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word’ (Efesiërs 3:16 NLV). Waar is jou krag geleë? In jou binneste wese. Paulus gaan voort: ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – jy kan weer begin.
Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16
2019-10-08
Psalm 134:1 NLV
Die laaste vers van die laaste Psalm in die Bybel sê: ‘Laat alles wat lewe, die Here loof! Loof die Here!’ (Psalm 150:6 NLV). Dit beteken dat jy, so lank as wat jy lewe, geroep is om God te aanbid. Sommige van ons is geroepe om lofprysers in die kerk te wees, terwyl ander van ons geroepe is om werkers te wees. Terwyl almal van ons geroepe is om God te aanbid, is sommige van ons meer geneig om dit deur lofprysing te doen, terwyl ander meer geneig is om dit deur dade te doen. God tel albei as dade van diens. Die Psalmdigter het gesê: ‘Prys die Here, alle dienaars van die Here. Julle wat snags diens doen in die huis van die Here, verhef julle hande in die heiligdom en prys die Here’ (Psalm 134:1-2 NLV). Let die woorde ‘dienaars van die Here’ op. Hoe was hulle besig om Hom te dien? Deur Hom te aanbid. Die Westminster Geloofsbelydenis sê: ‘The chief end of man is that he might glorify God.’ Daar is baie maniere om dit te doen: ‘Hy wat ‘n dankoffer bring, eer My…’ (Psalm 50:23 NLV). Aanbidding is soos ‘n termostaat; dit skep ‘n klimaat waarin God se teenwoordigheid ervaar en geniet kan word. Dawid het gesê: ‘Ek wil die lof van die Here verkondig. Met alles wat binne-in my is, wil ek sy heilige Naam verheerlik. Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie’ (Psalm 103:1-2 NLV). Wat ‘n voordelige pakket! Vergifnis, genesing, redding en beskerming. Hoe ontvang ons hierdie voordele? Deur aanbidding. Wanneer ons die Here seën, seën Hy ons. Wanneer jy Hom dus aanbid, dien jy God.
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 3:1-21; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18
2019-10-07
Nehemia 4:9 DB
God se soewereiniteit onthef ons nie van enige verantwoordelikheid nie. Die teenoorgestelde is waar. Dit bekragtig dit. Wanneer ons God vertrou, dink ons helder en reageer ons meer beslissend, soos Nehemia wat gesê het: ‘Maar ons het aanhoudend tot ons God gebid en dag en nag soldate op die mure laat wag staan.’ Nehemia het twee dinge gedoen. Hy het God vir sukses vertrou en op dit wat God vir hom gesê het om te doen, gereageer. Gebed nooi God uit om dinge te doen wat jy nie kan doen nie. Paulus het geskryf: ‘Moenie ophou bid nie’ (1 Tessalonisense 5:17 NLV). God kom die situasie deur uitnodiging binne. Totdat jy God se leiding soek, is jy aan die genade van jou eie en almal anders se gedagtes, uitgelewer. Hoekom sal jy met menslike kennis tevrede wees wanneer jy bonatuurlike insae kan hê? God het gesê: ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie’ (Jeremia 33:3 NLV). Wanneer God dan sy wil aan jou openbaar, moenie talm nie en moenie debatteer nie – doen dit! Voor God vir jou sy volgende stel instruksies gee, wil Hy weet dat jy sy vorige instruksies gehoorsaam het. Hoekom? Omdat Hy jou nie verder as jou laaste daad van ongehoorsaamheid kan seën nie. Stop dus en dink daaroor. As jy die verkeerde ding gedoen het, bely dit, verander jou koers en kom weer so gou as moontlik op die regte pad. “Wat Ek beveel het, was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan'” (Jeremia 7:23 NLV).
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 2:12-25; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14
2019-10-06
Filippense 2:3 NLV
As jy ‘n ‘ek eerste’ persoon is, kan hierdie Skrifgedeelte jou help om jou op jou tone – en op jou knieë – te hou. ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:3-5 NLV). Dis hoe Jesus mense behandel het en jy is geroep om dieselfde te doen. Is dit maklik of gerieflik? Nee, dit druis teen alles in ons selfgesentreerde natuur in. Net omdat jy gister genadig was, beteken ook nie dat jy vandag mense dieselfde sal behandel nie. Genade is soos ‘n kleed; jy moet dit elke oggend aantrek en dit heeldag dra. ‘Hoe kan ek so lewe?’ vra jy. Deur daagliks krag uit God se genade te put en te besluit om ander mense eerste te stel. Deur op die uitkyk te wees vir geleenthede om hulle te ondersteun en te bemoedig. Almal wat jy ontmoet is besig om ‘n stryd te voer en jy mag dalk die een persoon wees wat oor hulle pad kom wat ‘n woord van bemoediging vir hulle kan gee (sien Spreuke 16:24). Moet hulle nie in die steek laat nie. Nederigheid is ‘n houding wat voor die tyd bepaal word: ‘Ek gee vir die mense rondom my om. Ek hoef nie altyd eerste te wees nie. Ek gaan vir ‘n verandering iemand anders help wen.’ Nederigheid bid: ‘Here, bekamp my mededingende natuur en verander daardie energie om ander mense op te lig en lief te hê. Wys my hoe U dit gedoen het en help my om dit ook te doen.’
Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16