Vriende in moeilike tye

2019-10-05
1 Samuel 23:16 NLV

Die eerste swart man wat in die Amerikaanse bofbal liga gespeel het, se naam was Jackie Robinson. Hy het in elke stadion voor beledigings en mishandeling te staan gekom terwyl hy probeer het om deur bofbal se kleurgrens te breek. Een dag in sy tuisstadion in Brooklyn, het hy ‘n fout begaan. Terwyl die skare hom uitgejou het, het Robinson vernederd by die tweede bof gestaan. Sy spanmaat, Pee Wee Reese, het na hom gehardloop, sy arm om hom gesit en saam het hulle die skare aangekyk. Binne sekondes het die toeskouers stil geword. Jare later, toe Robinson vir sy loopbaan vereer is, het hy gesê: ‘Reese se arm om my skouer daardie dag, het my loopbaan gered.’ Jesus het geweet dat Petrus Hom sou verloën, daarom het Hy genade aan Petrus bewys nog voordat dit gebeur het. Hy het vir hom gesê: ‘…As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:32 NLV). Wanneer God jou herstel, sal jy na ander met sy liefde wil uitreik. Jy sal volgens die Skrif lewe: ‘Versterk die moeë hande van dié wat moeg geword het. Bemoedig dié wie se knieë swak word en knik. Sê vir dié wat bang is: ‘Wees sterk en moenie bang wees nie. Want julle God kom… om julle te red!’ (Jesaja 35:3-4 NLV). Dawid se goeie vriend, Jonatan, ‘…het na hom toe gekom en hom bemoedig om op God te vertrou.’ Wanneer jy verlore voel, het jy ‘n Jonatan nodig. Dis wanneer die ou spreekwoord: ‘In voorspoed ken ons vriende ons, in teenspoed ken ons ons vriende,’ waar word. Hulle is die mense na wie ons in moeilike tye draai. As jy dus dink dat jy ooit so ‘n vriend nodig sal hê, wees een!

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 2:1-11; Ps 110; Spr 23:6-9

Hoe om op skinderstories te reageer (2)

2019-10-04
Jakobus 1:26 NLV

Wanneer iemand oor jou skinder, hou die volgende in gedagte: Mense is geneig om ander mense van dinge te beskuldig wat hulle in hulself verskoon. Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat vermoed het dat sy vrou besig was om doof te word. Een aand het hy homself aan die ander kant van die kamer geposisioneer van waar sy met haar rug na hom toe gesit het. Saggies het hy gesê: ‘Kan jy my hoor?’ Toe sy nie antwoord nie, het hy ‘n bietjie nader gegaan en weer saggies gevra: ‘Kan jy my hoor?’ Steeds het hy geen antwoord gekry nie. Hy het nog nader beweeg. ‘Kan jy my hoor?’ Geen antwoord. Uiteindelik het hy tot agter haar stoel gestap en reg in haar oor gesê: ‘Kan jy my hoor?’ Sy het omgedraai en gesê: ‘Vir die vierde keer, ja!’ Sielkundiges noem hierdie verskynsel ‘projeksie.’ Ons is geneig om ons vrese, gevoelens en probleme op ander mense te projekteer. Jy moet egter nie toelaat dat ander mense dit aan jou doen nie. Dame Astor, ‘n lid van die Britse parlement, het Winston Churchill aanhoudend gekritiseer. Een dag het die twee aan die stry gegaan en sy het gesê: ‘Winston, ek hou nie van jou politiek nie en ek hou nie van jou snor nie.’ Hy het haar aangekyk en geantwoord: ‘Mevrou, ek sien geen rede op aarde hoekom jy ooit in kontak met een van die twee sal kom nie.’ Jesus se kritici het Hom daarvan beskuldig dat Hy deur demone besete was. Paulus se kritici het hom ‘n dwaas, ‘n mal man en ‘n praatjiesmaker genoem. Jy moet dus nie ander behandeling van dieselfde skare verwag nie. Die woord vir jou vandag is dus: Bly gefokus en moenie toelaat dat jou aandag afgetrek word nie.

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Joh 1:43-51; Ps 23; Spr 23:4-5

Hoe om op skinderstories te reageer (1)

2019-10-03
Nehemia 6:6 NLV

Die enigste manier om kritiek te vermy is om niks te sê, niks te doen en niks te wees nie. Wanneer jy enigiets van belang of waarde aanpak, gaan mense oor jou praat. Nehemia se vyande het probeer om hom te weerhou om die mure van Jerusalem te herbou, deur skinderstories en skimpe te gebruik: ‘…Gesem het my vertel dat die mense onder mekaar praat en sê dat jy en die Jode ‘n opstand beplan… Volgens die gerugte het jy planne om koning te word. Hy vertel ook dat jy profete aangestel het om in Jerusalem oor jou te profeteer. Hulle sê glo: ‘Daar is nou ‘n koning in Juda!’…’ (verse 6-7 NLV). Let op dat die bron van hierdie gerugte nie bekend gemaak is nie. Wees altyd voorbereid wanneer iemand na jou toe kom en iets soos: ‘Ek het gehoor…’ of ‘Iemand het my vertel…’ of ‘Die woord op straat is…’ sê. Moet nooit kritiek wat iemand namens iemand anders bring, iemand wie se naam hulle nie wil noem of wie dit nie self vir jou sal sê, aanvaar nie. Let op hoe Nehemia gereageer het: “Ek het toe die volgende antwoord vir hom gestuur: ‘Jy weet jy praat nie die waarheid nie. Daar is nie ‘n greintjie waarheid in jou storie nie. Dit is goed wat jy self uitgedink het'” (vers 8 NLV). Met ander woorde: ‘Ek gee nie om wat jy dink, of sê, of waarvan jy hou nie. Ek gaan aanhou om hierdie muur te bou totdat die werk klaar is.’ Dit moet ook jou houding wees. Die meeste van die tyd het jou vriende nie ‘n verduideliking nodig nie en jou vyande sal jou in elk geval nie glo nie. Bly dus gefokus en maak die werk klaar.

Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 1:29-42; Ps 131; Spr 23:1-3

Hartsgebede

2019-10-02
Matteus 6:7 NLV

Hier is wat Jesus ons oor gebed geleer het: ‘Wanneer julle dan bid, moenie met woorde mors soos die heidene nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word.’ Dan gee Hy vir ons twee spesifieke instruksies. Eerstens: ‘…maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid…’ (vers 6 NLV). Tweedens: ‘…julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (vers 8 NLV). Hartsgebede is nie vir menslike ore bedoel nie. Die Heilige Gees bring met hartsgebede die dinge wat jy versigtig vir ander mense en selfs vir jouself wegsteek, na die oppervlak. Soos ‘n spieël, konfronteer Hy jou met die waarheid en eis dat jy ‘die geheime dinge wat ‘n mens skaam maak’ (2 Korintiërs 4:2 NLV), bely. Wanneer jy dit gedoen het, kan jy God se teenwoordigheid gereinig, gekorrigeer, vol selfvertroue en met duidelikheid oor sy wil, verlaat. Niks vuur hartsgebede so goed soos ware behoefte aan nie. Dit laat beide die prominente en obskure erken: ‘Here, sonder U kan ek niks doen nie. Niks wat ek sonder U bereik, sal enigiets beteken nie!’ Dit is die plek van naakte gebed. Hanna was daar toe sy by God vir ‘n kind van haar eie gepleit het. Sy was so passievol dat die priester Eli gedink het dat sy dronk was (sien 1 Samuel 1:13). God het egter haar geroep gehoor. Daardie dag is Samuel in haar hart verwek en kort daarna is hy in haar moederskoot verwek. Moet dus nie die plek van gebed verlaat totdat die embrio van God se doel vir jou lewe in jou verwek word, in jou begin vorm aanneem en jou visie gebore word nie.

Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 1:14-28; Ps 29; Spr 22:26-29

God wil iets vir jou sê

2019-10-01
Eksodus 3:4 NLV

Moet nooit ‘n persoon se potensiaal op grond van hoe hulle tans voorkom, beoordeel nie. Moses, een van die grootste leiers in die geskiedenis, was besig om skape op te pas toe God hom geroep het. Geen korporatiewe maatskappy sou hom in diens geneem het nie. Moet hom egter nie beoordeel nie – hy was net tussen werke. God was op die punt om met hom te praat en sy lewe te verander. As jy moeg daarvoor is om na almal se opinies te luister, spandeer alleen tyd saam met God. Hy sal vir jou dinge wys wat jou toekoms kan verander (sien Jeremia 33:3). Op die ouderdom van vyf-en-sestig, nadat hy vir baie jare ‘n restaurant bestuur het, was kolonel Saunders bankrot. Al wat hy gehad het was ‘n maandelikse maatskaplike toelaag van 105 dollars, ‘n resep vir gebraaide hoender en ‘n visie wat hy geweier het om te laat vaar. Gevolglik het hy die Kentucky Fried Chicken kettingwinkelgroep gestig, ‘n multimiljoenêr en ‘n toegewyde Christelike filantroop geword. Die punt is: dis nie verby totdat God sê dis verby nie! Moses het amper uitgebrand toe hy dinge op sy manier probeer doen het. God het egter in ‘n vuur verskyn en inderwaarheid gesê: ‘Kyk na hierdie brandende bos; dit gaan jy wees. In my krag sal jy voor Farao staan. Die Rooi See sal voor die krag wat in jou aan die werk is, padgee. Ek sal vir jou manna in die woestyn gee. Ek sal jou krag gee en jou op jou pad na jou lotsbestemming onderhou.’ Wat jy ook al vandag doen, stop! Neem tyd om alleen by God te gaan sit en sê: ‘Ek sal nou eenkant toe kom en na U luister.’ Sodra jy gehoor het wat Hy vir jou wil sê, sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie.

Sielskos: Ef 1:1-4:16; Joh 1:1-13; Ps 92; Spr 22:24-25

Dien soos Jesus

2019-09-30
2 Korintiërs 6:8 DB

Kelli B. Trujillo skryf: “‘Ek is nie jou dienskneg nie!’ het ek my kind toegesnou toe ek op my hande en knieë gaan om die pasta wat hy op die vloer gegooi het, op te tel. Toe het ‘n gedagte my binnegeskiet: Ek hoop nie Jesus het my dit hoor sê nie! Ongelukkig strek hierdie houding teenoor diensbaarheid dikwels verder as die vloer se skoonmaak. Gewoonlik vryf dit my verkeerd op wanneer ek ander moet bedien. Wanneer dit ‘n betekenisvolle projek is waar jy omtrent die klankbaan van inspirerende musiek kan hoor, is dit nie so moeilik nie. Wat egter van die soort diens waarvan Jesus gepraat het – waar jy geen krediet kry nie en jy teen jou selfsugtige impulse moet baklei?” Om soos Jesus te dien, beteken dat jy sê: ‘Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my…’ (Galasiërs 2:20 NLV). Paulus was in die tronk gegooi, gestenig, die boot waarop hy was het gesink en hy is beroof en tog het hy gesê: ‘Ons weet hoe dit voel om deur ander geëer én beledig te word. Ons naam is al dikwels deur die modder gesleep. Ander kere weer is ons geprys en oorlaai met eer… Ons ken hartseer, maar ons is altyd vol vreugde. En armoede – ja, natuurlik weet ons ook wat dit is. Maar ons het al baie mense se lewe skatryk gemaak met die goeie nuus… Ons werk immers vir God aan wie alles behoort en wat ons oorlaai met sy goedheid’ (2 Korintiërs 6:8-10 DB). Die Bybel sê Jesus ‘…het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur… En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!’ (Hebreërs 12:2 NLV). Dieselfde Gees stel jou in staat om ander te dien deur krag uit Hom te put.

Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58