Beskerm die ‘nuwe lote’

2019-09-29
Job 14:7 DB

Dit verg God se wysheid om ‘n maat te vind wat inpas by waar jy is en waarheen jy op pad is. As jy beskadigde materiaal kies, sal jy teleurstellende resultate kry. Wanneer ‘n familie uitmekaar breek, kan die wonde ‘n leeftyd hou, selfs al is die oorlog verby. Luister asseblief mooi: Moet nooit jou kinders as ammunisie gebruik om mekaar seer te maak nie! Ammunisie vernietig nie net die teiken nie, dit word ook in die proses vernietig. Jou monoloog van bitterheid mag dalk die waarheid wees, maar dit kan jou kind se vermoë om gesonde verhoudings van hul eie te bou, vernietig. As hulle immers nie ‘n ouer kan vertrou nie, wie kan hulle dan vertrou? Selfs al kan jy nie die verhouding red nie, red hulle. Job sê: ‘As ‘n boom afgekap word, is die kans goed dat daar weer nuwe lote en takke uit die stomp sal groei.”.’ Hoe wonderlik – nuwe takke wat uit ‘n dooie boom gebore word! Dis ons boodskap – daar is lewe na die dood! Hy is die God van tweede kanse en nuwe begin. Net omdat jou drome nie waar geword het nie, beteken dit nie dat jou kinders se drome nie waar sal word nie. As daar net een ding – ‘n gesonde, goed-aangepaste kind – uit jou verhouding voortkom, is jy steeds ‘n wenner. Jou kinders is jou visie. Hulle is die toekoms, gee hulle dus ekstra liefde en stabiliteit. Leer hulle wat God oor die lewe sê. Werk daaraan om hulle onthalwe. As die ‘nuwe lote’ saam met die boom verlore gaan, beteken dit dat al daardie jare gemors is. Beskerm dus die ‘nuwe lote.’

Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18

‘n Formule vir ‘n suksesvolle lewe

2019-09-28
1 Petrus 5:5-7 NLV

Iemand het geskerts: ‘Die probleem met sukses is dat die formule daarvoor dieselfde formule is as vir ‘n senu-ineenstorting.’ Die Bybel gee ons die regte formule vir ‘n suksesvolle lewe. Dit sluit drie areas in: outoriteit, houding en versekering. ‘…erken die gesag van die ouderlinge… Word daarom klein onder die kragtige hand van God… Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’ Kom ons kyk na elk van hierdie drie areas: 1) Onderwerp jouself aan diegene wat wys is. Luister na hulle raad, word aanspreeklik, aanvaar teregwysing, aanvaar voorstelle, respekteer ervaring en volg ‘n waardige voorbeeld. Eers wanneer jy raad kan aanvaar, sal jy gekwalifiseerd wees om dit te kan gee. Eers wanneer jy leierskap respekteer en jouself daaraan onderwerp, sal jy gekwalifiseerd wees om ander te kan lei. 2) Word nederig. In die Skrif simboliseer die ‘hand’ van God twee dinge: sy dissipline en sy verlossing. Wanneer jy nederig voor Hom word, aanvaar jy dat sy dissipline goed is vir jou. Jy erken ook sy gewilligheid om op jou hulpkreet te antwoord en jou te red op enige manier wat Hy kies om dit te doen. 3) Werp jouself op God se genade en sorg. Moeilikheid en teleurstelling sal vir seker kom en wanneer dit gebeur, moet jy jouself in God se arms werp. Die situasie mag dalk vir jou te groot wees, maar dit is nooit te groot vir Hom nie. Beteken dit dat daar nie ‘n plek vir beplanning, doelwitte en harde werk is nie? Nee, dit beteken net dat jy gewillig is om dinge op God se manier te doen, wat altyd die beste is.

Sielskos: 1 Sam 27-31; Matt 28:11-20; Ps 63; Spr 22:17-23

Vernietig daardie vesting!

2019-09-27
2 Korintiërs 10:4 NLV

Die verhaal van Josef die gevangene wat Josef die eerste minister geword het, leer ons dat ons bo ons omstandighede kan uitstyg, die uitdagings kan oorkom en in die volheid van ons Godgegewe potensiaal kan lewe. Sy reis was lank en joune mag dalk ook lank wees. As jy egter nie die eerste tree neem nie, sal jy vassit waar jy tans is. Soms word jou ‘vesting’ vroeg in jou lewe gevestig. Familiepyn is die diepste pyn, omdat dit so vroeg toegedien word en omdat mense wat betroubaar moes gewees het, daarby betrokke is. Jy was te jonk om die mishandeling te verwerk. Jy het nie geweet hoe om jouself te verdedig nie. Jou pa, ma, oom, ouer broer – hulle het bo jou uitgetroon, gewoonlik in grootte, altyd in rangorde. Wanneer hulle jou valslik geoordeel het, het jy hulle geglo. Al hierdie tyd was jy besig om volgens foutiewe data op te tree: ‘Jy is dom…stadig…dwaas soos jou pa…vet soos jou ma…’ Dekades later eggo daardie stemme van vernedering steeds in jou onderbewussyn. Dit hoef egter nie so te wees nie! ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ Gebruik die ‘verwerp en herhaal’ strategie en jy sal oorwinning oor jou denke behaal. Wanneer negatiewe, vreesagtige, skuldige, minderwaardige, veroordelende gedagtes by jou opkom, verwerp hulle en begin herhaal wat God in sy Woord oor jou sê. Soos God se Woord binne-in jou lewendig word, sal jou ou gedagtes begin doodgaan en hulle beheer oor jou verloor. Vernietig dus vandag daardie vesting en laat jou genesing begin.

Sielskos: 1 Sam 24-26; Matt 28:1-10; Ps 51; Spr 22:12-16

Neem tyd om te rus

2019-09-26
Markus 6:31 NLV

Daar is ‘n antieke legende wat sê dat die apostel Johannes ‘n patrysvoël gehad het waarna hy omgesien het. Een dag het ‘n jagter hom besoek en was verbaas om hom met die voël te sien speel. ‘Ek is verras om te sien dat jy jou met sulke beuselagtighede besig hou wanneer daar belangrike sake rakende die evangelie is waarmee jy kon besig wees.’ Johannes het geantwoord: ‘Is jou boog altyd styf gespan?’ Die jagter het gesê: ‘Nee, dit sal die boog onbruikbaar maak. Ek maak die snaar los, tensy ek besig is om te jag.’ Die apostel het geknik en gesê: ‘Ek ook; ek maak my gedagtes vir dieselfde rede los.’ Raai wie het gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Jesus, die Persoon wat die meeste ooit in aanvraag was. Jesus is mos ons voorbeeld. Een dag het ‘n pastoor aangekondig dat hy nie op vakansie sou gaan nie, omdat die Duiwel nooit ‘n vakansie neem nie. Sommige gemeentelede het gelag; ander het gedink dat hy baie ‘geestelik’ is. Een man het egter huis toe gegaan en ondersoek ingestel of Jesus dieselfde houding gehad het. Hy het gevind dat Jesus in sy drie jaar van aktiewe bediening, tien periodes gehad het wat Hy weg van die skare gegaan het, tesame met sy nagtelike rus en die rus op die Sabbat. Die volgende Sondag het hy vir die pastoor gevra: ‘Volg jy die Duiwel se voorbeeld, of Jesus se voorbeeld?’ Ontspanning is presies dit: ‘n tyd om ontslae te raak van jou spanning, jou energie te vernuwe en jou kosbaarste verhoudings te voed. Neem dus die tyd om te rus.

Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Matt 27:57-66; Ps 60; Spr 22:7-11

Hanteer die uitdagings van leierskap

2019-09-25
2 Korintiërs 11:28 NLV

Predikante berei preke voor, onderwysers berei lesse voor, boekhouers tel die syfers op en motorwerktuigkundiges maak enjins reg. Daar is egter nie ‘n skool wat jou ten volle vir die uitdagings van leierskap kan voorberei nie. Paulus maak ‘n lys van die druk van leierskap wat slae, steniging, verraad en ‘n sinkende skip, insluit. Dis hoekom meer as helfte van alle pastore die bediening in minder as tien jaar verlaat. Soos die skrywer Zig Ziglar gesê het: ‘Dis eensaam daar bo.’ As jy ‘n leier in enige area van die lewe is – en die meeste van ons is, of ons dit nou besef of nie – sal jy min hoor wanneer dinge goed gaan, maar wanneer dit nie doen nie, sal die skuld op jou hoof gepak word. Leiers trek kritiek aan, net soos ‘n piekniek miere aantrek. Jy moet altyd ‘n prys betaal wanneer jy ander mense wil beïnvloed. ‘n Leier sal die koste van tyd, denke en vertroue betaal. Die paaiemente lyk soos daaglikse risiko’s wat geneem word, visioenêre denke, ywerige werk en probleemoplossing. Die grootste koste kom egter voor wanneer jy met mense te doen kry; veral diegene wat lyk of hulle dieselfde uniform aanhet, maar nie in dieselfde span speel nie. Paulus beskryf dit so: ‘…in gevare… van my volksgenote…’ (vers 26 NLV). As dit is wat jy vandag ervaar, lees die volgende wat God vir Moses gesê het: ‘…Kom staan by hierdie rotse, hier by My. Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan’ (Eksodus 33:21-22 NLV). Wat is die antwoord op die uitdagings van leierskap? ‘n Bewustheid van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Matt 27:45-56; Ps 68:19-35; Spr 22:6

Uitverkoop aan God

2019-09-24
Filippense 3:8 DB

Voor jy jou Godgegewe doel in die lewe ontdek, sal jy dikwels teenspoed ervaar wat veroorsaak dat jy dit wat tydelik is laat gaan en dit wat ewig is, vasgryp. Vir Paulus het dit die verlies van alle aardse besittings beteken. Vir ander kan dit die hitte van die stryd in die skeihof beteken. Wanneer die persoon wat jy gedink het ‘alles’ is, wegloop, word jy skielik van alles wat jy tevore gehad het, gestroop. Kyk na Job; sy huis was verwoes, sy huwelik het soos ‘n grap gelyk en sy kinders was dood. Dis dan wat jy uitvind dat jy van die tydelike, maar nie die ewige nie, gestroop kan word; gestroop van jou rykdom, vriende en aansien, maar nie van jou karakter en jou geloof in God nie. Die Bybel sê: “…Daarna het hy op die grond voor God geval. Hy het gesê: ‘…Prys die Naam van die Here!'” (Job 1:20-21 NLV). Ware lofprysing vind plaas wanneer jy iets wat jy gedink het jy moet hê, op die altaar neerlê omdat jy besef dat dit al die tyd God s’n was. Kyk na Abraham se altaar. God wou nie Isak se liggaam gehad het nie, Hy wou net weet of daar enigiets was wat Abraham liewer as Hom gehad het. Jy moet by die punt kom waar jy kan bid: ‘Here, hier is al my wrokke en onvergifnis, my behoefte om te beïndruk, my tyd, talente en skatte, enigiets waarby ek betrokke is wat my daarvan weerhou om geheel en al U s’n te wees. U sal nooit hierdie dinge van my moet wegneem nie, omdat ek dit met graagte alles vir U gee sodat ek kan wees wat U wil hê ek moet wees.’ Kan jy hierdie gebed vandag bid? Dis nie maklik nie, maar dit sal jou lewe verander.

Sielskos: 1 Sam 16-17; Matt 27:32-44; Ps 68:1-18; Spr 22:1-5