Jy sal hierdeur kom

2019-09-23
Job 8:21 NLV

Soms wanneer jou hart gebreek is, kom genesing eerste en die antwoorde later. Wanneer jy egter daaroor dink, sal jy nie eerder saam met God in die donkerte stap as wat jy alleen in die lig stap nie? Dis te betwyfel of Job ooit ten volle die verliese wat hy in die lewe ervaar en hoekom dit gebeur het, verstaan het. Daar het egter ‘n tyd gekom wat hy in staat was om terug te kyk en met vertroue te sê: ‘Hy sal jou weer met vrolikheid vul en jou laat uitroep van vreugde.’ Dis ook God se belofte aan jou! Die teoloog E. Stanley Jones het gesê: ‘Enigiets, behalwe God, sal jou in die steek laat.’ God het genoegsame genade om jou deur elke situasie waarvoor jy in die lewe te staan sal kom, te kan dra. Vir elke behoefte, het Hy ‘n voorraad. Vir elke probleem, het Hy ‘n antwoord. Vir elke seer, het Hy genesing. Nadat hy teruggedink het aan alles waardeur God hom gebring het, het Jeremia gesê: ‘…Niks is vir U te moeilik om te doen nie!’ (Jeremia 32:17 NLV). God kyk uit vir geleenthede waar Hy vir jou kan wys wat Hy kan doen wanneer jy jou vertroue in Hom plaas. Dawid het gesê: ‘…Here, dink eerder aan my met troue liefde, ter wille van u goedheid’ (Psalm 25:7 NLV). Is jy nie bly dat God se goedheid en genade op sy karakter en nie op joune gebaseer is nie? Corrie ten Boom het gesê: ‘As jy depressief wil word, kyk binnetoe. As jy verslae wil word, kyk agtertoe. As jy verward wil word, kyk rond. Maar as jy gered wil word, kyk op.’ Die woord vir jou vandag is dus: Met God se genade, sal jy hierdeur kom.

Sielskos: 1 Sam 14-15; Matt 27:11-31; Ps 91; Spr 21:28-31

Wees een van die 10 persent

2019-09-22
Lukas 17:17 NLV

Een dag het Jesus tien mans van melaatsheid, wat in daardie tyd ‘n doodsvonnis met geen kuur was nie, genees. Net een van hulle het egter onthou om terug te kom en Hom te bedank. Wat is die ander nege se storie? Was hulle te besig om dankbaar te wees? Hulle het sekerlik dankbaar gevoel, maar het tog nie die tyd geneem om dit uit te druk nie. Het hulle met ander dinge besig geraak en vergeet? Was hulle te versigtig om dankbaar te wees? Miskien het hulle gedink dat hulle gesondheid nie gaan hou nie, dus wou hulle seker maak voor hulle dit bekend maak. Of miskien was hulle bang dat Jesus iets van hulle sou wou hê wat hulle onwillig of nie in staat was om te gee nie. Was hulle te self-gesentreerd om dankbaar te wees? Op ‘n manier was die lewe van siekte ‘n eenvoudiger lewe. Nou moes hulle ‘n werk kry, verantwoordelikheid neem en ‘n rol in die samelewing speel. Was hulle te arrogant om dankbaar te wees? Miskien het hulle gedink dat hulle met tyd self gesond sou word. Plus, wanneer jy dankbaar is, erken jy dat jy behoeftig is. Wie wil swakheid ten toon stel wanneer jy ‘n openbare beeld het om te beskerm? As hierdie verhaal enige aanduiding is, het nege uit die tien van ons ‘n probleem met dankbaarheid – ten minste wanneer dit daarby kom om dit uit te druk. Moenie so wees nie. Wees een van die 10 persent! In drie opeenvolgende Psalms – 105, 106 en 107 – herhaal Dawid hierdie soortgelyke woorde: ‘Prys die Here! Dank die Here, want Hy is goed! Sy trou ken geen einde nie.’ Moenie dat ‘n dag verbygaan sonder om God se goedheid aan jou te onthou en Hom daarvoor te dank nie.

Sielskos: Gen 1:1-2:3; Joh 1:1-18

Tree terug en sien die groter prentjie

2019-09-21
1 Korintiërs 16:9 NLV

Een dag het die Kamer van Koophandel in ‘n klein dorpie ‘n suksesvolle besigheidsman uitgenooi om hulle te kom toespreek. Die plaaslike ekonomie was sleg en hulle was mismoedig, dus was dit sy werk om hulle te motiveer. Hy het ‘n groot stuk papier geneem en ‘n rooi kolletjie in die middel van die papier gemaak. ‘Wat sien jy?’ het hy vir die gehoor gevra. Een persoon het geantwoord: ‘Ek sien ‘n rooi kolletjie.’ Die spreker het gesê: ‘Goed, maar wat anders sien jy?’ Ander mense het ook begin antwoord: “‘n Rooi kolletjie.” Die spreker het gevra: ‘Sien julle niks anders behalwe die kolletjie nie?’ Die gehoor het soos een man geantwoord: ‘Nee!’ Die spreker sê toe: ‘Julle kyk die belangrikste ding mis; julle sien nie die groot stuk papier raak nie!’ Hy het voortgegaan om te verduidelik dat ons aandag dikwels in die lewe deur die klein kolletjie-mislukkings en -ervarings afgetrek word. Dit weerhou ons daarvan om ons seëninge en suksesse, wat belangriker as die teleurstellings wat ons aandag probeer monopoliseer en ons energie dreineer, te sien. Paulus het geskryf: ‘want hier staan nou ‘n wye deur oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders.’ Paulus het nie die realiteit van die teenstand waarvoor hy te staan gekom het ontken nie; hy het net besluit om eerder op die geleentheid wat dit meebring, te fokus. ‘n Digter het geskryf: ‘Two men looked through prison bars. One saw mud, the other stars.’ Waarna kyk jy? Is jy so besig met dit wat is dat jy dit wat kan wees uit die oog verloor het? Indien dit die geval is, tree terug en vra God om jou te help om die groter prentjie te sien.

Sielskos: 1 Sam 11-13; Matt 26:69-27:10; Ps 13; Spr 21:22-27

Bepaal jou kernoortuigings

2019-09-20
Daniël 1:8 NLV

Wat was Daniël se probleem? Wat was fout daarmee om die beste kos in die land te eet? Die meeste mense het van ‘n karige dieet gelewe. Daniël het die geleentheid gehad om letterlik soos ‘n koning te kon eet. Hoekom het hy so ‘n vasberade houding daarteen ingeneem? Wanneer jy dieper in die kulturele realiteite van die situasie delf, kom jy agter dat daar meer op die spel was. ‘n Babeloniese fees is altyd ter ere van die gode gevier. Wanneer jy dus vir die maaltyd aangesit het, het jy nie net saamgeëet nie, jy was ook deel van ‘n daad van lofprysing. Hierdie kos is eers vir ‘n heidense god geoffer. Vir ‘n Joodse tiener wat sy geloof in God ernstig opgeneem het, sou deelname aan die ete beteken het dat hy dit waarvoor hy geroep was, in gevaar sou stel. Deur hulle kos te eet, sou hy hulle god prys. Dit was ‘n stappie te ver vir Daniël. Hy sou nie sy karakter so onder verdenking plaas nie. Jy ontdek nie wat jou oortuigings is wanneer jy onder druk verkeer nie, jy besluit vooraf wat jou oortuigings is. Dis gedurende die goeie tye wat jy bepaal wat jy sal of nie sal doen wanneer die moeilike tye aanbreek nie. Die Psalmdigter het gesê: ‘Hoe kan ‘n jongmens ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord. Met my hele hart soek ek U; moenie dat ek afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre sodat ek nie teen U sou sondig nie’ (Psalm 119:9-11 NLV). ‘n Oorwinnende Christelike lewe word met hierdie drie stellings opgesom: 1) ‘Deur gehoorsaam te wees aan u woord.’ 2) ‘Met my hele hart soek ek U.’ 3) Ek het u woord in my hart gebêre.’

Sielskos: 1 Sam 8-10; Matt 26:47-68; Ps 54; Spr 21:18-21

Oorkom stres (8)

2019-09-19
Matteus 11:28 ABA

As die las wat jy dra te swaar vir jou is, het Jesus dit nie vir jou gegee nie. Ander mense het dalk, of jy het dit dalk op jouself geneem, maar Jesus het geen deel daaraan gehad nie. ‘…Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra?.. Kom dan na My toe!.. Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees’ (verse 28-30 DB). Die finale stresbestuur beginsel wat Jesus vir ons geleer het is: Gee jou stres vir Hom. Let op, Jesus het nie gesê: ‘Kom na My toe en ek sal vir jou meer skuld, meer laste, meer stres en meer bekommernisse gee’ nie, selfs al is dit wat baie godsdienstige mense ons probeer leer! Sommige kerke skep druk in plaas daarvan om dit te verlig. Jesus het egter gesê: ‘Ek wil jou rus gee en jou stres verlig. Wanneer jy in harmonie met My lewe, sal Ek vir jou innerlike krag gee.’ Net Jesus kan jou lewe transformeer. Die grootste bron van stres is wanneer ons ons lewens apart van die God wat ons geskep het, probeer lei, wanneer ons op ons eie manier probeer lewe en ons eie god probeer wees. Wat het jy dan nodig? As jy nog nooit jou lewe aan God oorgegee het nie, het jy ‘n transformasie nodig. Gee jou lewe met al jou stres aan Hom en sê: ‘Here, gee asseblief vir my ‘n nuwe lewe. Vervang die druk wat ek voel met die vrede wat U bied. Help my om u beginsels vir stresbestuur te volg.’

Sielskos: 1 Sam 4-7; Matt 26:30-46; Ps 52; Spr 21:17

Oorkom stres (7)

2019-09-18
Markus 6:31 NLV

Neem tyd om die lewe te geniet. Jesus het dit gedoen. “Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.'” Jesus het nie net tyd vir ontspanning gemaak nie, Hy het ook vir diegene wat hard gewerk het gesê: ‘Jy verdien ‘n ruskans vandag. Kom ons gaan rus en neem tyd vir onsself.’ Dus het hulle in ‘n boot geklim en na die ander kant van die meer geroei. Jesus kon stres hanteer, omdat Hy geweet het hoe om te ontspan. Rus en ontspanning in die lewe is nie opsioneel nie en ook nie ‘ongeestelik’ nie. Rus is so belangrik dat God dit by die Tien Gebooie ingesluit het. Die Sabbat is vir die mensdom geskep omdat God weet dat ons fisiese, emosionele en geestelike samestelling gereelde rustye vereis. Jesus het stres oorleef omdat Hy die lewe geniet het. J.B Philips parafraseer dit as volg: ‘Nou het Ek, die Seun van die mens, gekom en Ek vier graag fees…’ (Matteus 11:19 ABA). Paulus sê ook vir ons dat God ‘…aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet’ (1 Timoteus 6:17 NLV). Balans is die sleutel tot stresbestuur. As jy vandag uitgebrand voel, moet jy na twee dinge kyk: 1) Put jy elke dag krag uit God se genade, of maak jy net op jouself staat? 2) Sit jy gereeld tyd vir rus en ontspanning eenkant? Die woord ontspanning beteken om te herstel, te verfris en nuut te skep.’ Kry jy die prentjie? As jy uitbrand, wat se nut sal jy dan vir God se koninkryk, jou familie of jouself wees?

Sielskos: 1 Sam 1-3; Matt 26:17-29; Ps 34; Spr 21:14-16