2019-09-17
Markus 1:35 NLV
Maak gebed jou daaglikse gewoonte. Gebed is ‘n wonderlike stres-verligter. Jesus het sy dag met gebed begin. Hy het dikwels deur die dag gestop om te bid en Hy het elke dag met gebed geëindig. As Jesus, so besig soos Hy was, tyd kon maak om te bid, dink net hoeveel te meer jy dit moet doen! Tyd alleen met God kan die druk van die lewe se stres verminder. Ons praat met God in gebed, vertel Hom wat op ons gemoed druk en laat Hom toe om met ons te praat terwyl ons die Bybel lees. Dan kyk ons na ons skedule, evalueer ons prioriteite en wag vir instruksies. As ons so sou lewe sal die farmaseutiese industrie ondergaan, omdat ons nie ‘n fraksie van die kalmeermiddels op die mark sou nodig kry nie! Baie van ons probleme ontstaan uit ons onvermoë om stil te sit. Ons weet eenvoudig nie hoe om stil te wees nie. God sê: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Een rede hoekom ons God nie beter ken nie is omdat ons nie stil kan wees nie. Ons is te besig om eenvoudig stil te wees en net te dink. Iemand het gesê: ‘Dis ‘n ironiese gewoonte van die mens dat wanneer hy sy pad verloor, hy sy spoed verdubbel.’ Daar is ‘n verhaal oor ‘n vlieënier in die Tweede Wêreldoorlog wat oor die Stille Oseaan gevlieg het. Toe hy die toring radio en die kontroleur hom vir sy ligging vra, het hy geantwoord: ‘Ek weet nie – maar ek gaan ‘n rekordtyd opstel!’ Baie van ons is so – ons spoed deur die lewe sonder om te weet waarheen ons op pad is. Ons moet ons oggend, soos Jesus, met gebed begin en gedurende die dag weer bid en ons geestelike batterye herlaai.
Sielskos: Hoogl 5-8; Matt 26:1-16; Ps 39; Spr 21:9-13
2019-09-16
Markus 3:14 NLV
Moenie dit alles self probeer doen nie. Een van die redes hoekom ons gestres raak, is omdat ons dink dat alles van ons afhang. Nie Jesus nie. Hy het twaalf ander mense ingeroep, opgelei en bemagtig sodat hulle die las kon help dra. Hy het sy werk gedelegeer. Hy het ander mense betrek. Hoekom doen ons dit nie? Twee redes: 1) Perfeksionisme. Ons dink: ‘As ek die werk goed gedoen wil hê, moet ek dit self doen.’ Dis ‘n oulike idee, maar dit werk gewoonlik nie uit nie omdat daar net te veel dinge is wat gedoen moet word. Ons het eenvoudig nie die tyd of die talent om alles self te doen nie. Dis inderwaarheid ‘n egoïstiese houding wat sê: ‘Niemand, maar niemand kan dit soos ek doen nie!’ Dink jy Jesus kon ‘n beter werk as sy dissipels gedoen het? Natuurlik, maar selfs met daardie wete, het Hy hulle steeds die werk laat doen. Hoekom? Omdat ons ander mense moet toelaat om foute te maak om sodoende te leer, dieselfde manier wat die dissipels geleer het. Moenie ander mense se opvoeding steel nie. 2) Onsekerheid. ‘Wat as ek hierdie verantwoordelikheid vir iemand anders gee en hulle doen dit beter as ek?’ Hierdie moontlikheid is ‘n bedreiging vir baie van ons. Jy sal egter nie bedreig voel as jy weet wie jy is, wie jy probeer tevrede stel, wat jy wil bereik en die een ding waarop jy moet fokus, weet nie. Om effektief te wees moet jy ander mense betrek, want jy kan nie op meer as een ding op ‘n slag fokus en dit goed doen nie.
Sielskos: Hoogl 1-4; Matt 25:41-46; Ps 3; Spr 21:4-8
2019-09-15
Lukas 4:43 NLV
Fokus op een ding op ‘n slag. Word jy in verskillende rigtings getrek? Mense het dit aanhoudend aan Jesus probeer doen en sy aandag van sy doel in die lewe probeer aflei. Die Bybel sê: ‘Vroeg die volgende môre het Jesus na ‘n verlate plek vertrek. Die skares het oral na Hom gesoek, en toe hulle Hom uiteindelik kry, het hulle Hom gesmeek om hulle nie te verlaat nie’ (vers 42 NLV). Jesus was op die punt om te vertrek en hulle het Hom probeer oorreed om te bly. Dis hoe Hy gereageer het: ‘…Ek moet die Goeie Nuus van die koningsheerskappy van God in ander plekke ook verkondig, want dit is waarvoor Ek gestuur is.’ Hy het geweier dat sy aandag deur minder belangrike sake afgelei word. Hy was ‘n meester daarin. Almal het probeer om Hom in die rede te val. Almal het ‘n Plan B vir sy lewe gehad. Hy het egter in wese gesê: ‘Nee, Ek moet vorentoe na my doelwit toe beweeg.’ Hy het aangehou om te doen wat God vir Hom gesê het om te doen. Hy was vasberade. Hy was volhardend. Hy was gefokus. Wanneer jy dus ‘n dosyn verskillende dinge het om te doen, kies die belangrikste een en hou daarmee vol totdat jy dit voltooi het. Kies dan die tweede belangrikste een en doen dieselfde, totdat jy die lys voltooi het. Wanneer ons ons inspanning versprei is ons oneffektief; wanneer ons ons inspanning konsentreer is ons suksesvoller. Verspreide lig produseer ‘n dowwe glans, terwyl lig wat gekonsentreerd is, vuur produseer. Jesus het nie toegelaat dat onderbrekings Hom daarvan weerhou om op sy doel te konsentreer nie. Hy het nie toegelaat dat ander mense Hom gestres, gespanne of geïrriteerd maak nie. Hy is jou voorbeeld!
Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1
2019-09-14
Johannes 8:14 NLV
Weet wat jy wil bereik. Jesus het gesê: ‘…Ek weet waarvandaan Ek gekom het en waarheen Ek teruggaan…’ Kan jy dieselfde sê? Tensy jy jou lewe beplan en prioriteite bepaal, sal jy deur ander mense gedruk word om te doen wat hulle dink belangrik is. Jy lewe elke dag volgens prioriteite of volgens druk. Daar is nie ‘n ander opsie nie. Of jy besluit wat belangrik in jou lewe is, of jy laat toe dat ander mense dit vir jou besluit. Dis maklik om onder die tirannie van die dringende op te tree, om aan die einde van die dag te wonder: ‘Het ek enigiets bereik? Ek het baie energie verbruik en baie dinge gedoen, maar het ek iets belangriks bereik?’ Om besig te wees beteken nie dat jy produktief is nie. Jy mag dalk in sirkels tol maar nie enigiets van waarde bereik nie. Voorbereiding veroorsaak dat jy gerus is. Of om dit anders te stel, voorbereiding voorkom druk, terwyl dinge wat jy uitstel, druk produseer. Goeie organisasie en goeie voorbereiding verminder stres omdat jy weet wie jy is, wie jy probeer tevrede stel en wat jy wil bereik. Dit vereenvoudig jou lewe wanneer jy duidelik gedefinieerde doelwitte het. Spandeer dus ‘n paar minute aan die begin van elke dag deur met God in gebed te praat. Kyk dan na jou skedule vir die dag en besluit: ‘Is dit regtig die manier wat ek ‘n dag van my lewe wil spandeer? Is ek gewillig om die volgende vier-en-twintig waardevolle ure vir hierdie aktiwiteite in te ruil?’ Die regte antwoord op hierdie twee vrae sal jou stresvlakke verlaag deur jou te help om te prioritiseer.
Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Matt 25:31-40; Ps 19; Spr 21:3
2019-09-13
Johannes 5:30 NLV
Weet wie jy probeer tevrede stel. Jesus het nie probeer om almal tevrede te stel nie, is dit dus nie dwaas van jou om iets te probeer doen wat God nie eens doen nie? God het gesê: ‘…Hý is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart’ (Matteus 3:17 NLV). Wanneer jy nie weet wie jy probeer tevrede stel nie, sal jy altyd voor drie dinge swig: Kritiek, omdat jy oorbewus is van wat ander mense van jou dink. Kompetisie, omdat jy bang is dat iemand anders eerste sal kom. Konflik, omdat jy deur enigiemand wat nie saam met jou stem nie, bedreig sal word. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge [die dinge waaroor jy stres] as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Deur op God se wil te fokus, sal jy jou lewe vereenvoudig! Jy sal altyd die regte ding doen, die ding wat Hom tevrede stel, ongeag wat enigiemand anders dink. Ons is lief daarvoor om stres op ander mense en ons verpligtingte te blameer: ‘Jy het my dit maak doen… Ek moet… Ek gaan…’ Daar is egter min dinge in die lewe, behalwe ons werk, wat ons moet doen. Wat jy dus inderwaarheid sê is: ‘Ek kies om [voltooi die sin], omdat ek nie die nagevolge wil hanteer nie.’ Dis baie selde wat enigiemand ons dwing om iets te doen, dus kan ons nie ander mense vir ons stres blameer nie. Wanneer ons onder druk voel, is dit omdat ons toelaat dat ander mense ons onder druk plaas. Die waarheid is dat ons nie slagoffers is nie, tensy ons toelaat dat ons deur eise van buite onder druk geplaas word.
Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Matt 25:22-30; Ps 24; Spr 21:1-2
2019-09-12
Johannes 8:25 DB
Jesus was konstant onder druk. Daar is die heeltyd uitputtende eise aan Hom gestel. Hy het selde persoonlike privaatheid gehad en Hy is die heeltyd in die rede geval. Mense het Hom herhaaldelik misverstaan, gekritiseer en Hom gespot. Hy was onder enorme stres, maar tog het Hy vrede onder druk gehad. Hoe het Hy dit gedoen? Hy het sy lewe op agt gesonde beginsels vir stresbestuur gebaseer. Kom ons bestudeer hulle die volgende week en kyk wat ons daaruit kan leer. Weet wie jy is. “‘Wie ís jy presies?’ wou hulle toe weet. ‘Ai, moet Ek alles nou weer sê? Ek sê dit nog die hele tyd vir julle,’ antwoord Jesus hulle toe…” As jy nie weet wie jy is nie, sal ander mense jou probeer vertel wie hulle dink jy is en jou laat glo dat jy iemand is wat jy nie is nie. Om agter maskers weg te kruip, ‘n dubbele lewe te lei, oneg met ander mense te wees en iemand te probeer wees wat jy nie is nie, gaan met baie stres gepaard. Onsekerheid produseer altyd stres in ons lewens; wanneer ons onseker voel, voel ons onder dwang om aan te pas en om ‘n vertoning te lewer. Wat moet jy dus doen? Jy moet weet wie jy is en Wie s’n jy is! Jy is ‘n verloste kind van God, wat nie per ongeluk hier op aarde geplaas is nie, maar vir ‘n spesifieke doel. Jy is baie geliefd en ten volle deur God aanvaar. Hy het ‘n plan vir jou lewe; daarom maak jy saak. Om stres te oorkom moet jy weet wie jy is en totdat jy nie hierdie kwessie aangespreek het nie, sal dit jou aanhou pla.
Sielskos: 2 Kor 5-8; Matt 25:14-21; Ps 78:65-72; Spr 20:26-30