2019-09-11
Jesaja 1:17 NLV
Die samelewing in die tyd van die Nuwe Testament het nie welsynsisteme gehad nie. Daarom het die apostel Jakobus geskryf: ‘Suiwer en onbevlekte godsdiens voor God ons Vader is dat ons weeskinders en weduwees in hulle swaarkry versorg…’ (Jakobus 1:27 NLV). Dit kan die tipe bediening wees waarna jy opsoek is! Die enigste kwalifikasie wat jy nodig het, is om te weet hoe dit voel om eenkant gestoot te word en die medelye het om iets daaraan te doen. Die volgende aangrypende brief, ‘Die verhaal van weduweeskap,’ is deur ‘n dame wie se man oorlede is, geskryf: ‘Eers gevoelloosheid, dan besig wees. ‘n Miljoen dinge om te hanteer. Eindelose doodsertifikate en dinge om te teken. Vriende is so bedagsaam; ondersteuning van familie wat omgee. Jy bly besig. Maar in die nag pols die leë kant van die bed in smart. Uiteindelik maak jy jou oë toe, gooi sy tandeborsel in die asblik en raak van sy ou werkskoene wat jy in ‘n plastieksak van die hospitaal af gebring het, ontslae. Jy maak die kas leeg en gee al sy dinge weg. Elke pak klere in sy kas herinner jou aan ‘n spesiale plek of tyd wat julle saam gedeel het. ‘n Jaar het verbygegaan; jy is nog in een stuk. Dan die terugslag! Jou vriende vier ‘n verjaarsdag – almal paartjies. Jy word nie daarby ingesluit nie want jy is die ‘vyfde wiel.’ Sommige vroue mag jou selfs as ‘n bedreiging sien. Onthou ons asseblief. Moenie ons soos ekstra bagasie behandel nie. Ons is ‘n slegte hand uitgedeel en ons het vriende nodig. Vriendelike groete, Vergetene.’ Dink aan die verskil wat jy vandag in iemand se lewe kan maak deur diegene wat die samelewing so dikwels ignoreer en vergeet, op te soek.
Sielskos: 2 Kor 1-4; Matt 25:1-13; Ps 78:56-64; Spr 20:25
2019-09-10
Rigters 11:1 NLV
Sosioloë vertel ons dat menslike gedrag grootliks deur twee dinge bepaal word: ons ouers en ons omgewing. Jefta sou dus volgens hulle ‘n verlore saak gewees het! Nie volgens God nie. Sy Woord sê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV). Wanneer Jesus die Here van jou lewe word, kan nie gene of omgewing jou daarvan weerhou om alles wat Hy vir jou in gedagte het, te word nie. Voor sy lewe verby was, het Jefta Israel se jongste heerser geword en is hy saam met die geloofshelde in Hebreërs hoofstuk 11 genoem. Miskien is jy in minder ideale omstandighede gebore en wonder jy of jy dit ooit kan oorkom. Die antwoord is ja! Die volgende keer wat iemand dus jou verlede gebruik om jou te probeer afbreek, herinner hulle aan Jefta. Ons God is wonderlik. Hy kan die benadeelde hoër as diegene wat elke moontlike voordeel gehad het, ophef. Sy krag word in ons swakheid geopenbaar en vrygestel (sien 2 Korintiërs 12:9). Hy spesialiseer daarin om mense te gebruik wat verwerp is. Hy het vir Josef, ‘n man wat deur sy broers in ‘n put gegooi en deur sy pa as dood afgeskryf is, gebruik. Hy het Dawid, ‘n veeoppasser wat van sy familie vervreem en deur hulle geïgnoreer is, gebruik. Hy het Jesus, ‘Die klip wat die bouers afgekeer het…’ (Psalm 118:22 NLV), gebruik om die ‘…hoekklip van die gebou…’ (Lukas 20:17 NLV) te word. Hy kan dieselfde vir jou doen. Wees dus bemoedig; God het ‘n plan vir jou lewe en soos jy tyd saam met Hom spandeer, sal Hy vir jou wys wat dit is.
Sielskos: Eseg 46-48; Matt 24:36-51; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24
2019-09-09
Prediker 3:1-8 NLV
Wanneer laas het jy die tyd geneem om te lag, te dans en lief te hê? Kan jy onthou? In die woorde van ‘n onbekende digter: ‘This is the age of the half-read page; the quick hash and the mad dash. The bright knight with the nerves tight; the plane hop and the brief stop. The lamp-tan in a brief span; the big shot in a good spot. The brain strain and the heart pain; the catnaps until the spring snaps…and the fun’s done!’ Dit laat mens dink, nè? Moet dit egter so wees? Nee, as dit is hoe jou lewe vandag lyk, is die kans goed dat dit is omdat jy dit so gemaak het. Jy is die enigste een wat dit kan verander! Jy sê jy is besig? Ons is almal besig. Wie sê dat jy nie die lewe kan geniet wanneer die pas versnel nie? Vir seker nie God nie! Chuck Swindoll skryf: ‘Ek weier dat vrolikheid die agterste gestoeltes inneem wanneer verantwoordelikheid aan die stuur kom. As die pret weg is, is dit omdat ons dit nie daar wil hê nie, nie omdat dit nie inpas nie. Ek gee nie om of jou ‘doenlysie’ tot by die horison strek nie, jy moet weer in balans kom en die tyd neem om te lag, van vreugde te dans en lief te hê. Hoekom? Omdat die Bybel so sê! Jou familie en vriende sal jou ook meer geniet wanneer jy dit doen.’ Die Psalmdigter het gesê: ‘U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV). Gaan dus voort en geniet jou lewe soos God dit bedoel het om te wees – voor jy jou oë uitvee, is dit verby.
Sielskos: Eseg 43-45; Matt 24:26-35; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21
2019-09-08
Psalm 90:12 NLV
In ‘n koerantartikel in 1985, skryf Anne Wells: “My swaer het my suster se kas oopgemaak en ‘n pakkie wat in sneespapier toegedraai was, uitgehaal. Dit was ‘n pragtige handgemaakte rok; die prys met ‘n astronomiese syfer was steeds daaraan geheg. ‘Jou suster het dit gekoop die eerste keer wat ons New York toe gegaan het… agt of nege jaar terug,’ het hy gesê. ‘Sy het dit nooit gedra nie; sy het dit gehou om na ‘n spesiale geleentheid te dra. Ek dink hierdie is seker maar die regte geleentheid.’ Hy het die rok op die bed saam met die ander klere gesit – wat ons op pad was om na die begrafnisondernemer te neem. Toe het hy na my toe gedraai en gesê: ‘Moet nooit iets vir ‘n spesiale geleentheid bêre nie. Elke dag wat jy lewe is ‘n spesiale geleentheid!'” Daardie woorde het Anne Wells se lewe verander. Sy gaan voort: ‘Ek bêre niks meer nie. Nou gebruik ons die goeie breekware vir elke spesiale geleentheid – soos om ‘n kilogram te verloor, wanneer ons die verstopte drein oopkry of wanneer die eerste bloeisel te voorskyn kom. ‘Eendag’ of ‘een van die dae’ kom nie meer in my woordeskat voor nie. As dit die moeite werd is om te sien, te doen of te hoor, wil ek dit nou sien, doen of hoor. Elke oggend wanneer ek my oë oopmaak, sê ek vir myself dat dit ‘n spesiale geleentheid is.’ Dit laat mens dink, nè? Dit spoor jou aan om elke druppel vreugde uit die dag te tap en op te hou uitstel! Vergewe daardie oortreding, sê vir daardie persoon dat jy lief is vir hom of haar, onderneem daardie reis, gaan terug skool toe. Besluit vandag om die dinge te doen wat jy uitgestel het.
Sielskos: Gen 2:7-25; 1 Kor 15:39-55
2019-09-07
Eksodus 27:8 DB
Die altaar in die tabernakel was ‘n plek waar offers gebring kon word om God te eer. Hy het presiese idees gehad oor hoe dit gebou moes word: ‘Soos Ek vir jou op die berg gewys het, is die altaar ‘n houtkis wat binne hol is.’ ‘n Struktuur van klip of metaal sou te swaar gewees het om te vervoer, maar ‘n hol hout altaar kon saam met die Israeliete gereis het. Die beeld van ‘n beweegbare altaar is ‘n herinnering daaraan dat terwyl jy dalk deel van ‘n plaaslike kerk kan wees, jy nie daartoe beperk word om God op ‘n spesifieke plek te eer en prys nie. Jy kan dit enige plek doen deur ‘…’n voortdurende lofoffer aan God – ‘n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely’ (Hebreërs 13:15 NLV), te bring. By die huis, by die werk, in die kruidenierswinkel, by die gym, in die klaskamer, kan jou alledaagse aktiwiteite ‘n geestelike offer aan God wees (sien 1 Petrus 2:5). Jy eer God deur ‘n woord van bemoediging te deel, jou hulpbronne te gebruik om iemand in nood te help, of om ‘n professionele besluit wat gebaseer is op integriteit, te maak. Jesus het gesê: ‘Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!’ (Matteus 5:16 NLV). ‘n Skrywer sê: ‘Die Here is my baas. Hy gee my terugvoer, kritiek, en bevorderings. Hy voorsien my pensioengeld en my mediese fonds. Hy kan my verplaas, my verantwoordelikhede verander en al my doelwitte ontwikkel. Ek rapporteer aan Hom alleenlik. Terwyl my opdragte verander, verander die kern van my werk nie. Ek is opdrag gegee om sy werk te doen en om sy hande en voete te wees in watter posisie Hy ook al aan my toewys.’
Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Matt 24:15-25; Ps 78:17-31; Spr 20:15-19
2019-09-06
Spreuke 22:29 DB
Hy het begin deur hard as vakman by die spoorwegmaatskappy te werk. Toe hy die geleentheid gegee word om vir ‘n paar dae in die maatskappy se kantoor te werk, het hy dit met altwee hande aangegryp. Gedurende daardie tyd het sy bestuurder hom vir ‘n paar noodsaaklike feite en syfers gevra. ‘Kry dit gereed op my lessenaar wanneer ek oor drie dae terugkom,’ het hy gesê. Die jong man het niks van boekhouding geweet nie, maar hy het vir drie dae en nagte sonder enige slaap daaraan gewerk, en toe die bestuurder terugkeer, het hy die feite en syfers vir hom gereed gehad. Dit het hom die respek en bewondering van sy bestuurder verdien en toe ‘n permanente pos beskikbaar word, het sy bestuurder die jong man vir die pos aanbeveel. Oor die jare is die jong man verskeie kere bevorder en elke keer is hy vir sy deeglikheid en betroubaarheid geprys. Uiteindelik het hy as die vise-president van die Ralston Purina maatskappy in St. Louis, Missouri, een van die wêreld se grootste vervaardigers van troeteldierkos, opgeëindig. Die Bybel sê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV). Die Boodskap stel dit as volg: ‘Ken jy ‘n goeie vakman wat hard en getrou werk? Hy is by almal in aanvraag. Belangrike mense soek sy dienste. Hy sal dit nog ver bring in die lewe.’ Of jy dit nou besef of nie, jy word in jou werk dopgehou. Jou karakter, werksetiek en jou houding word geobserveer. Jy sal nie nie net as gevolg van die take wat jy voltooi beloon word nie, maar ook as gevolg van jou houding en die manier hoe jy hulle voltooi!
Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Matt 24:1-14; Ps 78:9-16; Spr 20:11-14