2019-09-05
Johannes 18:37 NLV
Toe Jesus voor Pilates gestaan het, het Hy gesê: ‘…Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê…’ Jesus het geweet waarvoor Hy gebore is en wat Hy geroep is om te doen en Hy het soos ‘n laser daarop gefokus. Jy is geroep om in sy voetspore te volg (sien 1 Petrus 2:21). Daar is drie tipes mense: 1) Diegene met geen lewensdoel nie. Die swerwers, wat doelloos deur die lewe gaan. Hulle gaan skool toe, kry ‘n werk, kry ‘n ander werk, vind ‘n eggenoot, kry ‘n nuwe eggenoot, trek van huis tot huis en plek tot plek, tree af en sterf uiteindelik. Hulle lewe nie regtig nie; hulle bestaan net. 2) Diegene wat die verkeerde lewensdoel het. Hulle mag dalk oorpresteerders wees, mense wat die lere van finansiële, politieke en sosiale sukses uitgeklim het, net om uit te vind dat hulle leer teen die verkeerde muur gestaan het. Hulle het dit of te laat agtergekom, of hulle het nooit besef dat hulle ‘n lewe wat ander mense positief kon beïnvloed het, misgeloop het nie. 3) Diegene wat die regte lewensdoel het. Hulle weet hoekom hulle geskep is. Hulle weet hoekom God hulle hier op aarde geplaas het en hulle lewe draai daarom om hierdie doel te vervul. Dit is die lewe wat ‘n glimlag op God se gesig plaas. Dit is sukses wat volhoubaar is. Dit het niks met populariteit, mag of besittings te doen nie. Dit het alles met jou lewensdoel te make, omdat dit die enigste ding is wat ‘n Godgegewe versekering van sukses meebring. Weet jy wat jou lewensdoel is? Indien nie, vra God en Hy sal dit aan jou openbaar.
Sielskos: Eseg 34-36; Matt 23:23-39; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10
2019-09-04
1 Johannes 4:19 NLV
Ons weet hoe frustrerend dit is wanneer jy vir iemand ‘n geskenk probeer gee en hulle hou aan om dit te weier. Onsekerheid en gevoelens van onwaardigheid weerhou baie van ons daarvan om goeie ‘ontvangers’ te wees. Ons dink dat ons alles moet verdien. Ons gaan selfs so ver as om nie die gewer te vertrou nie en te dink: ‘Hoekom wil jy dit vir my doen? Wat is jou regte rede?’ As ons so voel, dink net hoe God voel wanneer Hy sy liefde na ons toe uitreik en ons dit weier omdat ons voel dat ons dit nie verdien nie. Of erger, wanneer ons sy beweegredes betwyfel. Die waarheid is dat niemand van ons God se liefde verdien nie. Wanneer Hy egter in liefde na jou toe uitreik, probeer Hy ‘n siklus wat jou sowel as ander sal seën, vestig. Sy plan is eenvoudig. Hy wil hê dat jy: 1) Sy liefde moet ontvang. 2) Moet leer om jouself op ‘n gebalanseerde en gesonde manier lief te hê. 3) Hom terug moet liefhê. 4) Sy liefde na die mense wat Hy in jou lewe stuur moet uitstrek. Dit vat tyd om te leer om hierdie dinge te doen – gewoonlik baie tyd! Verandering gebeur geleidelik soos jy aanhou om te bid, sy Woord te lees en daarvolgens op te tree (sien 2 Korintiërs 3:18). Hy is ‘…die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun…’ (Hebreërs 12:2 NLV). Die Bybel sê dat God sy ‘goeie werk’ in jou lewe begin het en dat Hy dit sal voltooi (sien Filippense 1:6). Vra dus vandag vir Hom om jou te help om dit te ontvang en gryp sy onvoorwaardelike liefde vir jou met ope arms aan.
Sielskos: Eseg 31-33; Matt 23:13-22; Ps 27; Spr 20:5-6
2019-09-03
Spreuke 22:6 NLV
‘n Ma wat rook dra die nikotien deur haar borsmelk aan haar baba oor. Sy besoedel onbewustelik haar kind met haar eie slegte gewoontes. Dis dieselfde wanneer ons dinge soos bitterheid, skuld en onsekerheid aan ons kinders oordra. Dis hoekom ons God se hulp nodig het; net Hy kan die wortel van die probleem genees en die siklus verbreek. Niemand anders kan soos jy jou kinders van geloof leer nie. Die fondasie moet deur jou gelê word en deur hulle opgebou word. Moet hulle ook nie net die doktrine leer nie, stel hulle aan jou geloof bloot. Vertel hulle Wie jou deur moeilike tye gedra het. Wanneer hulle dan self moeilike tye beleef, sal hulle met meer as ‘n stel godsdienstelike reëls bewapen wees, hulle sal dan self vertroue in God hê. Hou ook op om jouself oor foute in die verlede te stenig; ons almal het dinge wat ons wens ons anders gedoen het. Die waarheid is dat God die gevolge van jou verlede kan verander en tragedies in jou toekoms kan voorkom. Hy is die God van herstel, wat ‘…alle dinge nuut [maak]…’ (Openbaring 21:5 NLV). Hy kan reg uit die verkeerde en goed uit die slegte meebring; en jou in staat stel om sy wysheid en liefde oor jou kinders uit te giet. Dit is ‘n kans in ‘n leeftyd – gryp dit aan! Laat gister gaan en gryp môre vas. Jou kinders is jou toekoms; hulle word deur jou gevorm. Gee hulle ‘n smakie van die dinge van God wanneer hulle klein is en wanneer hulle groot word, sal die wêreld hulle nooit bevredig nie.
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Matt 23:1-12; Ps 112; Spr 20:1-4
2019-09-02
Handelinge 26:19 DB
Wanneer God jou ‘n visioen vir jou lewe gee, moet jy weet hoe om: 1) Dit te behou. Jou visioen vind binne ‘n sekere tydsraamwerk plaas: ‘…Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word…’ (Habakuk 2:3 NLV). Sommige van ons kan ‘n visioen kry, maar dit nie voltooi nie, omdat ons nie die ongemak en harde werk wat daarmee gepaard gaan, kan hanteer nie. Sommige van ons jaag voor God uit en ons visioen sterf ‘n stille dood. Jesus het gesê: ‘Wat uit ‘n menslike liggaam gebore is, is menslik, en wat uit die Gees gebore is, is gees’ (Johannes 3:6 NLV). Wanneer jou visioen uit die Gees gebore word, sal dit deur die Gees onderhou word. Wanneer dit egter uit die vlees gebore word, is jy op jou eie! 2) Dit weg te steek. Dis ‘n fout om jou visioen met mense wat dit nie kan waardeer nie, te deel. Josef het dit gedoen en in ‘n put beland. Nie almal sal jou sukses vier nie, veral nie as jou lig helderder as hulle s’n skyn nie. Vra dus vir God vir die vermoë om onderskeid te kan tref. 3) Dit water te gee. Lees hierdie twee Skrifgedeeltes versigtig en biddend: ‘…Maar Dawid het by die Here sy God krag ontvang’ (1 Samuel 30:6 NLV); ‘…julle… moet aanhou om julleself op te bou op die fondament van julle allerheiligste geloof…’ (Judas 20). Jy moet weet hoe om jouself geestelik aan te moedig en op te bou en hoe om jou visioen water te gee. God het vir Habakuk gesê: ‘…Skryf my antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters…’ (Habakuk 2:2 NLV). Skryf jou visioen op ‘n kaartjie en dra dit saam met jou. Begin optree soos die persoon wat jy verwag om te wees wanneer dit ‘n realiteit word – en dit sal ‘n realiteit word!
Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Matt 22:34-46; Ps 20; Spr 19:24-29
2019-09-01
Miga 6:8 NLV
Die profeet Miga het gevra: ‘As ‘n mens kom om die Here te aanbid, wat moet jy saambring? Moet ons God aanbid deur jaaroud kalwers te offer? Sal dit vir die Here aanvaarbaar wees as ons duisende ramme offer of tienduisend strome olyfolie aanbied? Sal dit Hom bly maak as ons ons oudste kinders offer om te vergoed vir ons sonde?’ (verse 6-7 NLV). Voel jy of jy nooit goed genoeg sal wees om God te behaag nie? Lyk godsdiens vir jou soos ‘n stel onmoontlik eise wat jou skuldig laat voel en ontwerp is om ‘n ver verwyderde godheid te paai wat daarvan hou om ons te laat rondskarrel? Dankie tog vir Miga, wat hierdie idee vir ons uit die weg geruim het deur te sê: ‘Nee, Hy het reeds gesê wat reg is…’ (vers 8 NLV). Omdat jy verlos is en met God se Gees gevul is, kan jy: 1) Reg laat geskied, selfs wanneer niemand anders dit doen nie. Hoekom? Om jou vrymoedigheid voor God in stand te hou! (sien 1 Johannes 3:21-22). Niks in jou lewe is belangriker as dit nie. 2) Liefde en trou bewys. Jesus het deur die lewe gegaan en mense opgehef. Sy woord vir jou vandag is: ‘…Ja, gaan nou, en doen dieselfde’ (Lukas 10:37 NLV). 3) Nederig voor God lewe. Wanneer God jou bevorder, sal jou grootste uitdaging wees om seker te maak dat Hy al die glorie ontvang. Elke goeie ding wat jy vandag het, is ‘n gawe van Hom af; probeer om dit te onthou! Die woord vir jou vandag is dus: ‘…Die Here verwag van julle om reg te laat geskied, om liefde en trou te bewys, en om nederig voor God te lewe.’
Sielskos: Jona 1:10-2:10; Matt 12:38-42
2019-08-31
1 Korintiërs 15:58 NLV
Die volgende keer wat jy verby ‘n McDonalds ry, dink aan hierdie stelling deur die stigter Ray Kroc: ‘Hou aan! Niks in die wêreld kan die plek van deursettingsvermoë inneem nie. Talent kan nie: Niks is algemener as onsuksesvolle mense met talent nie. Slimheid kan nie: Genieë wat nie beloon word nie is amper ‘n cliché. Opvoeding kan nie: Die wêreld is vol opgevoede verlatenes. Deursettingsvermoë en determinasie alleen is alomteenwoordig.’ Soos jy lees oor die geloofshelde wat in Hebreërs hoofstuk 11 genoem word, ontdek jy dat hulle leeus se monde gesnoer het, geregtigheid uitgedeel het, beloftes nagekom het en selfs dooies weer opgewek het. Dis ‘n skouspelagtige lys van prestasies. In die middel van die lys kom jy egter ook hierdie woorde teë: ‘…Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan’ (Hebreërs 11:34 NLV). Let op, hulle was aan die begin swak, maar het sterk geword. Hoe? Deur deursettingsvermoë en determinasie! Die probleem is dat ons nie altyd gewillig is om te veg vir dit wat ons wil hê nie. Sonder konflik kan daar egter nie oorwinning wees nie. Paulus het nie in die agtergrond gebly nie, hy het uitgestaan! Op sy eerste sendingsreis is hy gestenig en vir dood agtergelaat. Op sy tweede reis is hy in die tronk gegooi. Hoe het hy dit hanteer? Op een geleentheid het hy tot God gebid en Hom geloof totdat die tronkdeure oopgegaan het. Die woord vir jou vandag is dus: ‘…staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir God se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.’ As jy op soek is na ‘n doelstelling om volgens te lewe, neem hierdie een aan.
Sielskos: Eseg 22-23; Matt 22:23-33; Ps 142; Spr 19:21-23