Lewe vir dit wat die meeste saakmaak

2019-08-30
Job 1:21 NLV

Vanderbilt, Carnegie en Rockefeller was drie van die grootste bouers van Amerika. Nadat hulle Vanderbilt se begrafnis bygewoon het, het Carnegie en Rockefeller die res van hulle lewens spandeer om te kyk hoe baie geld hulle kon weggee om sodoende goed te doen. Die dood het ‘n manier om vir ons die kortstondigheid van die lewe te wys en ons perspektief te verander. Carnegie is in sy tagtigs oorlede en Rockefeller eers in sy negentigs, maar hulle altwee het gesterf! Ons almal sal sterf. Die vraag is of jy slegs ‘n lewe gaan maak en of jy ‘n verskil gaan maak? ‘n Besigheidsman het vir sy vriend gesê: ‘Ek dink nie ek is vir altyd op hierdie trapmeul vasgevang nie, maar ek is vir seker tans daarby betrokke. Dis die ou vraag van hoeveel geld genoeg is? Dis nooit genoeg nie. Drie jaar terug het ek gedink: ‘Net nog ‘n bietjie.’ Ek maak nou twee keer soveel geld en dis nog steeds nie genoeg nie.’ Salomo het geskryf: ‘Hoe meer jy besit, hoe meer word die eters wat jou help om dit te spandeer. Al voordeel wat jou rykdom vir jou inhou, is om te sien hoe dit deur jou vingers glip’ (Prediker 5:10 NLV). Het jy al ooit vir jouself gesê dat wanneer jy ‘n sekere hoeveelheid geld besit, dan sal jy gelukkig en veilig wees? Miskien, miskien nie. Wanneer jy op enige iets anders as God vertrou, lewe jy in vrees omdat jy altyd weerloos sal wees teenoor omstandighede wat jy nie kan beheer nie. Jesus het dit so gestel: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV).

Sielskos: Eseg 20-21; Matt 22:15-22; Ps 111; Spr 19:18-20

God het beloof om saam met jou te wees

2019-08-29
Josua 1:5 NLV

Die Bybel sê: ‘Nadat Moses… dood is, het die Here met Josua… gepraat. Hy het vir hom gesê: ‘Noudat my dienaar Moses dood is, moet jy gereedmaak om my volk deur die Jordaanrivier te lei na die land toe wat Ek vir hulle gee’ (verse 1-2 NLV). Josua en Israel het geweet dat Moses dood is. Hoekom het God hom dan daaraan herinner? Omdat Josua nie net ‘n leier nie, maar ‘n legende opgevolg het. Moses was vir veertig jaar lank Israel se sekuriteitskombers. Hy het ‘n hele generasie in ‘n enkele nag uit Egipte gelei. Hy het ‘n see met die swaai van sy kierie geskei. Hy het gebid en God het brood uit die hemel laat reën. Toe die nasie op die punt was om van die dors dood te gaan, het hy ‘n rots gekap en water aan hulle voorsien. Moses was volgens enige maatstaf ‘n sukses. Hoekom was hy egter so ‘n groot sukses? Was dit as gevolg van sy eie vindingrykheid? Sy eie kreatiwiteit? Sy eie slimheid? Nee, dit was as gevolg van God se teenwoordigheid in sy lewe. Moses was egter nou nie meer daar nie, wat slegte nuus vir Josua was. Die goeie nuus wat God is, het egter agtergebly. ‘Niemand sal teen jou bestand wees solank jy leef nie. Soos wat Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie.’ Jy sê: ‘Maar dis ‘n Ou Testamentiese belofte.’ Lees dan die volgende: ‘want al die beloftes van God in Christus Jesus is ‘n volmondige ‘ja.’ Daarom is dit ook deur Christus se toedoen dat ons, om God te verheerlik, daarop ‘Amen’ sê’ (2 Korintiërs 1:20 NLV). Vandag het God belowe om saam met jou te wees. Glo Hom!

Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Matt 22:1-14; Ps 103:13-22; Spr 19:17

Geestelik, maar tog steeds vleeslik

2019-08-28
Galasiërs 4:19 NLV

Wanneer jy ‘n Christen word, sal jy ontdek dat ‘n deel van jou in ‘n ‘totaal nuwe lewe’ (Romeine 6:4 NLV) wil wandel, terwyl ‘n ander deel van jou in jou ‘sondige natuur’ (Romeine 8:5 NLV) wil wandel. Jy sou ook ‘n slaaf van jou sondige natuur gewees het, as dit nie was vir die Heilige Gees wat in jou woon en jou met God se Woord uitdaag wanneer jy sekere dinge doen nie (sien Johannes 16:7-14). Die waarheid is dat jou nuwe hart steeds in jou ou liggaam leef. ‘n Skrywer sê: ‘Toe ek aan die begin Christus as my Verlosser aangeneem het, het ek gedink dat ander mense ‘n vlak van heiligheid bemeester het wat my altyd ontwyk het. Dus het ek my vleeslikheid met ‘n passie aangeval! Ek het nie besef dat alles wat gebore word, tyd nodig het om te groei nie. Ek het ‘n onmiddellike, allesomvattende metamorfose verwag wat my die tipe persoon sou maak wat God regtig kon liefhê. Ek verstaan nou dat sy liefde nie op ‘n merietestelsel uitgedeel word nie.’ Die Bybel sê: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom’ (Filippense 1:6 NLV). Paulus skryf: ‘Ag my kinders, totdat Christus julle hele lewe oorneem, het ek elke keer weer geboortepyne oor julle.’ God alleen weet die proses wat dit sal neem vir die Christus wat jou gered het om in jou gevorm te word! Ons almal beweeg op ons eie paaie teen ons eie pas, maar ons doelwit is dieselfde: om meer soos ons hemelse Vader te word. Om ons daar te kry is God se werk – laat Hom dus toe om dit te doen. Jou werk is om elke dag saam met Hom te stap, terwyl Hy dit doen.

Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Matt 21:33-46; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16

Wil jy regtig God se seën hê?

2019-08-27
Genesis 32:24 AFR53

Sommige van jou grootste gevegte in die lewe sal met God wees. Dis omdat daar ‘n ‘Jakob natuur’ in elkeen van ons is wat die wil van God teenstaan, en wat ons moet hanteer. Dieselfde God wat vir Jakob gevra het: ‘Wat is jou naam?’ sal ook vir jou vra om jouself te identifiseer. Totdat jy nie gewillig is om ‘n eerlike evaluasie te doen en eerlik te antwoord nie, kan jou lewe nie ten goede verander nie. God moes Jakob breek deur sy heup uit sy potjie te slaan. Jakob het sy seën dieselfde tyd as wat hy sy gebrek gekry het, ontvang. Vra jouself af: ‘Wil ek regtig God se seën in my lewe hê?’ Voor jy antwoord, stop eers en vra jouself die volgende vrae: 1) Is ek gewillig om dit wat ek wil hê, maar nie in God se wil vir my is nie, te laat gaan? 2) Begeer ek wat ander mense het, eerder as om vir God se voorsiening vir my te wag? 3) Hou ek aan om oor my regte te praat omdat ek nie myself heeltemal aan God oorgegee het nie? 4) Het ek ander mense waarlik lief en plaas ek hulle eerste? 5) Beoefen ek die daaglikse dissipline van gebed en Bybelstudie? 6) Laat ek God toe om my te bemark, eerder as om myself te probeer bevorder? 7) Is ek vreugdevol te midde van teenspoed en vertrou ek God om Jesus se karakter in my te herproduseer? 8) Neem ek risiko’s in gehoorsaamheid aan God in plaas van om aan vrees toe te gee en dit veilig te speel? Nie net sal jou antwoorde op hierdie vrae jou dissipelskap, jou rigting en jou lotsbestemming bepaal nie – dit sal ook jou vlak van seën bepaal.

Sielskos: Eseg 10-13; Matt 21:18-32; Ps 84; Spr 19:11

Het jy al jou lewensdoel ontdek?

2019-08-26
Romeine 8:28 NLV

As jy wil hê dat dinge reg vir jou in die lewe moet uitwerk, moet jy jou Godgegewe doel ontdek en jouself ten volle daaraan toewy. Die Bybel sê: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.’ Die fokuspunt van jou lewe moet wees om God se wil te ontdek en dit te doen. Daar is ‘n groot verskil tussen talent en doel. Jy is volgens God se doel geroep, nie volgens jou talent nie. Wanneer jy talentvol maar nie geroepe is nie, kan jy enige plek gemaklik wees. Dis omdat talent blind is; dit sien alle geleenthede as dieselfde. Wanneer jy egter bewus is van jou Godgegewe doel en dit jou lewe regeer, is daar dinge wat jy eenvoudig nie sal doen nie, omdat dit God se doel vir jou sal afwater, ontspoor of verslaan. Om volgens sy doel vir jou lewe te leef, stel jou in staat om slegs op die ontwikkeling van jou talente te fokus wat in lyn met God se wil vir jou lewe is. In plaas van om net vir God te vra om dit waarmee jy besig is te seën, vra Hom om sy doel vir jou lewe aan jou te openbaar. Wanneer jy dit ontdek het, sal jy geseën word, omdat sy plan reeds geseënd is! Kom ons lees dit weer: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.’ Het jy al God se doel vir jou lewe ontdek? Indien nie, kom in sy teenwoordigheid en bly daar totdat Hy dit aan jou openbaar. Dis die enigste manier hoe jy ooit ten volle vervul sal wees.

Sielskos: Eseg 5-9; Matt 21:12-17; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10

Jy sal beloon word

2019-08-25
1 Korintiërs 15:58 ABA

Dis maklik om te vergeet dat hierdie wêreld nie jou huis is nie, dat jy die ewigheid saam met Christus in ‘n huis wat spesiaal vir jou voorberei is, sal spandeer. Wanneer jy in die hemel kom, sal jy beloon word vir hoe goed jy jou Godgegewe taak hier op aarde vervul het. Die Bybel leer dit nie net vir ons nie, maar spel dit spesifiek vir ons uit. Hier is drie dinge wat jy in gedagte moet hou: 1) Jou grootste beloning sal in die hemel wees, nie op aarde nie. Ja, daar sal aardse belonings wees (sien Markus 10:30), maar God hou sy grootste belonings vir die dag wanneer ‘…die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom…’ en wanneer ‘Die mense wie se bouwerk standhou, deur God beloon [sal] word’ (1 Korintiërs 3:13-14 NLV). Dis jou diens nou wat jou status dan sal bepaal, so gee altyd vir God jou beste. 2) Jou beloning sal op kwaliteit, nie kwantiteit nie, gebaseer word. Ons word deur grootte en status beïndruk, maar vir God is opregtheid die belangrikste. Wanneer Hy jou beloon, sal dit gebaseer wees op wat jy met dit wat jy gehad het gedoen het en die hart en siel wat jy daarin gesit het. Dit beteken dat ons almal gelyke geleenthede het wanneer dit by belonings kom. 3) Jou beloning mag dalk uitgestel word, maar dit sal nooit ontken word nie. Wanneer jy jou diens gedoen het, gegee het en opgeoffer het en dan gewillig eenkant toe gestaan het sodat God al die heerlikheid kan kry, onthou: ‘…As julle vir die Here werk, dan sal julle nooit jammer wees daaroor nie.’ In die woorde van Jesus: ‘…jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon’ (Matteus 6:4 NLV).

Sielskos: 2 Kon 4:42-44; Mark 6:30-44