2019-08-24
Galasiërs 2:20 NLV
‘n Man wat ‘n antieke staanhorlosie met ‘n brons pendulum geërf het, het gestaan en kyk hoe die groot gewig heen en weer gestoot word. ‘Wat ‘n las is dit nie vir ‘n horlosie wat al honderd jaar oud is nie,’ het hy gedink. Een dag het hy toe die deurtjie oopgemaak en die pendulum van die haak afgehaal. ‘Hoekom het jy my gewig verwyder?’ het die horlosie gevra. Die man het geantwoord: ‘Dit was swaar en ek wou jou las ligter maak.’ Die horlosie het uitgeroep: ‘Maar wat jy nie verstaan nie, is dat dit die gewig is wat my laat aanhou werk!’ Paulus het gesê: ‘…Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God. Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf’ (verse 19-20 NLV). God laat ons toe om frustrasies en laste te dra sodat ons geduld en nederigheid kan ontwikkel en om ons meer afhanklik van Hom te maak. Hy weet dat dit die ‘gewig’ is wat ons laat aanhou. Dis hoekom Hy sê: ‘As die Here iemand liefhet, wys Hy hom wat Hy van hom verwag, al maak dit soms seer. Alle kinders word soms gestraf… Hy moet ons reghelp vir ons eie beswil, sodat ons uiteindelik net soos Hy heilig kan wees… (Hebreërs 12:6-11 DB). Watter ‘gewig’ gebruik God om Christus se natuur in jou te produseer? Paulus gaan voort deur te sê: ‘Daarom moet julle die… wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewens is…’ (Kolossense 3:5 NLV). In plaas daarvan dat jou aardse natuur jou regeer, moet jy die Heilige Gees vra om nuwe lewe in jou voort te bring.
Sielskos: Eseg 1-4; Matt 21:1-11; Ps 119:161-168; Spr 19:3-8
2019-08-23
Hebreërs 11:34 NLV
Probeer om altyd vir konstruktiewe kritiek oop te wees, maar moenie verwerping persoonlik opvat nie. Moenie toelaat dat jou opinie van jouself deur diegene wat nie jou beste kwaliteite en potensiaal kan raaksien, verkleur word nie. Suksesvolle mense het almal een ding in gemeen: hulle moes verwerping oorkom. In 1902 het ‘n jong skrywer ‘n brief van die digkuns redakteur van The Atlantic Monthly ontvang. Saam met die gedigte wat die agt-en-twintigjarige digter ingestuur het, was ‘n kort nota ingesluit: ‘Ons tydskrif het nie plek vir jou verse nie.’ Tog het hierdie jong man een van die geliefste en populêrste Amerikaanse digters van alle tye geword. Wie was hy? Robert Frost. In 1907 het die Universiteit van Bern die tesis van ‘n jong fisika student verwerp. Tog het daardie student voortgegaan om die wetenskaplike wêreld vir altyd te verander. Wie was hy? Albert Einstein. Toe ‘n sestienjarige student sy skoolrapport onvang het, was daar ‘n nota by wat gelees het: “‘n Opvallende gebrek aan sukses.” Hy het egter geweier om dit te aanvaar. Wie was hy? Winston Churchill. Na die lys van geloofshelde in Hebreërs 11:34, lees ons: ‘…Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan.’ Dit kan ook jou verhaal wees. Dawid, wat skouspelagtige mislukkings in die lewe ervaar het, het geskryf: ‘Die Here is my krag, my beskermer wat ek met my hele hart vertrou. Hy help my en my hart is vol vreugde…’ (Psalm 28:7 NLV). Die enigste mens wat jou in die steek kan laat, is die mens op wie jy leun. Leun dus minder op mense en meer op God.
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Matt 20:29-34; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2
2019-08-22
Deuteronomium 29:9 NLV
Twee mans was besig om te gesels toe een sê: ‘Weet jy wat die geheim tot sukses is?’ Die ander een het geantwoord: ‘Nee, wat is dit?’ Die eerste man het gesê: ‘Ek mag nie vir jou sê nie.’ ‘Hoekom nie?’ ‘Want dis ‘n geheim!’ Sukses, soos God dit definieer, is nie ‘n geheim nie. Hy sê herhaaldelik in sy Woord dat Hy wil hê dat ons suksesvol in die lewe moet wees. Net soos ons voorkoms egter verskil, so verskil God se plan vir sukses vir elkeen van ons. Sukses beteken eenvoudig dat jy God se wil vir jou lewe ontdek en dit doen. Dink aan hoë-definisie televisies (HDTV). Hierdie tegnologie maak ‘n bykomende honderd lyne resolusie op ‘n skerm moontlik, sodat die beeld feitlik lewensgetrou lyk. Die industrie noem dit ‘super helderheid.’ Of jy nou drie meter of ‘n halwe meter wegstaan, die beeld lyk heeltemal duidelik – geen lyne of skaduwees nie. Hoe sal ‘n suksesvolle lewe in hoë definisie lyk? Om daardie vlak van helderheid te kry, moet ons God se Woord bestudeer en uitvind hoe Hy oor sukses dink. ‘Daarom, wees gehoorsaam aan die voorwaardes van hierdie verbond sodat julle voorspoedig kan wees in alles wat julle doen.’ Toe God die mens geskep het, was een van die eerste dinge wat Hy vir hom gesê het om te doen, om vrugbaar te wees en te vermeerder (sien Genesis 1:28). In die boek Job lees ons die volgende woorde: ‘En al het jy met min begin, sal jy met baie eindig’ (Job 8:7 NLV). Godgegewe sukses kom egter met ‘n voorwaarde wat ononderhandelbaar is: God sal jou seën – sodat jy ‘n seën vir ander mense kan wees.
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Matt 20:17-28; Ps 119:137-144; Spr 18:22-24
2019-08-21
Efesiërs 3:10-11 NLV
Sewende, moet jy probeer om die probleem uit verskillende hoeke te sien. Paulus praat van die ‘allesomvattende wysheid van God.’ Om die woord ‘allesomvattend’ te verstaan, dink aan ‘n diamant. Elke keer wat jy dit beweeg, stel die lig verskillende fasette van sy skoonheid bloot. God se wysheid wat in die Bybel weergegee word, is so; dit stel verskillende aspekte en benaderings tot die probleem bloot. Daar is ‘n verhaal van ‘n vrou wat in die hof vir die moord op haar derde man moes verskyn. Die staatsaanklaer het vir haar gevra: ‘Wat het met jou eerste man gebeur?’ Sy het geantwoord: ‘Hy is dood aan sampioenvergiftiging.’ ‘En jou tweede man?’ ‘Hy is ook dood aan sampioenvergiftiging.’ Uiteindelik het die staatsaanklaer oor haar derde man begin uitvra. Sy het geantwoord: ‘Hy is dood aan ‘n kopbesering.’ ‘Hoe het dit gebeur?’ het die staatsaanklaer gevra. ‘Wel,’ het sy geantwoord, ‘hy wou nie die sampioene eet nie!’ Op ‘n ernstiger noot het die meeste probleme verskeie oplossings. Vuur dus jou Godgegewe kreatiwiteit aan, dink oor die probleem en maak jou hulpbronne bymekaar. Deel van hierdie hulpbronne is mense. Wie het al hierdie probleem opgelos? Hoe het hulle dit gedoen? Dikwels is die probleme rondom jou nie so noodsaaklik soos die mense rondom jou nie. Toe Josef met ‘n plan vorendag gekom het om Egipte van ‘n hongersnood te red, het die farao gesê: ‘…Aangesien God die betekenis van die drome aan jou bekendgemaak het, is daar niemand met meer wysheid in die land nie! Hiermee stel ek jou aan oor die projek en die paleis. Jy sal oor al my onderdane gesag hê…’ (Genesis 41:39-40 NLV). Met God se hulp kan jy oor die algemeen meer as een manier uitdink om die probleem op te los.
Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Matt 20:1-16; Ps 119:129-136; Spr 18:21
2019-08-20
Johannes 16:33 NLV
Sesdens, moet jy jou probleme in perspektief probeer hou. Jy het seker al die gesegde gehoor: ‘Ek het gekla omdat ek nie skoene het nie, totdat ek ‘n man sonder voete ontmoet het.’ In ‘n Peanuts strokiesprent, sien Snoopy hoe die familie om die tafel sit en aandete eet terwyl hy buite sy hondekos moet eet. ‘Kyk nou net,’ dink hy. ‘Almal eet lekker hoender, maar omdat ek ‘n hond is kry ek net hondekos.’ Dan vind hy skielik weer perspektief. ‘Natuurlik kon dinge erger gewees het – ek kon ‘n hoender gewees het!’ Dis gewoonlik ons perspektief wat bepaal hoe groot of moeilik ons probleem lyk. Die meeste moeilikheid waarvoor ons te staan kom is redelike onbeduidend in die groter prentjie. Wanneer ‘n vriend kanker kry of ‘n geliefde verloor, word ons herinner hoe kleinlik ons kwessies eintlik is. Die skrywer James Agee onthou hoe hy een keer ‘n gesprek met ‘n arm bejaarde vrou in die hartjie van die Appalache tydens die Groot Depressie aangeknoop het. Sy het in ‘n piepklein krot met grondvloere, geen elektrisiteit en geen binnenshuise riool, gewoon. ‘Wat sou jy doen,’ het hy gevra, ‘as iemand vir jou geld sou gee om jou te help?’ Die vrou het vir ‘n oomblik daaroor nagedink en geantwoord: ‘Ek sou dit seker vir die armes gee.’ Deur te besef dat daar mense rondom jou is wat baie groter probleme as jy het, bring dankbaarheid en perspektief mee. Jesus het gesê: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.’
Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Matt 19:15-30; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20
2019-08-19
Spreuke 16:9 NLV
Vyfdens, moenie net die probleem sien nie, wees ook op die uitkyk vir ‘n geleentheid. Toe president John Kennedy gevra is hoe hy ‘n oorlogsheld geword het, het hy geglimlag en geskerts: ‘Dit was maklik. Iemand het my boot gesink!’ Terwyl dit waar is dat sekere individue ‘n visie het en dit nastreef, is dit dikwels teenspoed wat die pad na sukses teer. Dit was die geval vir ‘n man wie se klein besigheid besig was om te misluk: ‘Ek het die balju vyf dollars ‘n dag betaal om die vonnis op my klein fabriek uit te stel. Toe het die man van die gasmaatskappy opgedaag en omdat ek nie my rekening kon betaal nie, het hy my gastoevoer afgesny. Ek was in die middel van baie belangrike eksperimente en dit het my so kwaad gemaak dat ek begin oplees het oor gastegnieke en besluit het om te probeer uitvind of elektrisiteit nie gebruik kon word om gas te vervang nie.’ Daardie man was Thomas Edison, die stigter van General Electric. Probleme wakker kreatiwiteit aan. As jy besluit om wakker te word en op te staan, sal probleme jou aanpor om jou Godgegewe vermoëns te gebruik, jou hulpbronne bymekaar te skraap en vorentoe te beweeg. Die waarheid is dat ons sonder sekere probleme in die verkeerde plek, saam met die verkeerde mense, besig met die verkeerde dinge, sal opeindig. “‘n Mens beplan sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming.” Uit pyn kom doelwitte en uit verwoesting kom rigting. Praat dus met God oor jou probleem; laat Hom toe om jou die potensiaal wat dit inhou en dit wat Hy vir jou in gedagte het, te wys.
Sielskos: Gal 4-6; Matt 19:1-14; Ps 119:113-120; Spr 18:10-12