Hoe om probleme op te los (4)

2019-08-18
Spreuke 14:15 NLV

Vierdens, evalueer die probleem versigtig en biddend. Koning Salomo sê dat ons tyd moet neem om al die feite te evalueer en nie impulsief moet optree nie: “‘n Dwaas glo alles wat hy hoor. ‘n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.” ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom’ (Spreuke 18:13 NLV). Wanneer pasiënte in pyn is, wil hulle vinnige verligting hê. Die dokter weet egter dat die pyn korrek gediagnoseer moet word om sodoende die regte medikasie voor te skryf en die pasiënt weer heel te maak. Vir jou beteken dit dat jy jouself moet afvra: ‘Wie of wat het hierdie probleem veroorsaak? Maak ek ‘n berg van ‘n molshoop? Het dit die potensiaal om ware skade te veroorsaak, of sal ek volgende week hierdie tyd daarvan vergeet het?’ As jy nie die probleem reg diagnoseer nie, sal jy moet teruggaan en oor begin en dan sal die oplossing dalk pynliker en duurder wees. Mike Leavitt, die voormalige Amerikaanse minister van Gesondheid en Menslike Dienste, het gesê: ‘Daar is ‘n tyd in die leeftyd van elke probleem, waar dit groot genoeg is om gesien te word, maar nog klein genoeg is om op te los.’ Die sleutel is om die regte tyd te vind en geduldig te wees wanneer jy die oplossing implementeer. Onervare mense verwag dat die probleem onmiddellik opgelos sal wees. Ervare mense is egter soos die meesterbeeldhouer wat die marmerblok met bestendige hale van die hamer takel. Anders as die amateur wat die blok met een haal in twee kap, weet hy dat hy met aanhoudende werk uiteindelik sukses sal behaal.

Sielskos: Gen 6:9-8:4; Matt 24:37-51

Hoe om probleme op te los (3)

2019-08-17
Nehemia 6:11 NLV

Derdens, moet jy die probleem aanpak. Toe Nehemia deur sy vyande gedreig is, het sommige van sy vriende hom aangeraai om in die tempel te gaan wegkruip. Hy het egter geantwoord: ‘…Behoort iemand soos ek vir gevaar weg te vlug? Behoort iemand soos ek in die tempel te skuil om my lewe te red? Nee, ek sal nie ingaan nie!’ Gevolglik het Nehemia Jerusalem se mure in twee maande herbou – ‘n ongelooflike prestasie. Jare gelede het ‘n gewilde televisieadvertensie oor verslawing en mishandeling ‘n tipiese familie aan huis gewys. Die kinders was besig om te speel, die ma het gestofsuig en die pa was besig om die koerant te lees. Hulle het soos ‘n normale gesin gelyk, behalwe vir een probleem: daar was ‘n groot olifant saam met hulle in die kamer. Selfs al kon hulle sien dat dit hulle lewens bemoeilik het en dat hulle rondom die olifant moes werk, het hulle dit geïgnoreer en gemaak asof dit nie bestaan het nie. Dis van toepassing op probleme wat ons nie wil aanspreek nie, dus maak ons of alles reg is. Ons reageer tipies op vier maniere op ‘n probleem: 1) Ons vlug daarvan weg: Ons probeer daarvan ontsnap, maar die probleem volg ons altyd. 2) Ons probeer daarvan vergeet: Ons hoop dit sal weggaan as ons nie daaraan dink nie. Probleme raak egter gewoonlik erger as daar nie aandag aan hulle gegee word nie. 3) Ons probeer dit beveg: Dit wat ons probeer weerstaan, bly gewoonlik ‘n probleem. 4) Ons pak dit aan. Ons kyk realisties na die probleem en hanteer dit. As ons wys is, reik ons na God uit vir hulp en verklaar: ‘…Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie…’ (Hebreërs 13:6 NLV).

Sielskos: Gal 1-3; Matt 18:21-35; Ps 119:105-112; Spr 18:9

Hoe om probleme op te los (1)

2019-08-15
Numeri 21:4 NLV

Om die Beloofde Land te bereik, moes die Israeliete ‘…met die pad na die Rietsee toe [reis] om by Edom verby te kom’ (vers 4 NLV). Dit het die reis baie langer gemaak en ‘…Langs die pad het hulle ongeduldig begin word.’ Daar is ‘n les hier uit te leer. Die beste manier om ‘n probleem te vermy is om dit op te los. Tussen jou en jou ‘beloofde land’ sal jy voor kwessies te staan kom wat opgelos moet word. Om struikelblokke te herken vir wat hulle is – tydelike toetse van jou voornemens, vermoë en geloof in God – sal jou niks baat as jy nie weet hoe om hulle te hanteer nie. Kom ons bespreek dus probleemoplossing. Eerstens, besef dat jy altyd probleme sal hê. Al Davis, die eienaar van die Oakland Raiders voetbalspan, het gesê: “‘n Goeie leier sien probleme nie as iets spesiaals nie. Hy sien hulle as normaal. As jy werk, moet jy probleme verwag. As jy ‘n familie het, moet jy probleme verwag. As jy jou by jou eie sake bepaal en net ontspan, moet jy probleme verwag. As alles volgens plan verloop, moet jy aangenaamd verras wees. As dinge nie volgens plan verloop nie en jy het daarvolgens beplan, sal jy nie so gefrustreerd word nie. ‘n Verwagte probleem is ‘n geleentheid.” Paulus het gesê: ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Die probleem wat jou vandag in die gesig staar, is net ‘n geleentheid vir God om dit wat jy nie self kan doen nie, vir jou of deur jou te doen.

Sielskos: Rig 16:1-19:15; Matt 18:1-9; Ps 119:89-96; Spr 18:1-5

Wanneer die familie versplinter

2019-08-14
Kolossense 3:13 NLV

Wanneer ‘n skeisaak jou familie versplinter, hoe kan jy jou kinders help? Eerstens, hou op praat oor wie hulle nie aanvaar nie en omring hulle net mense wat doen. Jou liefde as ouer kan ‘n lang pad stap om te vergoed vir iemand anders se verwaarlosing. Verduidelik dat mense soms saam groei, maar ander kere verby mekaar groei. Herinner hulle dat ‘Ken’ en ‘Barbie’ net poppe is en berei hulle voor om in die regte wêreld te lewe. Moedig hulle aan om sterk, nie selfbejammerend nie, te wees. Soos hulle ouer word, leer hulle dat indien hulle hulself moet verander om by iemand te pas, dit nie die regte persoon vir hulle is nie. Wanneer liefde reg is, kan dit met sterk- en swakpunte onder dieselfde dak woon, want ‘…sulke liefde maak baie sondes toe’ (1 Petrus 4:8 NLV). Ware liefde bedek ‘n fout soos ‘n versekeringspolis ‘n bestuurder in ‘n ongeluk dek. Moenie jou kind as ‘n wapen gebruik om mekaar te na te kom nie. Maak seker dat hulle verstaan dat jy die een is wat skei, nie hulle nie. Verduidelik dat iemand dalk ongeskik as ‘n eggenoot is, maar steeds ‘n goeie ouer kan wees. Wanneer jy die blaam wegvat, neem jy die skande weg en kan almal vorentoe beweeg. Bitterheid is ‘n dief, maar jy hoef nie toe te laat dat dit jou vrede, jou kreatiwiteit, jou lied of jou hoop vir ‘n beter toekoms steel nie. Begin vandag ‘n nuwe lewe vir jou en jou kinders bou. God se belofte is: ‘Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:19 NLV). Jy kan dus oor begin en begin herbou.

Sielskos: Rig 12-15; Matt 17:14-27; Ps 119:81-88; Spr 17:27-28

Wees altyd eerlik

2019-08-13
Kolossense 3:9 NLV

Probeer om die volgende vrae eerlik te beantwoord. Sal jy lieg om uit ‘n moeilike situasie te kom? Om iemand te beïndruk? Om die gevolge van jou aksies te probeer vermy? In ‘n groot opname is mense gevra: ‘Wat sal jy bereid wees om vir 10 miljoen dollars te doen?’ Vyf-en-twintig persent het gesê dat hulle bereid sal wees om hulle families te verlaat. Drie-en-twintig persent het gesê dat hulle gewillig sou wees om vir een week ‘n prostituut te word. Sewe persent het gesê dat hulle gewillig sou wees om ‘n vreemdeling te vermoor. Is jy geskok? Miskien dink jy dat jy dit nooit sou doen nie. Moenie so vinnig oordeel nie – die opname het gewys dat Christene amper net so gewillig as nie-Christene is om op hulle belastingopgawes te kul, om ‘n siekdag by die werk te neem wanneer hulle nie siek is nie, om hulle maat te verkul en om iemand anders se karakter af te kraak om hulself te laat beter lyk. Dink daaroor – het jy onlangs een van hierdie dinge gedoen? As jy het, lees hierdie volgende woorde versigtig en biddend: ‘Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy leefstyl soos klere uitgetrek en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos die Skepper te lyk (verse 9-10 NLV). Gee veral aan die woorde ‘en die nuwe mens aangetrek’ aandag. Eerlikheid is ‘n kledingstuk wat jy elke dag moet aantrek. Dink aan die waarheid. Staar die waarheid in die gesig. Wees lief vir die waarheid. Streef die waarheid na. Stap in die waarheid. Neem vandag die besluit dat jy altyd eerlik sal wees.

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Matt 17:1-13; Ps 119:73-80; Spr 20:25; Pred 5:4-6

Jy moet rus

2019-08-12
Markus 6:31 NLV

Hoekom het Jesus tyd geneem om te rus? Sodat wanneer Hy gewerk het, Hy op sy beste was. Vandag wil Hy hê dat jy moet weet dat as jy nie ‘n breuk neem nie, jy nie een sal kry nie. Die eerste struikelblok wat jy sal moet oorkom, is skuldgevoelens. Dis wat van ons werksverslaafdes maak. Ons voel skuldig en sê vir onsself: ‘Daar is net soveel om te doen.’ Jesus het die lewe anders benader: ‘Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat [Hy en sy dissipels] selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Hulle het toe per boot na ‘n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees’ (verse 31-32 NLV). Geen tyd om te eet, te veel mense wat kom en gaan, geen tyd om na jouself om te sien nie – beskryf dit jou lewe tans? Jy brand nie uit wanneer jy binne die wil van God lewe nie! Jesus het gesê: ‘Want my juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra’ (Matteus 11:30 NLV). Die rede hoekom Hy dit kon sê, is omdat mense nie sy agenda bepaal het nie, maar sy hemelse Vader het. Die Psalmdigter het gesê: ‘Hy laat my rus in groen weivelde…’ (Psalm 23:2 NLV). Sal jy nie eerder uit keuse na die park toe gaan as onder dwang na die hospitaal nie? God sal jou nie soontoe stuur nie, maar jou eie gebrek aan wysheid kan. Vandag sê Jesus vir jou dat jy moet rus en as jy wys is, sal jy dit doen!

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Matt 16:13-28; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26