Laat Jesus vir jou ‘sê wie jy regtig is’

2019-08-11
Matteus 16:18 DB

Petrus die apostel was eers Petrus die visserman. Sy pa het ‘n vloot vissersbote besit en Petrus het heel waarskynlik gedink dat hy eendag die familiebesigheid gaan oorneem. Wanneer die Here egter ‘n plan vir jou lewe het, gaan Hy jou kom opsoek! Dink na oor hierdie fassinerende interaksie tussen Jesus en Petrus: “Jesus vra hulle toe trompop: ‘En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?’ Simon Petrus het nie ‘n oomblik gehuiwer nie: ‘U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.’ Daarop sê Jesus: ‘Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak. Noudat jy gesê het wie Ek is, gaan Ek ook vir jou sê wie jy regtig is…'” (verse 15-18 DB). Daar is ‘n belangrike les hier uit te leer. Wanneer jy ontdek wie Jesus is en wat Hy vir jou gedoen het, ontdek jy ook wie jy is en wat Hy jou geroep het om vir Hom te doen. Daar is meer aan die lewe as om veertig uur ‘n week vir veertig jaar lank te werk, om met ‘n goue horlosie af te tree en met jou kleinkinders te speel. Net soos jou DNA van elke ander persoon op die aarde verskil, so verskil jou persoonlike lotsbestemming. Om dit egter te verstaan en te vervul, moet jy ‘van bo gebore word’ (sien Johannes 3:7). Jesus het by Lasarus se graf gesê: ‘…Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook’ (Johannes 11:25 NLV). Die Een wat Lasarus uit die dood opgewek het, kan jou ook geestelik lewendig maak. Soek Hom en Hy sal ook vir jou ‘sê wie jy regtig is.’

Sielskos: Jos 2:1-24; Hand 9:20-30

Hiervoor is jy geroep

2019-08-10
1 Petrus 2:21 NLV

Te midde van sy probleme, het Job gesê: ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar’ (Job 23:10 NLV). Goud is diep in die aarde weggesteek en dit neem ure se harde werk om dit na die aarde se oppervlak te bring. Netso is die kruisiging van die vlees folterend en tydrowend en wanneer jy Jesus volg, gee jy vir Hom ‘myningsregte.’ Satan probeer om jou skat onder herinneringe van sonde en mislukkings in die verlede te begrawe, maar God hou aan om jou te myn omdat Hy die goud soek! Joni Eareckson Tada het ‘n kwadrupleeg na ‘n duikongeluk geword. Sy skryf: ‘Dikwels maak ek ses-en-twintig verskillende aanpassings in my rolstoel in ‘n enkele dag. Soms dink ek dat ek myself en my vriende gaan mal maak. Dis dan wanneer ek onthou: ‘Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus… is julle voorbeeld. Trap in sý spore.’ Die lewe is veronderstel om moeilik te wees. Jesus het gesê dat ons in hierdie wêreld swaarkry sal beleef (sien Johannes 16:33). Dat dit toegelaat word – nee as gawe gegee is – dat ons nie net in Christus sal glo nie, maar vir Hom sal ly. Soms wil ek nie hierdie gawe hê nie, maar as Jesus gehoorsaamheid deur al die dinge waaronder Hy gely het geleer het, dan kan ek uit die ses-en-twintig aanpassings tot my sittende posisie leer. God begeer intimiteit met ons – op sy voorwaardes – en daardie voorwaardes verg van ons om te ly soos sy Seun gely het. Die volgende keer wat jy deur ‘n teleurstelling gekneus word, onthou: God vra jou om in Jesus se voetspore te trap.’

Sielskos: Rig 4-6; Matt 16:1-12; Ps 119:57-64; Spr 17:22

‘Ploeter’ voort en jy sal suksesvol wees

2019-08-09
1 Korintiërs 15:58 NLV

Toe William Carey die moontlikheid om as pioniersendeling na Indië toe te gaan begin oorweeg het, het sy pa uitgewys dat hy geen akademiese kwalifikasies vir die werk gehad het nie. Carey het geantwoord: ‘Ek kan voortploeter.’ En hy het. Toe hy na Indië gegaan het, het ‘n tipiese dag as volg gelyk: Hy het 5:45 opgestaan om die Hebreeuse Bybel te lees en Bybelstudie te doen. Teen 7:00 het hy die familie in gebed in Bengaals gelei en die Persiese taal en Hindoestani saam met ‘n private onderwyser bestudeer. Na ontbyt het hy Sanskrit na Engels vertaal. Teen 10:00 is hy na die kollege toe waar hy tot 14:00 gedoseer het, waarna hy tekste na Bengaals toe vertaal het tot dit tyd vir aandete was. Na ‘n vroeë aandete, het hy weer Sanskrit vertaal en die Telugu taal bestudeer totdat hy om 19:30 gaan preek het. Hy het teen 21:00 teruggekeer om vir nog twee ure vertaalwerk te doen, briewe aan sy vriende in Engeland te skryf en ‘n hoofstuk in sy Griekse Nuwe Testament te lees. Daar word geglo dat Carey meer as enigiemand anders gedoen het om die boodskap van Christus na Indië te neem en die kerk daar te vestig. Hy het dit gedoen deur (volgens hom) voort te ploeter! Hier is twee Skrifgedeeltes waarop jy kan staan: 1) ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV). 2) ‘Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd’ (1 Korintiërs 15:58 NLV). Hierdie Skrifgedeeltes kan as volg opgesom word: Ploeter voort en jy sal suksesvol wees.

Sielskos: Rig 1-3; Matt 15:29-39; Ps 119:49-56; Spr 17:18-21

Ten spyte van omstandighede, is God by jou

2019-08-08
Hebreërs 13:5 NLV

Vyf keer in een hoofstuk, Genesis 39, sê die Bybel: ‘Die Here was met Josef.’ Dit het hom egter nie van jaloesie of verraad, of Potifar se vrou, of haar leuens wat hom tronk toe gestuur het, gevrywaar nie. Die Bybel sê: ‘Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ‘n ysterhalsband gesit tot sy woorde waar geword het, en die Here se woorde bevestig is’ (Psalm 105:18-19 NLV). Josef het dit nie geweet nie, maar hy was besig om opgelei te word om te regeer. God wou sien of hy vertroue oor begeerte sou kies en gehoorsaamheid oor gerief sou kies. Dis wanneer jy terugkyk wat jy besef hoekom een van God se name ‘Verlosser’ is. Hy kan alles waardeur jy is verlos – die goeie, die slegte en die lelike. Die les wat Josef geleer het is as volg: God is by jou, selfs wanneer daar geen bewys is dat Hy daar is nie. Hy stap langs jou. Hy werk saam met jou. Hy gaan vooruit om situasies in jou guns te herrangskik. Sy Woord sê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Ons kan dus met vrymoedigheid sê: ‘…Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?’ (Hebreërs 13:5-6 NLV). Dinge word egter in God se plan soms erger voordat dit beter word. Dis wanneer jy jou greep moet versterk en harder op God moet leun: ‘Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle groot beloning in. Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het’ (Hebreërs 10:35-36 NLV).

Sielskos: Rut 1-4; Matt 15:15-28; Ps 119:41-48; Spr 17:17

Wat is goddelikheid?

2019-08-07
Psalm 42:2 NLV

Waaraan dink jy wanneer jy die woord goddelikheid hoor? Godsdienstige reëls en regulasies? Christene wat vinger wys en sê: ‘Jy mag nie’? G’n wonder so baie mense vermy ons nie! Is goddelikheid moontlik in ‘n era van ongeduldige bestuurders en internetaankope? Of moet ons na die dae van Little House on the Prairie terugkeer om goddelik te wees? Die feit is dat goddelikheid nie ‘n kultuur is nie, maar ‘n hartshouding. Dit het min te doen met hoe ‘n persoon lyk (alhoewel dit moeilik vir sommige van ons is om verby dit te kyk), of watse kar hulle bestuur of wat hulle besit. Dit het niks te doen met ons persoonlike voorkeure of die standaarde wat sommige van ons op ander mense wil afdwing nie. Die Bybel sê: ‘…Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na gedagtes en bedoelings’ (1 Samuel 16:7 NLV). Hoe meer jy daaraan dink, hoe meer word jy oortuig dat ‘n opregte goddelike persoon iemand is wie se hart sensitief vir God is, wat God en sy Woord ernstig opneem en wat meer van Hom begeer. Dawid het uitgeroep: ‘Soos ‘n wildsbok smag na water, so smag ek na U, o God.’ Dis dit! Jy kan ryk of arm, jonk of oud, stedelik of plattelands, volgeling of leier, aktief of stil, getroud of ongetroud wees – niks daarvan maak saak nie. Wat saak maak is om ‘n begeerte te hê om God intiem te ken, om Hom te gehoorsaam en saam met Hom die pad te stap. Vra jouself dus af: ‘Wil ek goddelik wees?’ As jy nie van die antwoord hou nie, gaan op jou knieë en vra God om jou hart en houding te verander.

Sielskos: Obad; 2 Joh; Matt 15:1-14; Ps 119:33-40; Spr 17:16

Jou God is onbeperk

2019-08-06
Jeremia 32:17 NLV

God kan enige probleem oplos, omdat Hy nie aan menslike beperkinge gebonde is nie: 1) Hy word nie deur tyd beperk nie. God kan in ‘n oomblik doen wat normaalweg jare sal neem om te doen. ‘Hy stuur sy bevele na die aarde, sy woorde word vinnig versprei’ (Psalm 147:15 NLV). Hy kan die natuurlike gang van jou herstelproses bespoedig; Hy kan jou oes van seën versnel sodat jy met een hand saai en met die ander hand oes (sien Amos 9:13). 2) Hy word nie deur gebrek beperk nie. Toe die Israeliete Egipte verlaat het, het God hulle beveel om die silwer en goud van hulle slawedrywers te leen, omdat die Egiptenaars hulle 400 jaar se agterstallige lone, plus rente, geskuld het! God het die kettings van gebrek gebreek en het hulle alles teruggekry wat van hulle gesteel is. God kan alles en meer wat Satan van jou gevat het, vir jou teruggee (sien Sagaria 9:12). 3) Hy word nie deur die Vyand beperk nie. Moses het vir die Israeliete gesê: ‘…Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie’ (Eksodus 14:13 NLV). Hoe hanteer God Satan se mag? Deur joune te verhoog! ‘…die Gees wat in julle woon, [is] magtiger as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). Satan het Jesus na die toppunt van die tempel geneem, maar hy kon Hom nie daar afstamp nie – en hy kan jou ook nie oor die kant stamp nie. 4) Hy word deur niks, behalwe twyfel, beperk nie. Hy het ‘n byl laat dryf, ‘n donkie laat praat en ‘n lyk na vier dae weer lewendig gemaak, dus het jy nie ‘n probleem wat Hy nie kan oplos nie. Staan dus op en verklaar: ‘Niks is te moeilik vir U nie.’

Sielskos: 1 Pet 1-5; Matt 14:22-36; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15