2019-08-05
Johannes 14:2 NLV
‘n Dame het twee ruikers bestel – een vir ‘n vriend wie se besigheid na ‘n nuwe perseel skuif en die ander vir die begrafnis van ‘n vriend wat pas oorlede is. Ongelukkig het die bloemis ‘n fout met die bestelling gemaak. Gevolglik het die vriend wie se besigheid geskuif het ‘n ruiker ontvang met ‘n kaartjie wat sê: ‘Met innige meegevoel,’ terwyl die oorledene se ruiker ‘n kaartjie gehad het wat sê: ‘Geluk met jou nuwe plek!’ As verloste kind van God, sal jy eendag die woorde: ‘Geluk met jou nuwe plek!’ hoor. Die hemel is ‘n voorbereide plek vir voorbereide mense. Die Bybel praat van: ‘…elke gemeenskap in die hemel en op die aarde’ (Efesiërs 3:15 NLV). Miskien wag geliefdes vir jou daar en sien jy uit om hulle weer te sien. Miskien wonder jy of ons mekaar sal herken. Sal ons minder in die hemel weet as dit wat ons op aarde geweet het? Nee. Paulus sê: ‘…Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan…’ (1 Korintiërs 13:12 NLV). Nie net sal ons mekaar ken nie, ons sal saam eet en mekaar se geselskap vir alle ewigheid geniet. Dink net – wonderlike kos sonder enige cholesterol! Geen siektes meer nie. En die beste van alles, geen hartseer meer nie want: ‘[God] sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het eenvoudig verbygegaan’ (Openbaring 21:4 NLV). Is jy op ‘n plek in jou lewe waar jy seker is dat jy hemel toe gaan wanneer jy sterf? Jy kan hierdie versekering ontvang deur jou vertroue in die Een wat vir al jou sondes gesterf het – en jou die gawe van ewige lewe aanbied – te plaas.
Sielskos: Deut 32:29-34:12; Matt 14:13-21; Ps 119:17-24; Spr 17:7-10
2019-08-04
Spreuke 23:7 AFR53
Totdat Roger Bannister in 1954 op die toneel verskyn het, het sommige kundiges gesê dat dit fisies onmoontlik was om die vier-minuut myl te verbeter. Hulle het gedink dit is nog nie gedoen nie, omdat dit nie gedoen kan word nie. Bannister het dit egter nie net verbeter nie, hy het ‘n nuwe tendens begin. Die geskiedenis hou aan om te bewys dat rekords gemaak is om gebreek te word. Met God ook nog aan jou kant, skiet jou kanse op sukses deur die dak! Paulus het gesê: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). Het jy al ooit opgeleide vlooie in ‘n fles gesien? Jy het nie ‘n deksel nodig om hulle binne te hou nie. Dit gebeur omdat hulle afrigter hulle aan die begin in ‘n fles met ‘n deksel sit. Die vlooie spring op en af en stamp hulle koppe teen die deksel. Uiteindelik, na baie hoofpyn, hou hulle op spring en raak hulle in hulle nuwe gemaksone rustig. Wanneer die deksel egter afgehaal word, word hulle deur hulle denkwyse gevange gehou wat sê dat hulle net so hoog, en nie hoër nie, kan spring. Wat ‘n prentjie skets dit nie! Jesus het gesê: ‘Hy het My gestuur om aan te kondig dat die gevangenes vrygelaat sal word…’ (Lukas 4:18 NLV). Gevangenes waarvan? Gevangenes van foute in die verlede, harde kritiek, verlammende vrese, verkeerde leerstellings en van fisiese, emosionele en geestelike stremmings. Met ander woorde, Jesus het gekom om die deksel van jou denkwyse af te haal! Maak nie saak hoe sleg jou verlede is nie, die toekoms wat Hy vir jou in gedagte het, is beter – en dis werd om dit na te streef en daarvoor te veg.
Sielskos: 1 Sam 17:4-51; Ef 6:10-18
2019-08-03
Eksodus 33:16 ABA
Die wêreld verwag dat Christene anders sal wees as diegene wat nie bely dat hulle Jesus ken nie. Dis hoe dit moet wees. Gelowiges moet ‘n voorbeeld stel deur ander te dien en liefde aan hulle te bewys. Jesus het gesê: ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). Toe die Israeliete in die Ou Testament God se verbond verbreek het deur die goue kalf te aanbid, het Moses by God gepleit om hulle nie te verlaat nie. ‘Hoe sal ons weet dat U tevrede is met ons, met my en met u volk, as U nie met ons saamgaan nie? Ek en u volk sal weet ons is anders as al die volke op die aarde as U self saam met ons gaan.’ Wat Israel uniek gemaak het, was die bewyse van God se teenwoordigheid soos Hy saam met hulle gereis het. God se teenwoordigheid moet ook jou uniek maak! Toe Jesus vir sy dissipels gesê het: ‘…Ek is vir altyd by julle…’ (Matteus 28:20 NLV), het Hy sy teenwoordigheid deur die Heilige Gees wat binne in hulle woon en hulle bemagtig, gedemonstreer. Soveel so, dat hulle vyande gesê het dat hulle ‘…die hele wêreld in beroering bring…’ (Handelinge 17:6 NLV). Soos pastoor Mark D. Roberts egter opmerk: ‘Dit gee ons nie rede om trots te wees of te spog nie. God se teenwoordigheid is ‘n uitdrukking van sy genade, nie van ons waardigheid nie. Dit gee ons die moed om volgens sy koninkryk te leef en om ander in sy naam te dien. As God aan ons kant is, wat moet ons dan vrees?’ Dank God dus vandag vir sy teenwoordigheid in jou lewe en besluit om dit nooit as vanselfsprekend te aanvaar nie.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Matt 14:1-12; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6
2019-08-02
2 Timoteus 2:2 NLV
Hier is ‘n bietjie wysheid wat jou sal help om die resultate wat jy in die lewe wil hê, te kry: Word ‘n goeie kommunikeerder. Of jy nou in die kerk, die werkplek of die huis is, jy moet tyd neem om duidelik met mense te kommunikeer om sodoende sukses te behaal. Beter kommunikasie is een van die dinge wat omtrent elke werknemer wens hulle met hulle base kan hê. Dis egter nie die geval van Sally Frame Kasaks, wat die besturende direkteur van die Ann Taylor klerewinkels geword het nie. Sy het ‘n nuwe klem op kwaliteit produkte en meer en beter kommunikasie met werknemers op alle vlakke teweeg gebring. Binne ‘n jaar, het hulle verkope met meer as 30 persent gestyg. Paul Kahn het ‘n soortgelyke agenda gehad toe hy die voorsitter en besturende direkteur van Safeguard Services geword het. Hy het die interne strategie van die maatskappy verander om drie dinge te beklemtoon: 1) Oop deure. Leierskap het meer toeganklik vir werknemers geword. 2) Sigbaarheid. Richard Interdonato, die bedryfshoof van die maatskappy, het omtrent 40 persent van sy tyd spandeer om net met werknemers te gesels. 3) Gedeelde informasie deur middel van ‘n daaglikse nuusbrief en gereelde forums met werknemers. Dit het gewerk. Binne ‘n jaar het hulle wins met 13.1 persent gestyg. Wanneer jy aan die bopunt van die leer is, moet jy altyd die kwessies wat belangrik vir die mense onder jou is, onthou. Hoekom? Omdat jou visie, hoe groot dit ook al mag wees, nie sonder die samewerking en die toewyding van die mense onder jou, vervul sal word nie. Paulus, wat ‘n besonderse goeie kommunikeerder was, het geskryf: ‘…Leer hierdie groot waarhede aan betroubare mense wat bekwaam is om dit aan ander deur te gee.’
Sielskos: Deut 28-29; Matt 13:47-58; Ps 119:1-8; Spr 17:3
2019-08-01
Psalm 43:5 NLV
Daar word geskat dat die gemiddelde dertigjarige vandag tien keer meer as hulle ouers en twintig keer meer as hulle grootouers geneig is om aan depressie te ly. Die meeste van hulle sal egter ook nie hulp daarvoor soek nie, omdat hulle glo dat depressie ‘n persoonlike swakheid is. Kom ons tref egter ‘n belangrike onderskeid. As jy klinies depressief is, kan dit deur ‘n chemiese wanbalans in jou liggaam veroorsaak word en kan ‘n dokter jou help. Ons praat hier van om in ‘n siklus van hartseer en hopeloosheid vasgevang te wees. As dit is waar jy vandag is, het jy wysheid nodig om te herstel. Jou situasie sal nie deur ‘n paar clichés of ‘n opbeurende preek van ‘n vriend opgelos word nie. Wat jy nodig het, is ‘…die wysheid wat van Bo kom…’ (Jakobus 3:17 NLV). Nadat hy vuur uit die hemel afgeroep het, het Elia ‘…toe onder ‘n besembos gaan sit en gebid dat hy liewer moet sterf…’ (1 Konings 19:4 NLV). Gelukkig het hy na die regte bron toe gedraai. ‘… Maar ‘n engel het hom aangeraak en gesê: ‘Staan op en eet!’ (sien 1 Konings 19:3-5 NLV). God sal dalk nie vir jou ‘n engel stuur nie, maar Hy sal jou antwoord, jou oplig en jou herstel. Die Psalmdigter het gevra: ‘Hoekom is ek so neerslagtig? Hoekom so verontrus? Ek sal op God vertrou! Ek sal Hom weer prys, Hy is my redder en my God!’ Met wie het Dawid gepraat? Met homself! Eers het hy met God oor sy probleem gepraat; dis wat jy in gebed doen. Daarna het hy geluister wat God oor sy probleem sê; dis wat jy doen wanneer jy die Skrif lees en dit oor jou lewe spreek. Hierdie strategie werk. Dit het vir Dawid gewerk – en dit sal ook vir jou werk.
Sielskos: Deut 25-27; Matt 13:36-46; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2
2019-07-31
Josua 3:5 ABA
God het op die drumpel van die Beloofde land vir sy mense gesê: ‘Julle moet julleself wy, want die Here sal môre wonderwerke doen tussen julle.’ Wanneer jy jouself aan God toewy, sal Hy dinge wat jou sal verstom in jou, met jou en deur jou doen. Ons wil wonderbaarlike dinge vir God doen, en dit klink edel. Ons het dit egter verkeerd om. God wil wonderbaarlike dinge vir ons doen. Dis sy werk, nie ons s’n nie. Ons werk is toewyding. Toewyding verg egter meer as om net kerk toe te gaan, die Tien Gebooie te onderhou, ‘n tiende te gee, jou geloof te deel, vrywillige werk te doen, jou hande in lofprysing op te hef en op ‘n sendingsreis te gaan. Dis alles goeie dinge, maar dit is nie toewyding nie. Die gereedskap wat in die tempel gebruik is, is as ‘gewyd’ geag. Met ander woorde, hulle is eenkant vir God se eksklusiewe gebruik geplaas. Hulle is aan sy diens toegewy. Toewyding beteken die onttroning van jouself en die inwyding van Jesus as Here van jou lewe. Dis die volledige afsterwe van alle selfbelang. Dis die oorgawe van alles van jou aan Hom. Dis die eenvoudige erkenning dat elke sekonde van jou tyd, elke ons van jou energie en elke sent van jou geld ‘n gawe van God en vir God is. Toewyding is ‘n liefde vir Jesus wat aanhou verdiep, ‘n kinderlike vertroue in jou hemelse Vader, en ‘n blinde gehoorsaamheid aan die Heilige Gees. Die woord vir jou vandag is dus – wy jouself aan God toe.
Sielskos: Deut 22-24; Matt 13:24-35; Ps 78:56-64; Spr 16:33