Voel jy bedreig?

2019-07-30
Handelinge 4:31 NLV

Bevind jy jouself in ‘n intimiderende situasie? Indien dit die geval is, let op vier dinge wat die dissipels gedoen het toe hulle deur die godsdienstige owerhede bedreig is. 1) Hulle het God by die situasie betrek. ‘En nou, Here, hoor hoe dreig hulle ons…’ (vers 29 NLV). Het jy met die Here daaroor gepraat? As dit nie groot genoeg vir ‘n gebed is nie, is dit te klein om ‘n las te wees! God behoort die eerste persoon te wees met wie jy dit bespreek, nie die laaste nie. Gebed is die deur waardeur Hy jou situasie binnekom, maak dus seker dat jy Hom binne nooi. 2) Hulle het vir groter geloof gebid. ‘…Gee dat ons, u diensknegte, u woord met waagmoed sal verkondig’ (vers 29 NLV). Dis onrealisties om te dink dat al jou vrae beantwoord sal word en dat al jou vrese sal verdwyn. Geloof en vrees sal altyd aan die werk in jou lewe wees. Om situasies te oorkom, moet jy jou vrees uithonger en jou geloof met God se Woord voed (sien Romeine 10:17). 3) Hulle het van God verwag om tussenbeide te tree. ‘Steek u hand uit…’ (Handelinge 4:30 NLV). Moenie net niks doen en verwag dat God sal beweeg nie. Gaan op die aanval. Toe die dissipels in ‘n storm vasgevang was, sê die Bybel: ‘Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom’ (Matteus 14:25 NLV). Jesus werk die nagskof! Hy is enige tyd wat jy roep, beskikbaar. 4) Hulle is deur die Heilige Gees vervul. ‘…en hulle is almal met die Heilige Gees vervul…’ (Handelinge 4:31 NLV). Dis die sleutel! Hulle is deur God se krag versterk – jy kan ook wees.

Sielskos: Deut 18-21; Matt 13:10-23; Ps 78:40-55; Spr 16:32

God aanvaar jou ‘in Christus,’ aanvaar dus jouself

2019-07-29
Genesis 1:31 NLV

Jy kan nie iets effektief hanteer totdat jy dit vir wat dit is, aanvaar het nie – insluitend jouself! Om te ‘aanvaar’ beteken dat jy iets gewilliglik ontvang, of dit as reg sien, of daarmee saamstem. Eerstens, behels aanvaarding jou wilsbesluit. Jy kan kies om jouself te aanvaar of nie; dis jou keuse. Tweedens, wanneer iets aanvaarbaar is, beteken dit dat dit as ‘reg’ gesien word. Ons is geneig om onsself te verwerp omdat ons selde dit wat reg is sien en net dit wat verkeerd is met ons, oplet. Dikwels is hierdie houding van vroeg af by ons gekweek deur diegene wat op ons swakhede in plaas van ons sterkpunte gefokus het. Derdens, beteken aanvaarding om met iets saam te stem. As jy ‘n probleem het om jouself te aanvaar, moet jy in ooreenstemming met God se Woord kom. Hy sê dat jy vrygespreek is, begin dus om dieselfde te sê (sien 2 Korintiërs 5:21). Dit kan ‘n tydjie neem om in te sink, maar uiteindelike sal dit binne-in jou wortel skiet. Die Bybel sê: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ (Amos 3:3 NLV). Om saam met God op reis te gaan, beteken dat jy met Hom saamstem. Hy sê dat Hy vir jou lief is en jou ‘in Christus’ aanvaar, begin dus om met Hom saam te stem en hou op om jouself af te kraak. Toe God ons gemaak het, het Hy gesien dat dit goed is. Wees egter geduldig – Hy is nie klaar met sy kreatiewe werk in jou lewe nie. Hy wil hê dat jy jouself moet sien soos Hy jou sien en moet leer om jouself lief te hê terwyl jy nog ‘onder konstruksie’ is.

Sielskos: Deut 14-17; Matt 13:1-9; Ps 78:32-39; Spr 16:31

Jou nalatenskap

2019-07-28
Matteus 25:21 NLV

Jy kies nie die oomblik van jou aankoms en vertrek hier op aarde nie, maar jy kies wat jou nalatenskap sal wees. Op vyf het hy ‘n gevorderde concerto vir die klavesimbel geskryf. Voor hy tien was, het hy verskeie sonatas vir die viool geskryf en die beste van Bach en Händel op geheue gespeel. Kort na sy twaalfde verjaarsdag het hy sy eerste opera gekomponeer en begelei. Hy het ‘n ere-aanstelling as konsertmeester by die Salzburg-simfonieorkes ontvang en binne ‘n paar jaar is hy as die trots van Salzburg beskou. Teen die tyd wat hy op die ouderdom van vyf-en-dertig oorlede is, het hy agt-en-veertig simfonieë; sewe-en-veertig arias, duette en kwartette met orkesbegeleiding en meer as ‘n dosyn operas geskryf. Daar word geskat dat hy ongeveer 600 oorspronklike komposisies altesaam geskryf het. Mozart het egter die meeste van sy lewe in armoede deurgebring en in onbekendheid gesterf. ‘n Paar van sy vriende het dit tot by die kerk vir sy begrafnis gemaak, maar ‘n storm het hulle daarvan weerhou om na die begrafplaas vir sy teraardebestelling te gaan. Dus het dit amper onmoontlik geword om die presiese ligging van sy graf te bepaal. Geen altaar is by sy laaste rusplek opgerig nie. Waarvoor word Mozart vandag onthou? Wat is sy nalatenskap? Nie die lewe wat hy gelei het nie, maar die musiek wat hy aan die wêreld gegee het wat vandag nog ons lewens verryk. Wanneer jou lewe se enigste fokus selfbelang is, sal jy nie vir die regte redes gemis word nie, of jy sal glad nie gemis word wanneer jy sterf nie. Vind dus ‘n saak groter as jouself, een wat jou sal oorleef en wy jouself daaraan toe. Moenie net ‘n testament nalaat nie, laat ‘n nalatenskap wat God se wil vervul, na.

Sielskos: Lev 24:17-22; Deut 15:7-11; Matt 5:38-48

Strewe na intimiteit in jou huwelik

2019-07-27
1 Korintiës 7:39 DB

Die Bybel leer ons dat die basis vir ‘n goeie huwelik nie net daarin lê om elke aand dieselfde bed te deel nie, maar om elke dag dieselfde waardes en doelwitte te deel. Daar sonder, sal dit wees soos om met mekaar in ‘n vreemde taal te praat. Julle sal wel nie altyd saamstem nie, en dit moet jy aanvaar. As julle egter dieselfde bestemming wil bereik, moet julle dieselfde padkaart volg. Soos wanneer jy ‘n huis bou, moet julle van dieselfde bloudruk af werk waarop julle vooraf ooreengekom het. Na ‘n ruk ontdek jy dat fisiese intimiteit alleenlik nie genoeg is nie. Dit mag jou dalk deur die nag kry, maar dit verg ware vriendskap en ‘n gedeelde geloof in God om jou deur die jare te kry. Ons praat van mans en vrouens wat sonder om ‘n woord te sê kommunikeer, omdat dieselfde doelwitte en beginsels hulle lewens regeer. Wanneer probleme opduik, soos dit altyd doen, soek hulle oplossings by dieselfde bron – God. Toe die lewe vir Adam en Eva in die Tuin van Eden uitmekaar geval het, het hulle saam na God gegaan, omdat hulle altwee ‘n verhouding met Hom gehad het. Buitendien, hoe sal jy ‘n probleem kan korrigeer as een van julle nie dink dat daar ‘n probleem is nie? Ware intimiteit kom wanneer die seks verby is en die toewyding aan mekaar sterker as ooit is. Dit laat jou toe om by iemand te wees sonder om altyd te voel dat jy hom of haar moet beïndruk. ‘n Skrywer stel dit so: ‘Wanneer ons weet dat ons geliefd is oor wie ons is, word ons gedagtes gesonder en meer intiem in uitdrukking. Ons word van die vrees van verwerping bevry.’

Sielskos: Deut 11-13; Matt 12:38-50; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30

Stappe om gesond te word

2019-07-26
Johannes 5:6 NLV

Jesus het vir ‘n siek man hierdie ongewone vraag gevra: ‘Wil jy graag gesond word?’ Vir agt-en-dertig jaar het hierdie man se toestand hom geïmmobiliseer, simpatie van ander mense gekoop en miskien vir hom ‘n rede gegee om te sê: ‘Ek is nie verantwoordelik nie.’ Ons almal is egter vir twee dinge verantwoordelik: ons houding en ons keuses. Die feit is dat ons almal op ‘n manier al seergekry het. As jy egter twintig jaar later steeds daarop fokus, is jy nie ‘n slagoffer as gevolg van omstandighede nie, maar ‘n slagoffer uit keuse. Wat presies is ‘n slagoffer uit keuse? Iemand wat dink dat negatiewe aandag beter as geen aandag is nie! Jesus het gesê: ‘Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teenoor wie julle ‘n grief het. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe’ (Markus 11:25 NLV). Hierdie woorde neem aan dat iemand jou seergemaak het, maar dit hou jou ook verantwoordelik vir jou reaksie teenoor daardie persoon. Jesus het ons geleer dat wanneer jy nie vergewe nie, kan jy ook nie vergifnis ontvang wanneer jy dit nodig het nie. Miskien dink jy: ‘As hulle maar net sal terugkom en om vergifnis sal vra.’ Is dit waarvoor jy wag? Moenie jou tyd mors nie! Die sleutel tot geluk is in jou hande, nie hulle s’n nie. Die sleutel is vergifnis. Wag jy totdat iemand sê: ‘Ek vergewe jou,’ voordat jy jouself vergewe? Wat as hulle dit nooit doen nie? Hier is die resep vir vryheid: 1) Vra om verskoning as dit nodig is. 2) Maak vrede as jy kan. 3) Vergewe jouself. 4) Beweeg aan. Wil jy graag gesond word? Dis die stappe wat jy moet neem.

Sielskos: Deut 8-10; Matt 12:22-37; Ps 78:9-16; Spr 16:25

Beantwoord hierdie twee vrae

2019-07-25
Romeine 15:13 NLV

Eerstens, hoe is jou verhouding tans met God? Twyfel jy aan sy beloftes, sy roeping op jou lewe, jou vermoë om sy stem te hoor, sy vreugde in jou en of jy genoeg kan doen om Hom gelukkig te hou? As dit die geval is, is hierdie Skrifgedeelte spesiaal vir jou geskryf: ‘Ek bid dat dié God wat aan ons ‘n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul…’ Let op, wanneer jy ophou om op God te vertrou en begin om op jou eie inspanning te vertrou, verloor jy jou vreugde en vrede. Het jy joune vandag verloor? As jy dit wil terughê, moet jy uit die vertwyfeling en terug in geloof in beweeg! Tweedens, hoe is jou verhouding tans met jouself? ‘n Christelike skrywer sê: ‘Vir jare was die verhouding wat ek met myself gehad het, een van twyfel. Ek het oor my besluite, my voorkoms, of ek die regte ding sê en doen en of ek God en ander mense behaag, getwyfel. Ek het geweet dat ek nie tevrede was met myself nie, so hoe kon God of enigiemand anders met my tevrede wees? Daardie jare van ellende is agter my, omdat ek nou weet dat God se genade my soos ‘n kombers bedek. Ek weet dat dit slegs deur Jesus is wat ek regverdig en aanvaarbaar voor God gemaak is. Wat ‘n vreugde! Ek ken nou die simptome van vertwyfeling en sal altyd daarteen moet waak.’ Paulus skryf: ‘Christus het ons bevry sodat ons nou in vryheid kan lewe. Maak seker dat julle vry bly, en moenie weer onder ‘n slawejuk vasgebind word nie’ (Galasiërs 5:1 NLV). Hou op om oor jou redding, jouself en God te twyfel!

Sielskos: Deut 5-7; Matt 12:15-21; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24