Die seëning kom deur te ‘doen’

2019-07-24
Psalm 119:166 NLV

In sy boek, Traveling Hopefully, skryf Stan Mooneyham: ‘Ek sal gaan, wanneer… Ek sal gee, nadat… Ek sal gehoorsaam, maar eers… – ‘n mens sal altyd redes vind om uit te stel en soms sal dit selfs na geldige redes lyk. Ek en ‘n goeie vriend van my is min of meer op dieselfde tyd geroep om te preek en ons het saam universiteit toe gegaan. Gedurende daardie vier jaar van my studies was ek besig om in die plattelandse kerke van Oklahoma die preekkuns te vermink, maar my vriend het daarop aangedring om eers sy doktorsgraad te voltooi voordat hy die eerste keer sou preek. Dit was meer as dertig jaar gelede. Ek vermink steeds die preekkuns, maar my vriend preek glad nie. Hy het nooit. Voorbereiding is belangrik, maar om te doen is ‘n noodsaaklike deel van voorbereiding. Jy moet jou eerder self afvra: ‘As dit nie ek is nie, wie dan? As dit nie hier is nie, waar dan? As dit nie nou is nie, wanneer dan?’ Dis nie genoeg om te sê dat jy in God se Woord glo nie, jy moet dit ook gehoorsaam. Dis nie genoeg om Bybelse kennis te versamel nie, jy moet hierdie kennis wat God jou gegee het ook in jou daaglikse lewe toepas.’ Jakobus skryf: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself… As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet… en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (Jakobus 1:22, 25 NLV). Die seëning kom deur te ‘doen.’

Sielskos: Deut 3-4; Matt 12:1-14; Ps 46; Spr 16:20-22

‘n Uitdagende opdrag

2019-07-23
Johannes 15:12 NLV

Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (vers 11 NLV). Wat is hierdie dinge wat jy moet doen om sy vreugde in die lewe te ervaar? Jesus sê vir ons in die volgende vers wat dit is: ‘Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.’ Dis ‘n uitdagende opdrag! Jy sal baie moet groei en volwasse word voordat jy aan hierdie opdrag sal kan voldoen. Om die lewe wat Jesus vir jou wil hê egter te geniet, moet jy jouself daaraan toewy om dit te doen! God het verskillende tipes mense met verskillende temperamente en persoonlikhede gekies, dus hou Hy duidelik van verskeidenheid. Toe God die eerste mens geskape het, het Hy gesê dit is goed. Dus is daar nie net ‘n verskeidenheid van mense nie, daar is ook ‘goed’ in elkeen van hulle. Jy is veronderstel om daarvoor op die uitkyk te wees. Baie van ons ongelukkigheid in die lewe word veroorsaak omdat mense nie is wat ons wil hê hulle moet wees nie en nie doen wat ons wil hê hulle moet doen nie. Wat is die antwoord? Hoe kan jy elke dag geniet wanneer jy met irriterende mense te doen moet kry? Deur te besluit om hulle lief te hê. Jy hoef nie van hulle maniere te hou nie, maar jy moet hulle ten spyte van hulle maniere liefhê. Wanneer jy daaroor dink, is dit ook hoe God jou behandel, nie waar nie? Hier is die sleutel om irriterende mense lief te hê: Irriterende mense word gewoonlik deur iets in hulle lewe geïrriteer. Wanneer jy die bron van hulle pyn ontdek, sal hulle beter begin voel en jou beter begin behandel.

Sielskos: Deut 1-2; Matt 11:20-30; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19

Redes om dankbaar te wees

2019-07-22
1 Tessalonisense 5:18 NLV

Dankbaarheid kom nie natuurlik vir ons nie, maar ‘n gekla en gekerm wel. Niemand het meer rede gehad om te kla as Josef nie. Hy is verlaat, tot slaaf gemaak, verraai en vervreem. Dis die hoofopskrifte van sy vroeë lewensverhaal. Tog, wanneer hy daaroor praat, hoor jy nie ‘n sweempie van bitterheid nie. Jy hoor die teenoorgestelde. Hy het sy twee seuns lewende, lewenslange getuienisse van sy dankbaarheid teenoor God gemaak met die name wat hy aan hulle gegee het. “Josef het die oudste een Manasse genoem, want het hy gesê: ‘God het my al my kwellings laat vergeet, en ook alles wat my familie teen my gedoen het.’ Die tweede een het hy Efraim genoem, want het hy gesê: ‘God het my vrugbaar gemaak in die land van my swaarkry'” (Genesis 41:51-52 NLV). Let twee dinge op: Eerstens het Josef na die verlede gekyk en God gedank vir dit waardeur Hy hom gebring het. Jy moet dit ook doen. Of dit nou dinge is wat ander mense aan jou gedoen het of iets wat jy aan hulle gedoen het, God se genade het jou daardeur gebring. Daar is net een goeie rede om die verlede op te haal en dit is om te onthou hoe God jou daardeur gelei, beskerm en geseën het. Tweedens het Josef na die huidige tyd gekyk. ‘God het my vrugbaar gemaak in die land van my swaarkry.’ Kan jy ‘n tyd onthou wat jy nie geweet het of jy dit gaan maak nie? Toe ander mense ook gedink het dat jy dit nie gaan maak nie? Kyk wat het die Here in jou lewe gedoen! Ten spyte van struikelblokke en teenstand het Hy jou geseën en vir jou gesorg. Draai die kermkraantjie toe en maak die dankbaarheidskraantjie oop. ‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag.’

Sielskos: Hand 27-28; Matt 11:10-19; Ps 42:1-5; Spr 16:16

Deur die woestyn

2019-07-21
2 Konings 3:8 NLV

Die Israeliete het ontdek dat die pad na die Beloofde Land deur die woestyn loop. Een Bybelonderwyser verwys daarna as ‘God se slagveld.’ Hy sê: ‘In die woestynervarings van die lewe, word die dinge wat jou in jou wandeling met God laat struikel, toegelaat om dood te gaan. Daar tref Hy onderskeid tussen diegene wat net ‘n oppervlakkige verhouding met Hom wil hê en diegene wat Hom intiem wil leer ken. Dis daar waar jy leer om op geloof te staan en al jou sorge aan Hom oor te gee, omdat daar niemand anders is om na toe te draai nie. Dis daar waar God sê: ‘Ek het jou uiteindelik waar Ek jou wil hê.’ Soms sal Hy jou skielik in die wildernis in lei. Dit gebeur veral wanneer Hy probeer om jou aandag te trek en met jou oor ‘n roeping wat Hy in jou lewe geplaas het, te praat, maar tot nou toe het jy nie tyd gehad om te luister nie. Skielik besef jy dat God die enigste Een is wat jou deur die situasie waarin jy jouself bevind, kan kry. Hy laat toe dat jy van jou trots gestroop word, sodat jy in nederigheid geklee kan word; van selfgenoegsaamheid gestroop word om jou sodoende by ‘n plek van totale afhanklikheid aan Hom te bring.’ As jy deur ‘n woestynervaring gaan, moenie dink dat God jou straf of dat Hy jou verlaat het nie. Hy laat net toe dat sekere dinge doodgaan, sodat ander dinge binne jou vrugbaar kan word. Wees bemoedig; jy sal hierdeur kom! Deur God se genade sal jy jou bestemming bereik. Die waarheid is dat die enigste manier om die bestemming wat God vir jou beplan het, te bereik deur die woestyn is.

Sielskos: 1 Sam 5:1-6:16; Op 11:15-19

Bly gefokus (2)

2019-07-20
Nehemia 6:3 NLV

Terwyl hy besig was om die mure van Jerusalem te herbou, het Nehemia ontdek dat nie almal rondom hom wou hê dat hy sukses moes behaal nie. Om sy werk te stop, het sy vyande twee dinge gebruik – dreigemente en gerugte. Nietemin het hy Jerusalem se mure in minder as twee maande herbou. Hoe het hy dit gedoen? Hy het op dit wat saak maak gefokus gebly en geweier dat sy aandag daarvan afgetrek word. ‘…Ek het besef dat hulle beplan het om my kwaad aan te doen. Ek het toe vir hulle ‘n boodskap teruggestuur: ‘Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.’ Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur’ (Nehemia 6:2-4 NLV). In vandag se omgangstaal, het hulle vir hom e-posse gestuur. Hulle het boodskappe op sy Facebookblad geplaas. Hulle het boodskappe op sy selfoon gelaat. Oor en oor het hulle sy aandag met dialoog probeer aflei. Hy het egter geweier om te baklei. Sy antwoordmasjien se boodskap het seker iets soos die volgende geklink: ‘Jy het die huis van Nehemia bereik. Ek is nie hier nie. Ek werk tans aan ‘n groot projek. As dit Sanballat, Tobija of Gesem is, julle mors julle tyd. As dit enigiemand anders is, los asseblief ‘n boodskap na die biep.’ Wanneer jy besluit wat jou lewensprioriteite is, sal hulle jou help om oor alles anders te besluit. Hulle sal jou help om jou oog op die bal te hou. Wanneer dit voel of die lewe teen jou is, vra jouself af: ‘Wat is my grootste prioriteite vir hierdie dag en week?’ Besluit dit in jou gedagtes en fokus dan daarop soos jy die taak wat God jou opgelê het, nastreef.

Sielskos: Hand 24-26; Matt 11:1-9; Ps 1; Spr 16:10-15

Bly gefokus (1)

2019-07-19
Spreuke 4:25 NLV

Jare gelede het ‘n vliegtuig in Florida se Everglades neergestort. Soos die vliegtuig die lughawe in Miami genader het, het die ligaanwyser vir korrekte ontplooiing van die landingstelsel gefaal. Hulle het in sirkels oor die moerasse van die Everglades gevlieg terwyl die bemanningslede probeer kyk het of die landingstelsel definitief nie ontplooi het nie, en of die liggie van die aanwysingslig nie dalk foutief was nie. Toe die vlugingenieur die ligaanwyser probeer verwyder om te kyk of dit foutief is, kon hy dit nie los kry nie. Soos hulle met die liggie gesukkel het, het hulle nie agtergekom dat hulle hoogte begin verloor nie. Gevolglik het die vliegtuig reg in die moeras ingevlieg en 101 mense aan boord het gesterf. Alles was verlore, omdat die bemanning besig was om met ‘n gloeilampie te sukkel en hulle oë van dit wat die belangrikste was, afgehaal het. In die lewe sal jy in die versoeking kom om te fokus op dit wat dringend is, eerder as dit wat belangrik is. Soos jy probeer om jou oog op die bal te hou, sal hierdie dilemma konstant jou fokus bedreig: ‘Moet ek die beste kies of net dit wat goed is? Moet ek die korttermyn- of die langtermynperspektief kies?’ Jy moenie fokus verloor nie; jou taak is te belangrik. Salomo som dit as volg op: ‘Kyk reguit vorentoe; bly gefokus op wat voor jou is. Merk jou pad duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie…’ (Spreuke 4:25-27 NLV).

Sielskos: Hand 22-23; Matt 10:32-42; Ps 65; Spr 16:8-9