Spandeer meer tyd in gebed

2019-07-18
1 Kronieke 16:11 NLV

In Catherine Marshal se boek, A Closer Walk, skryf haar man Leonard LeSourd oor die begin van hulle huwelik. ‘Catherine het groot aanpassings gehad om te maak. Sy het haar droomhuis in Washington verkoop en na Chappaqua getrek, sodat ek kon aanhou om na my werk in New York te pendel. My kinders – Linda, tien; Chester, ses; Jeffrey, drie – is deur ‘n paar ontstellende jare waar hulle aan ‘n verskeidenheid huishoudsters gewoond moes raak. Hulle het gemengde gevoelens gehad om na ‘n nuwe huis toe te trek en veral teenoor ‘die nuwe ma wat Pappa gaan huis toe bring.’ Catherine se seun, Peter, wat negentien was, was besig om deur ‘n rebelse tyd by Yale Universiteit te gaan. Catherine en ek het so baie dinge gehad om oor te bid dat ons begin het om ‘n uur vroeër in die oggende op te staan om die Bybel te lees en saam antwoorde te soek. Haar dagboek het langs ons oop gelê in daardie tye wat ons voor sonsopkoms gebid het, waarin sy ons veranderende behoeftes en God se onveranderlike getrouheid neergeskryf het.’ Soos die lewensdruk meer word, moet jy meer bid, nie minder nie. Jesus het voor sonop opgestaan om te bid. Soms het Hy deurnag gebid. Ander kere het Hy die eise van die skare agtergelaat om te gaan bid. Hoekom? Omdat jou krag, vrede, vreugde en effektiwiteit direk aan die tyd wat jy in gebed spandeer, gekoppel is. Hoekom bid ons dan nie daagliks nie? Vir dieselfde rede wat mense by ‘n gym in Januarie aansluit en teen Februarie nie meer gaan nie. Gebed verg dissipline wat slegs jy in plek kan stel. Dit bring egter groot belonings mee.

Sielskos: Hand 20-21; Matt 10:21-31; Ps 14; Spr 16:6-7

Hoe ‘honger’ is jy?

2019-07-17
Psalm 107:9 NLV

Suksesvolle mense is dikwels net mense wat ‘n bietjie hongerder en dorser vir sukses as die res van ons was. Wat ons begeer het, het hulle nagejaag. Napoleon is in armoede gebore. Sy klasmaats op skool het hom gespot. Hy het homself egter tot sy boeke gewend, in sy studies uitgeblink en die slimste student in sy klas geword. Voor sy lewe verby was, het hy groot dele van die wêreld verower! Wanneer ‘n saailing sy weg deur rotse moet veg om sonlig en suurstof te kry en dan deur storms en ryp moet worstel om te oorleef, kan jy van een ding seker wees: sy wortelstelsel sal sterk en sy hout veerkragtig wees. Die natuur leer ons dat dit onmoontlik is om sukses sonder teenspoed te behaal. As jy suksesvol is en nie swaarkry ervaar het nie, kan jy maar vir seker weet dat iemand anders dit namens jou ervaar het. In alle gevalle, is daar geen prestasie sonder teenspoed nie. Die toets van jou karakter word bepaal deur wat dit neem om jou te ontmoedig en te laat tou op gooi. Dr G. Campbell Morgan vertel van ‘n man wie se winkel in die groot brand in Chicago in 1871 tot op die grond afgebrand het. Die volgende dag het hy met ‘n tafel daar aangekom wat hy in die as en puin van sy winkel opgestel het. Op die tafel het hy ‘n plakkaat staangemaak wat gelees het: ‘Alles verloor behalwe vrou, kinders en hoop. Besigheid is weer van môreoggend af oop.’ Salomo het gesê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV. Jy sê jy wil suksesvol wees? Die vraag is – hoe ‘honger’ is jy?

Sielskos: Hand 18-19; Matt 10:11-20; Ps 146; Spr 16:4-5

Kies jou gevegte

2019-07-16
Eksodus 18:23 NLV

‘n Goeie generaal weet dat dit ‘n fout is om op te veel fronte gelyktydig te veg; wanneer jy te ‘dun’ versprei is, is jy weerloos! Dieselfde is waar van die lewe. Om onnodige stres te vermy, moet jy weier dat elke klein dingetjie jou ontstel. Met ander woorde, kies jou gevegte. Moenie berge uit molshope maak nie. Voor jy jou tyd, energie en emosie aan ‘n saak toewy, vra jouself eers af hoe belangrik dit is en hoeveel van jou tyd, inspanning en energie dit sal verg. Probeer onderskeid tref tussen die dinge wat waarlik saak maak en fokus op daardie dinge. Leer die verskil tussen groot en klein kwessies. Moses het uitgeput geraak omdat hy elke probleem, dispuut en krisis wat onder die Israeliete voorgekom het, persoonlik hanteer het. Miskien het hy gedink dat hy dit moes doen, aangesien hy die leier van die nasie was. Sy skoonpa het egter in wese vir hom gesê: ‘Hanteer jy die groot dinge en los die klein dingetjies vir iemand anders.’ Hy het voortgegaan om te sê: ‘As jy so maak en God jou lei om dit so te doen, sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees. Moses het sy skoonpa se raad gevolg en gemaak soos sy skoonpa gesê het’ (verse 23-24 NLV). Stop en dink daaroor: Jou lewe het reeds meer as genoeg stres en druk, so hoekom sal jy meer byvoeg as jy dit kan vermy? Wanneer jy in die versoeking kom om ‘n ‘geveg’ aan te knoop, tree eers terug en besluit of dit dit werd is en wat dit van jou gaan verg. Moenie ‘n oorlog met geen buit betree nie.

Sielskos: Hand 16-17; Matt 10:1-10; Ps 140; Spr 16:3

‘n Gebed vir jou kinders

2019-07-15
Psalm 127:3 NLV

Wanneer iemand jou lief genoeg het om aan jou ‘n geskenk of nalatenskap te gee, moet jy dit veilig bewaar en dit op ‘n manier hanteer wat hulle eer. Die Bybel sê dat jou kinders ‘n geskenk van die Here is. Dus is hier ‘n gebed vir hulle: ‘Here, ek kan nie begin om vir U te sê hoe geseënd en dankbaar ek vir my kinders is nie. Ek herken hulle as ‘n beeldskone gawe van U. U het hulle vir my gegee om lief te hê en te versorg, om te geniet en te vier, om groot te maak sodat hulle U as die grootste nalatenskap van alles sal leer ken. Dankie dat niemand, nie eens ek nie, ooit so goed vir hulle kan wees soos U nie. Omdat U vir my die voorreg en verantwoordelikheid gegee het om hulle na U toe te bring, leer my die belangrikheid daarvan om hulle elke dag voor U in gebed op te hef. Hou hulle in die middel van u liefde en die doel wat U vir hulle het. Seën hulle met die kennis van wie U is. Help hulle om hulle vertroue in U te plaas en op die lewenspad wat U vir hulle gekies het, te bly. Stel hulle in staat om die gawes en die roeping wat U in hulle geplaas het te herken en om u leiding soos U hulle ontwikkel en hulle vir u verheerliking gebruik, te volg. Laat u genade by hulle wees en u liefde hulle omring. In Jesus se Naam bid ek dit, amen.’ Dien jou kinders die Here? Indien nie, staan op hierdie Bybelse belofte: “‘Daar is hoop vir die toekoms,’ sê die Here. ‘Jou kinders sal terugkom na hulle land toe'” (Jeremia 31:17 NLV).

Sielskos: Hand 14-15; Matt 9:27-38; Ps 133; Spr 16:2

Vra God vir ‘n strategiese plan

2019-07-14
Jesaja 30:21 NLV

Jesus het God se strategiese plan vir sy lewe verstaan – die verlossing van die mensdom – en het elke dag van sy lewe in die lig daarvan gelewe. Aan die einde van sy lewe kon Hy bid: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen’ (Johannes 17:4 NLV). Strategiese beplanning is krities vir sukses in enige taak wat mens aanpak. As ‘n verloste kind van God, moet jou strategie van God af kom, anders sal druk en mense jou in die verkeerde rigting kan neem. Jesus se aandag kon maklik deur die eise van die skare en die misleidende denke van sy dissipels afgetrek word. Hoe het Hy dit vermy? Deur nagte in gebed deur te bring en voor die son opkom met sy Vader te vergader om leiding te soek. Jesus het volgens hierdie beginsel geleef: ‘…Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so… Soos Ek dit van die Vader hoor, oordeel Ek en my oordeel is billik omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het’ (Johannes 5:19, 30 NLV). Wanneer jy ‘n plan vir jou lewe soek, is die eerste boek wat jy moet lees die Bybel. Moenie iemand anders se plan aanneem tensy God vir jou gesê het om dieselfde ding te doen nie, anders gaan jy gefrustreerd opeindig. Jy vra: ‘Beteken dit dat God ‘n strategie en ‘n plan vir my lewe het en dat Hy dit aan my sal openbaar?’ Ja. ‘Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.’

Sielskos: 1 Sam 21:1-6; Hosea 6:4-6; Matt 12:1-14

Hou jou oë op Jesus, nie op mense nie

2019-07-13
Johannes 21:21 NVL

Die Bybel sê: “Toe Petrus omdraai, sien hy dat die lieflingdissipel Jesus volg. Dit is hy wat by die paasete na aan Jesus se bors oorgeleun en gevra het: ‘Here, wie is die een wat U gaan uitlewer?’ Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: ‘Wat van hom, Here?’ Jesus reageer daarop: ‘As Ek wil hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat het dit met jou te doen? Volg jy net vir My!’ Hierdie gerug het toe onder die medegelowiges rondgegaan dat daardie dissipel nie sal sterf nie. Jesus het egter nie vir Petrus gesê dat daardie dissipel nie sal sterf nie, maar eintlik net: ‘As Ek wou hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat gaan dit jou aan?'” (verse 20-23 NLV). Toe Petrus vir Jesus gevra het: ‘Wat van hom, Here?’ het hy na die apostel Johannes verwys, wat ‘n besondere nabye verhouding met Christus geniet het. Jesus het inderwaarheid gesê: ‘Haal jou oë van Johannes af en vestig hulle op My. Volg My en jy kan ook ‘n nabye verhouding met My hê.’ Mense sal jou teleurstel, net soos jy hulle sal teleurstel. Jesus sal jou egter nooit teleurstel as jy jou oë op Hom gevestig hou en Hom volg nie. Hy ken nie net die pad nie, Hy sê: ‘…Ek is die pad en die waarheid en die lewe…’ (Johannes 14:6 NLV). Hy sê: ‘…Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’ (Johannes 8:12 NLV). Die woord vir jou vandag gaan dus oor een van die mees fundamentele beginsels van ‘n Christelike lewe: Hou jou oë op Jesus, nie op mense nie.

Sielskos: Hand 12-13; Matt 9:14-26; Ps 123; Spr 16:1