Kies jou gevegte

2019-07-16
Eksodus 18:23 NLV

‘n Goeie generaal weet dat dit ‘n fout is om op te veel fronte gelyktydig te veg; wanneer jy te ‘dun’ versprei is, is jy weerloos! Dieselfde is waar van die lewe. Om onnodige stres te vermy, moet jy weier dat elke klein dingetjie jou ontstel. Met ander woorde, kies jou gevegte. Moenie berge uit molshope maak nie. Voor jy jou tyd, energie en emosie aan ‘n saak toewy, vra jouself eers af hoe belangrik dit is en hoeveel van jou tyd, inspanning en energie dit sal verg. Probeer onderskeid tref tussen die dinge wat waarlik saak maak en fokus op daardie dinge. Leer die verskil tussen groot en klein kwessies. Moses het uitgeput geraak omdat hy elke probleem, dispuut en krisis wat onder die Israeliete voorgekom het, persoonlik hanteer het. Miskien het hy gedink dat hy dit moes doen, aangesien hy die leier van die nasie was. Sy skoonpa het egter in wese vir hom gesê: ‘Hanteer jy die groot dinge en los die klein dingetjies vir iemand anders.’ Hy het voortgegaan om te sê: ‘As jy so maak en God jou lei om dit so te doen, sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees. Moses het sy skoonpa se raad gevolg en gemaak soos sy skoonpa gesê het’ (verse 23-24 NLV). Stop en dink daaroor: Jou lewe het reeds meer as genoeg stres en druk, so hoekom sal jy meer byvoeg as jy dit kan vermy? Wanneer jy in die versoeking kom om ‘n ‘geveg’ aan te knoop, tree eers terug en besluit of dit dit werd is en wat dit van jou gaan verg. Moenie ‘n oorlog met geen buit betree nie.

Sielskos: Hand 16-17; Matt 10:1-10; Ps 140; Spr 16:3