Oorkom stres (2)

2019-09-13
Johannes 5:30 NLV

Weet wie jy probeer tevrede stel. Jesus het nie probeer om almal tevrede te stel nie, is dit dus nie dwaas van jou om iets te probeer doen wat God nie eens doen nie? God het gesê: ‘…Hý is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart’ (Matteus 3:17 NLV). Wanneer jy nie weet wie jy probeer tevrede stel nie, sal jy altyd voor drie dinge swig: Kritiek, omdat jy oorbewus is van wat ander mense van jou dink. Kompetisie, omdat jy bang is dat iemand anders eerste sal kom. Konflik, omdat jy deur enigiemand wat nie saam met jou stem nie, bedreig sal word. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge [die dinge waaroor jy stres] as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Deur op God se wil te fokus, sal jy jou lewe vereenvoudig! Jy sal altyd die regte ding doen, die ding wat Hom tevrede stel, ongeag wat enigiemand anders dink. Ons is lief daarvoor om stres op ander mense en ons verpligtingte te blameer: ‘Jy het my dit maak doen… Ek moet… Ek gaan…’ Daar is egter min dinge in die lewe, behalwe ons werk, wat ons moet doen. Wat jy dus inderwaarheid sê is: ‘Ek kies om [voltooi die sin], omdat ek nie die nagevolge wil hanteer nie.’ Dis baie selde wat enigiemand ons dwing om iets te doen, dus kan ons nie ander mense vir ons stres blameer nie. Wanneer ons onder druk voel, is dit omdat ons toelaat dat ander mense ons onder druk plaas. Die waarheid is dat ons nie slagoffers is nie, tensy ons toelaat dat ons deur eise van buite onder druk geplaas word.

Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Matt 25:22-30; Ps 24; Spr 21:1-2