Is jy regtig gereed vir kinders?

2020-01-15
Psalm 127:3 NLV

Kinders is nie ‘n manier om aandag op jouself te fokus nie. Redes soos: ‘Ek wil iemand hê wat lief is vir my,’ of ‘Ek het ingestem om kinders te kry omdat my eggenoot kinders wil hê,’ is onvolwasse ten beste en ‘n resep tot rampspoed ten slegste. As jy dit oorweeg om kinders te kry, is dit noodsaaklik om die tyd te neem om jouself af te vra of jy emosioneel, finansieel en geestelik vir die werk gereed is. Wanneer jy ‘n ouer word, neem jy die enorme taak op jou skouers om vir ‘n ander mens verantwoordelik te wees – vir die res van jou lewe! Jy kan hulle nie inruil, teruggee of van hulle skei wanneer dinge nie goedgaan nie. Dis ‘n lewenslange verbintenis en dis ‘n realiteit wat jy sal moet aanvaar. Moenie sterre in jou oë oor die babas in stootwaentjies wat jy by die winkelsentrum sien, kry nie. Moenie jouself oor ouerskap mislei en dink dat jy daaraan gewoond sal raak wanneer die baba eers daar is nie. Jy sal vir die volgende twintig jaar of so in gereedheid moet wees! Maak dus seker dat jy gereed is vir die sprong van geloof wat dit verg om iemand kragtiger as ooit tevore lief te hê. Jy is dit aan hulle, sowel as aan jouself, verskuldig. Benader ouerskap dus met gebed, oorweging en die belangrikste van alles, ‘n sin vir humor, voordat jy die sprong neem. Een verkeerde besluit van jou kant af en jy kan jou familie lewenslange hartseer besorg. Dit kan vermy word deur te bid en ‘n bietjie langer te wag, om dinge sodoende reg te doen! As jy nie gereed is om ‘n totaal ander lewenstyl vir die volgende paar dekades te volg nie, moet jy stadiger beweeg. Dink daaroor en praat met God daaroor.

Sielskos: Eks 19-21; Matt 7:1-14; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8

Gebruik die krag van lofprysing

2020-01-14
Psalm 34:2 NLV

Jy kan God te min prys, maar jy kan Hom nooit te veel prys nie. Dawid skryf: ‘Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here geprys word’ (Psalm 113:3 NLV). ‘Ek loof U sewe keer per dag…’ (Psalm 119:164). ‘…Sy lof sal altyd op my lippe wees.’ Wanneer jy oorweldig deur omstandighede voel, is lofprysing die laaste ding waarvoor jy lus is. Dis egter die eerste ding wat jy behoort te doen, omdat lofprysing die aandag van jouself aflei en dit op God se wonderbaarlike mag fokus. Josafat het voor ‘n weermag te staan gekom wat hy nie kon verslaan nie. Toe hy egter vir God begin prys, het sy vyande mekaar vernietig terwyl hy in verwondering toegekyk het. Toe Paulus en Silas God in die tronk geprys het, het hulle kettings gebreek en het die tronkdeure oopgegaan. Dis normaal om op die probleem te fokus en te vergeet om God te prys, maar lofprysing los probleme op. Petrus skryf: ‘…Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word’ (1 Petrus 1:7 NLV). Lofprysing bring jou in God se teenwoordigheid en posisioneer jou om sy seën en guns te ontvang. Jy sê: ‘Maar ek verstaan nie hoe lofprysing werk nie.’ Dink so daaroor: Jy hoef nie aerodinamika te verstaan om te vlieg nie. Jy klim net op die vliegtuig en die vlieënier neem jou waarheen jy moet gaan. Dis dieselfde wanneer jy God prys – doen dit eenvoudig net en jy sal resultate kry.

Sielskos: Eks 16-18; Matt 6:19-34; Ps 74:1-11; Spr 2:6

Hoe om God se vergifnis te ontvang

2020-01-13
Psalm 32:5 NLV

Toe God Dawid se owerspel en moord vergewe het, het hy geskryf: ‘Geseënd is die mens wie se opstand vergewe is, wie se oortredings afgeskryf is. Geseënd is die mens wie se sonde die Here nie toereken nie, in wie se lewe daar geen bedrog is nie! Toe ek oor my sonde stilgebly het, het my liggaam gekwyn van ellende, het ek die hele dag lank gekreun. Dag en nag was u hand swaar op my. My krag het verdwyn soos water in somerhitte. Maar ek het my oortredings bely, my sonde nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Ek bely my opstand teen die Here.’ En my sonde en oortredings het U vergewe’ (verse 1-5 NLV). Onbelyde, onvergewe sonde sal jou aaklig laat voel. Wanneer jy dit egter bely het en God se vergifnis ontvang het, behoort jy baie beter te voel. Hoekom voel ons dus so sleg? Baie keer is dit as gevolg van die manier wat ons grootgemaak is. Ons het grootgeword met woorde soos: ‘Ek hoop jy voel sleg oor wat jy gedoen het!’ of ‘Skaam jou!’ As dit ‘n groot oortreding was, kon jy selfs vir ‘n hele ruk gehok gewees het. Ons is met ander woorde geprogrammeer vir langtermyn skuldgevoelens. Die goeie nuus is dat God se vergifnis nie so werk nie. Die oomblik wat jy jou sonde bely, word jy skoongewas daarvan en kan jy met volle vertroue voor God staan. Moenie toelaat dat Satan jou aanhou veroordeel nie. Weier om rond te loop met gevoelens van skuld en skaamte. Bely soos die Psalmdigter jou sondes voor God en ontvang sy vergifnis. Lewe dan vry, met selfvertroue en vreugde!

Sielskos: Eks 13-15; Matt 6:9-18; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5

In die versoeking om toe te gee?

2020-01-12
Judas 1:24 DB

Kies vriende wat jou waardes respekteer; anders sal jy onder druk wees om jou oortuigings te kompromitteer om die vriendskap te onderhou. Dis ‘n te hoë prys om te betaal! Daar is mense in die werkplek wat jou knoppies sal druk en elke swakplek sal ondersoek, om sodoende jou na hulle vlak toe af te trek. Wanneer hulle dit regkry, sal hulle jou aanval, nie waardeer nie. Wat moet jy dus doen? Draai na God toe vir hulp! ‘…Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Wanneer iemand daarop uit is om jou karakter onder verdenking te bring, belowe God dat Hy ‘n uitweg sal bied sodat jy nie aan die versoeking hoef toe te gee nie. Vra God vir die moed om die regte ding te doen, selfs wanneer jou besluit tot straf, vervreemding of afdanking kan lei. Sy belofte aan jou is: ‘Ek eer net hulle wat My eer…’ (1 Samuel 2:30 NLV). Onthou, dis beter om alleen te wees en die pad met God te stap, as om tot versoeking toe te gee, sy Woord te oortree en jou waardes in gevaar te stel om sodoende die suksesleer te klim. Wanneer jy regop staan en die regte ding doen, bring jy eer en heerlikheid aan God. Judas skryf: ‘Ons dien ‘n wonderlike God. Hy is baie sterk. Hy kan sorg dat julle nooit in die sonde val nie… Aan die enigste ware God, ons Redder deur Jesus Christus, ons Here, behoort al die hemelse glorie en koningskap, die krag en die mag van altyd af, maar ook vandag en môre – ja, tot in die verste ewigheid. Vir seker! Amen’ (verse 24-25 DB).

Sielskos: Jes 61; Heb 12:2; Jes 35:3-10

Beheer jou woede

2020-01-11
Spreuke 29:11 NLV

Woede is soos ‘n vuur: Wanneer dit beheer word, kan dit warmte en gemak meebring. Wanneer dit egter buite beheer raak, kan dit alles in sy pad vernietig. Die Bybel sê: “‘n Dwaas bars uit in woede. Iemand wat wys is, hou homself in toom.” Jy kan woede verbaal of deur stilte uitdruk. Wanneer jy stilte as ‘n wapen gebruik om iemand seer te maak, wend jy jou tot emosionele manipulasie en kinderagtigheid. Kan jy onthou hoe jy as kind gesê het: ‘Ek gaan nie meer met jou praat nie,’ wanneer iemand geweier het om te doen wat jy wil hê? Dit mag dalk aanvaarbare gedrag vir ‘n kind wees, maar nie vir diegene wat tot geestelike volwassenheid geroepe is nie. As jy geneig is om gereelde woedeuitbarstings te kry, is hier ‘n paar Skrifgedeeltes om ter harte te neem: 1) ‘…Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem’ (Spreuke 16:32 NLV). 2) “‘n Verstandige mens hou homself in bedwang. Hy stel sy eer daarin om ander se oortredings oor te sien” (Spreuke 19:11 NLV). 3) ‘Moenie gou kwaad word nie; ergenis hoort by dwase’ (Prediker 7:9 NLV). 4) ‘…Wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie’ (Jakobus 1:19-20 NLV). ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Vra dus vir God om jou te help om jou woede onder beheer te kry.

Sielskos: Eks 10-12; Matt 6:1-8; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2

Begrawe die herinnering aan die mishandeling van jou kindertyd

2020-01-10
Jesaja 26:14 NLV

Sielkundiges sê dat een uit elke drie mense fisiese, emosionele of seksuele mishandeling ervaar het. Die meeste is egter te skaam om daaroor te praat! Hulle is gevul met verwyte, nie net teenoor die oortreder nie, maar ook teenoor die mense wat hulle moes beskerm het en dit nie gedoen het nie. Die waarheid is dat indien hulle nie hulp kry nie, sal die herinnering aan die oortreding wat teenoor hulle gepleeg is, hulle dalk op die ou einde seerder maak as die gebeure self. As jy ‘n slagoffer van mishandeling is, kan jy die volgende Skrifgedeeltes lees, daarop staan en dit in ‘n gebed verander: “Ek het tot U gebid, Here. Ek het gesê: ‘U is my toevlug, my deel in die land van die lewendes. Luister na my hulpgeroep, want ek is terneergedruk. Red my van dié wat my vervolg [herinneringe], want hulle is te sterk vir my. Bevry my uit die gevangenis [die verlede] sodat ek u Naam kan loof…'” (Psalm 142:6-8 NLV). ‘Here ons God, ander het oor ons regeer, maar ons aanbid U alleen. Dié wat ons gedien het, is nou dood en weg. Hulle sal nooit weer terugkom nie! U het hulle aangeval en vernietig, en hulle is lankal vergete’ (Jesaja 26:13-14 NLV). Nou, deur ‘n daad van wil (nie deur jou emosies nie), vergewe jou oortreder en hulle mag oor jou sal gebreek wees! Sodra jy dit gedoen het, plaas hulle in God se hande en laat Hom toe om hulle te hanteer. Weier om ‘n slagoffer te wees. In plaas daarvan om aan te hou om in geheime skande te leef, begin om teenoor ander mense oor die krag van God te getuig, sodat die gebroke hart genees kan word en die wonde verbind kan word (sien Psalm 147:3).

Sielskos: Eks 7-9; Matt 5:38-48; Ps 46; Spr 1:32-33